Vooraf

As my 1994-handskrif onleesbaar is, wees getroos, die inskrywing volg getik na afloop van die fotoweergawe.




Ek het lank gewonder hoe om hierdie dagboek te begin. Aanvanklik wou ek, heel literêr, iets doen rondom ironie. (Dit was Paasfees – Vrede, Christus gesterf vir ons sondes – in kontras met die geweld in die land. Maar toe is daar nie soveel geweld soos geantisipeer nie, en ook nie so baie ironie nie.)
So good bye aan ironie. (Tog het ek ironie vir die eerste keer bespeur met die Rautenbachs se afskeidsete. Dit was ʼn heerlike aand saam met lieflike vriende.* Estelle is ʼn gasvrou met finesse wat mens só tuis laat voel. Maar halfpad deur die aand het dit my opgeval dat ons die minimum oor die “Bon Voyage” en reis gesels. Die hele aand het ons hoofsaaklik oor landsake en politiek gesels. Dit het my geensins gepla nie, maar was opvallend. (En so bietjie ironies – gun my tog my relaas rondom ironie.)
Daar sit ons in die sitkamer waar ek Oujaarsaand rondom ʼn regte Kersboom met regte kerse sit en gesels het; en nou praat ons oor noodvoorrade, en honderde ander vrese – gone is Kersfees, feesvreugde en al daai dinge.
En ek het my verbeel oral oor die land praat mense so op daai oomblik – stil en gedemp oor die verkiesing, die geweld, die regering, en al daai crap.
Toe dag ek, ek sal met ʼn gebed begin. Dit was ʼn intense behoefte by my, maar die gevoel is nou dood. Ek het berusting gekry, ʼn vrede in my gemoed – en dalk het ek al so baie gebid, dat ek nou uitgebid is.
My gebede die afgelope paar dae was, snaaks genoeg, nie gevul met  vrae en versoeke nie, maar met Dank. So ontsettend baie Dank vir die Here oor so ontzettend baie dinge. Eerste van alles my en Jac se dierbare moeder – Judy. Dit het my by tye gevoel ek kan die Here nie genoeg vir haar bedank nie. Ag, maar dan is daar nog ontelbaar ander dinge ook waarin die hand van die Here soos ʼn paal bo water staan – ons visums, die ondersteuning van vriende soos die wat my (ons) bygestaan het, en baie ander.
Waar ek die Here wel lastig geval het met vrae, was dit nie oor die vlug nie, ons toer nie, maar oor die mense by die huis. Ons weet nie wat polities gesproke gaan gebeur nie – maar ek het gesondheidsorge oor die twee oues op Alberton. (Ek wonder of die by die huis weet dat ons meer  rede tot kommer oor hulle het, as wat hulle rede tot kommer oor ons het?)
Toe die vliegtuig netnou opstyg (± 20:05) het ek gevoel hoe sê ek tatta aan Suid-Afrika wat ek ken, met die gedagte dat ek ʼn ander Suid-Afrika gaan groet as ek terugkom (AZANIË). ʼn Land wat gaan verander in my afwesigheid.
*Estelle Rautenbach, Lukas (haar man), Pat, Ina, Hetta, Karel, Esmari, en Hans, Stefaans.

Die eerste wat by my opkom is L.P. Heartly se baie bekende: “The past is a foreign country: they do things differently there.”
Was die komende oorgang daardie tyd werklik so ʼn donker wolk dat dit vandag eerder aan ʼn swaard oor ons koppe as ʼn donderwolk herinner?
Want kyk – hier klim ons op die vliegtuig, en nog voor hulle kom met “fasten your seatbelts” of “chicken or beef”, gryp ek die dagboek om my gedagtes stil te hou, en die heel eerste waarby ek stilstaan is wit Afrikaner-vrese.
Krap ek in die Afrikaanse pers van die dae rondom ons vertrek, dan voel ek minder skuldig oor die koers wat my skrywe inslaan. ‘n Noodtoestand is immers minder as ‘n week gelede in KwaZulu-Natal uitgeroep – voor die einde van April is meer as 400 in die provinsie vermoor.
"Asseblief, God, help ons!" het 'n gewonde lid van die AWB sowat twee weke vroeër in Mmabatho uitgeroep kort voordat hy deur 'n soldaat van Bophuthatswana "tereggestel" is. 'n Tweede gewonde AWB-lid is op dieselfde manier om die lewe gebring en kort vantevore is 'n derde AWB- lid in dieselfde groep ook deur veiligheidsmagte doodgeskiet.
Onder die opskrif Paniekeriges gaar kos op vir verkiesingsweek, skryf Christo van Staden ʼn paar dae voor ons vertrek in Burger van 31 Maart daardie jaar:
Talle Kapenaars het reeds voorsorg begin tref in geval van ontwrigting in die verkiesingstyd en blikkieskos en ander voorrade begin opgaar. Volgens woordvoerders van groot kettingwinkels word heelwat navrae ontvang van mense wat wil weet of vars produkte beskikbaar gaan wees.
Mnr. Steve MacDonald, hoofbestuurder van die Brackenfell Hipermark, het aan Die Burger gesê dit lyk asof daar paniek aan die broei is. “Ons verwag beslis probleme met die verskaffing van veral vars produkte in die week van die verkiesing. Ons verskaffers het laat weet dat hulle ontwrigting verwag. Ons probeer in dié stadium vasstel watter produkte geraak sal word en in watter mate.”
Kragonderbrekings
Volgens mnr. MacDonald kan kragonderbrekings tot groot verliese lei. Die Hipermark het wel kragopwekkers wat sy rekenaars aan die gang kan hou, maar nie die vrieskaste nie.
Heelwat gerugte doen die ronde dat maatskappye en selfs staats- en semi-staatsinstellings mense raad gee oor voorsorgmaatreëls vir die verkiesingstyd. In een pamflet wat in Die Burger se besit gekom het, word mense aangeraai om 'n week voor die verkiesing seker te maak dat daar genoeg mediese voorraad, niebederfbare kos, kerse, lampolie en kontant in die huis is. Die motor moet vol petrol wees “omdat petrolmaatskappye bevestig het dat geen voorraad in dié tyd vervoer sal word nie weens die hoë risiko”.
Verder moet die vrieskas leeggemaak word want “kragonderbrekings sal beslis voorkom”. Luidens die pamflet moet mense by hul dokter uitvind wanneer hy beskikbaar gaan wees in die verkiesingstyd.
Tipies Suid-Afrikaans
“Tipies Suid-Afrikaans sal die dokter waarskynlik oor die na vraag lag, maar hy sal waarskynlik die eerste een wees wat sy spreekkamer by die eerste teken van moeilikheid sluit.” Mense word gemaan om versigtig te wees vir padversperrings. “Pasop vir padversperrings met net een of twee 'polisiemanne' of 'polisievoertuie'. Die owerhede het die versekering gegee dat padversperrings swaar beman sal wees.”
Mense word ook gewaarsku oor die tyd net ná die algemene verkiesing. “Onbeheerbare feesviering en wraakaanvalle sal voorkom.”
Die inligting op die pamflet is gebaseer op “aantekeninge wat gemaak is ten tyde van 'n seminaar deur 'n politieke analis”. Mense elders in die land is blykbaar heelwat meer gespanne oor die komende verkiesing. Talle Kapenaars verwag in dié tyd besoekers uit ander provinsies wat in die verkiesingstyd eerder nie tuis wil wees nie.

Ek kan sien waarom ek my dagboek wou afskop rondom ironie:  Drie maande gelede kuier ons saam, en dis feesvreugde en vrede rondom die Kersboom; drie maande later kuier ons saam en dis gerugte van oorlog. Ek wil luidrugtig borrel en klets oor die oorsese reis, en daar praat almal gedemp oor onrus en die opbou van ʼn Oud-Testamentiese voedselskuur van Egipte in elke wit voorstedelike spens en kombuis.
Pinksterteoloog, Dr. Nico Horn, klink nog meer alarmisties. Hy skop sy Paasboodskap in Beeld van 5 April daardie jaar af met: “'n Mens hoef nie 'n profeet te wees om te weet die duiwel is los in Suid- Afrika nie. Sy verwoestende spore is oral te sien.
Maar wag, miskien, nét miskién, is ek besig om die man ʼn  onguns aan te doen deur hom baie selektief en nie in konteks nie, aan te haal. Die doktor vervolg: “Om te weet wie hy (die duiwel) is en waar hy hom bevind, verg 'n gawe van onderskeiding. Gelukkig blyk dit uit persverklarings van die afgelope tyd dat die kerke geen probleem het om hom te identifiseer nie. Die Afrikaanssprekende kerke kan hulle boonop beroep op die eenheid van die kennis van die waarheid. Hulle het die afgelope maand die vyand duidelik geïdentifiseer en hul lidmate teen hom gewaarsku: ateïstiese kommunisme."
En lees ek hoe ek dit laat klink of my knieë kameelknieë gebid is, is die tweede gedagte wat by my opkom, naas nou die past wat ʼn foreign country is, is die baie bekende “there are no atheists in a sinking ship.” Ook nie in die fox holes óf vir drie maande op pad buiteland toe aan boord 'n vlug van Transportes Aéreos Portugueses (TAP Air) nie.
En dis nie dat ek myself ʼn ateïs noem nie (al vermoed ek dokter Nico Horn sal my so noem, én sommer ʼn kommunistiese een daarby ook) dis net dat dit duidelik is dat die onsekerheid, nie oor Suid-Afrika en 27 April nie, maar die oues by die huis en ons wat meer as drie maande lank baie ver van hulle gaan wees, my baie op my knieë had.
Kyk ek waar ek vandag op sowel my politieke as geloofspad staan, is dit duidelik waarom van ʼn politieke en geloofpád gepraat kan word.
Die ANC het my vervreem en maak dit vir my onmoontlik om in hulle kraal te staan.
In geloof vra en versoek ek nóg minder, maar is ek aan die anderkant nog net so dankbaar, indien nie nog veel meer dankbaar as wat ek destyds was nie.
Stertjies en skakels
Ons was destyds inderdaad op die randjie van ʼn burgeroorlog. Hóé na, sou ek destyds nie kon weet nie maar die FAK se Internetmuseum vir Afrikanergeskiedenis stel dit só:
“Voor die verkiesing op 26 en 27 April 1994 het militêre leiers soos generaal Constand Viljoen ’n opstand beplan waaraan meer as 150 000 man sou deelneem. Die doel was nie om die regering omver te werp nie, maar om ’n stuk van die land te beset en te probeer behou.
In Dennis Cruywagen se boek Brothers in War and Peace lees ons die volgende nadat Generaal Constand Viljoen van die AWB se “beleg van Mmabatho” teruggekeer het:
“Toe hy op Vrydagaand 11 Maart na die Waterkloof-lugmagbasis teruggevlieg het, was ’n doodsbleek Constand siedend. Hy was geskok, geruk en verneder, en sy militêre opleiding het hom nie voorberei vir dít wat hy vroeër die dag aanskou het nie . . .
“Weet jy wat hulle sal doen as ons nie deelneem nie?” het hy sy kolonels met verwysing na die Afrikaner-Weerstandsbeweging (AWB) gevra. “Hulle sal dorp ná dorp afbrand, soos hulle in Mafikeng gedoen het. Ons sal moet deelneem, omdat ons iets sal laat vlamvat wat ons nie sal kan blus nie.”
“Wat moet ek nou doen?” wou Constand weet. Moes hy sy kandidate registreer?
“Ja,” het Breytenbach [Jan Breytenbach, oudbevelvoerder van 32 Bataljon] geantwoord.
Dit was hierdie reguit gesprek wat Constand in die rigting gestuur het van ’n besluit wat hy uitgestel het sedert hy die Vryheidsfront slegs ’n week tevore geregistreer het.
Nadat hulle geland het, is Constand reguit na die VF se kantore in Hatfield.
“Ek kan dit nie aan die Afrikaners doen nie,” het hy gesê. “Ek kan nie toelaat dat wat ek vandag in Bophuthatswana gesien het, in Belfast, Machadodorp, Ohrigstad, Brits en sulke plekke gebeur nie.”
Met hierdie woorde het hy die grens oorgesteek tussen besluiteloosheid en vasbeslotenheid; tussen ’n Machiavelli wat sy mense ’n oorlog binnedwing en ’n held wat hulle ’n oorlog spaar; tussen eerloosheid en respek . . . In ’n oogwink is hy na die slagveld verplaas, waar die bevelvoerder nie sy onderdane vra wat om te doen nie. Hy was weer genl. Constand Viljoen, wat van voor gelei het.
...
Die generaal was ernstig oor oorlogvoering. “Ek het die oorlogsmasjien gereed gehad,” het hy later gesê. Die finale besluit om hom nie tot oorlog te wend nie, is net ná 23 April geneem.
Hy het rasioneel oor die situasie gedink. Die verwoestende gevolge van die Anglo-Boereoorlog vir Afrikaners het by hom gespook, en hy het teen oorlog besluit . . . ’n Paar jaar later, in ’n onderhoud met Hilton Hamann, het Constand gesê: “. . . Ek is nie spyt oor die besluit nie, maar . . . die situasie in die politiek verander nie so vinnig nie; en of ek die regte of die verkeerde besluit geneem het, sal oor nog vyf of tien jaar duidelik wees. Dinge in Suid-Afrika kan soos in Zimbabwe raak: Dan sal ek beslis spyt wees.”
In Augustus 2013 het ek die generaal weer gevra: Is jy spyt oor jou besluit?
“Jy weet, ek het vandag gedink ons het in 1910 ’n fout gemaak toe Suid-Afrika ’n unie geword het,” het hy geantwoord. “Ons het nie die realiteit van mense se emosies in ag geneem nie. Ons het dieselfde flop in 1994 gemaak. Ek was in 1994 betrokke. Ek dink ek moes harder baklei het. Ek dink dikwels ons moes oorlog gevoer het.”
Dit is toenemend duidelik dat ons ’n guerrilla-oorlog op ’n soortgelyke skaal as dié in Noord-Ierland, Libanon en Sirië naelskraaps vrygespring het. Dit was so hittete; maar in April 1994 was daar nie tyd om na te dink nie. Die verkiesings was op hande.






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking