Maandag 21 Maart 2016

Dag 14 - 20 April 1994

Woensdag 20 April 1994 – 21 jaar vantevore

Net-net omdat ek op die eerste dag van die vakansie baie vroeg opgestaan het, is alles mooi oorgetik aan die einde.

Ek het via die onderwater- en ondergrondse internet- en telekommunikasiekabels al die pad Europa toe, báie lank en báie lekker in A’dam gekuier hierdie week. Eintelik hopeloos te lekker gekuier om na behore dagboek te kan hou (of dan nou weblog/blog te kan bou) van my herbesoek.





Woensdag kwart voor vyf

Ek sit in die Begijnhof (Beginhof?) net af in Kalverstraat. Dit het amper dieselfde rustigheid as die binnehof by die St Paul’s kerk in Londen.

Es is vandag vroeg uit Keukenhof toe. Ek raak weer aan die slaap en lê tot  ½ 9. Toe op en na die VanGogh-museum. Die effense teleurstelling rondom Van Gogh wat ek in Londen beleef het, word heeltemaal opgehef.

Ek kry weer eens vir my ʼn kassetopname van die uitstalling wat 30 (of 24) van die skilderye bekyk. Ek sien vreeslike mooi skilderye wat nie so algemeen bekend is nie. (Ek koop ʼn afbeelding van een.)

Twee vloere word afgestaan aan ʼn ander kunstenaar se uitstalling, maar ek skat ek is gelukkiger as my ma wat die museum getref het toe dit toe was.

Gelukkig het hulle nie sy versamelde briewe aan Theo [ti:u] nie – anders het ek dit sweerlik gekoop.
Vincent het net sy naam op sy skilderye geskryf want hy was bang uitlanders kan nie sy naam uitspreek nie.

VANDAAR SKIET EK DEUR NA DIE RIJKSMUSEUM. Dit was weer een te veel, te groot, en ek kon dit nie regtig ten volle geniet nie. Ek sien die Brandwag en lees skelmpies ʼn boek vir meer inligting. Ek sien Rembrandt se selfportrette en “Die Joodse Bruidjie” van Dok Bet. Op die oomblik spaar ek geld vir die poster daarvan. Ek hoop ek sal dit regkry.)

Iets wat ek maklik sal vergeet as ek nie weer daaraan herinner word nie, is die lieflike versameling Delft wat ek gesien het. Daar was selfs ʼn voëlkoutjie uit porselein.

Ek vorder nog nie goed met die Amsterdamse Treinstelsel nie – ek het weer verkeerd gegaan op pad na die Rijksmuseum toe – vergeet ook om die knoppie te druk dat die deur moet oopgaan. Toe ek wakker skrik, toe is dit te laat en wil die deur nie oop nie.

Die gevolg is dat ek toe maar verder moet afklim, wag vir die volgende trem terug en tóé afklim by die korrekte stop.

Ek wonder nog steeds hoe die Europeërs dit regkry om nie almal permanent siek te wees nie. Jy vrek uit van die hitte binne die geboue, maar as jy uitstap, vrek jy weer van die koue. Ek sit nou op A’dam Centraalstasie se kroeg/restaurant en moes nou net my baadjie en my sweater uittrek – maar glo my, ek moet alles weer aantrek as ek hier uit.

Na die Rijksmuseum is ek deur na die Amsterdamse Historiese Museum toe – die stadsmuseum oor Amsterdam. Die museum is in Kalverstraat geleë, A’dam se besigheidstraat. Ek het die museum nogal geniet. Dit vertel van die oorsprong van A’dam sedert die 13e of 14e eeu, ja dit was die 13e eeu. En hoe die stad aanvanklik heeltemal met ʼn stadsmuur omring was.

In die museum word ook heelwat (trouens ʼn hele saal) afgestaan aan “Amsterdam teen Apartheid”. Ek glo egter ek sou 5 jaar vroeër dalk met ander oë daarna gekyk het, maar 7 dae voor die Nasionale Verkiesing in die republiek is dit seker sinneloos om met ʼn kritiese oog te lees. SA haal elke dag die nuus. 

Die tannie in die kampeerterrein se winkel het my vandag ʼn artikel gegee om te lees oor Inkatha se deelname aan die verkiesing.

Na die AmsterdamHistorisch Museum, is ek toe na die “Begijnhof” en daarvandaan klim ek op ʼn trem na buite die toeristegebied waar ek iets goedkoop by die bakhuis en kaasplek kan koop. Ek stroll toe terug via talle stegies en plekkies tot ek my hier bevind. Ek wag hier tot 9 uur vir Esmari. More gaan ons hopelik Alkmaar en Schans toe.

20 April 1994 – 21 jaar verder

O, magtig! Wat ʼn dag! Wat ʼn week! Watter dág? 20 April. Watter wéék? Die week waarin ek herbesoek aan 20 April 1994 gebring het.

Ek het só lekker gekuier, ek het eers teen die einde onthou van die Amsterdamse Geskiedenismuseum! En agterkom ek het skoon van die Begijnhof vergeet!

Dis eers hier teen die einde, toe ek die dagboek wil oortik, dat ek weer by dié twee uitkom. 

    
    


Ek was die blyste oor die feit dat ek van die Begijnhof onthou het. Ek onthou al die jare iets van ʼn tehuis van ongehude moeders, en dit ís moontlik dat die Begijndames hulle oor diesulkes ontferm het, maar ʼn swanger mamma se ongehude status was geensins die begin en die einde van die Begijners nie. Ek het heeltemal verkeerd onthou.

Die Begijnhof, vandag, is ʼn stukkie rus-en-vrede (peace and tranquility) midde die woel-en-werskaf (hoer en rumoer) van Amsterdam-stad. Dit dateer uit die 1100’s, het eers in die 1300’s as Begijnhof bekend begin staan, is omring deur die woonkwartiere van die Begijn-nonne en is sedert 23 Mei 1971 (toe die allerlaaste Begijn-non op die ouderdom van 84 oorlede is) sonder ʼn non. En dis ook nie dat die Begijn-nonne, nónne was, soos nonne tradisioneel verstaan word staan nie. Hierdie nonne het geen kuisheidseed geneem nie en kon die gemeenskap verlaat om te gaan trou wanneer hulle wou. Die susterskap was ook nie altyd Katoliek nie.

En toe ek uiteindelik so ver kom om die mooiste prentjies van die Begijnhof op te soek vir my album, word ek ingesluk deur die Amsterdamse gewelstene, in besonder dié van die Begijnhof waarvan die meeste in die onlangse verlede baie mooi en omsigtig gerestoureer is.


    

    

Gewelstene had hul ontstaan in die 1500’s. Dit dateer uit die dae voor straatnommers en het basies die tradisionele Middeleeuse uithangbordjies teen ʼn gebou voor ʼn besigheid vervang. Dit is versierde stene wat nie net wil versier nie, maar ook iets van die inwoner wil verklap – dit kan sy beroep wees, of bloot net iets wat vir die bewoner van belang is, tentoonstel.

En dít is wat so wonderlik van my herbesoek met ʼn rekenaarmuis in die een hand is – ek ontdek soveel meer as met die destydse besoek. Selfs as ek die Begijnhof vandag as toeris besoek het, dink ek nie sou ek soveel geleer het as aan die hand van die rekenaarskerm nie. Die internet is ʼn ongelooflike verlengstuk van die ware Jakob – dit kan hom (nog nie) vervang nie, maar honderdvoudig verryk.


    

    


Die ander besoekpunt wat my ontgaan het, was die Amsterdamse Geskiedenismuseum. Ek kan my niks valer as ʼn museum oor die geskiedenis van Johannesburg, Durban, Pretoria, Pietermaritzburg, Kaapstad of Bloemfontein voorstel nie.
Al het ek destyds geweet Amsterdam het die voordeel om veel ouer, met ʼn veel langer geskiedenis, te wees, het ek steeds ʼn vaal en vervelige museum verwag, het ek steeds daar gaan inloer suiwer omdat ek verniet daar kon in met my museumkaart.


En wás ek aangenaam verras, destyds! Daarom dat ek geweet het wat om hierdie keer te verwag en geensins verras was om ʼn hoogsdinamiese museum en webwerf via die internet raak te loop nie.

Hier is twee van die museum se kort lokprente en 'n derde deur 'n besoeker. Die webwerf is ook 'n besoek werd - al is dit net om te sien hoe hulle ingerig is om iemand soos Klaradyn te akkommodeer. Ek en sy sal lieflike Pappa-en-Klaars-tyd daar deurbring. Selfs Annieka wat gewoonlik na tien minute in 'n museum buite vir ons gaan wag, vermoed ek, sal gefassineer heelwat langer hier spandeer.


 



Al was ek in 1994 vanaf die Van Gogh-museum na die Rijksmuseum, het ek hierdie keer, op soek na die Joodse Bruidjie, eerste by die Rijksmuseum gaan inloer...

...en amper ʼn week later nog steeds nie by haar uitgekom nie. (Behalwe nou vir een of twee van die volgende foto's wat ek inderhaas gaan opsoek het om hierdie week se blog bietjie aanskoulik te maak.)

    

      


Een ding wat nie twee is nie, is dat Londen se museums ʼn ding of twee (drie... vier... vyf... ses...) by Amsterdam se museums kan kom leer. “(K)an kom leer,” ja, want “kers” sal hulle nie kan kom “opsteek” nie – Amsterdam se groot museums funksioneer lankal nie meer op kerskrag nie.

Ek het nie by ʼn Pinterest-album of selfs by Youtube uitgekom nie – die Rijksmuseum het my nuuskierige aard gebruik/ingespan/gemanipuleer om die heeltyd in húlle geselskap te bly. Voor ek my oë kon uitvee was ek ingeteken op Rijkstudio – hul éie Pinterest. 

My eerste album noem ek “Ter plaatse” – ʼn versameling items rondom Afrika, Suider Afrika en Suid-Afrika. Die band tussen Afrika en Nederland ook in die naam van die album opgesluit.

Toe gaan soek ek, nog in dieselfde trant, na Afrika se Groot Vyf wat moontlik in die museum opgesluit is. Leeus, olifante, luiperds en selfs buffels is volop, maar jagluiperds is maar yl gesaai. Ek het oorweeg om tiers in te sluit – ons Europese voorouers het Suid-Afrika se luiperds en jagluiperds in ieder geval “tijgers” genoem – vandaar al die Tygerpoorte en Tijgervalleie wat die land vol is.

Opvallend van hierdie uitstappie rondom die soogdiere was om te sien hoeveel outjies die diere uitgebeeld het sonder dat hulle ooit ʼn oog op ʼn enkele eksemplaar (lewens of dood) van die onderwerp gelê het. Baie is suiwer op hoorsê en ander is klakkelose naskildering en natekening,

Gedagtig aan die Nederlandse band met die Ooste was die meeste olifante in hul versameling Indiese Olifante, maar ek het maar anderpad gekyk. Die versoeking was groot om die Indiese waterbuffels as ons buffels te laat deurgaan, maar ek het betyds ʼn streep getrek.

Ek wonder hoeveel weet dat einste waterbuffels in die Ooste die oorsprong van ons seekoeie se naam is. Die seelui het gehoor van die waterbuffels wat so in die water staan – dis hoekom hulle gereken het die groot bruin diere wat hier by ons so in die water staan, is die “zee koeien” waarvan die ander avonturiers vertel het.

Toe gaan soek ek die blou voëlkoutjie waarvan ek geskryf het. Klaradyn het by haar agtermiddagkunsklas stilgestaan by die Ming dinastie se blou porselein, en ek wou haar by die museum se blou goed uitbring. Die album kan nog baie aangevul word – wanneer weet ek nie, maar loer gerus na die voëlkou – die Hollanders praat van ʼn “vogelkooi”.

Ek onthou tot vandag toe nog dat ek spontaan begin huil het, dag een van ons toer, in Londen se National Gallery toe ek tussen al die post-impressioniste voor my heel eerste Van Gogh-skildery staan.

En dan skryf ek hier, twee weke later:  “Die effense teleurstelling rondom Van Gogh wat ek in Londen beleef het, word heeltemaal opgehef.”

Waar kom ek daaraan? Watter “effense teleurstelling”? Ek onthou selfs dis die man se stoel met sy pyp, die sipresse en wêreldbekende sonneblomme wat my oor die rand gestoot het.

Miskien het ek meer meesterlike meesterwerke verwag – ek weet nie.

Kan nie wees nie want op hierdie dag raak ek juis opgewonde oor die baie minder bekende werke wat ek sien.

Miskien was ek in coffee shop en spook gerook aan my toegelate paar gram heomeopatiese kruiekuur.

Nugter weet.

Ek moet nog die skildery waarvan ek ʼn afdruk gekoop het gaan soek – soos met Rembrandt se Joodse Bruidjie het ek nog nie daarby uitgekom nie.

    

    


As ek gedink het dat ek my deur die Rijksmuseum laat insluk het, was dit net omdat ek nog nie die Van Gogh-museum se webwerf beleef het nie.

Ek is redelik vertroud met die man se skilderye. Ek kry elke dag een via Facebook en besoek gereeld webwerwe wat daarop roem dat hul versameling die grootste op die ganse web is. Daar is selfs ‘n paar met afbeeldings van skilderye wat in die Tweede Wêreldoorlog vernietig is en vermis geraak het.
Die gevolg is dat ek ronde twee weggeval het met die twee vloere se skilderye waaroor ek in 1994 nie té opgewonde was nie.

Ek is een van daardie mense wat nie nét prentjies kyk nie – ek léés ook, asof ek ʼn bloody spons is wat alles moet opslurp.

So noem hulle dat hierdie twee vloere afgestaan word, nie net aan tydgenote nie, maar ook kunstenaars wat Vincent beïnvloed het.

Ek kom af op ʼn ets wat lyk asof dit die man kon geraak het.



Toe ek verder wil lees, kom ek af op ʼn quizz:  Wat sien ek?

Ek hou van speletjies en speel dadelik saam.
Die probleem is, elkeen van die antwoorde wat hulle gee, kan deurgaan as ʼn antwoord op die vraag na wat ek sien.

Ek kies toe maar “meadow”.



En toe ek op “meadow” druk, toe neem die rekenaar my dadelik na 48 ander kunswerke wat aan die kriteria “meadow” voldoen.

My antwoord op die vraag was toe nooit ‘n antwoord nie, maar – slim-slim – ʼn nuwe soektog met ʼn nuwe trefwoord, “meadow”. (Almal natuurlik etse, want my eerste kriteria was etse.)



 


Toe speel ek heerlik saam.

Ek kan selfs noem dat Vincent pa staan vir 2 van 44 honde in die museum.


 

Ek moes al afgesluit het, maar na ek verlede week gewonder het of ek regtig met die trems gesukkel het om ons fliekafspraak te verongeluk, is ek bly om te sien dat ek inderdaad met die stelsel koppe gestamp het en toe nié net ʼn verskoning gesoek het om die coffee shops en rooi gloeilampe/buisligte op te gaan soek nie.


    



Elke diertjie sy plesiertjie – ek had ʼn wonderlike dag, en as ek reg onthou, Esmari, wat haar aan die blomme oorgegee het, ook.

Laslappies en skakels

Nee,wat, dis baie opwindender om die twee museums se hoogtepunte op hul eie webwerwe op te spoor en daardie skakels het ek gegee.

Hier is 'n oulike video oor die Begijnhof en my afgewaterde Pinterest oor die plek (se gewelstene)


Webwerf
Pinterest

1 opmerking:

  1. Die diepte agter jou geskrifte bly verstommend ...

    AntwoordVee uit