05/04/94

5 April 1994 - 21 jaar vantevore (en leesbaar oorgetik ook)








My eerste “vreemde” buitelandse drankie was ʼn Portugese tamatiekelkie – dit hoort so. Ek en Esté (ek dink aan jou op jou wittebrood, Esté) het tradisioneel tamatiesap gedrink as ons gereis het.

Hier kom die kos, nou. Ek gaan settle vir my eerste volksvreemde bier. Die bier was, soos die kos, heerlik. My eerste kos vir die dag met die uitsondering van Anita se “aero” (air-o).

Oops “F-op” nommer 1: Ek en Esmari het nie ʼn toerplan nie. Die original is by Judy, ek het Esmari sʼn geleen om te tik en nou het ons nie al die nommers nie.

Hoogtepunt no 1001:  Ons land op Luanda. Enige iemand wat my goed ken, weet dat dit my ontsettend baie kicks gee. Africa. Die lus vir toer – Afrika toer, neem van my besit. Vanuit die staanspoor was my Europese toer ʼn verstandbesluit, met my hart wil ek deur Afrika gaan.

Vooropgestelde idee 2002:  Die grootte van die stad Luanda val my op. Dis normaal met liggies soos “Bloemfontein”. (Sorry Philippa – ek skryf terloops vir die eerste keer met die pen wat jy my gegee het, meer as ʼn jaar gelede.) Ek het gedog ek gaan kampvure sien, maar dis nogal normaal. Ek dink aan Suster Sakkie, Lourdes, Ernesto, Mina, João, en al my oud-Angolese vriende. Baie van hulle sal so jaloers wees, as hulle weet ek was hier. As ek soveel wanopvattings oor die plek gehad het, kan ek my voorstel hoeveel wanopvattings daar oor die eertydse RSA bestaan het.


Amper vergeet ek om te noem van die “bomb-scare” wat ons in die Sanlam-sentrum gehad het. Gros, nè. En dit op die vooraand/vooroggend van ons vertrek. Almal het nie daarvan geweet nie, maar ek het toevallig gehoor toe siviel-geklede polisie by die sekuriteit opgedaag het met die nuus. Dit was nie lekker om deur die strate van PTA te loop en onveilig te voel nie. So moes die Luandese ʼn hele paar jaar gelede gevoel het. (Ek wens ek kon vir ʼn week hier afklim.)

Dis 11-uur en die temperatuur is 27˚C. Dit is ontstellend drukkend. Erger as Durban waar die Tannie Langs Esmari vandaan kom. Sy is ʼn Indiër en op pad na Amsterdam – nee dit klink nie of sy gaan stem nie – dalk vir Déé-Klerk.)

Ek en Esmari is al twee baie moeg – sy bietjie meer as ek oor sy nooit laasnag geslaap het nie. (Dankie tog – die twee skreeuende babas is stil.)

Die laaste keer toe ek in Luanda was, was onder heel ander omstandighede. Dit was saam met Wynand*. Ja, die arme man is gevang, maar ek het weggekom met die inligting wat hy te sleg was om te kry. “A loota continua” (sic.)

Enige iemand wat nog nie Chris Barnard se “Moerland” gelees het nie, moet dit doen.


*Du Toit.


5 April 1994 - 21 jaar verder


Hierdie is regtig nie dagboek-hou nie, dis enige iets doen om aan die verveling van die lang vlug te ontkom. My ma sou gesê het:  “Ek ruik wat jy praat, Oubaas.” Bloot omdat sy nie sommer die woorde “jy praat stront” oor haar lippe kon kry nie.

Maar wat kon ʼn mens doen?

Ek kan nie onthou dat daar al videoskerms op die vliegtuie was nie, en ás daar daardie jare was, sou dit in eersteklas wees, beslis nie in tappid-klas wat ek en Es kon bekostig nie.
Die enigste leesstof op die vlug, naas die TAP-Air-tydskrif in die ou voor jou se rugleuning, was die spul Havard-studente se “Let’s Go Europe 1994” en “Frommer’s Europe on $50 a day”. So daar sou vir iemand soos ek niks anders wees om te doen, as om tjol in my dagboek te skryf nie.


My Frommers, 'n prentjie van my Let's Go kon ek nie opspoor. Beide is deesdae op die internet ook: frommers.com en letsgo.com


Die toerplan wat agtergebly het, was nogal ʼn boggerop – ons had plek-plek beloftes van blyplek (op die ou einde, as ek reg onthou, het net London en Duitsland realiseer) en al die mense se kontakbesonderhede was daarin aangeteken.

Om stapfiks genoeg te word ten einde die Visrivier-canyon plat te stap, het ʼn spul van ons in ʼn stadium by “Walk-for-Life” aangesluit. So in die stap, al om ʼn baan, een aand, vertel Es vir die uitasem-tannie langs haar dat ons volgende jaar ook Europa toe gaan, en die tannie noem dat sy dan deel van die ambassadepersoneel in Helsinki gaan wees. (Maar ek sal nog tot daar moet lees, om te sien of ons toe ooit by haar uitgekom het.)

Dele van Bechuanaland, Rhodesië, Noord-Rhodesië en Duitswes-Afrika het ek darem al gesien, maar wat die res van Afrika betref, is en bly die kontinent 21 jaar later steeds ʼn geslote boek. Ek is van vermoede dit gaan so bly.

Luanda se internasionale lughawe voor die onlangse veranderinge. Hierdie oudjies noem dit van die swakstes in Afrika.

Angola is steeds vir my ʼn aantrekkingskrag. Eerstens omdat my pa daar olifant gaan jag het – en die tande toe destyds op pad terug van die trok gesteel is. Maar dit was jare voor my geboorte, selfs dalk nog voor hy en my ma getroud was, ek sal nie weet nie.


"Bloemfontein" by the sea
Dalk het my pa nooit eers olifante in Angola gejag nie. Dis maar net hoe my brein dit onthou. Hy het ook vertel van die Zimbabwe-ruïnes. Dalk het hy in Rhodesië gaan jag.

Hel, ek hoop nie dit was al die tyd gesteelde boustene van die Zimbabwe ruïnes wat weer deur ander diewe van hul trokkie afgesteel is nie! Hierdie herinnering is seker al 50 jaar in my grysstof - baie dinge kon al in my onthou verkeerd gegaan het.

Ek sal nou nooit weet nie.

Tweedens hou Angola vir my ʼn bekoring in oor my verbintenis met die Angolese vlugtelinge en soldate wat kolonel Jan Breytenbach (na hom het ʼn vorige inskrywing ook verwys) op ʼn kol bymekaargetrek en in ʼn gevegseenheid saamgebind het.

Hierdie is darem ʼn feit waarvan ek seker is – ek het darem nog kontak met van die mense.


Hoe vreemd om die naam nog in Afrikaans te kan lees


Ek wonder of ek na 3 of 4 April 1994 al ooit weer my voete in Sanlam-sentrum Middestad gesit het – ons is daarheen om ons reisigerstjeks op te tel. As die bomdreigement meer as net ʼn dreigement was en ons nie by die reisigerstjeks kon uitkom nie, sou dit nogal ʼn gedoente gewees het. Ons het tot op die laaste nippertjie uitgestel om dit af te haal. Daar sou nie ʼn ander geleentheid kon wees om dit te kry nie.




En dan die Wynand du Toit-grappie waarmee ek myself vermaak het! Ek praat of die man nog ʼn gevangene is. In 1994 was hy al lankal vrygelaat. Min het ek trouens tóé geweet dat hy reeds weer terúg in Angola is. Hierdie keer as lid van die Executive Outcomes-span. Wat na 1998, toe hierdie besigheid ten einde gekom het, gebeur het, weet ek nie. Wynand du Toit self, lees ek in die Mail and Guardian van 27 September 1997 is die vorige maand, presies tien jaar na sy vrylating, uit Angola gedeporteer. Die laaste klompie jare is hy in die boerderybedryf in die Kongo. (Dit vertel ʼn Sunday Times-artikel van Mei 2012 my) Sy Facebook-profiel het dit drie jaar later dat hy steeds daar woonagtig is. Iewers is hy en sy vrou uit mekaar uit, trou hy weer en bestuur hy ʼn veiligheidsagentskap (of so iets) in die omgewing van Lanseria.

ʼn Besige lewe.

Einde 2015 reis hy deur die land en stel sy boek Judasbok – Verraad ter wille van oorlewing bekend.

Op Bush War Books se webblad word sy boek só bemark:


In Mei 1985 land ‘n nege-man-span van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte op ‘n strand in die olieryke Cabinda-provinsie van Angola. Hul uitsluitlike doel is die vernietiging van ses massiewe olie-opgaartenks. Die daaropvolgende skietgeveg lei tot die dood van twee soldate en die gevangeneming van kaptein Wynand du Toit. Dit alles dui op een ding: Verraad!

Lees hier in sy eie woorde die gebeure van daardie nag en die diepgaande nagmerrie van sy gevangeneskap, die sameswerings en die uitein­delike afleiding dat die hele operasie slegs ‘n opening­skuif was wat uiteindelik die Suid-Afrikaanse volk moes mislei tot oorgawe in Angola en die onafhanklikheid van Namibië.


Judasbok beloof om die leser op ‘n ongelooflike intense ervaring te neem en ‘n in diepte kyk te gee na wat agter die skerms gebeur het en wat aanleiding daartoe gegee het dat Wynand du Toit ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika geword het.

Inderdaad só ʼn sterk huishoudelike naam dat ek in 1994, in die lugruim bokant Angola maak, grappies rondom die man .


Die stryd duur voort - die oorwinning is seker


Was “a loota continua” (in plaas van “a luta continua”) ʼn dom spelfout of ook ʼn grappie met poging tot woordspeling? Ek weet nie. Hoewel dit in die 1960's ʼn Mosambiekse FRELIMO-oorsprong het, het Samora Machel se slagspreuk oorgespoel na die ander Portugese kolonie en het die Angolese wat ek in 1987 en 1988 tydens my dienspligjare leer ken het, ook die uitdrukking gebruik.
Ek giggel so bietjie vir my gebruik van die woord “dienspligjare”. Dit is seker inderdaad soos een joernalis van Wynand du Toit berig:  “Like many former soldiers, Du Toit said he had been bullshitted by the previous South African government into going to war against Angola.”
(bron)
Laslappies en skakels




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking