Vrydag 06 Mei 2016

Dag 19 - 25 April


25 April - 21 jaar vantevore 
(en oorgetik ook)





Laat ek met die aanvang van die gedeelte in Parys sê dat dit lag-lag seker die akste plek onder die son is. Ek is _____?_____ oor Parys.

Die dag begin op ʼn baie ak noot. Esmari ontdek sy het amper ʼn R1 000-00, nee meer as ʼn R1 000-00 in haar handsak verloor.

Ons pak alles uit, 1 keer, 2 keer, maar, nee, dit is weg. Wanneer dit gebeur het, weet ons nie, maar sy vermoed dit is deur die loop van die nag – sy het die geld langs haar op die grond gebêre en dit is weg. Ek hoop nie dit is verteenwoordigend van ons reise per trein nie, want dan gaan dit aaklig wees.

Ons lê ʼn polisieverklaring af en gaan aan met die dag – na ʼn paar trane gestort is deur Es.

Ons drink vir die eerste keer lekker koffie in ʼn Q-burger (Quick-Burger). Daarna gaan ons na die bank om geld te trek. Nadat ons die adres van die bank opgespoor het, kom ons agter dat die tak toegemaak het en ons moet deur na die volgende tak.

SA-Ambassade

Selfs die SA’e ambassade is ak in Parys. Hulle is totaal onbehulpsaam en ons hoor ons kan die volgende dag gaan stem.

Ek is nie beïndruk met die FL-toring nie, maar ons vind ons weg na die grootste mark waarop ek nog ooit was.

FRANKRYK KON ʼn LIEFLIKE LAND GEWEES HET AS DIT NIE VIR SY INWONERS WAS NIE

Hier is antieke goed en winskopies en alles en nog wat. ʼn Mens kan regtig seker loag-lag ʼn hele dag daar deurbring en nog steeds nie alles gesien het nie.

Dit val my op dat jy boer op straatstalletjies te koop kan kry. (14 frank vir een, terwyl jy 16 frank  vir 6 in ʼn supermark betaal.)

Ons loop kruis en dwars en het ʼn jol. Es glimlag actually weer vir die eerste keer die dag.

Ek koop ʼn “antieke” kruis vir 10 FF (vir ons staan dit vir "Feitlik Fokkol" omdat die rand so vrotsig was en ons so min kon bekostig), wat ek dink nogal ʼn winskopie was.

Ons soek ons dood na melk en kry uiteindelik iets opgespoor in so ou klein onopvallende plekkie.

Parys lyk heerlik, maar looks deceive. Die stad herinner my baie aan Johannesburg – die geboue is oud en val en dateer (?) uit dieselfde era.

Die Metro is vuil en stink na pis en kak (ek kán dit nie eufemisties stel nie) en vrot asems. Waar ek in Londen ingestel was op die mense se vuil naels, is dit die stink asems wat my in Parys opval.

O.K. jy moet orals betaal om te pie-pie, en as ek elke keer moet betaal vir pie, sal ek dit ook orals in die gange doen.

By die Mont Matre, waar ons was ná die mark, het ek gekry waar iemand reg langs die toilet gekak het. Dit is walglik en dan sê die mense A’dam is vuil. Amsterdam is ʼn lentebries in vergelyking met Parys – regtig.

Die Mont Matre (sic) is wonderlik – dit is waar jy jou laat skilder en teken en sulke dinge. Dit is n lieflike heiwel met ontzettend baie beweging en vibes. Die gedeelte net onder aan die voet van die heuwel is ook amper soos 14’e straat van ouds was.

Ons besoek die “Sakre Kurr”, ʼn moerse kerk vol mense wat baie donker van binne is (!?). )In Frankryk is al die kerke waarin ek was DONKER, Holland se kerke was lig.)

Toe na die “Boa de Boelonje” waar ons kampeer.Die bus kos kos 13 FF per persoon en die slaapplek 31 FF per persoon. Hier ontmoet ons SA’ers maar ons het nie veel te deel nie. Ek en Es is myle van ʼn eetplek af en die shop is toe. Supper is toe brood + botter + biltong + sop.

Die kampeerterrein is goor en vuil – ʼn mens walg in die toilette.

Es bel haar pa vir sy verjaarsdag,


Die nag is daar 3 of 2 dronkies wat vreeslik raas in die tent oorkant ons.

25 April - 21 jaar later

Daar skop ek en Frankryk amper weer ʼn keer op ʼn verkeerde voet af:  ek besluit om eers met die kampeerplek in Bois de Boulogne af te skop en val weg by Camps de Jour – Bois de Boulogne en so waar as waaragtig – die plek het nie eers ʼn opsie om jou besoek in Engels af te lê  nie, dis net Frans waar jy kyk! En dit in die een en twintigste eeu! Bid jou dit aan! Maar ek moet seker nie verbaas wees nie – wat anders kon ek nou verwag het!

Dis eers toe ek begin rondsoek vir foto’s van die plek, en nie ʼn enkele tent of karavaan opspoor nie, dat ek besef hierdie is nie die kampeerterrein nie – hierdie mense bied laerskoolkampe vir laerskoolkinders in groot groepe aan.

Campings Indigo Bois de Boulogne is waar ek moet wees, en by hulle kan jy gelukkig een van 6 tale kies!

Maar dit help nie veel nie, die vies sit nog vlak, en toe ek eers lees dat ek dié betrokke kampeerterrein moet kiés, terwyl hulle my in dieselfde asem (en sin) daaraan herinner dat hulle die enigste kampeerterrein in Parys is, toe wil ek dit weer verloor.

Ek onthou die kampeerterrein glad nie – ek dink nie ons het lank daar gebly nie – maar die plek se webwerf, Tripadvisor en al die foto’s wat op Pinterest en elders opspoor, maak dit vir my 21 jaar duidelik dat die plek nie so sleg is soos wat ek dit in 1994 beskryf het nie. (Ek gee toe ek laat my toe om plek-plek deur die romantiek van Parys bekoor te word - maar waarom nie, ek is immers 'n toeris.)

     


Die ganske Bois de Boulogne lyk trouens vir my strate beter as die prentjie wat my eensydige woorde in die dagboek skets. Ek onthou dit nóg as uithangplek (pun tien teen een intended) van prostitute, nóg as plek van die eerste bemande lugballonvaart. Dan Brown het self 'n woord of twee oor die park in sy Da Vinci Code:  ‘The Parisian cognoscenti knew it as ‘the Garden of Earthly Delights’. The epithet, despite sounding flattering, was quite to the contrary. Anyone who had seen the lurid Bosch painting of the same name understood the jab; the painting, like the forest, was dark and twisted, a purgatory for freaks and fetishists.’


     

Ek het van meneer Bosch vergeet en 'n Pinterest album begin rondom skilderye van die park. Van Gogh het daar sy kwas nat gemaak; Dufy, Sisely en Morisot ook. Isaac Isaraels en Kees van Dongen het daar geboer. 


     


My beskrywing van die diefstal laat nie reg geskied aan wat moes gebeur het nie. Esmari het omtrent met haar kop op haar rugsak geslaap – letterlik beslis met haar neus in die rugsak. Tussen die rugsak en die slaapbank was haar handsak vasgepen. Wat my betref, moes die geslepe struikrower ons kompartement met slaapgas gevul het om verby haar neus by die geld in die handsak uit te kom, maar dis natuurlik nie die geval gewees nie – die vent (of vroumens) was ʼn geoefende meester, ʼn virtuoos op haar/sy vakgebied. 
Hierna het ons “booby traps” gestel as ons onsself oornag in ʼn kompartement toegemaak het. Die sambreel is byvoorbeeld aan die kompartementdeur vasgemaak en as iemand oopmaak dan donder die sambreel, en wat ook nogal verder op hul beurt weer aan die sambreel vasgebind is met luide geskal ter helle neer. Óf op die een wat bo slaap – dié gaan dan luid aan het gille asof die laaste oordeel pas gefel is.

Wie telkens die grootste geskrik het, ons of die stomme kondukteur, doeanebeampte of werknemer van die departement van buitelandse sake, was nooit duidelik nie – maar ʼn sluiprower het ons in die volgende drie maande nooit weer raakgeloop nie.

Behalwe miskien die nag toe sambreel en rugsak en handsak met ʼn dawerende gekletter aan swaartekrag gehoor gegee het, maar daar niemand by die deur was nie. Miskien was dit ʼn witgeskrikte sluiper; miskien bloot die geskommel van die trein…

     

Party goed onthou ek beter as ander, sekere flitse kom terug asof dit gister was. Ek sién ons twee deur die mark stap waar ek my kruisie gekoop het. In 1994 was die grootste vlooi- of tweedehandse mark in my verwysingsraamwerk die oggendmark op die Markteater in Braamfontein se parkeerterrein. Die ander markte was die een in Hatfield of die posseël in Kaapstad wat die mark op groentemarkplein genoem word.

En teen daardie agtergrond tref ons toe die mark in Parys.

Ek is spyt ek het nie aangeteken watter een dit was nie, want dit kan een van vyf of ses wees.

Miskien onthou ek die uitstappie so goed omdat dit, soos die dagboek duidelik te kenne gee, die eerste positiewe kennismaking met Parys was. Dis nou na die skok en nagmerrie van tientalle dooiemansdeure wat in ons gesigte toegeklap is, waar ons ook al gaan aanklop het.

Ons is met ʼn soortgelyke “bang” of insident  daar weg ook, maar dis gelukkig nog ʼn week of wat weg.

Tussenin lê heelwat lekker. Waarvan Montmartre met die Place du Tetre en Sacre Coeur maar net een is.

     

Place du Tetre was presies wat ek gehoop het dit gaan wees, was presies dit waarop elke greintjie voorafkennis wat ek gehad het, my op voorberei het. Daar is ruimte vir 300 kunstenaars, elkeen het net een vierkante meter, jy moet elke jaar opnuut gekeur word en die waglys is op die oomblik 10 jaar.


     


Wat ons besoek aan Mont Martre betref, is dit vir my lekker om twee stukkies detail te kan onthou, wat ek nie eens belangrik genoeg geag het om in my dagboek aan te teken nie.

Die een, op Place du Tertre, is my eerste kennismaking met iets soos ʼn silhoeët kunstenaar. 


     

Die koms van die kamera het hierdie kunsvorm teen die einde van die Victoriaanse era nekomgedraai en dis net ʼn handjievol kunstenaars wat hierdie eeueoue kuns lewendig hou.


Die ander is minder esteties; trouens suiwer kulinêr: my heel eerste ooit, heel lekkerste ooit, moewiese pannekoek met nutella!


          

Dit moet my seker nie pla dat ek, tussen al die crepe-bakkers wat ek in Parys kon opspoor, slegs een, vaagweg, aan 'n Fransman herinner het nie.

Twintig jaar later kry jy ter plaatse flou verskonings vir ʼn Franse crêpe met nutella te koop; elkeen ʼn belediging vir dit wat die lekkerbekke daar oorkant te koop aanbied.

As Annieka en Klaradyn by al wat kosmarkstalletjie met kwansuise nutella-pannekoeke tou, en ek verby hou, verstaan hulle nie. Hoe moet hulle nou weet dat geen pannekoek ooit so lekker kan proe soos daardie een wat ek 26 April 1994 op daardie heuwel geëet het nie.

Ook nie sommer enige heuwel nie – dit is, geografies gesproke, die hoogste punt in die stad. Hier, op die kruin van die heuwel tuur die Sacre Coeur, wat amptelik in 1919 gekonsekreer is, oor die hele stad uit.
     

Dis hier waar ons die eerste van Parys se bekende openbare toilette raakgeloop het. (Hoeka die een waar iemand se kleingeld op nommer 199 op was. Self was ek nooit in so 'n kontrepsie nie, maar ek onthou dat Esmari met lof van een gepraat het. Blykbaar is dit asof die hele gestoelte ondergronds verdwyn om gewas, gestoom en gesanitiseer (hoe’s daai vir ʼn nuwe woord) word, alvorens dit slaggereed verklaar word vir die volgende sitvlak (aposteriori?).

Maar dis alles hoorsê en onthou ek soos ek wil onthou.

Ons mans had pissoirs (ek sien hulle skryf deesdae van urinoirs). Dis eintlik niks anders as die army se pislelies nie – net ʼn pislelie op steroïdes. (Ek lees die naam van die SAW-modelle staan op die internet as "pizzlilly" bekend. Siestog.)



     

Terug by die Sacre Coeur. Dis ʼn lieflike basilika gewy aan Jesus se heilige (gewyde) hart. (Sacred Heart.)

Die binnekant is ook geensins so donker soos ek dit afmaak nie – nie op een van die foto’s op video’s wat ek hierdie week besoek het nie.


     


Ek beveel die panoramiese virtuele toer aan. Ek het dit ingespan om 'n kruis te gaan soek. Ek ʼn miniatuur weergawe daarvan vir my versameling kruise gekoop, maar kon dit nie opspoor nie. Miskien loop ons dit in 'n ander kerk raak.

Twee dinge wat ons nié gaan raakloop in my tydjie in Parys nie, is die “Tour de FL” en “Versailles”. Ek was nie daar nie, en was nog nie een dag spyt nie. Esmari het gegaan, maar ek had besoekpunte wat meer tot my gespreek het, waarin ek meer belanggestel het, om by uit te kom. 

Ek is wel spyt dat ek nie Giverny toe is nie.

Maar soos Rome, is Parys nie in een dag gebou (óf platgeloop) nie.

Die res kom nog.


Een ding, en dan is ek klaar, waaroor ek bly is, dan is dit dat my herinneringe aan Parys baie romantieser, positiewer en overall mooier is, as my destydse belewing daarvan.

Laslappies en skakels

Ek wil aanhaal uit The Local (France's news in English) drie van die 10 plekke in Parys wat hulle as "no go" beskryf. Ek voel beslis minder uit plek uit wat my eerste dagboekinskrywing betref:


  

Gare du Nord 
Do you like the smell of urine in the air, the presence of a swathe of drug dealers, dingy and expensive bars, and loads of men hanging around with apparently nothing to do - all in the dark? Well then, Gare du Nord is for you. If not, then this is another bonafide no-go zone. Unfortunately, this station marks many people's first impression of Paris as the Eurostar arrives here, as do trains from CDG airport. We advise you to move straight on.

Public Toilets
If you really can't hold it in, go to a cafe or bar to use the toilets. The public toilets of Paris are hit and miss, but when they're a miss, they miss by a mile. Note: If you are going to use the toilets of a cafe, it's best you buy a coffee at least while you're there. Back-up note: just because other people are peeing at the Metro stations, that doesn't mean you should too. And the same goes for between parked cars.

Paris Metro
There is no air conditioning on most of the Paris Metro. It is overcrowded. And it often smells a bit musty, let's say. These three reasons mean that on a sweltering hot day in July, the entire Metro system is an absolute no-go zone. We suggest you see the city on foot (Paris is an extremely walkable city) and that way you don't have to spend ten minutes with your face in someone's armpit.



Twee foto's wat ek nie kon inpas nie, beide in Frankryk geneem, verklap vir my iets van die oue en die nuwe. Eietydse urinoirs word met hittesensitiewe verf geverf.


 





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking