Maandag 01 Februarie 2016

Dag 7 13/04/94

Dag 7 - 21 jaar vantevore (ook leesbaar oorgetik)






Dit behoort seker nou duidelik te wees dat ons vandag by die Brittish Museum was.

Maar eers:  vroegoggend, alleen, 7-uur die oggend na Books for Cooks – aangrensend aan Portobello Road.

Die huise in Kensington, waardeur ek beweeg het, is duidelik van ʼn baie goeie klas. Ek het myself verstout om twee foto’s te neem. Blenheim Crescent was seker die mooiste lentestraat waardeur ek nog ooit gestap het. (Dit herinner aan Mackie straat in Pretoria, gemeng met die Jakarandas van een of ander straat.

Sien baie boeke wat ek met liefde sou wou koop – sop, knoffel, boeke oor kookkuns uit Afrika, e.d.m. Daar is inderdaad nʼn kombuis in die boekwinkel waar die resepte getoets word. Ek koop niks, maar wel ʼn “pie” by een of ander upmarket bakhuis.

Daarna sat ek in die toeriste se baie geskiedkundige Portobello Road af. Gelukkig was baie van die winkeltjies steeds toe. Daar was hierdie winkel met ʼn olifantskedel in, én baie ander skedels. Om nie te praat van die antieke winkeltjies links en regs van die pad nie. Klim op Nottingham Hill-stasie op en beweeg na Holborn-stasie vir die Brittish Museum.

Ja, die Brittish Museum. Die  boeke het gesê mens kan onmoontlik nie alles in een dag sien nie – ek hét die boeke geglo, maar wat hulle eintlik moes gesê het, was dat mens nie alles in drie weke kan sien nie. Ek sal graag een keer elke twee weke daar wil wees, vir ʼn jaar lank, en dán eers, dínk ek, sal ek die museum na regte kan waardeer.

Wat my die meeste geroer het, was die mummies – vandat ek kon onthou, wou ek ʼn mummie sien. Ek weet reeds van skooldae af dat daar mummies in die Britse museum is – en as ek net tien minute gehad het om die museum te besoek, sou ek daarheen gedraf het.

Wat my natuurlik onder gekry het, was die feit dat daar op elke mummie geskryf is – die nommer van elke item staan daarop, dit moet so wes, maar dit lyk so belaglik, die 20e-eeuse verfnommers op die oer-oeroue grafgoeters.

Tweede beste hoogtepunt was die Biblioteek. Daar sien ek ʼn Gutenberg-Bybel, Shakespeare se handskrif, en die pragtigste goud-beslaande Bybels. Dit was regtig nogal verruklik.

Ontstellend is om te dink hoe die Britte aan al die goed gekom het. Daar is die pragtigste friespanele – van die Parthenon! Wat soek dit in die Britse museum!

Die Griekse fase is net so mooi. Ek kan sien dat Keats die goed bekyk het, en toe Ode toe a Grecian Urn geskryf het,
Gelykstaande aan die uitstalling oor die vase (ek het geskryf “fase” maar ek vermoed dit moet “vase” wees) is natuurlik die uitstalling oor die Middeleeue.

Ek kan nou nie aan ʼn enkele item dink wat ek gesien het nie – maar ek onthou wel dat ek dit baie geniet het.

(Dit was gisteraand, half verkluim – die eerste aand in die tent – dalk sal ek deur die loop van die dag iets onthou.)

Dis nóú die vólgende aand. Ek en Es het kaas en brood en “cider” van Cheddar gehad. My kop draai so bietjie van die cider maar dis oor die koue om terug te keer tot eergister.
Maak dit sin? My kop kon nie sommer net gedraai het nie, ek was tien teen een lekker geklap van al die Britse appelbier wat ek in my keel afgestuur het!

Na die besoek aan die Brittish Museum is ons na die Westminster Cathedral, nie die abbey nie, die abbey is protestants, die cathedral is Rooms. Ek het meer van die cathedral gehou en ons luister lekker orrel.

Vandaar gaan ons na een of ander teater vir die produksie:  “Miss Saigon”. Ag, dis maar soos alle West End of Broadway mucicals. Nice, stunning, maar sonder enige diepte.

Na die Show is ons dadelik huis toe want Esmari het die oggend William se kerrie gemaak.

Aanvanklik was die gedagte om die volgende oggend dadelik te ry, maar die aand besluit ons om die volgende dag dalk te rus.

FIN.

Dag 7 - 21 jaar later


Dit was heerlik om gedurende die Desember-vakansie as die kraaie gaap en Annieka slap (en ek en Klaradyn nie nóg langer in die swembad kán deurbring nie) op my ou spore terug te stap.

Maar toe begin die skool, en vergeet van DH Lawrence – vra eerder, róép eerder uit:  “Why were we crucified into labour!”

By vandag het ek in afknypoomblikke hiér, skelmtydjies dáár, uitgekom – en dit was steeds nét so lekker.

Ek trek natuurlik weg met ‘n prentjie wat die konteks vir die eerste sin is:  “Dit behoort seker nou duidelik te wees dat ons vandag by die Brittish Museum was.”




Hier teen die einde van die dag se inskrywing raak dit baie duidelik dat ek lekker lighoofdig is van Cheddar se heerlike cider, maar die prentjie self, heel aan die begin, verklap dit al:  Ek val weg en skryf  “Rsetta” in plaas van “Rosetta” .

Die tweede spelfout, 13 woorde verder, het niks met die cider te doen nie – ek spel Brittish vandag nog met twee t’s in plaas van een. Vergeef my, ek is ʼn onderwyser, ʼn taalonderwyser – na ʼn kort beklemtoonde vokaal verdubbel die konsonant!

In my herbesoek kon ek nie glo dat daar van bogenoemde Brittish Museum so min foto’s (of video’s) op Pinterest (op Youtube) is nie. Dit was tot ek agtergekom het, die enigste trefslae wat ek kry, is die enkes waar ander vreemdetaalsprekers die woord ook, nes ek, verkeerd gespel het!

Die Rsetta/Rosetta en mummie is hoogtepunt van veel later die dag, voor dit is tientalle ander – en die dag begin vroeg, 07:00 al.

Blenheim Crescent - Nottinghill 
(maar ek praat in die dagboek van Kensington omdat Nottinghill 
in die "Royal Borough of Kensington and Chelsea" is)



 As ek in 1994 met Nottinghill beïndruk was, dan was ek vanjaar by herbesoek nog meer. Die Nottinghill van destyds, was skaars die helfte van wat dit vandag is.

Ek lees woorde soos “dilapidated” en “worn-down” om die woonbuurt tot in die tagtigs te beskryf. Eers tóé dat die opbloei gekom het, ʼn bloeityd wat vandag nog aanhou.

Ek deel twee video’s. Die eerste een neem ons in een van die huise waarmee ek destyds so beïndruk was, in. (Ek beleef ronde twee, in 2016 méér as tydens ronde een in 1994)

Die tweede een val weg met die presiese lenteprag wat my so liries had, maar beweeg dan deur die winkels in die gebied. Ek het gekwyl van al die mooi en lekker. Ek lei af dis ʼn Franse uitruilstudent se video van haar hoogtepunte in Nottinghill. Gelukkig praat sy nie te veel nie, en eintlik ook net in die begin.


Dis dan hoe huise in Blenheim crescent bemark word


Kamers vol geskenke op steroids


Portobello Road



Ek lees nie die dagboek vooruit nie, ek herontdek die verlede soos ek tik. Ek verbeel my ek is later terug, maar is nie seker nie. Portobello lui ʼn klokkie sedert my kinderdae – my broer en skoonsus het áltyd daarvan vertel en van tyd tot tyd met mooi dinge van daar teruggekom huis toe.

Die straat is die hele Youtube vol. Die naaste aan my ervaring, oor ek so vroeg daar deur is, is die eerste van drie video’s wat ek deel – die mense het nie ʼn markdag gekies nie, én dit wat ʼn ongure dag.

Nommer twee is lekker kort maar gee ʼn goeie indruk van wat om te verwag. Die laaste een  is van my, nou al, goeie vriend, Vic Stefano wat sy videokamera orals loop indruk.
'n Rustige dag en goed vir die gemoed


Kort, nie vreeslik kragtig nie, maar jy kry 'n jolly goeie idee


Vic Stefanu stap in die straat af - 'n miernes

Books for cooks


Ek het dit vir 21 jaar gehad dat daar nie ʼn enkele kookboek wat op knoffel fokus, was nie. Dis hoe ek dit 21 jaar lank onthou het. Toe lees ek hier:  “Sien baie boeke wat ek met liefde sou wou koop – sop, knoffel, boeke oor kookkuns uit Afrika, e.d.m.”

Ek besef nou dit was vir my selfbeeld en onthou belangrik om die herinnering só te struktureer dat hulle kwansuis nie ʼn knoffelboek had nie. Eerder só ʼn stukkie onthou, as om jouself vir die res van jou lewe daaraan te moet herinner dat jy te armgat was om een van die knoffelboeke wat daar was, te kon bekostig.

Ek wou twee goed terug bring van oorkant die water:  ʼn opname van Pablo Sarasate se Sigeuner Weisen, en ʼn kookboek rondom knoffel.

Sophie Muter se opname het ek in Duitsland gekry. My kookboek soek ek vandag nog steeds, elke keer as ek en die res van die gesin iewers in ʼn boekwinkel afpak.

Wat die winkel se drie video’s betref, kan jy maar eenie-meenie-miny-moe , die drie is soos vinkel en koljander, die een is nes die ander en as jy een gesien het, het jy die ander twee eintlik ook gesien.


Chef aan die woord (gesels oor Juliet & Julia)

Video Jug se deeglike bekendstelling van die winkel en eetplek

Die winkeleienaar aan die woord - die winkel se eie video

British Museum


Ek was vroegoggend alleen, maar praat later, rondom die museum van “ons”, so ek en Es het mekaar seker hier ontmoet.

Dit was destyds my eerste besoek aan die plek, maar met die dat alles wat ek toentertyd ʼn week vroeër in die National History Museum gesien het, vandag in die British Museum gehuisves word, het ek dag twee van my herbesoek al by die British Museum ingeloer.

Maar nou weer.

En weer wil ek vir hulle skryf en sê dat hulle webwerf suig. Dis die ontoeganklikste, ongebruikersvriendelikste webwerf onder die son. My amptelike herbesoek via hulle webwerf was, soos met Dag Twee, niks anders as ʼn voortdurende frustrasie nie.

Dis moeilik om te glo dat hulle en die Victoria and Albert Museum in dieselfde land is. Die V&A se webwerf nooi jou in en jy verdwaal vir ure – letterlik, jy kan nie uitgekuier raak nie. Maar met die British Museum, is dit of ʼn norse ou oom in blou uniform en met ʼn fluitjie in sy bek, jou al om die ander minuut daar uit wil jaag.

Die video’s wat ek deel, kan ek elkeen aanbeveel. Vic Stefanu het gedoen wat ek gehoop het hy sal doen – hy fokus op die mummies. Dit was vir my lekker herinneringe. 
Maar die ander twee, wat wyer en meer professioneel kyk, verklap weer iets anders wat ʼn mens nie wil misloop nie.

Ek dink nie die biblioteek waarvan ek hier praat, is die reading room waarvan die video’s en talle foto’s praat nie. Dit wat ek onthou en dit wat ek sien, is twee verskillende goed. 

Maar dit wat ek onthou én dit wat ek sien, bly ewe asembenemend en aangrypend.

Ek sou langer en meer hier wou deurgebring het, in die Middeleeue en in Antieke Griekeland en Rome, maar die webwerf is net té ontoeganklik, toe loop ek maar. Iewers tussen daardie potte is inderdaad die een Keats inspireer het om “Ode to a Grecian urn” te skryf. Verdomp of hulle my by hom wil uitbring! (Keats, terloops, het ure in die reading room ook deurgebring.)

Soos ek destyds, wonder mense vandag nog oor die legitimiteit van die hele konsep van die Britse Museum.

Die kommentare op van hierdie webwerwe is altyd vir my ʼn vox pop van hoe Jan Publiek, Jan Alleman én elke Jan Rap en sy maat voel. Daarom dat ek partykeer langer lees aan die volk se gemurmel oor ʼn ding, as die ding self.

Hier net enkele van die opmerkings:

  • For a museum that's free, it's amazing. I loved it so much I vlogged my experience for my channel. I think the Egyptian section was my favourite.
  • it's free my friend because everything in there is stolen. nothing is british.
  • British Museum (stolen goods )
  • say hello to your ancesters europe....normally I would say return these mummies but,europe has far more claim than egypt does at this point...If these mummies went to egpyt? you would never see these mummies again because of hawee hawass...who is suppressing the dna results of over 70 mummies.....look long and hard at the anglo faces on all mummies....I am not saying that all mummies look anglo...i'm saying a majority do ......... tuts dna matches 80% of englih men.
  • I was just thinking why aren't they in Egypt?.. interesting... lol Hawaas is fuckin' shit up over there

Vic Stefanu  (amateur, maar baie mummies en ander hoogtepunte)



Iets om te kyk en baie om te hoor

Die klank trek, dis 'n nagmerrie, maar baie interessant

Westminster Cathedral


Ek onthou van die Cathedral niks – ek onthou die orrelmusiek, soos gister. Naas die dagboekinskrywing is die enigste bewys wat ek het om myself te oortuig date k wel daar was – die klein replikakruisie van die katedraal se baie bekende, baie groot Christus-kruis wat in ons huis hang.

Met die dat dit amper vier maande in ‘n rugsak was, het ek geweet dit wat ek terugbring, gaan maar min wees. Of baie, maar klein. Toe besluit ek op baie, maar klein. Ek het orals kruisies gekoop en dié kruisies is nou agter glas in ons eetkamer.

My vertel van die katedraal maak ook daarvan bewus dat ons vroeër die week besoek aan die Westminster Abdy gebring het – iets wat ek nie in my dagboek noem nie. Tog sê ek hier dat ek meer van die katedraal as die abdy hou.

Ek onthóú ook dat ons by die abdy was. Dit was saam met William. So dit moes die vorige Sondag gewees het. Dit wás. 
Ek onthou selfs hoe ons die pad oorgesteek het om by die abdy uit te kom.

(Jippee! – ʼn nuwe plek om herbesoek aan af te lê. Een waarvan ek nie geweet het nie, Dit kan mos nét lekker wees.)

Die een ding rondom die katedraal en die abdy wat my fassineer het, is die feit dat die Roomse Katedraal relikwieë in die abdy het. Onder andere die grafte van ʼn paar Rooms Katolieke heiliges. Dit had my deurmekaar, maar is logies. 

Die Abdy was aanvanklik ʼn Roomse Katedraal, met baie meer grafte van baie meer belangrike outjies. Maar toe kom die Reformasie en die Katolieke word uit die kerk gejaag. Die een Britse koning verwoes bykans alles wat Rooms was, en omtrent niks wat graf of beendere is, bly oor nie.

Daarom ook dat die katedraal soveel jonger as die abdy is.

Miss Saigon



Ek onthou ek was daar, en ek onthou dat ek nie daarvan gehou het nie. Al wat dit vir my ʼn volslae hoogtepunt maak, is die feit dat ek in die Drurylane-teater was. ʼn Lieflike, baie historiese teater waarvoor enige dramakunde-student sy voortande sal gee om by te kan woon.

Esmari se kerrie


Ek onthou van hierdie kerrie niks. Ek onthou dat ons dit spesiaal vir William gemaak het. Hy het gekla oor die Britte se kerrie – hulle strooi dit oor kos soos ons Maggi Fondor of Barbeque Spice sprinkel. Ons het vir lank ook net kerriegeursel saam met die ander kruie en speserye op die rak gekry. Maar osn moes reggekom het.

Ek het uit Esmari se hand nog nooit iets geëet wat nie verruklik is nie, of dit nou ʼn roosterbroodjie met anchovy-spread is, en of dit nou ʼn outentieke Italiaanse tiramisu is.

Om af te sluit


Die cider op Cheddar waarvan ek praat, het betrekking. 
Onthou, dit was ʼn grootse, eerste kennismaking. Die enigste cider waarvan ons hier aan die suidpunt van Afrika daardie jare geweet het, was apple cider vinegar. Ons had lank nog iets soos Savannah of selfs Hooch nie. En hierdie ciders by ons vandag, is nie naastenby soos die ciders op Cheddar nie. Cheddar se ciders is soos die cider waarvan Keats in Ode to Autumn skryf – met die hand gepars, gedistilleer en gebotteleer.

Laslappies en skakels

Ons weet nie watter item in die Britse museum Keat inspireer het om sy lieflike "Ode on a Grecian Urn" te skryf nie. Daar is twee wat voor in die tou staan van aanspraakmakers. Hulle is die Townley vase (links) en die Portland vase (regs). Ek het hierdie artikel op die Wordsworth Trust se webwerf baie geniet.


 

Voor ek op Youtube gesoek het, het ek Pinterest ingespan. Hier is die albums waarin ek my goedjies plak.

Nottinghill (Books for Cooks, Bleinheim Crescent en Portobello Road)
British Museum
Westminster Cathedral
Miss Saigon


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking