Maandag 29 Februarie 2016

Dag 11 17/04/94

17/04/94 
(netjies oorgetik na afloop van die krapskrif)







17/04/94 21 jaar vantevore

Vandag pak ons die terugtog Londen toe aan. Ek het die voorreg om vandag in die passasiersitplek te sit terwyl Esmari bestuur. Dit gee mens nogals ʼn anderste perspektief op die omgewing. Ons het besluit om maar redelik vroeg op die been te kom aangesien ons nie weet hoe ver dit Londen toe is nie – maar veral omdat ons nie weet hoe die verkeer soheentoe lyk nie. Met die kom was daar verleggings op die high way en die verkeer het baie stadig gevloei.

(Esmari het een oggend ʼn ¾ uur bus gery aan ʼn rit wat gewoonlik net so 7 na 8 minute neem.)

Ons het verder ook vroeg opgestaan sodat ons kyk-kyk deur die “moors” kan ry. Dit is dele wat met behulp van ʼn mag der menigte leivore/sluise drooggelê is. Dit is baie na aan, of onder seevlak en ekologies ʼn baie sensitiewe grondgebied.  Bogger die tegniese – dit was weer eens ʼn hoogtepunt. Dit is minder hedges – want hedges is nie nodig nie: die kampe word afgebaken deur die leivore. (RSA is inderdaad soos die Aardrykskunde boeke ons leer, ʼn waterarme land.)

Ek het in die National Galey gelag vir die “Country Scenes” waarop skape en beeste geskilder is – ek bedoel, óns skilder wildebeeste en sebras – maar na vandag verstaan ek hoekom die skilders skape en beeste so graag uitbeeld. Ek het self twee of drie foto’s van skapens en beestens geneem.

Dit lyk nogal vreemd om plek-plek plaashekke te sien – orals – maar nêrens ʼn enkele draad nie – dis net hierdie hekke wat soos opslag onkruid orals op die landskap uitstaan. (Die rede, vir ingeval ek vergeet – die leivore)

Ons bring ook besoek aan Stonehedge (sic) iets wat ek nog altyd graag wou doen. Ek koop hier twee poskaarte en ʼn sleutelhouertjie.

Vandaar skiet ons deur na Salisbury (Harare) en soek die katedraal. Ons het ʼn  bietjie in sirkels gery maar eventueel daar uitgekom, en, ongemagtigde, parkering gekry – omtrent op die voorstoep van die kerk, waar die kardinale parkeer.

Die katedraal is groot en mooi en een toersite-nes.

Ons kom eenuur uit Harare weg en klim op die highway Londen toe. (Ek bestuur op die highway.)

Onder leiding van Esmari se bekwame navigasiemetodes kom ons veilig in Londen aan. Ons is baie bly dat ons nie 3-uur, soos beplan, uit Harare weg is nie – want dan sou ons nou redelik geskarrel het.

Ons trek die kar in ʼn woonbuurt af en pak ons rugsakke. Gelukkig is die motorplek net om die draai – osn het dit nie geweet nie – en dit was ʼn bonus.

Ons het laas by William gestort – Woensdagaand en vandag is Sondag, maar ons gaan op die stasie stort. Nee, ons gaan nie – daar is net storte op Victoria stasie en ons is elders anders.

In any case vat ons die trein na Harwich waar die boot op ons wag – Koningin Beatrix.

Dit is beslis nie ʼn ferry nie, maar ʼn rêrige boot. Groot en met akkordeonspelers wat ons inwag toe ons opstap. Dit sou natuurlik lekker gewees as ons in ʼn private cabin was, maar helaas, osn is beperk tot stoele. Hier eet ons KOS en ek drink my eerste Heineken op Hollandse “bodem”. Ek drink Jac se slaappil en slaap goed.

17/04/94 21 jaar verder

Hierdie was my eerste slegte dag (én week) van herbesoek. Ek had die minimum bevrediging, eintlik net frustrasie.

Frustrasie omdat ek dit wat ek die duidelikste onthou, dit waarby my onthou die afgelope die 21 jaar telkemale gaan stilstaan het, nié prentjiemooi kon opspoor nie – nie op ʼn foto nie, en ook nie op video nie.

Ja, ek het vir die tweede keer in twee weke van vooraf verlief geword op die Britse platteland, op Enid Blyton en James Herriot se wêrelde uit onderskeidelik my  laer- en hoërskooldae, maar verniet of ʼn enkele plaashek sonder enige heinings (vanweë die watervore) hulself wou kom aanmeld.

 


Ek sê in my dagboek:  “(D)it was weer eens ʼn hoogtepunt. Dit is minder hedges – want hedges is nie nodig nie: die kampe word afgebaken deur die leivore,” en verder,  ”Dit lyk nogal vreemd om plek-plek plaashekke te sien – orals – maar nêrens ʼn enkele draad nie – dis net hierdie hekke wat soos opslagonkruid orals op die landskap uitstaan.”

En dis waar dit gaan bly – in my dagboek en my onthou. Die hoofrede hiervoor is, so lyk dit my, die feit dat die outjies daar oorkant nét in tye van oorstromings na die kamera gryp. Ek het tientalle foto’s van plaashekke sonder heinings – elkeen staan letterlik soos die Afrikaanse “paal bo water” uit – midde oorstroomde vleilande gesien.

 


Dis net dat niemand ʼn foto van die plaashek (verlang ek nou na Uys Krige se gedig!) wil neem as die vore nié oorstroom en die hele omgewing nié soos ʼn Vrystaatse pan lyk nie.

Die foto’s wat ek wél kon opspoor, dié wat wys presiés hoe ek dit onthou, was almal van webwerwe wat foto’s vir kommersiële gebruik beskikbaarstel. En elkeen van daardie foto’s het die een of ander watermerk wat hulle eers verwyder as jy vir die gebruik van die foto betaal het. En dít wil ek nie in my album opneem nie (ek hét ʼn enkele een wél opgneem).

Ek het ook heelwat beskrywings van die landskap, beskrywings wat amper woord-vir-woord met my dagboek en herinnering strook, teëgekom – dis net dat die skrywer hoogstens sy pen, en nie sy kamera ingespan het om sy teikenmark óók daarby uit te bring nie.

 


Hierdie watermerk-foto’s en enkele beskrywings het darem een ding beteken: ek het my dit nie verbeel nie, ek het destyds reg neergeskryf en vir 21 jaar reg onthou – my kop raas nie.

Iewers tussen al die mooi, draai ons toe af Stonehenge toe, Stonehenge wat toe al die tyd nie Stonehedge of Stonehege is nie – ek was deurmekaar met die omgewing se “hedges”.

Die geneuk met hierdie spul klippe is die feit dat “Been there, done that” vir die eerste keer op my herbesoek deur my kop geflits het. Trouens, dit was eerder “Been there, done that, got the t-shirt”.

Ek het immers ʼn sleutelhouer en twee poskaarte gekoop. Die blink stukkie Stonehenge en ʼn duif uit Noorweë is vandag die enigste items wat nie ʼn kruis is nie, wat in die eetkamer tussen my versameling kruisies van die toer hang.

Ek dink Noorweë is só Protestants dat daar nie ʼn enkele Katoliek – die teikenmark van die kruisies wat ek versamel het, is nie. By gebrek aan ʼn kruis het ek maar ʼn Kersboomversiering in die vorm van ʼn vredesduif gekoop.

My regverdiging om die stukkie Stonehenge tussen die kruisies te hang, hou verband met die feit dat ek my troos aan die feit dat én Stonehenge en die kruis sterk godsdienstige betekenis het – al het die een dan nou niks met die Christelike godsdiens te doen nie.

My herbesoek was darem nie “Been there, done that, got the t-shirt and wore it out” of “Been there, done that, got the t-shirt, worn it out and now use it as a duster” nie.

Tussen al die honderde foto’s op die web, het ek toe pret gehad om dié met die mooiste en interessantste agtergronde uit te soek. 

     


ʼn Monoliet is ʼn monoliet – jy kan hom net vanuit soveel hoeke afneem en nie meer nie – hy gaan dieselfde lyk. As jy wil hê jóú foto moet uistaan, moet jy sorg vir ʼn eiesoortige agtergrond. En, glo my, die outjies speel lekker – nie net met hulle kameras nie, ook met Photoshop.

Ons het nie in ’94 by die Stonehenge-archer wat in 1978 opgegrawe is, uitgekom nie. By die Amesbury-archer kón ons óók nie uitkom nie – dié is immers eers in 2002 opgegrawe. Ek onthou dat die fonds my in 2002 opgewonde had, so ek het besoek aan beide die boogskutters – só genoem oor die pylpunte wat saam met hul beendere behoue gebly het – gebring.

  


Die Amesbury-vent met sy goue oorbelle se pad moes ek vat tot op Salisbury waar hy vandag is. (In 2002 was dit nog goue oorbelle - ek lees die nuutste is dat dit deesdae eerder goue mandjieringe kan wees.)

Salisbury ook die plek met Engeland se hoogste kerktoring.

Soos ék ons destyds op Stratford-upon-Avon gekry het, het Esmari ons by die Katedraal gekry. Ek is vandag spyt dat ek dit destyds as ʼn “toeristenes” beleef het en my besoek nie met meer oorgawe aangepak het nie. Dit ís ʼn meesterlike gebou en ewe meesterlike stuk geskiedenis. Ongelooflik ook die kort tydperk waarin dit destyds gebou is.

   


Ironies  genoeg, van al die kerke wat ons destyds, en ek tot op datum weer besoek het, is hierdie katedraal se internetteenwoordigheid die minste van almal op die toeristemark afgestem.

 



Die Koningin Beatrix doen nog diens, maar lankal nie meer tussen Harwich en die Hoek van Holland nie. Meer noord verbeel ek my, en ook weer in die hande van ʼn ander seevaartredery.

Ek onthou my broer se enkele slaappil wat hy my gegee het, goed. Dit was vir die vlug Londen toe, maar ek het dit toe nie gebruik nie.

Ek onthou ook ʼn spul sigeunervroue op die skip – groot breë vroue in swart rokke wat baie luid was tot hulle op die grond aan die slaap geraak het.

Dis vreemd dat ek niks daarvan noem nie. Maar miskien was dit op ʼn ander oornagvaart – iewers rondom die Skandinawiese lande.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking