Sondag 21 Februarie 2016

Dag 10 - 16/04/1994

Dag 10 - 21 jaar vantevore
(leesbaar oorgetik na bladsy 3)





Hierdie dag sou baie meer onaangenaam kon gewees het, as dit nie was dat ek vroeg geweier het om my onder te kry deur Esmari se bemoerdgeid nie – bemoerd oor ons nie Skotland toe gaan nie. Ek het self ook maar sleg geslaap, en toe ek besluit, tot hiertoe en nie verder nie, toe het ons die eerste woordewisseling vir die toer.

Gelukkig is daar op pad see toe, ʼn afraai wat sê “Cheddar”. En ons besluit om af te draai, grappenderwys sê ons daar gaan seker kaas wees. 

Die pad soheentoe loop vol draaie en kronkels – dis duidelik dat daar geen stads- en streeksbeplanning gedoen is in Engeland nie. Groot was ons al twee se verbasing toe Cheddar wel die plek is waar cheddarkaas sy oorsprong het. Ons parkeer bo in die styl en diep kloof (gorge). (Goed dis lankal nie meer ʼn kloof soos ek ʼn kloof uit Suid-Afrika ken nie, maar ʼn paar duisend jaar terug was dit wel ʼn kloof.)

Ag, dis die “oulikste ou plekkie.”

(Ek haat  laasgenoemde drie woorde, maar wat anders skryf jy as jy nie ure het om dinge te bedink nie.)

Daar is blykbaar Engeland se opwindendste grotte, maar ons gaan nie in nie – dis gekommersialiseer en ge-plastiek-iseer.

Ons besoek wel die museum waar ons leer van kaas maak en van cider maak, en kant maak en die maak van bootjies. (bootjies?)

Ons kruis links en regs oor die enkelpaadjie en snuffel in die winkels rond. Nodeloos om te sê:  Ons koop brood – vars gebak – en kaas – cheddar – en van die beste, gesuiwerste, maar ook die goedkoopste “apple cider”.

Cheddar is afgelei van twee Oud-Engelse woorde “ched” en “awdr” wat blykbaar “hoë water” beteken – verwysende na die water wat hoog in die berg ontspring.

Ons ry tussen die dorpies voort. Ons was op pad na die een of ander natuurpark wat groen gemerk is op die kaart – dit sou later blyk om nie iets soos die Nasionale Kruger Wildtuin te wees nie – maar eerder ʼn baie mooi stuk land wat gesien word as ʼn park.

Eers wil ons egter by die see gaan lunch. En ons draai af na Burnam-on-Sea. Ek en Es is later deur Burnam-on-Sea en twee ander dorpies voor ons £1 betaal om deur te kan ry na die see. En hier loop die pad tot op die strand.Ek skrik eers – gehuurde kar – tot ek sien almal ry op die strand rond.

O, die Engelse see was ʼn teleurstelling – daar was gee, maar geen, branders nie. Dit was laagwater  en van waar ons en die ander karre gestaan het, was dit seker 1 5000 m tot waar ek dink die see kon wees.

Hier mors ons baie tyd maar ry toe voort na die park – en, o – wat ʼn lieflike ervaring! Ek onthou in Tannie Enid Blyton se boeke het ek baie gelees van “the mist over the moors” – en dit is presies waarheen ons op pad was – the moor lands of Somerset.

Eers kry ons baie heuwels en groen en laslap-weivelde – laslap op grond van die hedges wat die Britte lieflik in stand hou.

Ek het foto’s van die skape geneem want dit het my opgeval – sulke lieflike, vet, langhaar-skape in die groen. Ag, selfs die beeste lyk anders – al is dit net omdat hulle in so ʼn totaal anderse omgewing as waaraan ek gewoond is, staan en wei.

Laat agtermiddag ry ek en Es ʼn tolpad – tolpad oor die lieflike scenery wat daar is. Dit blyk toe ʼn effense bergpas te wees (‘n vulletjie in vergelyking met die passe daar by ons).

Ons is ongelukkig te laat vir Dunster-kasteel – ek dink dit sou ʼn ervaring gewees het. Ons is selfs te laat om die dorpie se winkeltjies oop te vang.
Ons het aanvanklik gesoek vir karavaankampplek langs die kus waar ons op die see uitkyk. Ek/Ons kan nie een kry nie. En ek glo ook nie daar is nie – die see is so kak daar in Engeland dat geen mens daar ʼn vakansieplek sal oopmaak nie.

Ons besluit op die ou einde om op Minehead te slaap. Weer eens “ʼn lieflike ou dorpie”. Ons slaan ons tent op teen ʼn heuweltjie (aan die voet) , kyk vir die skapies wat daar wei – en gaan ry deur die dorp.

Op die hawe eet ons kaas en drink die eerste van die cider. Ek skryf vir my ma ʼn poskaart. Ons ry terug, besluit om nie te stort nie, oorvreet ons aan cheddar se brood en kaas en chutney en gaan slaap.

My matras, as ek dit nog nie genoem het nie, is stukkend en ek slaap koud en hard.

Oor die kampeerplek



16 April - 21 jaar verder

Hoeveel ons eerste argument op die Richterskaal van toerkonflikte gemeet het, sal ek nie weet nie. Maar dat dit die eerste was, en dat ek dit onthou, staan 22 jaar later steeds soos ʼn paal bo water.

Ek verkies om daaraan te dink dat dit alles Willem se skuld was, en dit wás, maar met dié dat hy destyds al 378 jaar lank in sy graf was, kan hy seker nie geroep word om pa te kom staan vir die uitval nie.

Ek verbeel my ons het drie dae gehad (ek lees nie vooruit nie) waarin ons in Macbeth se omgewing, Skotland, ʼn draai wou gaan maak.

En toe oorrompel Macbeth se vader, William Shakespeare, ons die vorige dag, en in plaas daarvan om aan te skiet Skotland toe, besluit ons, ondeurdag, om op Stratford te oornag.

Ons had nie ʼn slaapplek vir die aand beplan nie, maar die walle van die Avonrivier was nie ver genoeg van Londen weg vir ons om in Skotland uit te kom nie.

Maar die liefde maak blind en ons het al twee dadelik verlief geraak op die Britse platteland, en die implikasie van ons besluit het eers die volgende oggend, na ʼn koue nagrus (maak dit “koue nag” en los die “rus” uit) ingeskop.

En as ék nié Engels én Drama geswot het nie, as ek nié reeds self in ʼn produksie van Macbeth betrokke was nie (Esmari was destyds ʼn baie goeie wiskunde-onderwyseres) sou ons beslis nie op Stratford vasgehaak het nie.

So eintlik is daar net een vark in die verhaal, en ek verkies om hom Willem te noem, suiwer omdat dit nie vir my lekker is om daaraan te dink dat dit ek is nie.

Al weet ek dit was nie Willem nie.

Maar só erg kon dit nie gewees nie – enkele paragrawe later is “Esmari” (dikwels ʼn “dead give away” van ʼn atmosfeer) lankal weer “Es”.

Ek weet ook, kyk ons mekaar vandag in die oog, sal ons erken dat ons laf was om te kon dink dat ons, toer-toer, van Londen af, al die pad tot in Skotland, én weer terug, kon kom – en dit in net drie dae. Ons oë was groter as ons maag – ons wou meer afbyt as wat ons baas sou kon raak.

Ek onthou dit regtig as daardie naambordjie, die padpredikant, Cheddar toe, wat die lug gesuiwer en die mis voor die son weggevee het.



Daarom dat ek so bly was toe ek hierdie foto van so ʼn naambordjie vir my Pinterest-album van Cheddar opspoor. Dit was so ʼn towerfeë se towerstaf, hierdie bordjie, wat sommer ons gehuurde motortjie ook weer nuwe lewenslus gegee het.

Die museum wat ons besoek het, moes toegemaak het. Ek het op ʼn wonderlike webwerf afgekom wat meer as 120 besoekpunte binne in 20-myl omtrek van Cheddar lys, maar geen museum soortgelyk aan die een waarvan ek vertel, op die dorp self nie.

Die res het, lyk dit my, baie dieselfde gebly – dis steeds prentjiemooi, hulle is steeds groot op kaas en die omgewing se appelwyn en –bier.

Soos wat ek die vorige dag as ʼn hoogtepunt in die herinnering geroep het, nét so, het ek hierdie dag, hierdie afgelope week, weer as net so ʼn hoogtepunt aan die vergetelheid ontruk en in die herinnering geroep.

Van Stratford tot Cheddar was 100 myl, van Cheddar tot Minehead, waar ons oornag het, net oor die 100.

Dis hierdie tweede 100 myl wat, soos die woordewisseling, vir ʼn ander eerste op die toer gesorg het – ek vloek in my dagboek en span die woordjie “kak” in om die Britte se see te beskryf. En vanuit die perspektief van iemand wat groot geword het met die Natalse suidkus, die ganse Kaapse kus, ís die gebruik van die woord beslis geregverdig.




Ek kon nie glo toe ek hierdie foto van die einste pad waarvan ek vertel, die een wat reguit op strand uitloop, opspoor nie.

Ek was een keer in my lewe, in ʼn droogteseisoen soortgelyk aan die een wat ons nou beleef, op Baberspan in die Wes-Transvaal se pan. Vra jy my vandag om te sê hoe die Engelse se see lyk, dan sal ek jou vra om in ʼn droogtejaar uit te ry Baberspan toe. Sit jy daar en kyk vir die niks, dan is dit so goed jy sit Engeland op die strand.

Geen wonder die Britte boer somermaande so hier by ons in die Kaap nie.

Van die Kaap gepraat – ʼn ander Britse siestog is hulle Leeukop. Vergelyk nou net die Leeukop buite Cheddar waarop hulle roem, (die dingetjie links bo in die hoek op die poskaart) met die Leeukop in Kaapstad wat ons ken. Beslis nie “vinkel en koljander” nie, eerder “chalk and cheese” (om die Ingelsman se uitdrukking te gebruik). 


Na ons ete op die strand, skiet ons toe verder in die rigting wat ons ingeslaan het.

Die park waarvan ek praat (ek het Die Nasionale Kruger Wildtuin se Britse eweknie verwag) spoor jy op kaarte op as “Quantock Hills AONB”. Die AONB, kom ek toe agter, staan vir “Area of Outstanding Natural Beauty”.



Daar is 46 sulke gebiede verklaar, hierdie een waardeur ons gery het, was die eerste van hulle almal – en loer jy in die Pinterest-album sal jy verstaan.

Die Cheddar-kloof, waardeur ons is, staan van 2005 af bekend as Engeland se tweede grootste natuurwonder. 




Ons het, sonder dat ons dit geweet het, nogal ʼn goeie rigting ingeslaan nadat dit duidelik geword het dat die 1 000 myl Skotland toe en terug nie gaan realiseer nie.

Ek het myself weer eens deur Buttock Hills genavigeer – hierdie keer met my rekenaar se muis, elke oomblik geniet, en selfs gaan inloer om te sien waarop ons uitgemis het deur te laat vir Dunster Castle te wees.




Dunster Castle is toe Victoriaans, lieflik Victoriaans, en nie Middeleeus soos ek gedog en gehoop het nie. Ek is gevolglik, 22 jaar later, aansienlik minder teleurgesteld in die feit dat ons nié besoek kon aflê nie.

Minehead se dorpsnaam is afgelei van die Walliese “mynedd” wat “berg” beteken.




Die “mynedd” (berg) van Minehead sal ons in Afrikaans ʼn “heuweltjie”, “koppietjie” of selfs “hoogte” of “blinde hoogtetjie” noem, beslis nie ʼn berg nie.

Maar dan weet ons, gedagtig aan “An Englishman that went up hill and came down a mountain”, hoe belangrik grootte vir daardie eilandbewoners is.

Die dorp en omgewing is die mooiste mooi, veral omdat dit so totaal anders mooi is as die mooi waaraan ek in die binneland van Suid-Afrika gewoond is.

Die see daar is blykbaar vir die Engelse iets oom huis toe oor te skryf. Dis soos Margate of Plett vir ons is. Dit was vir jare die Britse spoorwegmaatskappy se vlagskip vakansiebestemming.


   

 



Die strand kon my verby gaan - ek was dronk van die groen – ʼn wonderlike beskonkenheid wat ek vandag nog soos gister onthou.

Ek sal nie weer Stratford Upon Avon toe gaan nie (behalwe as ek en Annieka miskien vir Klaradyn neem), maar ek sal weer wil ry waar ek daardie dag gery het.




Maar éérs, nog voor ek dit doen, sal ek sommer op Edinburgh en Glasgow land en dáár ʼn huurmotortjie kry om die noorde se groen heuwels van nader te leer ken.

Ek is amper oortuig dat Es al daar was, dit sal my nie verbaas as sy al meer as een keer daar was nie; ek aan die ander kant, bly droom.

Ek het ook gaan inloer by ʼn ander plekkie waar ek toe nie destyds uitgekom het nie, en eintlik relatief naby was – die Fashion Museum op Bath. (Daardie jare het dit nog bekend gestaan as die Costume Museum.)

Die geskiedenis van kleredrag vertel die geskiedenis van die mensdom – ek het my matrieks net Vrydag in die klas, rondom ʼn speltoets (van alle dinge) weer uitgebring by vrouens en dasse en die dra van broeke uitgebring.

So ja, iets soos ʼn kleredragmuseum lê my na aan die hart – ek hét al genoem dat kostuumgeskiedenis ʼn groot komponent van een van die vakke wat ek onderrig het, was.

So moenie verbaas wees oor die laslap en skakel na die museum nie – ek was nie in 1994 daar nie, maar niks keer my om in 2016 daar in te loer nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking