Saterdag 09 Januarie 2016

Dag 5 11/04/94

21 jaar verder

Ek het 29 Julie 1981, ek was in standerd 9, meer as ʼn uur gestap om my eerste regstreekse diens vanuit St Paul’s Cathedral by te kan woon. Ja, ek kon die beeldsending af met die trappe in ons sitkamer dophou, maar het gekies om die pomp and circumstance in die geselskap van my Engelssprekende skoonsussie en my twee broerskinders by te woon.

Ek sê ook nou regstreeks, maar dis in baie opsigte net die beeldmateriaaal wat regstreeks was – baie van die klankgrepe is nié vanuit Londen na Suid-Afrika uitgesaai nie. Suid-Afrikaanse kommentators het dan aan die woord gekom en die ateljeespan in Aucklandpark het opnames ooreenstemmend met dit wat in die katedraal gespeel word, op die draaitafel gesit.

Dit was immers die British Music Union wat die kulturele boikot teen Suid-Afrika reeds 20 jaar vantevore, in 1961, afgeskop het, toe hulle besluit geneem het dat nie een van hulle lede in Suid-Afrika sal optree solank Apartheid nog deel van Suid-Afrikaanse regeringsbeleid uitmaak nie.

20 jaar later, op 29 Julie 1981, het Equity, ‘n Britse dramatiese vereniging, daarin geslaag om te sorg dat Apartheid Suid-Afrika nie mag hoor hoe sekere van hul lede musiek in die kerk maak as prins Charles en lady Diana in die huwelik tree nie.

Ons opgewonde klein geselskappie in Boeta-hulle se sitkamer, het ons nie daardeur van stryk laat bring nie en elke oomblik geniet. Die katedraal self het daardie dag nie veel ooh’s en aah’s uit ons moppie gekry nie – ons had net oë vir die mooie Diana en haar rok. (Wie onthou nog die Lady Diana-haarstyl wat soos die runderpes deur ons land getrek het?)



13 jaar later bevind ek my toe self in die kerk waarin die ongelukkige huwelik destyds bekragtig is. En ja, drie dae later toe ek daarvan wil vertel, kon ek niks onthou nie. En dit verbaas nie. Dit was net te oorweldigend, te groots. Verlammend. Die wind word uit jou seile geneem, jou asem én jou onthou word weggeslaan. Dis te veel, te groot, te hoog, te oud, te alles vir Vaalpens uit Suid-Afrika se gemoed en konstitusie.

Na ek hierdie naweek herbesoek aan die plek gebring het, opgelees en deurgekyk het, het ek darem onderskeiding in elkeen van die volgende twee algemene-kennis-toetsies gekry. As jy dink jy ken die plek, probeer gerus, of gaan kuier eers weer self daar - met die voet óf die internet.


My Pinterest-album is ʼn goeie vertrekpunt, maar hier is baie ander laslappies en skakels om die katedraal onder jou vel in te kry. Ek beveel nommer 3 en 5 aan.

Ek het die inligting rondom graffiti teen die buitemure wat ek plek-plek raakgelees het, baie geniet. Na my herbesoek het ek ook effe meer waardering vir Christopher Wren se 1:25-skaalmodel van die gebou. Dis op grond hiervan dat die bod om die nuwe katedraal (die vorige een het afgebrand) aan hom toegestaan is. Koninklike kroonprinsies het in die verlede koninklike kroonprins-pophuispret hierin gehad!

Die gedagte aan die meer as 200 gedenktekens vir outjies wat hier begrawe is, is en bly vir hierdie een-en-twintigste-eeuse Boertjie maar ʼn vreemde ding. Elke diertjie seker dan maar sy plesiertjie.

Die ander plesiertjie waarby hierdie dag op ons toer my uitbring, gaan verder terug as 1981, ʼn goeie 11, of 12, of 13 jaar.


Ek hét al gaan loer om uit te vind watter Shirley Temple flieks almal tussen 1968 en 1971 vrygestel is. Dis tóé dat ek agtergekom het die vrou het reeds amper 20 jaar vantevore, in 1949, haar heel laaste fliek gemaak.

Aanvanklik was ek verward – my heel eerste fliek, waarvoor ons spesiaal deurgery het Johannesburg toe, wás ʼn swart-en-wit Shirley Temple fliek. Ek onthou die sitplekke, die ouditorium, die glans en die glorie van ʼn matinee-vertoning. Dit was nie ʼn filmouditorium soos by Nu Metro, Ster-Kinekor of – wie onthou hulle nog – Cine Centre, nie. Nee, dit was soos ʼn propperse teater, ʼn propperse teater sou van ouds, nie net met glans en glorie nie, maar glitter en glitz daarby.



Dit was die dae van onafhanklike filmteaters en teaters wat ook filmvertonings aangebied het. Nu Metro en Ster-Kinekor het nog nie bestaan nie. Ek jok – die Ster-gedeelte van Ster-Kinekor het bestaan – dit het aan Sanlam behoort.  20th Century Fox het sy Suid-Afrikaanse teaterbedryf in 1969 aan Sanlam verkoop, dit het toe Kinekor geword. Eers in 1976 het Sanlam sy twee besighede amalgameer in die Ster-Kinekor wat ons vandag ken.

Ander verwysings hiér, en grepies dáár het my tot die gevolgtrekking laat kom dat my eerste filmervaring die een of ander 20th Century Fox-fliek van Shirley Temple was. Ons het dit in die His Majesty’s teater, wat daardie jare ʼn filmteater was, gaan kyk. Die rede hoekom my ma en my tannie vir Klein Hansie al die pad Johannesburg toe gesleep het om krullebol Shirley Temple te gaan kyk, was omdat dit ʼn hervertoning van ʼn fliek uit hulle kinderdae was.

En my gedagtes kuier by Shirley Temple omdat dit my eie stukkie fliek-geskiedenis is en ons 11 April 1994  drie ure in MOMI (Londen se Museum Of the Moving Image) deurgebring het.

Dis ook my eerste teleurstelling, en ʼn groot een daarby, van my eie stukkie armchair-travel terug op die spore van ouds – die museum het intussen gesluit.

Die ironie hiervan is, sou jy my vra watter museum (kunsgalerye en groot nasionale museums uitgesluit) die hoogtepunt van die drie maande was, ek moeilik sal kan kies tussen einste MOMI in Londen en die Rooi-Kruis-Museum in Geneve. Beide het my, én Es, opgesuig en ingesluk. Ek het die een dalk meer met my hart geniet; die ander meer met my verstand, maar op die Richterskaal van aardskuddende museumbesoeke lê die twee gelyk, daar is nie eers ʼn haarbreedteverskil nie.

En daar maak die museum toe, in 2002 al. Ek is duidelik nie al een wat ongelukkig is daaroor nie, orals waar ek lees word groot teleurstelling en ontsteltenis uitgespreek, selfs modder word plek-plek rondgeslinger.

Hierdie museum had akteurs en aktrises wat ʼn besoeker in sy besoek vermaak het. Dit was hoogs suksesvol maar moes vanuit die staanspoor sonder enige staatondersteuning die mas opkom. Die hele multimiljoen-projek was van die begin af afhanklik van borge en skenkings.

Dit was die slimste, vermaaklikste, interessantste, genotvolste ervaring denkbaar. Ja, dit was interaktief en het die besoeker betrek, maar dit had net so baie, indien nie veel meer nie, tipiese, tradisionele museumagtige leeswerk en prentjies. Dit was net só aangebied, dat jy dit nie een keer vervelig gevind het nie. Ek het daardie dag meer museum-fynskrif gelees as in enige ander museum wat voor dit was, of na dit gekom het.

Ek het enkele foto’s en selfs ʼn outentieke videogreep opgespoor. Dit is in die Pinterest-album, maar ek plaas dit hier ook – net omdat dit so ʼn ongelooflike ervaring was.




Ek was baie opgewonde oor HIERDIE NIE-AMPTELIKE MOMI-WEBWERF wat ek raakgeloop het. Dit is ʼn aficionado van die museum se poging om, met hulp van en erkenning aan oudmuseumpersoneel, ʼn baie klein grepie van een deel van die museum op die internet lewendig te hou. Ek is daar deur, dis wonderlik, maar dis nie dieselfde nie.




Die Hayward-galery se uitstalling, Dali – The Early Years, was net so ʼn hoogtepunt. Ook met vanjaar se herbesoek. Ek kon nergens ʼn katalogus opspoor om die skilderye een vir een op te soek en opnuut te beleef nie. Maar op ʼn slim, ompadmanier het ek daarin kon slaag om bykans elkeen van die oorspronklike ’94-uitstalling in die 2015-Pinterestalbum te sit. Ek geniet dit toe so, dat ek sommer ander skilderye tussen 1910 en 1930 ook bysit. Die skilderye tot en met die foto’s van ʼn jong Salvador, was deel van die uitstalling. Wat na die foto’s kom, het ek bygesit, vir die lekker.



Wat Unbound, die 1994-uitstalling van 14 Britse kontemporêre kunstenaars se werke betref, was ek nie so gelukkig nie. Ek kon al 14 kunstenaars opspoor, selfs 1994-werke, maar of dit werke van die Hayward-uitstalling is, sal ek nie weet nie. Rudyard Kipling se “It is clever, bit is it art” het soos destyds plek-plek weer by my opgekom. Loer maar self. Die album skop eers af met foto’s van die 14 kunstenaars, en dan volg hul werke.




Die juwelekissie is om ons daaraan te herinner dat die Tower of London eintlik niks anders as die koningshuis se persoonlike juwelekissie is nie. Verder is ook net in die volksmond die Tower of Londen – dit ís ʼn koninklike paleis en fort en was tot in die 1500’s nog die amptelike koninklike residensie.




Daar is omtrent nie ʼn stad of land wat nie ʼn Palace-teater het nie. Destyds is dit nog waar Les Miserables opgevoer is. Nes ek dink ek het uiteindelik foto’s van die teater se binnekant, dan kom ek agter dat ek in Amerika, Australië, Skotland of Kanada kuier. Die webwerf-skakel is Londen en eietyds, die foto’s in die Pinterest is van toeka se opvoering (en vroeër). Dis jammer van die watermerke op die foto’s van die teater se interieur, maar dis slegs daardie foto’s wat ek vir ʼn feit weet, die regte Palace-teater van destyds is. Voor dit The Palace geword het, was dit aanvanklik Royal English Opera House. Dit was vir opvallend hoe dieselfde ʼn skets van die voorportaal uit die 1800’s en ʼn foto van einste voorportaal in 2005 is.


Hier dan my dagboekinskrywing van destyds (wat ek drie dae later eers geskryf het en daarom kripties en skraal) met, soos gewoonlik, alles leesbaar oorgetik aan die einde.




Die volgende dag (Maandag):  Vroeg op. St. Pauls, Tower of London, MOMI, Dali, Les Miserables.
Dinsdag:  Ferrybespreking
à Tate Galery, Staachi-versameling, Brixton square
Woensdag:  Brittish museum, Books for Cooks, Portobello, Westminster Cathedral, Miss Saigon

Die gedagtes hier bo is maar net om my te herinner aan wat ek/ons alles gedoen het. Ja, ek het agter geraak, maar vandag, Donderdag, het ons ʼn rusdag, ag ek is so bly, en nou kan ek rustig my dagboek op datum bring. Daar is twee dinge wat ek graag vandag sou wou gaan kyk het en dit is die National Theatre Museum en die Barbican Centrum of Arts, maar nou ja, mens moet seker maar besef jy kan nie by alles uitkom nie. (Dink aan mense by die huis.)

Ons is vroeg opgestaan want die St Pauls-cathedral, die keer nie die kerk nie, maar die cathedral, maak al ½ 8 oop. Die gedagte was om ½ 8 daar te wees, maar, nodeloos om te sê, dit het geensins kristaliseer nie. Dit is nou twee dae later en ek kan glad nie onthou hoe dit daar gelyk het nie. Ek kan beelde van buite en sulke goed onthou, maar hoe dit binne gelyk het, weet ek nie. O, ja, daar was ʼn lieflike skildery – The light of the World . Ek het vir my ʼn kopie daarvan gekoop, maar dit het seergekry, die aand in die teater. Ek het ook my eerste aandenking gekoop: ʼn Kruisie. ʼn St Pauls kruisie teen £2-00. (R10-00)

Ons besoek ook die Tower of London. Dit was ʼn aangename ondervinding. Die Beefeater wat ons deurgevat het, was ontsettend vermaaklik en het die toer opgekikker.

Ons het ook die kroonjuwele gesien. Dit is alles baie slim gedoen. En om seker te maak jy spandeer nie te lank voor die kassie nie, sit die Britte jou op ʼn voerbaan en skuif jou geriefshalwe voor die juwele verby. Ek het ʼn traan gepik voor die Ster van Afrika en die Engelse gehaat, maar nou ja, dis my reg. As die swartes ons kan haat oor wat ons aan hulle gedoen het, kan ons seker maar die Britte haat vir wat hulle aan ons gedoen het.

Die argitektuur en geskiedenis van die toring was baie interessanter as bv. Die uitstallings van die “chainmail” of “armours”. Tog het ek dit geniet.

Vandaar na MOMI (Museum of the moving image) Dit was toe net £5-00 i.p.v. £10-00 soos ons gedink het. Dit was elke sent die moeite werd. Die museum begin by Sjinese skadupoppe en eindig by die hologram (of wat ook al). Ons het seker 3 uur daar deurgebring, maar as ons reg wou laat geskied, moes ons seker voorsiening maak vir 7 uur. My hoogtepunt was om uiteindelik die film te sien wat Dali en daai ander ou gemaak het, met die koei op die bed, en ander avant garde films uit die dertiger jare.  Russiese propagandistiese flieks van net na die laaste revolusie was ook ʼn hoogtepunt vir my.

Dali – The early years  vorm deel van die Britte se Spaanse festival wat aan die gang is. Dit was £5-00, maar ek het die geld met ʼn lied in my hart uitgegee. Ek was baie opgewonde om te sien dat die “Basket with bread” waarvan Judy vir my ʼn poskaart in Spane gekoop het, en dié nou in my sitkamer hang, ook daar was. Party van die werke wat mens dink groot is, is eintlik klein, en werke wat jy dink klein is, is eintlik monumentaal. Die een met die geskenkpapier van die leeus wat hy uitgesny het, is kleiner as ʼn A4-papier, Dit bly vir my ongelooflik om voor ʼn skildery te staan wat ek net uit boeke ken, en dit dan in die rêrige, êrige – werklikheid te sien.

Daar was ook ʼn UNBOUND uitstalling waar die skilders presies gedoen het wat die titel sê: Losmaak van alle beperkings en goed. Dit was egter so unbound dat daar min is wat mooi was. Tog so hier en daar iets opwindends.


Die aand show ons Les Misrabeles. Dit was nice. Kommersieel en al daai stront, maar baie nice. Ek het in my lewe nog nooit so hoog in ʼn teater gesit nie, en ook nog nooit so beknop nie. Ons sit regtig in die pleb seats, maar dis o.k. - ons sien dit ten minste. Na die show eet ons saam met Danie* in die Movenpick en is ½ 1 die oggend verplig om met ʼn taxi van die stasie af te ry, omdat daar nie meer busse loop nie.

* Nee, o, aarde, wie hierdie Danie is, weet ek nie. Ek lei af dit moes William wees.

1 opmerking:

  1. Dankie vir die wonderlike geleentheid om saam te reis liewe Hans!

    AntwoordVee uit