Maandag 07 Maart 2016

Dag 12 18/04/94

Hierdie is 'n draai-orrel as jy dit nie weet nie

Na dit verlede week duidelik was dat ons van Londen af op pad Holland toe is, laat weet ʼn vriendin wat nou al ʼn geruime tydjie daar woonagtig is, dat sy nie kan wag om van Holland te hoor nie.

Terwyl ek deur die dagboek werk, lees ek nie vooruit nie, dink ek nie vooruit nie – ek fokus op die dag waarby ek daardie week probeer stilstaan.

Maar met die dat sy nie kan wag om te hoor oor die stamland nie, én ek klaar van Engeland afskeid geneem het, begin ek toe self, vooruit, sonder dat ek dagboek gelees het, wonder hoe dit destyds vir my was.

En wat by my opkom, wat ek 21 jaar later onthou en aan die amperse vergetelheid ontruk, is bykans verbatim dieselfde wat ek destyds in my dagboek aangeteken het:

  • Ek het in geen land die wonderlike gevoel gehad wat ek gehad het toe ek uit A’dam-stasie op die plein uitstap nie.
  • Ons is op die trein, deur doeane en daar borrel ons toe uit die ondergrondse gat tot op die plein voor die stasie. Ek dit sal tot in tyd en ewigheid een van die lekkerste aankomste wees. Mense en busse beweeg, trams en busse is iewers in die gedrang en ʼn draaiorrel se klanke sing in my ore.
  • Ek is nou in Switzerland en ek het geensins die relaxed A’dam-gevoel oor my lyf nie.



     

  
       
Eerste indrukke ís blywende indrukke. My eerste indruk was ongelooflik – sonder dat ek ooit poëties of literêr dagboek wou hou gebruik ek die woorde “en daar borrel ons toe uit die ondergrondse gat.”

En dis presies wat dit was en hoe ek dit onthou – ʼn tintelende, energieke borrel en bruis – ʼn aanstééklike “vonkelwynerigheid” (by gebrek aan ʼn beter woord en ás ek myself ʼn leeftyd later dan nou die geleentheid gun om beeldsprakig te wil raak).

Ek stel my voor – gedagtig aan ʼn moontlike vergelyking, dat die kinders, toe hulle in Charlie se Chocolate Factory instap, gevoel het soos ek gevoel het toe ek uit die ondergrond op Centraal-stasie se plein uitstap.

Ek weet ook dat ek daarna vir jare vertel het (reg of verkeerd, maak nie saak nie – dis hoe ek dit beleef het) dat, al verskil die mense daar in temperament van my mense in Suid-Afrika, lýk hulle oorwegend soos my mense tuis. Die mense wat my omring het, het dalk anders aangetrek, ander geklink, maar dieselfde gelyk, dieselfde gelaatsrekke gehad. ʼn Mooi Amsterdamse meisie, kan netsowel ʼn mooi Boeremeisie wat saam met jou klas gedraf het, op die skoolbanke langs jou gesit het, of deel van die span waar jy werk, wees.

Midde die volksvreemde, die onbekende, was ek heeltyd omring deur die bekende. En dan die vertroude “gezelligheid” (ek vermoed dis wat ek wil verwoord met die “relaxed A’dam-gevoel oor my lyf” waarvan ek skryf).

Ek herinner daaraan dat ons op R100-00 per dag – reis en verblyf ingesluit – getoer het.


Daarom vir my moeilik om in te dink dat ons ʼn toeristerige ding soos ʼn Amesterdamse gragvaart op daardie begroting kon inpas. Maar wag, ek loop, getrou aan my aard, dinge vooruit.

Hier dan die dag se dagboek, netjies oorgetik met die faksimilee vandeesweek eers heel aan die einde:

18/04/94 21 jaar vantevore

OK, hierdie is dalk ʼn bietjie te veel gevra. Dit is vandag – toevallig 18 Mei – ʼn maand ná hierdie dag. Ek sal my bes doen, maar beloof niks. Ek was nie bewus van hierdie oop gat in die boek nie – dis eers toe ek begin om die bladsye te nommer, dat ek op die lugleegte afkom. Ek is nou in Switzerland en ek het geensins die relaxed A’dam-gevoel oor my lyf nie.

Ek het in geen land die wonderlike gevoel gehad wat ek gehad het toe ek uit A’dam-stasie op die plein uitstap nie – maar wag, ek loop die dag vooruit.

Ek het deur die loop van die nag op die grond gaan lê, die boot se stoel was net té ongemaklik, en heerlik verder geslaap. Die oggend het ons, ons bagasie gaan haal waar ons dit ongesluit in die  bagasieruimte gelaat het. Op die boot eet ons koffie en ʼn heerlike muffin. (Ek sing Tulips from Amsterdam.)

Ons is op die trein, deur doeane en daar borrel ons toe uit die ondergrondse gat tot op die plein voor die stasie. Ek dit sal tot in tyd en ewigheid een van die lekkerste aankomste wees. Mense en busse beweeg, trams en busse is iewers in die gedrang en ʼn draaiorrel se klanke sing in my ore.

Daar storm summier 3 of 4 of 5 mense op ons af met aanbiedinge vir verblyf, maar ek en Es glip in die VVV in wat net oorkant die stasie is. Ons koop ʼn plattegrond vir twee gulden en koop ook die fotostaat met die kampeerplekke se adresse op – belaglik!

Ons drink koffie teen die kanaal, maar dis só dúúr! Ek glo nie ons het al ooit weer in so tipe plek koffie gedrink nie.

Hierna sluit ons ons tasse in die sluitkassies toe. Es bel om te hoor of die kampeerplek vir ons plek het en ons gaan op ʼn bootvaart watt ons iets soos 12 gulden kos. Dit was vir my baie lekker, ek wou die foto wat met die intrapslag van my geneem is, steel, maar kon uit die aard van die saak nie so ver kom nie.

Die karakteristieke boustyl met die haak bo teen die gewel vir die ophys van goedere sal my altyd bybly.

Hierna stap ons – ver – na die Tropenmuseum. (In hierdie maand wat intussen verby is, was dit nog net die Tropenmuseum in A’dam en die Rooikruis-museum in Geneve wat die kwaliteit en styl van Londen se museums gehad het.

Die gasuitstalling was oor die verskillende maniere waarop verskillende volke van die wêreld hul babas dra. Dit was ontzettend goed en interessant.

Ek aktiveer talle videoprogramme en in die musiekinstrument-afdeling druk jy ʼn knoppie en dan hoor jy die betrokke instrument se klank.

Die uitstalling oor iewers in Spaans-Amerika waar jy basies deur ʼn gerekonstrueerde dorpie loop, en ook die dorpie in Indië, was baie lekker.

Hierna stap ons verby ʼn museum waarby ons toe nooit weer uitgekom het nie, terug na die VVV op die stasie en ek koop my museumkaart – vir ʼn jaar – te heerlik.

ʼn Stap deur die strate van A’dam kan nogal ʼn kinky ervaring wees – nog nooit het ek so baie penisse en vaginas op- en oopgeblerts op straat gesien nie. Nog nooit het ek so openlik met dagga te doen gekry nie.

Ons vat die bus kampeerplek toe (sic) – ʼn vriendelike omie wat ons presies sê waar om af te klim, ʼn vriendelike ontvangs by die kampeerplek. Ons slaan op, eet iets (vermoedelik brood en kaas en bier) en ek en Es gaan weer in stad toe op soek na Anita se vriendin wat nie daar is nie, ook nie die volgende aand nie.

Ons stap toe maar deur die strate, dit blyk gou dat A’dam se naglewe nie voor 22:00 begin nie. Ons stap deur ʼn deel van die stad wat grens aan die rooiliggebied.

(Ek dink dit

18/04/94 21 jaar verder

Wonder ek darem nou ʼn leeftyd later lekker oor daardie afgekapte “(e)k dink dit” waarmee ek die dag se aantekening afsluit.

Het ek besluit om wat ek ook al gedink het, eerder vir myself te hou en dit tot eie gedagtes te beperk sonder om dit op papier te verwoord?

Het iets voorgeval wat my abrup onderbreek het?

Die meeste van die dagboek is op die trein of die bus gehou – saans was ons te moeg en die dae was meesal hopeloos te vol gepak om kosbare tyd aan iets soos dagboekhou af te staan. Miskien het ek bloot by die halte of stasie aangekom waar ek moes af, en geleentheid om klaar te maak, het hom bloot net nie weer voorgedoen nie.

Ewenwel, in die tydjies wat ek hierdie week af kon knyp om herbesoek aan 18 April 1994 te bring, het ek van vooraf op Amsterdam verlief geraak.

Praag was daardie jare die mees fotogeniese stad – ek het selfs ʼn koffietafelboek met swart-en-wit stadsfoto’s van die plek gekoop. Toe ek hierdie rondte begin rondkrap Amsterdam-foto’s  aan, kom ek agter Amsterdam is net so mooi uitgeknip vir ʼn kameralens. 

Dan is sy ook nog soos ʼn meisie wat jy enige tyd van die dag kan betrap – 06:00, 10:00, 15:00, 22:00, 01:49, dit maak nie saak nie – selfs die mees onbeholpe hand wat die kamerasluiter druk, kry ʼn lieflike stadskap (soos in “landskap” – as jy berge, skapens en bokkens in plaas van stadsgeboue, stegies, strate, en – in A’dam se geval, gragte – afneem).

Toe ons na die ’94-verkiesing ook in Suid-Afrika uiteindelik kaal tannies sonder sterretjies (waar ons mans nog al die jare tepels had) begin kry, het ʼn vriend wat gou uitgekuier geraak het met hierdie nuutgevonde vrolikheid, droogweg en banaal opgemerk dat ʼn boesem na ʼn ruk ook maar net nog ʼn boesem is. (Hy was natuurlik ʼn effe méér banaal as wat ek myself nou hier toelaat om te wees – maar ‘n goeie begryper, weet ek, kan ver kom met ʼn halwe woord.

            

Hierdie woorde van hom het weer by my opgekom toe ek die 200ste prentjiemooi prentjie van ʼn gestereotipeerde Amsterdam-stadskap in my A’dam-Pinterestalbum wou laai. As jy een asembenemende kiekie gesien het, het jy almal gesien. Maar, en seker maar soos my vriend ook, het ek aanhou kyk, en kyk en kyk. Ek het later net nie meer moeite gedoen om elkeen in die album te stoor nie – elke nuwe een is immer net so mooi soos elke vorige een.



Ek het in my snuffel afgekom op, vermoedelik ʼn Hollander, se Pinterest album wat hy (of sy) iets soos “There is more to Holland than only Amsterdam” of “Amsterdam isn’t all there is to Holland” noem.

In die tien dae (of hoeveel dit ook al was) waarby ek hierdie jaar in Engeland herbesoek gebring het, het die behoefte, of begeerte, om in lewende lywe weer daar uit te kom, nie een keer by my opgekom nie. In die weer-kuier in A’dam (ek sien ek moet deesdae onder invloed van ʼn baie gedrewe toerisme-bemarkingstrategie  eerder skryf van I amsterdam) het ek kort-kort vir myself gesê, iets soos “ek en Annieka sal maar net hier móét uitkom.”




Ek onthou die besoek aan die Tropenmuseum soos gister. Ek het die vorige jaar klaar gemaak met my tweede jaar van Sosio-kulturele Antroplogie aan UNISA. En as dit nie was dat ek geweet het ek gaan met langeverlof nie, het ek daardie jaar my derdejaarstudies begin. Sommer vir die lekker, om myself te verryk in ʼn rigting waarin my belangstelling lê.

So ja, nodeloos om te sê – daar is nie ʼn volkekundige iets waarby ons kón uitkom, waarby ek nié uitgekom het nie.


  


Wat die Tropenmuseum betref, is ek darem nou al ʼn gesoute internettoeris – danksy die ervaring wat ek in die Britse en Victoria & Albert museums opgedoen het. Ek het geweier om verdwaal te raak tussen al die moontlikhede en vanuit die staanspoor besluit dat dit Afrika en nié een van die ander kontinente gaan wees nie. Behalwe die fokus op Afrika het ek toe verder ingezoem op Afrika-maskers. Die enigste afdraaipaadjies wat ek toe op die ou einde gevolg het, was hier en daar maskers uit ander kulture ook – aanvanklik wanneer dit baie aan Afrika-maskers herinner (en later sommer net omdat dit mooi of interessant is).



Ander mense sal, en sou, en het, dit seker anders as ons gedoen. Ons nie. Ons kom in ʼn vreemde land, in ʼn vreemde stad aan. Kry die adres van ʼn wildvreemde slaapplek, hoor hulle het vir ons plek, en dan gaan sluit ons ons rugsakke in ʼn sluitkas op ʼn stasie toe – en gaan carpe diem vir die res van die dag.

En ás ons dan teen die einde van die dag kamp opgeslaan het (voor sononder, dat ons nie sukkel nie) dan is dit nie om af te skakel nie – dan neuk ons weer in stad toe om die stadsliggies te ervaar. (Gedagtig aan waar ons hier kuier, moes daardie “neuk” seker maar eerder iets soos “foeter” gewees het.)

Ek is spyt dat ek nie die naam van ons kampeerplek aangeteken het nie. Maar daardie jare het ek nie vir een oomblik gedink dat ek dit weer sou nodig kry nie. Esmari het straks – vir al wat ek weet, het sy nog die kwitansie of faktuur vir haar plakboek gehou. Nie een van die groot stedelike kampeerplekke se name het vir my bekend geklink nie. Niks, waar ek gaan inloer het, het bekend gelyk nie. En almal was naby water (die leidraad wat ek wou gebruik om my by die kampplek uit te kry.)

Die vriendelike bestuurders onthou ek soos gister, en haar “as’t u ‘blief” (of what ever) wat, verbeel ek my, eerder as “dankie” as “asseblief” gebruik word. Maar ek mag verkeerd wees.

Laslappies en skakels



Ons vertroude VVV-toeristeburo van ouds











Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking