Maandag 14 Maart 2016

Dag 13 19/04/94

19 April 1994 – 21 jaar vantevore















Soos altyd mooi oorgetik aan die einde




Dit was gister, maar slaan my dood – ek moet eers tot stilstand kom en mooi dink wat ons gedoen het. A, die belangrikste is seker die feit dat ons teen R5-00 kon gaan stort het vir 7 minute se warm water. Ek het in die ijsere koue opgestaan en oorgehardloop na die badkamers. Daar het ek my klappertand gestrip en die kosbare munt ingegooi. Ek het gestort tot al die warm water op was.

Die eerste museum vir die dag was ʼn taamlike teleurstelling, in die sin dat ons museumkaart nie gegeld het nie en ek geweier het om te betaal. Dis nadat die plek ʼn halfuur na die geskeduleerde oopmaaktyd hul deure oopgemaak het.

Toe sit ek en Es af na die Bijbelmuseum. Dit was lekker om my eerste Vulgaatbybel, waarvan ek nog net gelees en geleer het, te sien. My kennis van ʼn Statebybel is ook aansienlik uitgebrei. Ek het Luther en Erasmus se vertalings onder oog gehad.

All in all was dit lieflik.

Ek het nou net seker vir 20 minute geknikkebollen – my kop “bol” het ge-“knik”-ken.

Museumhoogtepunt was egter die besoek aan die Verzetmuseum. Dit is ʼn museum in ʼn sinagoge wat die Hollanders se verset teen die Nazi-besetting van die land, én die Joodse vervolging uitbeeld.

Daar het ek na radioprogramme van destyds geluister, koepons leer ken en tekenprogramme en skyfie-insetsels gesien. Ek sowel as Esmari het die museum besonder geniet. Slim vir my was die rekenaarsentrumpie bo op die boonste vlak vir die kinders om te speel / volg. Ek het self twee van die programme deurgewerk.

O, hel – amper vergeet ek (ek sal probeer om nie weer met my dagboek agter te raak nie) die hoogtepunt van die dag! Die Stedelijk museum! Ook dit is ʼn kunsmuseum, maar dis een oor hedendaagse en moderne kuns. Die werk van die Duitse ekspressioniste en die Blaue Reiter het my die meeste getrek. Gelukkig was hier net poskaarte – anders het ek sweerlik nog ʼn poster daar ook gekoop. Malevich, Mondriaan, Chagall, Kirchner en ander. Daar is ook akelike moderne abstraksies. (O, ja, noudat ek daaraan dink, ek het iewers ook Jackson Pollock en Andy Warholl gesien – maar dit was by die British National Gallery).

Hier by die Stedelijk Museum was ook werke van die abstrakte ekspressioniste. Appel, Soutine en nog ʼn ander bekende ou wat ek nou vergeet het. Weer eens was dit die geval dat ek nou vir hul werke baie meer begrip het. Op ʼn plat afdruk, in swart en wit, lyk dit akelig, maar in die werklike lewe LEWE die skilderye.

Ek het in “The Beanery” geloop – dit was een heerlike ondervinding. Ek het my lewe lank nog net foto’s daarvan gesien – en hier stap ek in en luister en beleef alles lewendig. Die kunswerk doen nogal iets aan ʼn mens en vra om be-lééf te word.

Die aand was chaos – danksy trems en ek en Esamri wat verskillende flieks wil gaan sien. Op die ou einde eet ek die dag om. Die lekkerste hier is wat die mense met amandel doen – ek het vandag blote amandel geëet, maar ook al die lekkerste amandelkoekies.

Hierdie plek se krokette – met die vleis in en deeg rondom – is baie lekker.

Die aand loop ek deur die rooiliggebied. Ek wil vanaand vir Esmari daardeur vat. Ons sal maar sien wat sy sê.

19 April - 21 jaar verder



    
    



Verdomp of ek kan herken waar ons kampeer het, maar elkeen van hierdie foto's bring lieflike herinneringe terug. Ek verbeel my die reception by ons A'damse kampeerterrein sal 21 jaar kan lyk soos die reception hier bo.


Ja, die realiteite van kampeer in een van Europa se stedelike kampeerterreine word al hoe duideliker  – jy betaal nie, soos by ons, net om die wasmasjien of kleredroogmaker te gebruik nie; nee, jy betaal selfs om met warm water te kan stort.

Maar dan is groot stedelike kampeerterreine iets wat ons Suid-Afrikaners glad nie ken nie. Dis niks soos Scottburgh, Margate of Manaba Beach se karavaanparke nie, nog minder soos by Satara of selfs Skukuza.

Ek en Es kón in Londen nie kampeer nie – die kampeerterreine was nog gesluit. Party maak die ganse winter toe, ander laat wintermaande darem hierdie motorkaravane toe, maar weier steeds outjies wat gevaar loop om in een-, twee- en driemantentjies te verkluim.

Dan is daar van hulle wat permanente verblyf bied. Dis soos hele voorstede met teerstrate en mense wat tuin maak en heinings opsit. Nie karavane wat jy daar kry nie, maar hierdie groot mobiele wooneenhede.


Daar is hoogseisoen op party plekke soveel tente opgeslaan, oor so ʼn groot gebied, dat jy gevaar loop om te verdwaal. Weë die een wat aangeklam by die kampeerterrein aankom – hy gaan nou wel nie hoef te sukkel om sy sleutel in die sleutelgat gepas te kry nie, maar, erger nog, hy gaan sukkel om sy blyplek te kry!

      

ʼn Paar woorde wat op hierdie reis deel van my woordeskat geword het, en vandag nog van tyd tot oor my lippe of deur my gedagtes gaan, het in hierdie dag, die vorige en die volgende paar dae hul oorsprong.

Die belangrikste hiervan is “onderduiken” (met geheel en al ʼn nader betekenis as wat dit in Nederland het). Maar voor ek dié kan ontsluit, moet ons eers by twee ander uitkom:  “belegde broodje” en “tussendoortje”

Tussendoortje val letterlik én figuurlik héérlik op die tong – hy klink én sê lekker, en dan smáák hy ook lekker as jy die regte banketbakkerij of delicatessen besoek.

Die woorde wat ons daarvoor ken, is seker die Engelse “snack” of Afrikaanse “peuselhappie”.  In Hollands (ek weet nooit of dit Hollands of Nederlands is nie, en of dit iemand aanstoot kan gee as ek die verkeerde een gebruik nie) vertel ek myself, het dit iets van die Afrikaanse “tussendeur” in. Iets van die Engelse “on-the -go”.

ʼn Tussendoortje is nie vir ontbyt, middag- of aandete nie, dis nie vir aansit om 'n tafel nie, maar sommer so ʼn snoepdingetjie halfpad tussendeur (tussendoor?) een van die drie groot etes, 10:00 of 16:00.

O, aarde, en Amsterdam had die lieflikste, geurigste en grootste verskeidenheid tussendoortjes denkbaar.

ʼn Belegde broodje is op sy beurt ʼn broodrolletjie waarin ʼn trio of kwintet "smakelik-smaakliks" of selfs hele sestet "heerlik-heerliks" gepak lê – ʼn belegde broodjie daarom, verbeel ek my, ʼn broodjie wat letterlik “belê” (toegelê) is met lekkernye.

ʼn Propperse belegde broodje sou al kon deurgaan as ʼn lunch, maar as jy so lief vir kos is soos ek, dan vul jy jou dag met belegde broodjes, nie as hoofmaaltyd nie, maar as tussendoortje, 10:00 én 11:00.

Hierdie goed kos alles geld. Geld waarvan ons nie baie gehad het nie – R100-00 per dag, álles ingesluit.

En dís waar "onderduiken" inkom.

Die Joods Historisch Museum (ek verbeel my ons gaan later daar herbesoek bring) definieer die woord só:

Zich verbergen voor de nazi’s. Het verbergen van personen op een adres waar zij niet geregistreerd stonden. In sommige gevallen werden geheime ruimtes gecreëerd waar de onderduikers zich moesten schuilhouden. In andere gevallen (vooral bij kinderen) namen zij deel aan het ‘pleeggezin’. In dat laatste geval werd vaak gebruik gemaakt van valse papieren. Wanneer de onderduik ontdekt werd, werden de onderduikers gedeporteerd of ter plekke doodgeschoten. Ook de onderduikgevers werden in vele gevallen gedeporteerd. Begin 1943 zaten zo’n 25.000 joden ondergedoken.

Ek en Es het die woord, na vandag se kennismaking daarmee in die Versetmuseum, begin gebruik met min of meer die betekenis van “laag-lê” of “wegkruip”. Weliswaar nie letterlik laag-lê en wegkruip nie, eerder figuurlik, monetêr, finansieel.

As ons vandag oorboord gaan met hopeloos te veel tussendoortjes en belegde broodjes, dan moet ons die volgende dag onderduiken, laag-lê en min geld uitgee.

Ons sou kon onderduiken om op te maak vir ʼn vorige dag, óf ons kon vooraf onderduiken in antispasie van ʼn kulinêre vergryp (“pig out”) die volgende dag.

Teen die einde van die toer het dit neergekom op “geld spaar” om iets lekkers te kan bekostig.

Ek onderduiken vandag steeds, ek troos my siel gereeld met tussendoortjes en geniet graag Saterdae belegde broodjes. Hierdie gelaaide broodjes het ons tot verlede jaar het op ʼn stel van ses houtbordjies wat ek ’94 van Europa saamgebring het, bedien. 21 jaar het egter sy tol begin eis en ek moes dit rondom laas Kersfees met ʼn seer hart vervang.

Al wat dit draaglik gemaak het, is die feit dat ek dit by die Johannes Gemeente van die Duiste kerk in Pretoria se jaarlikse Kersmark gekoop het – méér Europese bordjies sal en kan jy nêrens anders in Suid-Afrika kry nie.




         


Die Bijbelsmuseum het ons die wonderlike geleentheid gebied om een van daardie historiese Amsterdamse huise wat teenaan die gragte gebou is en op twee uit elke drie poskaarte pryk, te besoek.  Watter lieflike ervaring was dit nie!

Dis soos die sjokoladebokse van ouds – nie net is die inhoud iets oom huis toe te skryf nie, maar die verpakking óók.


Die uitstalling lyk 21 jaar later strate beter as wat ek dit onthou – my herinnering is amper in swart en wit, soos in ʼn swart-en-witfoto. Kuier ek vandag via die internet daar, lyk alles volkleur en op glanspapier.


    

Dit voel my die Verzetsmuseum het ook 21 jaar aangestap. Behalwe dat dit nét vooruitgegaan het, uitgebrei het en elke akkolade wat dit geniet, verdien, is dit tog of die museum in ʼn helikopter opgegaan het en nie meer suiwer op die versetbeweging  fokus nie, maar ook die ander opsies wat daar tussen 1940 en 1945 vir die land en sy mense was, betrek.

Ek het my herbesoek aan die museum net so geniet soos in 1994. Anders as met ander museums het ek myself toegelaat om talle afdraaipaadjies te neem en as ek weer sien, is ek op gans ander plekke as in die internetdomein van die Verzetsmuseum. Talle van die foto’s in my Pinterest-album van die museum is geensins in die museum te sien nie – ek het dit langs die pad opgetel en daar gaan pos. Dit hou verband met die museum en die oorlog.

Die enigste realiteit wat daardie oorlog vir my is, vir my aan eie bas is, is die vertelling van my ma dat haar eerste man se duim in Egipte afgeskiet (of afgesny) is en dat die veldhospitaal die duim toe iewers aan sy maag vasgewerk het om bloedtoevoer te kry tot hulle hom by ʼn hospitaal in Suid-Afrika kon kry om die duim aan sy hand te heg.

So, ja, vir my is die geskiedenis aangrypend. Ek beveel al twee video’s wat ek deel, aan. Die eerste vertel van die museum se teelaarde en neem ons na ʼn tyd en plek wat vir ons selfs vreemder as die maanoppervlakte is; die tweede neem ons in die museum in.





Die museum het intussen verhuis en ʼn gedaanteverwisseling ondergaan. Dis eers toe ek foto’s van die museum wat ons in 1994 besoek het, opspoor, dat ek besef die museum was geensins ʼn hoogetpunt op grond van vertoon en allerhande foefies nie – die museum was (en is steeds) ʼn hoogtepunt op grond van die fassinerende, aangrypende inhoud.

    


Ek het hierdie ronde hopeloos te veel tyd in die Stedelijk Museum spandeer. Ek dink ek weet hoekom.  Juffrou Jackie Olivier se kunsklas, op skool, had twee Bybels, beide van Thames &Hudson:  “A History of Art” en “A History of Modern Art.”

AVBOB weet hulle prop nie ʼn kussing onder my kop nie – my kop word op hierdie twee boeke neergelê (vir ingeval ek sou wakker word en ʼn tydjie het om te verwyl tot die tweede dood kom.)

 

Ek het my kuns-tande gesny aan hierdie boeke. Voor ek in my eerstejaar op universiteit enige regte, egte universiteitshandboeke by Prorege-boekhandelaars op Die Bult aangekoop het (Ma het ʼn rekening oopgemaak en ek had carte blanche) het ek dié twee boeke vir my aangekoop. Én ek het my ma oortuig dat dit in belang van my studies was. (Ons praat hier van Afrikaans-Nederlands, Engels en Toneelkunde!)

    

    


Sovéél van die skilderye in Amsterdam se Stedelijk Museum is van die skilderye wat ek uit daardie twee boeke met moedersmelk ingekry het, dat ek nie anders kon as om soveel as moontlik afknyptydjies in dié museum deur te bring nie.

Die nuwe vleuel – ek sien party A’dammers praat daarvan as ʼn plastiekbad (en ʼn mens kan sien hoekom) het my as buitestaander heel opgewonde en beïndruk gelaat.

Destyds, so lyk dit my, was dit ook die stad se omgaan met amandels en kroketten wat my beïndruk het – dís waar ek die aldag en heeldag se tussendoortjes kom, dis duidelik.

Hoe dit gekom het dat ons nie gaan fliek het nie, weet ek nie – ek het tot vandag nog, nog nie “The Piano” gesien nie. Dit het in SA gewys toe ons oorsee was, en toe ons eers terug is, toe wys dit nie meer nie.

Dalk het ek maar net rede gesoek om alleen in Walletjiesstraat te gaan stap. Ek kan nie wag om te lees of ek en Es toe wel saam soheentoe is nie.

My sterkste herinnering aan daardie deel van die stad is reuse berge wit uitgerysde deeg, so groot en rond soos seekoeie wat kliënte ontvang het en dan die luike of gordyne toegetrek het. Elke diertjie seker maar sy plesiertjie.


Ek onthou ook dat ek meer ongemaklik was met prostitute wat hulle helder oordag by jou kom aanmeld het. Ek en Es het nou nog ʼn grappie rondom “Would you like to have sex business with me”, maar dis nog baie slapies verder, iewers in Praag.

Laslappies en skakels

Webwerwe

Pinterest

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking