Maandag 25 Januarie 2016

Dag 6 12/04/94

Dag 6, 12 April - 21 jaar vantevore

Alles meer leesbaar oorgetik aan die einde, onthou!



Ja, as dit vir die besoek aan Caurtland Museum was nie, sou vandag sekerlik die hoogtepunt van my besoek tot op datum gewees het. Na ʼn effense uitval die vorige aand (oor Esmari moeg was en dinge ʼn bietjie touchy opgeneem het) is ons vroegdag weg om die ferry-bespreking te doen. Ons het eers die laaste van ons ponde gewissel, en ek het soos ʼn ryk bliksem gevoel om met so baie geld in my sak rond te loop. 

Vandaar toe na die een reisagent wat sê busse is die goedkoopste om op die vasteland te kom. (Maar die busse loop nie oornag nie, en ons wil geleentheid hê om te slaap.) Toe kry ons maar ʼn treinkaartjie waarvoor ons vergeet het om te begroot – maar dit maar daar gelaat. Staatsdiens is orals dieselfde. Hier moes ons ook wag – die Britte laat jou net in styl wag. Daar is 24 bedieningspunte, maar net 4 mense wat werk. (Baie soos Standardbank Hoofkantoor Pretoria.) Dan kry jy ʼn kaartjie met ʼn nommer op en as die nommer bo jou in die dak flits, kan jy na die vakante besprekingshokkie gaan. All very fancy, maar glo my die basiese beginsel is dieselfde as by ons – jy wag, en hulle sloer. En om alles te kroon, kies ons toe die dag uit wat die International Booking Office op Londen se grootste stasie, Victoria Station, AFLYN is en die ou moet alles met die hand skryf (laasgenoemde dinge is eintlik oral een en dieselfde).

Die oggend was toe al om (O, ja, alles begin eers op die vroegste 10-uur in die oggend en maak enige iets van 5 – 6-uur toe. As jy nie 10-uur op die plek is waar jy wil wees nie, is die hele oggend verby.)

Vandaar “skiet” ek toe deur Pimlico stasie toe waar ek afklim vir die wonderlike TATE.

Daar was ʼn gasuitstalling – the last one for this century – sê die tannie wat ek langs die pad ontmoet – van Picasso. Ek het dit lanklaas gesê, so ek kan dit nou maar sê:  “Ek het nie woorde gehad nie, dit is onbeskryflik.” Ek moes weliswaar R25-00 betaal om in te gaan, maar dit was elke sent die moeite werd. Daar binne het ek ʼn verdere R12-50 moes betaal vir ʼn kasset wat my deur die toer sou neem. O, dit was wonderlik. Die doel met die uitstalling was om die interaksie tussen Picasso se skilderye en sy beeldhouwerke te illustreer en die kasset het dit wonderlik reggekry. Skilderye en beelde wat tot op datum nog vir my lelik was, niksseggend was, het skielik WONDERLIK – LEWENDIG geword, danksy die verduideliking van die kunskenner. (ʼn Sekere Mnr. Searle – hy moet nogal hoog op in die kunskringe wees, want hy het iets te skryf gehad bt Royal Academy of Arts en by Institute of Contemporary Art.

Naas die Caurtland Institute se uitstalling was hierdie my 2de hoogtepumt (gelyk 2de met die besoek aan die National Galery.)

Hierdie is my eie illustrasie van Dali se Narcissus wat in die blom verander het. Vir die res van die Tate galery het ek toe nie deur al die sale gegaan nie. Ek het gedruk vir tyd by die Impressionisme begin en van daar af verder gegaan. Ek het voor ʼn rerige Miro, Magritte, De Chirico en al daai ouens gestaan. Wat my opgeval het, was die lieflikste Francis Beacon’s wat hier was. (Dis seker redelik logies nè?) Maar in vergelyking met met ons ou klein Francis Beacon’tjie is die monumentale goeters wat hier hang – verruklik.
EN RODIN SE THE KISS

Van daaraf moes ek met teleurstelling agterkom dat die Saachi-versameling net Donderdae en Vrydae oop is, Ek pik toe verward in Londen rond op soek na opwinding en besluit om na Brixton-mark te gaan. Dit is die Afrika-mark van Londen. Baie opwindend, interessant. Amper soos die Oosterse Plaza.

Die aand beleef ek toe my teaterhoogtepunt van ons besoek aan Londen – JBM Priestly se An Inspector Calls. O, dit was ʼn lieflike stukkie teater – ʼn baie ekspressionistiese stel wat lieflik speel met vervreemding en baie goed daarin slaag

Dag 6, 12 April - 21 jaar verder

Ek vermoed ons sal nog op ander passasies ook afkom waar ek stoomafblaas as ek en Esmari ʼn geskil of meningsverskil had. Waar anders, as in ʼn dagboek, kan ʼn mens onder hierdie omstandighede afblaas en afpak.

So baie hoor jy, én lees jy (om maar net Bill Bryson en sy vriend en reisgenoot in die gedagte op te roep) dat twee mense wat so lank, so saam, saamtoer, kort voor lank vuurwerke beleef, en as jy weer hoor, het die een opgepak en huis toe gegaan, of ʼn eie koers, na ʼn ander bestemming ingeslaan.

Ek en Es had hierdie luukse nie – ons was té afhanklik van mekaar. Op my eie sou ek in daardie stadium nie kon nie, en ek vermoed sy op haar eie ook nie – nie so lank en so wyd, so baie en so ver nie.

Wat baie gehelp het, is dat ons nie aldag en heeldag in mekaar se geselskap was nie. Ons had elkeen sy eie belangstellings en het gereeld vir die oggend, agtermiddag, of selfs hele dag, ʼn eie koers ingeslaan.

Dit het partykeer gebeur dat ek sal terugkom by die tent en vertel van my dag, sy van hare, en dan, die volgende dag, dan pas sy in wat ék die vorige dag gedoen het, en ek stap op my beurt weer in háár spore van die vorige dag.

Dit kon nie altyd gebeur nie. Ek is tot vandag toe spyt dat ek nie saam met haar na Schloss Schönbrunn se Schmetterlingshaus is nie. Sy het met soveel oorgawe vertel, en ek was só jaloers, maar in daardie stadium was ons tyd in daardie omgewing van Duitsland verby. Vandag nog, as ek hier by ons ʼn skoenlapperplaas besoek – gló my, ek besoek nou elke liewe een – dan dink ek met verlange terug na die geleentheid wat ek in 1994 deur my vingers laat glip het.

Hierdie dag, dag 6, was een van daardie dae wat elk ʼn groot deel van die dag op sy eie deurgebring het.




Ons is wel saam Victoria-stasie toe vir die reis oor die Engelse Kanaal – die tonnel was toe nog nie oop vir passasiervervoer nie, dit moes wag tot November van daardie jaar. Dit was selfs nog ʼn maand voor die tonnel amptelik geopen is.

Ek was destyds só beïndruk met die kaartjiestelsel waarvan ek vertel. Behalwe by wegneemeetplekke het ek iets soortgelyk nog net by SARS-kantore in gebruik gesien. En loer ek na die eietydse foto’s van Victoria-stasie se besprekingsruim, lyk dit my hulle het intussen weggedoen met die gebruik – almal staan in toue en rye.

Die Tate-galery het weer in 2011 ʼn Picasso-gasuitstalling gehad. 

Die doel met die 1994-uitstalling, Picasso:  Sculptor/Painter, was om te wys dat hy net soveel beeldhouer as skilder was, dat hy die beeldhoukuns net soveel vernuwe het, as die skilderkuns.



Ek het toe, vir my Pinterest-album gaan fokus op sy beeldhou- en keramiekwerke. Die foto wat ek hier bo geplaas het, is geensins van die 1994-uitstalling nie, dit vat net vir my die gees van en doel met die uitstalling vas. Die enkele skilderye in die album, elkeen een van die 27 skilderye wat hy na aanleiding van Manet se “Ete op die gras” gemaak het, deel ek omdat een van hulle beslis deel van die ’94-uitstalling uitgemaak het.

In 1994 het die Tate homself nog aan een galery gesien, vandag nog, maar nou is daar al vier geboue, twee in Londen en een elk in Cornwall en Liverpool. Ek het hierdie keer in al vier gaan kuier, want hoe sal ek nou weet wat op uitstalling was toe ek in ’94 deur Tate Britain gestap het.




Wat wel outentiek aan 1994 is, is hierdie artikel wat Februarie 1994 in Independent verskyn het. 

Die Pintest-album kyk na enkele van my gunstelinge in die galery.

Ek het weliswaar die lekkerste gekuier rondom Tate Modern (in 2000 geopen nadat 'n ou kragstasie in 'n kunsgalery omskep is) se 2013-uitstalling van Henry Mattise se knipsels. Ek deel ʼn paar video’s wat elkeen die moeite werd is om te kyk.








Die Brixton-mark het ek besoek aan die hand van hulle webwerf. Hulle video’s huisves hulle op Vimeo, en Suid-Afrikaanse internetverbindings en Vimeo is wat my betref onversoenbaar. Ek het my toe maar tot Youtube gewend en lieflikes raakgeloop wat die gees en atmosfeer baie beter vasvat as professionele bemarkingsvideo’s.

Die eerste (baie kort) dateer uit die 1960's:



Die ander een (3 minute) is meer eietyds:



Dis hoe ek vriende geword het met Vic Stefanu (vriende soos in FB-vriende). Hy reis met sy videokamera en verfilm amateurvideogrepe van besienswaardighede oor die wêreld. Niks aardskuddend nie, niks wat viral gegaan het, of sal gaan nie. Maar die man se informele, passievolle, onbehendige, kamerawerk en invalshoeke spreek tot my. So ek vermoed ek gaan nog heelwat herbesoek deur die lens van sy kamera doen.



Hier is Vic by die Tate:



Dan is daar ʼn soortgelyke span wat ek raakgeloop het, Mark en Sarah Owens van Travelshorts, met wie ek ook die pad sal stap. Ek vermoed ek gaan nog ʼn hele paar keer by hulle ook inloer. Hierdie is hulle by die Tate:



Terug op die spore van An Inspector Calls was net so lekker: 




Die program is outentiek, Aldwych-teater in die 90's. Die stel is ook, hoewel ek nie seker is in watter teater nie. Die stelontwerp word vandag nog gebruik.

Die volgende video’s is van latere produksies, hoewel steeds dieselfde regisseur en stel, die een ʼn amptelike advertensie, die ander, vermoed ek, minder amptelik. Ek beveel die eerste paar minute van laasgenoemde aan, al suig die klank, net om die gevoel van die stel, die regie en die teks te kry.









Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking