Maandag 29 Februarie 2016

Dag 11 17/04/94

17/04/94 
(netjies oorgetik na afloop van die krapskrif)







17/04/94 21 jaar vantevore

Vandag pak ons die terugtog Londen toe aan. Ek het die voorreg om vandag in die passasiersitplek te sit terwyl Esmari bestuur. Dit gee mens nogals ʼn anderste perspektief op die omgewing. Ons het besluit om maar redelik vroeg op die been te kom aangesien ons nie weet hoe ver dit Londen toe is nie – maar veral omdat ons nie weet hoe die verkeer soheentoe lyk nie. Met die kom was daar verleggings op die high way en die verkeer het baie stadig gevloei.

(Esmari het een oggend ʼn ¾ uur bus gery aan ʼn rit wat gewoonlik net so 7 na 8 minute neem.)

Ons het verder ook vroeg opgestaan sodat ons kyk-kyk deur die “moors” kan ry. Dit is dele wat met behulp van ʼn mag der menigte leivore/sluise drooggelê is. Dit is baie na aan, of onder seevlak en ekologies ʼn baie sensitiewe grondgebied.  Bogger die tegniese – dit was weer eens ʼn hoogtepunt. Dit is minder hedges – want hedges is nie nodig nie: die kampe word afgebaken deur die leivore. (RSA is inderdaad soos die Aardrykskunde boeke ons leer, ʼn waterarme land.)

Ek het in die National Galey gelag vir die “Country Scenes” waarop skape en beeste geskilder is – ek bedoel, óns skilder wildebeeste en sebras – maar na vandag verstaan ek hoekom die skilders skape en beeste so graag uitbeeld. Ek het self twee of drie foto’s van skapens en beestens geneem.

Dit lyk nogal vreemd om plek-plek plaashekke te sien – orals – maar nêrens ʼn enkele draad nie – dis net hierdie hekke wat soos opslag onkruid orals op die landskap uitstaan. (Die rede, vir ingeval ek vergeet – die leivore)

Ons bring ook besoek aan Stonehedge (sic) iets wat ek nog altyd graag wou doen. Ek koop hier twee poskaarte en ʼn sleutelhouertjie.

Vandaar skiet ons deur na Salisbury (Harare) en soek die katedraal. Ons het ʼn  bietjie in sirkels gery maar eventueel daar uitgekom, en, ongemagtigde, parkering gekry – omtrent op die voorstoep van die kerk, waar die kardinale parkeer.

Die katedraal is groot en mooi en een toersite-nes.

Ons kom eenuur uit Harare weg en klim op die highway Londen toe. (Ek bestuur op die highway.)

Onder leiding van Esmari se bekwame navigasiemetodes kom ons veilig in Londen aan. Ons is baie bly dat ons nie 3-uur, soos beplan, uit Harare weg is nie – want dan sou ons nou redelik geskarrel het.

Ons trek die kar in ʼn woonbuurt af en pak ons rugsakke. Gelukkig is die motorplek net om die draai – osn het dit nie geweet nie – en dit was ʼn bonus.

Ons het laas by William gestort – Woensdagaand en vandag is Sondag, maar ons gaan op die stasie stort. Nee, ons gaan nie – daar is net storte op Victoria stasie en ons is elders anders.

In any case vat ons die trein na Harwich waar die boot op ons wag – Koningin Beatrix.

Dit is beslis nie ʼn ferry nie, maar ʼn rêrige boot. Groot en met akkordeonspelers wat ons inwag toe ons opstap. Dit sou natuurlik lekker gewees as ons in ʼn private cabin was, maar helaas, osn is beperk tot stoele. Hier eet ons KOS en ek drink my eerste Heineken op Hollandse “bodem”. Ek drink Jac se slaappil en slaap goed.

17/04/94 21 jaar verder

Hierdie was my eerste slegte dag (én week) van herbesoek. Ek had die minimum bevrediging, eintlik net frustrasie.

Frustrasie omdat ek dit wat ek die duidelikste onthou, dit waarby my onthou die afgelope die 21 jaar telkemale gaan stilstaan het, nié prentjiemooi kon opspoor nie – nie op ʼn foto nie, en ook nie op video nie.

Ja, ek het vir die tweede keer in twee weke van vooraf verlief geword op die Britse platteland, op Enid Blyton en James Herriot se wêrelde uit onderskeidelik my  laer- en hoërskooldae, maar verniet of ʼn enkele plaashek sonder enige heinings (vanweë die watervore) hulself wou kom aanmeld.

 


Ek sê in my dagboek:  “(D)it was weer eens ʼn hoogtepunt. Dit is minder hedges – want hedges is nie nodig nie: die kampe word afgebaken deur die leivore,” en verder,  ”Dit lyk nogal vreemd om plek-plek plaashekke te sien – orals – maar nêrens ʼn enkele draad nie – dis net hierdie hekke wat soos opslagonkruid orals op die landskap uitstaan.”

En dis waar dit gaan bly – in my dagboek en my onthou. Die hoofrede hiervoor is, so lyk dit my, die feit dat die outjies daar oorkant nét in tye van oorstromings na die kamera gryp. Ek het tientalle foto’s van plaashekke sonder heinings – elkeen staan letterlik soos die Afrikaanse “paal bo water” uit – midde oorstroomde vleilande gesien.

 


Dis net dat niemand ʼn foto van die plaashek (verlang ek nou na Uys Krige se gedig!) wil neem as die vore nié oorstroom en die hele omgewing nié soos ʼn Vrystaatse pan lyk nie.

Die foto’s wat ek wél kon opspoor, dié wat wys presiés hoe ek dit onthou, was almal van webwerwe wat foto’s vir kommersiële gebruik beskikbaarstel. En elkeen van daardie foto’s het die een of ander watermerk wat hulle eers verwyder as jy vir die gebruik van die foto betaal het. En dít wil ek nie in my album opneem nie (ek hét ʼn enkele een wél opgneem).

Ek het ook heelwat beskrywings van die landskap, beskrywings wat amper woord-vir-woord met my dagboek en herinnering strook, teëgekom – dis net dat die skrywer hoogstens sy pen, en nie sy kamera ingespan het om sy teikenmark óók daarby uit te bring nie.

 


Hierdie watermerk-foto’s en enkele beskrywings het darem een ding beteken: ek het my dit nie verbeel nie, ek het destyds reg neergeskryf en vir 21 jaar reg onthou – my kop raas nie.

Iewers tussen al die mooi, draai ons toe af Stonehenge toe, Stonehenge wat toe al die tyd nie Stonehedge of Stonehege is nie – ek was deurmekaar met die omgewing se “hedges”.

Die geneuk met hierdie spul klippe is die feit dat “Been there, done that” vir die eerste keer op my herbesoek deur my kop geflits het. Trouens, dit was eerder “Been there, done that, got the t-shirt”.

Ek het immers ʼn sleutelhouer en twee poskaarte gekoop. Die blink stukkie Stonehenge en ʼn duif uit Noorweë is vandag die enigste items wat nie ʼn kruis is nie, wat in die eetkamer tussen my versameling kruisies van die toer hang.

Ek dink Noorweë is só Protestants dat daar nie ʼn enkele Katoliek – die teikenmark van die kruisies wat ek versamel het, is nie. By gebrek aan ʼn kruis het ek maar ʼn Kersboomversiering in die vorm van ʼn vredesduif gekoop.

My regverdiging om die stukkie Stonehenge tussen die kruisies te hang, hou verband met die feit dat ek my troos aan die feit dat én Stonehenge en die kruis sterk godsdienstige betekenis het – al het die een dan nou niks met die Christelike godsdiens te doen nie.

My herbesoek was darem nie “Been there, done that, got the t-shirt and wore it out” of “Been there, done that, got the t-shirt, worn it out and now use it as a duster” nie.

Tussen al die honderde foto’s op die web, het ek toe pret gehad om dié met die mooiste en interessantste agtergronde uit te soek. 

     


ʼn Monoliet is ʼn monoliet – jy kan hom net vanuit soveel hoeke afneem en nie meer nie – hy gaan dieselfde lyk. As jy wil hê jóú foto moet uistaan, moet jy sorg vir ʼn eiesoortige agtergrond. En, glo my, die outjies speel lekker – nie net met hulle kameras nie, ook met Photoshop.

Ons het nie in ’94 by die Stonehenge-archer wat in 1978 opgegrawe is, uitgekom nie. By die Amesbury-archer kón ons óók nie uitkom nie – dié is immers eers in 2002 opgegrawe. Ek onthou dat die fonds my in 2002 opgewonde had, so ek het besoek aan beide die boogskutters – só genoem oor die pylpunte wat saam met hul beendere behoue gebly het – gebring.

  


Die Amesbury-vent met sy goue oorbelle se pad moes ek vat tot op Salisbury waar hy vandag is. (In 2002 was dit nog goue oorbelle - ek lees die nuutste is dat dit deesdae eerder goue mandjieringe kan wees.)

Salisbury ook die plek met Engeland se hoogste kerktoring.

Soos ék ons destyds op Stratford-upon-Avon gekry het, het Esmari ons by die Katedraal gekry. Ek is vandag spyt dat ek dit destyds as ʼn “toeristenes” beleef het en my besoek nie met meer oorgawe aangepak het nie. Dit ís ʼn meesterlike gebou en ewe meesterlike stuk geskiedenis. Ongelooflik ook die kort tydperk waarin dit destyds gebou is.

   


Ironies  genoeg, van al die kerke wat ons destyds, en ek tot op datum weer besoek het, is hierdie katedraal se internetteenwoordigheid die minste van almal op die toeristemark afgestem.

 



Die Koningin Beatrix doen nog diens, maar lankal nie meer tussen Harwich en die Hoek van Holland nie. Meer noord verbeel ek my, en ook weer in die hande van ʼn ander seevaartredery.

Ek onthou my broer se enkele slaappil wat hy my gegee het, goed. Dit was vir die vlug Londen toe, maar ek het dit toe nie gebruik nie.

Ek onthou ook ʼn spul sigeunervroue op die skip – groot breë vroue in swart rokke wat baie luid was tot hulle op die grond aan die slaap geraak het.

Dis vreemd dat ek niks daarvan noem nie. Maar miskien was dit op ʼn ander oornagvaart – iewers rondom die Skandinawiese lande.



Sondag 21 Februarie 2016

Dag 10 - 16/04/1994

Dag 10 - 21 jaar vantevore
(leesbaar oorgetik na bladsy 3)





Hierdie dag sou baie meer onaangenaam kon gewees het, as dit nie was dat ek vroeg geweier het om my onder te kry deur Esmari se bemoerdgeid nie – bemoerd oor ons nie Skotland toe gaan nie. Ek het self ook maar sleg geslaap, en toe ek besluit, tot hiertoe en nie verder nie, toe het ons die eerste woordewisseling vir die toer.

Gelukkig is daar op pad see toe, ʼn afraai wat sê “Cheddar”. En ons besluit om af te draai, grappenderwys sê ons daar gaan seker kaas wees. 

Die pad soheentoe loop vol draaie en kronkels – dis duidelik dat daar geen stads- en streeksbeplanning gedoen is in Engeland nie. Groot was ons al twee se verbasing toe Cheddar wel die plek is waar cheddarkaas sy oorsprong het. Ons parkeer bo in die styl en diep kloof (gorge). (Goed dis lankal nie meer ʼn kloof soos ek ʼn kloof uit Suid-Afrika ken nie, maar ʼn paar duisend jaar terug was dit wel ʼn kloof.)

Ag, dis die “oulikste ou plekkie.”

(Ek haat  laasgenoemde drie woorde, maar wat anders skryf jy as jy nie ure het om dinge te bedink nie.)

Daar is blykbaar Engeland se opwindendste grotte, maar ons gaan nie in nie – dis gekommersialiseer en ge-plastiek-iseer.

Ons besoek wel die museum waar ons leer van kaas maak en van cider maak, en kant maak en die maak van bootjies. (bootjies?)

Ons kruis links en regs oor die enkelpaadjie en snuffel in die winkels rond. Nodeloos om te sê:  Ons koop brood – vars gebak – en kaas – cheddar – en van die beste, gesuiwerste, maar ook die goedkoopste “apple cider”.

Cheddar is afgelei van twee Oud-Engelse woorde “ched” en “awdr” wat blykbaar “hoë water” beteken – verwysende na die water wat hoog in die berg ontspring.

Ons ry tussen die dorpies voort. Ons was op pad na die een of ander natuurpark wat groen gemerk is op die kaart – dit sou later blyk om nie iets soos die Nasionale Kruger Wildtuin te wees nie – maar eerder ʼn baie mooi stuk land wat gesien word as ʼn park.

Eers wil ons egter by die see gaan lunch. En ons draai af na Burnam-on-Sea. Ek en Es is later deur Burnam-on-Sea en twee ander dorpies voor ons £1 betaal om deur te kan ry na die see. En hier loop die pad tot op die strand.Ek skrik eers – gehuurde kar – tot ek sien almal ry op die strand rond.

O, die Engelse see was ʼn teleurstelling – daar was gee, maar geen, branders nie. Dit was laagwater  en van waar ons en die ander karre gestaan het, was dit seker 1 5000 m tot waar ek dink die see kon wees.

Hier mors ons baie tyd maar ry toe voort na die park – en, o – wat ʼn lieflike ervaring! Ek onthou in Tannie Enid Blyton se boeke het ek baie gelees van “the mist over the moors” – en dit is presies waarheen ons op pad was – the moor lands of Somerset.

Eers kry ons baie heuwels en groen en laslap-weivelde – laslap op grond van die hedges wat die Britte lieflik in stand hou.

Ek het foto’s van die skape geneem want dit het my opgeval – sulke lieflike, vet, langhaar-skape in die groen. Ag, selfs die beeste lyk anders – al is dit net omdat hulle in so ʼn totaal anderse omgewing as waaraan ek gewoond is, staan en wei.

Laat agtermiddag ry ek en Es ʼn tolpad – tolpad oor die lieflike scenery wat daar is. Dit blyk toe ʼn effense bergpas te wees (‘n vulletjie in vergelyking met die passe daar by ons).

Ons is ongelukkig te laat vir Dunster-kasteel – ek dink dit sou ʼn ervaring gewees het. Ons is selfs te laat om die dorpie se winkeltjies oop te vang.
Ons het aanvanklik gesoek vir karavaankampplek langs die kus waar ons op die see uitkyk. Ek/Ons kan nie een kry nie. En ek glo ook nie daar is nie – die see is so kak daar in Engeland dat geen mens daar ʼn vakansieplek sal oopmaak nie.

Ons besluit op die ou einde om op Minehead te slaap. Weer eens “ʼn lieflike ou dorpie”. Ons slaan ons tent op teen ʼn heuweltjie (aan die voet) , kyk vir die skapies wat daar wei – en gaan ry deur die dorp.

Op die hawe eet ons kaas en drink die eerste van die cider. Ek skryf vir my ma ʼn poskaart. Ons ry terug, besluit om nie te stort nie, oorvreet ons aan cheddar se brood en kaas en chutney en gaan slaap.

My matras, as ek dit nog nie genoem het nie, is stukkend en ek slaap koud en hard.

Oor die kampeerplek



16 April - 21 jaar verder

Hoeveel ons eerste argument op die Richterskaal van toerkonflikte gemeet het, sal ek nie weet nie. Maar dat dit die eerste was, en dat ek dit onthou, staan 22 jaar later steeds soos ʼn paal bo water.

Ek verkies om daaraan te dink dat dit alles Willem se skuld was, en dit wás, maar met dié dat hy destyds al 378 jaar lank in sy graf was, kan hy seker nie geroep word om pa te kom staan vir die uitval nie.

Ek verbeel my ons het drie dae gehad (ek lees nie vooruit nie) waarin ons in Macbeth se omgewing, Skotland, ʼn draai wou gaan maak.

En toe oorrompel Macbeth se vader, William Shakespeare, ons die vorige dag, en in plaas daarvan om aan te skiet Skotland toe, besluit ons, ondeurdag, om op Stratford te oornag.

Ons had nie ʼn slaapplek vir die aand beplan nie, maar die walle van die Avonrivier was nie ver genoeg van Londen weg vir ons om in Skotland uit te kom nie.

Maar die liefde maak blind en ons het al twee dadelik verlief geraak op die Britse platteland, en die implikasie van ons besluit het eers die volgende oggend, na ʼn koue nagrus (maak dit “koue nag” en los die “rus” uit) ingeskop.

En as ék nié Engels én Drama geswot het nie, as ek nié reeds self in ʼn produksie van Macbeth betrokke was nie (Esmari was destyds ʼn baie goeie wiskunde-onderwyseres) sou ons beslis nie op Stratford vasgehaak het nie.

So eintlik is daar net een vark in die verhaal, en ek verkies om hom Willem te noem, suiwer omdat dit nie vir my lekker is om daaraan te dink dat dit ek is nie.

Al weet ek dit was nie Willem nie.

Maar só erg kon dit nie gewees nie – enkele paragrawe later is “Esmari” (dikwels ʼn “dead give away” van ʼn atmosfeer) lankal weer “Es”.

Ek weet ook, kyk ons mekaar vandag in die oog, sal ons erken dat ons laf was om te kon dink dat ons, toer-toer, van Londen af, al die pad tot in Skotland, én weer terug, kon kom – en dit in net drie dae. Ons oë was groter as ons maag – ons wou meer afbyt as wat ons baas sou kon raak.

Ek onthou dit regtig as daardie naambordjie, die padpredikant, Cheddar toe, wat die lug gesuiwer en die mis voor die son weggevee het.



Daarom dat ek so bly was toe ek hierdie foto van so ʼn naambordjie vir my Pinterest-album van Cheddar opspoor. Dit was so ʼn towerfeë se towerstaf, hierdie bordjie, wat sommer ons gehuurde motortjie ook weer nuwe lewenslus gegee het.

Die museum wat ons besoek het, moes toegemaak het. Ek het op ʼn wonderlike webwerf afgekom wat meer as 120 besoekpunte binne in 20-myl omtrek van Cheddar lys, maar geen museum soortgelyk aan die een waarvan ek vertel, op die dorp self nie.

Die res het, lyk dit my, baie dieselfde gebly – dis steeds prentjiemooi, hulle is steeds groot op kaas en die omgewing se appelwyn en –bier.

Soos wat ek die vorige dag as ʼn hoogtepunt in die herinnering geroep het, nét so, het ek hierdie dag, hierdie afgelope week, weer as net so ʼn hoogtepunt aan die vergetelheid ontruk en in die herinnering geroep.

Van Stratford tot Cheddar was 100 myl, van Cheddar tot Minehead, waar ons oornag het, net oor die 100.

Dis hierdie tweede 100 myl wat, soos die woordewisseling, vir ʼn ander eerste op die toer gesorg het – ek vloek in my dagboek en span die woordjie “kak” in om die Britte se see te beskryf. En vanuit die perspektief van iemand wat groot geword het met die Natalse suidkus, die ganse Kaapse kus, ís die gebruik van die woord beslis geregverdig.




Ek kon nie glo toe ek hierdie foto van die einste pad waarvan ek vertel, die een wat reguit op strand uitloop, opspoor nie.

Ek was een keer in my lewe, in ʼn droogteseisoen soortgelyk aan die een wat ons nou beleef, op Baberspan in die Wes-Transvaal se pan. Vra jy my vandag om te sê hoe die Engelse se see lyk, dan sal ek jou vra om in ʼn droogtejaar uit te ry Baberspan toe. Sit jy daar en kyk vir die niks, dan is dit so goed jy sit Engeland op die strand.

Geen wonder die Britte boer somermaande so hier by ons in die Kaap nie.

Van die Kaap gepraat – ʼn ander Britse siestog is hulle Leeukop. Vergelyk nou net die Leeukop buite Cheddar waarop hulle roem, (die dingetjie links bo in die hoek op die poskaart) met die Leeukop in Kaapstad wat ons ken. Beslis nie “vinkel en koljander” nie, eerder “chalk and cheese” (om die Ingelsman se uitdrukking te gebruik). 


Na ons ete op die strand, skiet ons toe verder in die rigting wat ons ingeslaan het.

Die park waarvan ek praat (ek het Die Nasionale Kruger Wildtuin se Britse eweknie verwag) spoor jy op kaarte op as “Quantock Hills AONB”. Die AONB, kom ek toe agter, staan vir “Area of Outstanding Natural Beauty”.



Daar is 46 sulke gebiede verklaar, hierdie een waardeur ons gery het, was die eerste van hulle almal – en loer jy in die Pinterest-album sal jy verstaan.

Die Cheddar-kloof, waardeur ons is, staan van 2005 af bekend as Engeland se tweede grootste natuurwonder. 




Ons het, sonder dat ons dit geweet het, nogal ʼn goeie rigting ingeslaan nadat dit duidelik geword het dat die 1 000 myl Skotland toe en terug nie gaan realiseer nie.

Ek het myself weer eens deur Buttock Hills genavigeer – hierdie keer met my rekenaar se muis, elke oomblik geniet, en selfs gaan inloer om te sien waarop ons uitgemis het deur te laat vir Dunster Castle te wees.




Dunster Castle is toe Victoriaans, lieflik Victoriaans, en nie Middeleeus soos ek gedog en gehoop het nie. Ek is gevolglik, 22 jaar later, aansienlik minder teleurgesteld in die feit dat ons nié besoek kon aflê nie.

Minehead se dorpsnaam is afgelei van die Walliese “mynedd” wat “berg” beteken.




Die “mynedd” (berg) van Minehead sal ons in Afrikaans ʼn “heuweltjie”, “koppietjie” of selfs “hoogte” of “blinde hoogtetjie” noem, beslis nie ʼn berg nie.

Maar dan weet ons, gedagtig aan “An Englishman that went up hill and came down a mountain”, hoe belangrik grootte vir daardie eilandbewoners is.

Die dorp en omgewing is die mooiste mooi, veral omdat dit so totaal anders mooi is as die mooi waaraan ek in die binneland van Suid-Afrika gewoond is.

Die see daar is blykbaar vir die Engelse iets oom huis toe oor te skryf. Dis soos Margate of Plett vir ons is. Dit was vir jare die Britse spoorwegmaatskappy se vlagskip vakansiebestemming.


   

 



Die strand kon my verby gaan - ek was dronk van die groen – ʼn wonderlike beskonkenheid wat ek vandag nog soos gister onthou.

Ek sal nie weer Stratford Upon Avon toe gaan nie (behalwe as ek en Annieka miskien vir Klaradyn neem), maar ek sal weer wil ry waar ek daardie dag gery het.




Maar éérs, nog voor ek dit doen, sal ek sommer op Edinburgh en Glasgow land en dáár ʼn huurmotortjie kry om die noorde se groen heuwels van nader te leer ken.

Ek is amper oortuig dat Es al daar was, dit sal my nie verbaas as sy al meer as een keer daar was nie; ek aan die ander kant, bly droom.

Ek het ook gaan inloer by ʼn ander plekkie waar ek toe nie destyds uitgekom het nie, en eintlik relatief naby was – die Fashion Museum op Bath. (Daardie jare het dit nog bekend gestaan as die Costume Museum.)

Die geskiedenis van kleredrag vertel die geskiedenis van die mensdom – ek het my matrieks net Vrydag in die klas, rondom ʼn speltoets (van alle dinge) weer uitgebring by vrouens en dasse en die dra van broeke uitgebring.

So ja, iets soos ʼn kleredragmuseum lê my na aan die hart – ek hét al genoem dat kostuumgeskiedenis ʼn groot komponent van een van die vakke wat ek onderrig het, was.

So moenie verbaas wees oor die laslap en skakel na die museum nie – ek was nie in 1994 daar nie, maar niks keer my om in 2016 daar in te loer nie.

Sondag 14 Februarie 2016

Dag 9 - 15 April

15 April - 21 jaar vantevore


Hierdie boonste stukkie is agter in die dagboek waar ek iets oor elke kampplek geskryf het. Die "geensins romanties" het niks met romanse te doen nie, dit gaan oor die volslae afwesigheid van enige romantiek (veral na die romantieke rit tot hier).

Maar eers die dagboek, dan die dagboek leesbaar oorgetik, dan die herbesoek.








Dis twee dae en twee biere later, en ek kan klaar nie onthou hoe die dag verloop het nie. O. ja! On s het vroeg opgestaan en vir oulaas gebad. Ek het my groen kouse, twee sweetpkbroeke (sweetpak en pajams) + slap-top en sweater aangetrek. (Ek weet want ek het dit, vandag, 3 dae later vir die eerstre keer eers uitgetrek.)

Ons het ‘n motorhuur gekies die naaste aan die buitewyke van London. William het ons gaan aflaai en elkeen ‘n Toblerone gegee. (Nogal sweet van hom.) Die plek gou gekry, én die kar – ‘n piepklein Peugot Clio (1200), so oulike wittetjie.

Ek het die twyfelagtige voorreg om haar uit die stad te bestuur – ‘n nagmerrie, maar ek doen dit eerder voordat ek agter die kaart inklim. Die spoedbeperking is 30 myl per uur as daar straatligte in die dorp se strate is, so nie 40 myl per uur. Buite is dit 60 myl per uur as daar so y teken is. Op die high ways is dit 70 m/uur.

Die hoofweg self het niks opspraakwekkend opgelewer nie – dis maar soos by ons. Die oomblik toe ons egter van die pad afdraai, is dit ‘n ander storie. Hedges links en regs van die pad, small paaie en die allerlieflikste, atmosferiese dorpies soos ek my dit voorgestel het uit boeke. My jeugherinneringe aan Enid Blyton se boeke kan op enige van hierdie dorpies afgespeel het.

Ek sal nou lankal nie meer die eerste dorpie onthou waardeur ons gegaan het nie – Esmari behoort die hele roete op die kaart aangeteken te hê – maar dit herinner aan Karoo-dorpies soos Sutherland omdat dit plek-plek so is dat die huise reg op die straat gebou is. (Verder is daar natuurlik geen, maar geen, ooreenkoms met ʼn Karoo-dorpie nie.)

Besoek nommer 1 is, nee, nie ʼn kasteel nie, maar Stradford, Stratfod Upon Avon – ja daar is meer as een spelwyse vir die naam. Ek het deur die loop van die besoek seker vier verskillende spellings opgetel.

Ons besoek hier die geboorteplek van Shakespeare en gaan na die kerkie waar hy begrawe is. Ek koop hier vir my ʼn kruisie as aandenking. (Wat ek egter van die kerkie wil onthou is die begraafplaas en die bome en die atmosfeer van die kerk en dorpie.)

Ja Sytadford is “touristified” maar dit is ʼn lieflike plek. Die winkeltjies en geboutjies is uit ʼn prenteboek. Ons besoek nie een van die vele aanloklike restaurante nie, maar gaan na die goedkoopste plek toe – ʼn Fish & Chips winkel waar ek lag-lag die lekkerste vis kry sedert dié op Hermanus, of van my en Karien, laas toe ons die Cederberg gestap het.

Ek onthou ʼn brass rubbing plek langs die rivier.
Uit die museum wil ek onthou “Good night, sleep tight.” “Tight” verwys hier na die bed se toue wat styf gebind is. “Mattress” (matras) is ook afgelei van die bed. Dit verwys na die gevelgde mat warop jy dan nou ge-“rest” het.

Ek mag seker nooit vergeet dat ek vir £5-00 (R25-00) gestaan en kyk het na ʼn 2 uur en 20 minute produksie van Macbeth , aangebied deur die Royal Shakespeare Company nie. Dit is ʼn lieflike, moderne teater langs die ou, antieke een. Met staanplek, wat al plek is waarvoor ons bereid was om te betaal. (Ek sou meer betaal, maar dit sou onregverdig wees teenoor Esmari.) 

Ek sal nie sê dit was die opwindendste produksie van Macbeth wat ek al gesien het nie. Dit was baie gestroop. (22 spelers “all in all”) maar daar is in ʼn groot mate gesteun op die spelers en hul spel – geen fancy foefies en sulke dinge nie – niks spectacular nie – niks moderns nie. Die stuk het vir my verbasend stil verloop – dink maar aan die dood van die koning, die moord op die vroue en kinders – maar dit het nie gepla nie.

Vandaar is ons ½ 11 kampplek toe om vir die eerste keer ons ou tentjie op te slaan. Die wind het vreeslik gewaai en dit was ©͌ϐϑжф koud, maar ek dink ek en Es het dit in 10 minute gedoen, toe is ons in die bed. 

My matras het gelek en ek moes hom weggooi. Ek glo ek het kouer omstandighede in ʼn tent ervaar – Kalahari Gemsbok Park – maar ek het daar nie naastenby so koud gekry soos hierdie eerste nag van ons nie.

15 April 21 jaar verder

Kan jy glo – ek het gaan loer of daar so iets op YOUTUBE is, en daar is! Iemand het inderdaad ʼn video-opname van sy rit tussen Londen en Stratford-Upon-Avon gemaak. Ook nie net een siel nie, daar is meer as een opname beskikbaar.

Ek het die begin van elkeen gekyk, maar gou besef dit gaan my nostalgiese gemoed geensins bevredig nie.

Google-maps stel een van drie moontlike roetes vanaf ons blyplek by William Baxter voor en ek het hulle straatvlakaansig vir ʼn oomblik oorweeg, maar ook daarteen besluit. Ek wil nie dat die werklikheid van 21 jaar later tussen my en my herinneringe kom staan nie.

Toe loop soek ek prentjies en ek plak elkeen wat iets van my onthou iewers in om het, in my plakboek.

En dit was heerlik – ek weet ek het tien-teen-een landskappe en paaie in dele van Engeland, Skotland én Ierland geplak waar ons beslis nie was nie, en ek in my lewe nooit sál kom nie, Maar wat maak dit saak? Dis hoe ek dit onthou.

Ek het in ʼn stadium amper ʼn foto van ʼn Toskaanse vista ook gestoor, dis eers toe ek die webwerf waar die foto gebruik word, besoek, dat ek lees ek kuier nou in Toskane. Ek het toe maar verby gehou, maar tot die gevolgtrekking gekom dat sekere dele van die Italiaanse landskap, merkwaardige ooreenkomste met die Britse platteland tussen Londen en Stratford-Upon-Avon inhou.

Die plakboek wat ek gemaak het, is by verre die plakboek wat ek nog die meeste geniet het van almal wat ek tot op datum gemaak het. A trip down Memory Lane (asof dit die naam van die pad na Shakespeare se geboorteplek is) in die letterlike én figuurlike sin van die woord.

My Stratford-Upon-Avon-album was nét so lekker. Ek noem in die dagboek van destyds, dat die plek baie “touristified” is – die propperse Engelse mense, sien ek, gebruik die woord “touristification”.

21 jaar later is dit nog meer so. Selfs toe ek na die kerk waar Willem Wikkelspies begrawe is, se webwerf wil gaan, toe is dit gelaai op stratford-upon-avon.org se webadres. Dieselfde met die bekende “brass rubbing”-plekkie direk langs die rivier. Die skakel neem jou deur na stratford-upon-avon.org se skakel- en bemarkingsbald waar die skakelbeampte in die korrekte bemarkinsgtaal en met die regte invalshoek jou alles vertel wat hy of sy reken jy behoort te weet. Heel aan die einde van die artikel is daar dan ʼn woordjie waarop jy kan kliek om na die plek se eie webwerf geneem te word.

Ek was seker die eerste een in baie jare wat op die woordjie gedruk het om deur geskakel te word na die plek se eie, eerlike webwerf. Toe kom ek agter die skakel werk nie, die skakel werk, maar nie die plek se webwerf nie, dis asof nog onder konstruksie. Maar waarom sal jy ook nou moeite met ʼn eie webwerf doen as die magtige masjien van die toeristebedryf jou alles reeds in die mond gelê het wat hulle dink rondom jou gesê moet word.

Op daardie punt wip ek my toe vir die hele dorp en besluit om toeriste-plakboek van elke poskaart wat ek van die plek kan opspoor te maak en stratford-upon-avon.org vir die res van verdere verblyf  te boikot.

En toe word ook dít ʼn heerlike kuier – die dorp is al vir jare ʼn toeriste-mekka met honderde poskaarte oor baie jare heen.

Ek ontdek plekkies wat ons as fisiese besoekers aan die dorp nooit by uitgekom het nie – selfs die huis van sy ma op ʼn omliggende gehuggie. Deesdae reken party outjies die mense het die verkeerde huis as die tannie se huis beet, maar stratford-upon-avon.org gaan beslis nie toelaat dat die werklikheid tussen hulle en hope geld kom staan nie.

Ek weet regtig nie watter een van die twee albums ek die sterkste aanbeveel nie – die pad na die dorp toe, of die dorp self nie.

Miskien is dit nie een van dié wonderlike twee nie, maar ʼn derde een wat met ons toer onder die son niks te doen het nie.

Vandat ons Klaradyn hier voor sy skool toe is, die eerste keer Natalse suidkus toe geneem het, loer ek elke keer by elke kafeetjie en winkeltjie is wat lyk of hulle dalk hierdie poskaarte kan verkoop wat in my kinderdae so deel van die kusdorpies was – tekenprentjies, stoute tekenprentjies (dalk nie stout nie, maar stouterig.) Ek was so klein gewees dat die meeste van die humor oor my kop gegaan het, en toe ek begin verstaan het, het ek maar gemaak of ek nie regtig verstaan nie.

Ek weet nie wie van die ouer garde onthou nog hierdie poskaarte nie.

My soeke na Stratford-Upon-Avon-poskaarte kry my toe by die Britte se weergawe van my Margate-. Ramsgate- en Uvongo-poskaarte uit. En toe ek klaar het met die Stratford-album, toe kom ek agter dat ek amper net soveel van “naughty seaside postcards” (dis wat die pommies dit noem) gestoor het, as van die groot toeriste-aantreklikheid. Loer daar ook in as jy wil – dit bring lieflike herinneringe terug.

Ek het op sowat 40 foto’s afgekom van ons produksie van Macbeth wat ons destyds gesien het, maar selfs nadat ek met die fotograaf in gesprek getree het, het hy laat weet ek mag dit nie in my plakboek plak nie. So ek gee maar weer eens ʼn skakel na die man se eie plakboek toe. Lieflike foto’s, maar op die ou einde seker net ek en Esmari wat daarna sal wil kyk.

Ek is spyt dat ek nie die naam van ons kampeerplek aangeteken het nie – Esmari sou, ek weet, sy het tien teen nog die kwitansie ook, maar ek wil haar nie opjaag om in haar goed te gaan krap nie. Die plek sal hierdie ronde dan maar in kop bly. Ons het ounag daar aangekom en is in die donker die volgende daar weg. (By wyse van spreke, so goed soos “in die donker”). Kyk ek na die prentjie in my dagboek, dan lei ek af dit was ʼn entjie uit die dorp uit.

Ek het agter in my dagboek ʼn paragrafie aan elke kampeerplek afgestaan. (Iets om te doen as jy op ʼn oornagtrein ry, ure op ʼn stasie vir die trein wag.) Ek het dié vanoggend eers gaan soek en gesien dat ek destyds dáár aangeteken het, wat ek vandag nog die sterkste van ons besoek onthou:  Hulle het elektriese haardroërs in die badkamers gehad, en ek onthou hoe ek myself met hierdie haardroërs warm geblaas het.

Kom kuier verder in prentjies, kiekies en skakels:

(Ek dink ek gaan ophou om enige prentjies hier te plak - ek moes die bladsye so opstel dat die dagboekbladsye leesbaar kan inpas. Ander, kleiner foto's lyk nou potsierlik op die wye blad, en pas dit in die wydte, is dit belaglik groot.
Pinterest:  die pad (As ek moeg word
vir die lewe in die stad...)

Pinterest:  Stratford-Upon-Avon-poskaarte

Pinterest:  Naughty seaside postcards

Macbeth (1993 en 1994 deur die
Royal Shakespeare Company)

Pinterest:  Alles van hierdie dag wat
nie poskaart of pad is nie

Royal Shakespeare Company
se webwerf




Video (kort) oor
Shakespearse se huise




Video (kort) oor
Stratford-Upon-Avon
(geen gepraat)


By nadere ondersoek wil dit voorkom asof die kerk stratford-upon-avon.org gekies het (slim derduiwels), en dis hoekom ek daar uitgekom het - maar die ander outjies wat die meeste aan die een of ander toeristeblad uitverkoop het, staan.