06/04/94


6 April 1994 – 21 jaar vantevore (en netjies oorgetik aan die einde)







6 April (06:05) By gebrek aan Paasfees, Kersfees, Barmitzvah of verjaarsdae, wens ek en Esmari mekaar ʼn geseënde Jan van Riebeeck-dag toe.

Reisigerswenk nommer 1  Sorg dat jy vroeg wakker word as jy ʼn oornagvlug het, en gaan piepie dadelik. Sodra jy daar uitkom sal jy agterkom die tou mense staan tot in die cockpit – nie vir die kaptein nie, maar vir jou seat.

Terugflits nommer 1  Die kos van gisteraand was teen alle verwagting in, toe nie Nando’s piri-piri-hoender nie, maar visvoorgereg met vishoofgereg. Hier kom die breakfast nou. (Nie pap en melk en braaibroodjies soos Ma dit maak nie.) Môre, Judy, ek hoop jy het lekker geslaap.

Reisigerswenk nommer 2  Bring jou eie Boere-Blik-Beker aan boord – hier is sulke verspotte klein koppietjies en glasietjies en dan raak jy skaam om drie keer koffie te vra.

Terloops:  Die vliegtuig het nog nie geval nie.

10:10 Intussentyd was ons gou vir ʼn heen-en-weertjie in Lisboa. Coke kos R8-00, ek drink water. Wat my daar opgeval het, is hoe netjies die vrouens aantrek. Jy kan elke vrou deur ʼn ring trek – ek lei af dis die sakevroue en so. Dit is lente in Lissabon, maar dit was 8˚C toe ons daar stap. Ek het vir die eerste keer “opgewonde” gevoel toe ek in die bussie ry en ek sien die karre en advertensieborde langs my.

Ons breakfast ʼn tweede keer op die nuwe vliegtuig want ons weet nie wanneer ons weer iets gaan eet nie.

Reisigerswenk nommer 3  Moenie die toiletpapier in die toilette gebruik nie, gebruik die tissues wat daar is – dit is báááie sagter. (Raai-raai waar was ek nounet.)



So hier sit ek op Heathrow. Esmari het gaan piepie en ek wag. Dis vanuit my perspektief maar soos enige ander lughawe. Dis opvallend dat die vrouens serpe dra, nie dik wolserpe nie, maar hierdie doeke. Dis seker vir die koue. My rugsak is tjokkenblok vol – ek sal moet minder maak. Vanaand nog. Verder is daar nie pyne.

6 April 1994 – 21 jaar verder

Ek verwonder my steeds aan die tjol wat ek kwyt geraak het, en hoe lekker dit moes gewees het. Tog het ek daarvoor die volste begrip:  Jy vertrek na maande se beplanning uiteindelik op jou eerste oorsese reis, maar sit die lengte van ʼn oornagvlug Europa toe vas in die wegspringblokke! Jy het afgeskop, maar ook nie. All geared up and nowhere to go, soorts van ding.

Alles het die vorige jaar, een laataand in Hillbrow, begin. My onthou is drie herinneringe:  Jazz in die Mark-teater, koffie in Hillbrow, en wiele in die modder. Ek vermoed my brein maak dalk van drie afsonderlike brokkies uit my verlede net een lekker vet stuk onthou, maar wat maak dit saak – hier kom dit:

Alles het die vorige jaar, een laataand in Hillbrow, begin. Ek en Esmari is deur Johannesburg toe om ʼn besoekende jazz-ensemble in die Markteater te gaan luister. Die jaarlikse Arts Alive-jazzfees het daardie jaar in die Mark afgeskop, so dit was straks vir einste fees dat ons dié aand gou vir heen-en-weertjie deurgeskiet het Johannesburg toe.

Na wié ons gaan luister het, weet ek nie – die program van die fees is toegesluit in wat bekend staan as iets soos: “Historical Papers Research Archive, The Library, University of the Witwatersrand.”

Waarná ons gaan luister het, weet ek wel:  ʼn besoekende jazz-ensemble uit Switzerland of Duitsland (ek verbeel my selfs ek onthou Tiroolse volksdrag, maar ek mag verkeerd wees). Hulle claim to fame was dat hulle die alpehoring as jazz-musiekinstrument ingespan het.

Ek onthou ʼn lieflike aand met Duitse gemütlichkeit und spass.

Géén, maar géén, teater- of fliekbesoek aan Johannesburg is óóit afgesluit sónder ʼn besoek aan Hillbrow nie – dit het eenvoudig net nie gebeur nie. Of jy nou moet terug ry Alberton toe, Potchefstroom toe of Pretoria toe.

Jy sou miskien gou ʼn draai deur Estoril, Exclucives en Look&Listen loop, maar dan is dit op met die trappe na Cafe de Paris, verby die man wat klavier speel, en jy maak jou tuis in een van die kontinentale stoele by een van die kontinentale tafeltjies. Ai, man, dit was die lewe!

Nou dáár het ek en Esmari een aand aan die gesels geraak oor die moontlikheid van langverlof neem en ʼn oorsese reis onderneem. (Dalk was dit ʼn ander konsert, maar ʼn ander afsaalplek as Cafe de Paris, was dit beslis nie.)

Ons het tot ounag toe gesels.

Rondom 02:00 of 03:00 iIn Pretoria aangekom, het ons ʼn ongeteerde, onwettige kortpad na haar woonstel geneem – en langs die spruit in die modder vasgeval. Die polisie moes ons kom uitsleep.

Miskien was dit ʼn ander aand dat ons vasgesit het, dis moontlik. Maar dis hoe ek dit onthou. Alles het een laataand in Cafe de Paris in Pretoria-straat, Hillbrow begin.

Ek is op en af in die straat op Google Maps, maar verniet of ek Cafe de Paris se adres kon herken.


En daar sit ons toe nou, 6 April 1994, na maande se beplanning, selfs na ʼn hele nagreis oor die lengte van Afrika , steeds vasgekluister in ʼn besigheidsklassitplek op ʼn TAP-air vlug op pad London nie – sonder iets van Europa.

Toe ek die dagboekinskrywing van 6 April ter wille van leesbaarheid oorgetik het, was dit letterlik die eerste keer dat ek dit weer gelees het – ek tik al lesende (of lees al tikkende).

Toe ek kom by die paragraaf wat noem dat ons ʼn aansluitingsvlug in Lissabon gekry het, loop my onthou met my op hol. Ek ry in my geestesoog weer op die transito-bussie en sien die advertensieborde langs die pad, ek sien die stylvolle Portugese vroue, ek onthou hoe opgewonde ek was, en wraggies – enkele lyntjies verder, lees ek, tik ek, dat die terugflits wat ek pas gehad het, inderdaad ʼn terugflits was – wat ek 21 jaar later onthou, is presies wat ek 21 jaar gelede geskryf het.

Daar staan dit:  “Wat my daar opgeval het, is hoe netjies die vrouens aantrek. Jy kan elke vrou deur ʼn ring trek – ek lei af dis die sakevroue en so. Dit is lente in Lissabon, maar dit was 8˚C toe ons daar stap. Ek het vir die eerste keer ‘opgewonde’ gevoel toe ek in die bussie ry en ek sien die karre en advertensieborde langs my.”

Ek weet nie wie het opgetel dat ek eintlik ʼn rassis is nie. Ek het. Daardie die-kos-van-gisteraand-was-teen-alle-verwagting-in-toe-nie-Nando’s-piri-piri-hoender-nie-maar-visvoorgereg-met-vishoofgereg is geensins ʼn onskuldige, terloopse opmerking nie. Eerstens verwag ek, met vooropgestelde idees, niks anders as Nando’s-piri-piri-hoender vir aandete nie. En dan maak ek ʼn punt daarvan om heel neerbuigend en vanuit die hoogte te laat val dat die Portugese so onaf is om vis vir voorgereg én nagereg voor te sit.

Ek onthou selfs ʼn onaf grappie rondom die lugredery van ons keuse:



Vraag:  Hoe weet jy hierdie is ʼn Portugese vliegtuig?

Antwoord:  Sy het ʼn welige bos hare onder haar vlerke.


Tog was daar niks verkeerd met ons keuse nie. Dit was vir ons die bekostigbaarste wat daar was. Wat my betref het ons in luuksheid gevlieg.

Vergelyk ek die plastiek messe en vurke wat ʼn mens deesdae in lugrederye se besigheidsklas kry, met die lieflike vlekvryestaal eetgerei wat hulle uitgedeel het, kan ʼn mens nie glo dit was besigheidsklas nie. (Hulle het dit natuurlik uitgedeel met die verstandhouding dat hulle dit gaan terug kry. Maar hulle het nie rekening gehou met Suid-Afrikaanse backpackers (rugsakreisigers?!) nie. Die goed was klein en kompak, maar duursaam en sterk. Een van ons het ons lepel, mes en vurk by die vliegtuig uitgesmokkel en amper vier maande lank elke dag daarmee geëet. Ek gaan nie sê wié nie – want netnou dink iemand sleg van daardie persoon. Die ander een hét, maar het later erken dat hy/sy spyt was dat hy/sy dit nie ook gedoen het nie.

Kyk ek hoeveel eetgereistelletjies
van lugredrye deesdae op die
internet te koop aangebied word,
hoef die een van ons wat 'n
stelletjie nou al 29 jaar op
bruikleen het, nie sleg te voel nie.


Was ons suinig? Nee. Was ons spaarsamig? Ja, ons móés wees. Ons ontbyt hierdie oggend twee keer, op twee verskillende vliegtuie. Dit het niks met eetlustigheid te doen nie, dis bloot dat die volgende ete een gaan wees waarvoor ons sélf moet betaal, hiérdie een op die vliegtuig is reeds betaal.

Onthou, my Frommer’s het gesê:  “Europe on 50$ a day”. Omgeskakel in die Suid-Afrikaanse rand van April 1994, kom dit neer op “Europa teen R174-95 per dag.” Ons is met ʼn glinster in die oog weg op ʼn begroting van R100-00 ʼn dag.

Dit klink nou min. Dit is.

Maar dit was daardie jare ook min.

Ons had R100-00 ʼn dag en al wat betaal was, was ons vliegtuigkaartjie soheentoe en terug, en drie maande se Eurorail-treinvervoer. Ons had met ander woorde R100-00 ʼn dag vir slaapplek, kos, publieke transport en toegang tot wat ons ook al die betrokke dag wou besoek.

Ons is nie Amerika toe nie, die Rand-Dollar-wisselkoers was baie gunstiger in vergelyking met Rand-Britse Pond of Rand-Duitse Mark.

Met agentekommissie en sulke dinge, onthou ek dat 1 pond rofweg gelykstaande aan 10 rand was.

Maar dit kón gedoen word met net R100. Óns hét dit gedoen.

So vergeef ons maar as ons met die lugredery se eetware weggestap het – dit was ter wille van oorlewing.

My gunsteling herinnering wat hierdie dagboekinskrywing by my oproep is die eerste drie sinnetjies van die laaste paragraaf:

"So hier sit ek op Heathrow. Esmari het gaan piepie en ek wag. Dis vanuit my perspektief maar soos enige ander lughawe."

Hoe kón ek Heathrow “soos enige ander” lughawe noem! Dit was destyds, en is vandag nog, die grootste en besigste lughawe in Europa, dis al vir jare onder die besigste drie in die wêreld en het vanjaar maar eers uitgesak na vyfde besigste.



Ja, ek onthou dit as baie besiger en groter as Jan Smuts, maar die geskarrel, die bankies om op te sit, die teëlvloere, die chroom in die meubels, die geluide, dít was dieselfde.

En onthou, ek sê – “vanuit my perspektief”. Ek onthou my perspektief op daardie oomblik so helder asof dit vroeër vanoggend was: Ek het op my gat op die grond gesit, links en reg van my was ʼn rugsak op sy rug neergesit. My een been was by die een se bande ingehaak, my ander been by die ander een se bande. Ek het ons rugsakke opgepas.

Esmari was al so lank weg, dat ek selfs tyd had om reuse dagboek uit te pak en ʼn pragrafie te skryf.

Eintlik het ek verdwaal en verwese en baie bang en onseker gevoel. Die dagboekskrywery is ʼn fasade van bravade, die “soos enige ander lughawe” is niks anders as ʼn poging om myself moed in te praat nie.

Laslappies en skakels

Ja, Heathrow het 'n lieflike webwerf wat 'n mens lank besig kan hou, baie kan help (en net so deurmekaar kan maak), maar ek het hierdie boek deur Robert Hicks



baie meer interessant gevind, omdat dit al die volgende nuttelose brokkies inligting in had:

  • Heathrow sells more than 26,000 cups of tea, 35,000 cups of coffee and 1,050 bottles of champagne every day. More than 974 tons of chips are sold at the airport every year.


  • More than 70million passengers pass through every year – six million more than the UK population. Heathrow is now the third busiest airport in the world after Atlanta in the US and Beijing, China. The busiest single day ever recorded was July 31 2011 when 233,561 passengers passed through the airport.


  • British Airways operates a “married roster” enabling married cabin crew to fly together.


  • Heathrow employs 76,000 people within the airport boundary – the same number as the population of Guildford, Surrey.


  • Safety vehicles are fitted with a digital scarecrow system that plays the distress calls of various bird species to scare them away from runways.


  • A total of 27,260 separate items have to be stocked on to a Boeing 747-400 before it departs on a long-haul flight. With space at such a premium careful calculations are made to ensure sufficient quantities for 377 passengers are carried without waste and to keep down fuel costs. The items loaded include no more than 233 toothpicks, 58 loo rolls, 2,000 ice cubes (five per passenger), 1,263 items of cutlery, 340 safety cards, 1,291 items of crockery, 650 paper cups, 337 blankets, five first aid kits, 220 drinks stirrers, 735 glasses, 99 full bottles and 326 quarter bottles of wine, 435 sickness bags (1.15 per passenger) and 164 bags of nuts in Club World.


  • The Terminal 5 duty manager is responsible for 50,000 customers, 600 security officers and 30 front-line managers a day.


  • Every day at Heathrow 1,400 flights take off and land – one every 45 seconds and nearly half a million per year.


  • Breakfast is the most popular meal of the day at Heathrow with almost five million eggs, 6.4million croissants and 4.5million rashers of bacon served every year. The number of pastries sold annually would line a runway in both directions 350 times.


  • Terminal 5 has 30 miles of baggage conveyors, 2.8 miles of tunnels and 44 baggage reclaim belts. Around 53million pieces of luggage are processed every year.


  • A vehicle breakdown on Heathrow’s inbound tunnel will lead to a traffic jam on the M4, 15 miles away, in just seven minutes.


  • More than 6,500 CCTV cameras monitor the airport and every day more than 200,000 bags are put through Heathrow’s security system.


  • Terminal 5 is the largest free-standing structure in the UK. At more than 1,312ft (400m) long, 574ft (175m) wide and 131ft (40m) high, the roof area is the size of five football pitches.


  • Flights stop at 23:30 and don’t resume until 04:30 – during that time security equipment is serviced, engineering issues are resolved, cleaning takes place and outlets are restocked.


  • One bottle of Chanel No 5 is sold at World Duty Free at Heathrow every nine minutes.


  • It takes under two hours to prepare a Boeing 777 with 66 tons of fuel, five tons of catering supplies, 3.6 tons of luggage and 23 tons of mail and cargo.


  • It cost £20million to resurface the southern runway last year. Each runway could accommodate more than 30 football pitches.


  • The Heathrow Animal Reception Centre (HARC) receives and cares for more than 80million animals each year, including 45million invertebrates, seven million live eggs, 28million fish and 13,000 cats and dogs.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking