Vrydag 13 Mei 2016

Dag 20 - 26 April


26 April – 21 jaar vantevore







AG EK DINK EK SKRYF MAAR GROOT WANT EK HET NIE VEEL TE SÊ OOR HIERDIE DAG NIE.

Ons pak toe op in die reën. Dit reën nie hard nie, maar darem genoeg. Esmari gaan pie-pie (net gou) (en was haar bord) en tóé reën dit.

Esmari moet by bogenoemde teken en voeg in haar eie handskrif by:

Kodisil:  Dit was rêrig vinnig piepie want die plek is te vuil om lank te piepie.

Ons kom agter hoe lank dit ons neem om op te pak – want ons het dit lankal weer vergeet.

Die oggend doen ons dit ʼn ½ uur korter as beplan en ons gaan wag onder die bome vir die “shuttle bus” wat ons stasie toe neem.

Hier sou ons dan nou ons rugsakke vir die dag toegesluit het, terwyl ons die res van die dag aanpak.

Die eerste wat ons besoek – logies – ja – reg geraai:  Notre Dame. 



     

Die mooiste vir my was die buitekant. Opvallend is die outjie wat sy kop in sy hand vashou. Dit is Saint Denis, die patron saint van Parys, wat om die een of ander rede onthoof is maar toe sy kop opgetel het, en geloop het na die plek waar hy begrawe wil word. (Hierdie storie word vir die waarheid vertel.)

Ander dinge uit die kerk wat ek wil onthou, is die mooi houtpanele wat die lewe van Christus uitbeeld. Die vensters was mooi, maar nie so mooi soos die Bassilica van St Bavo in Den Haag nie.

Hierna skei my en Es se weë – ek na die Saint Chapel, en sy na ʼn plekkie waar ek haar moet ontmoet. Ek sien ek moet 25 F betaal, en synde ek klaar vergeet het waar ek haar moet ontmoet, besluit ek om haar eerder te gaan soek. Ons ontmoet mekaar by die St Germain-des-Pres. Dis nie ʼn opwindende kerk nie. (ʼn Kerk is ʼn kerk is ʼn kerk is ʼn kerk.)


      


Hierna stap ons deur die Latynse kwartier – so genoem omdat dit die studente deel van die stad was en studies in die ou dae (die baie ou dae) in Latyn was.

Ons sien die verruklikste eetplekkies (waarna ons twee of drie dae later soek). Ons soek ʼn supermark, ons soek ʼn supermark, ons soek ʼn supermark2, dat ek later dog ek gil oor Es se “inherente  suinigheid” (soos sy dit self noem) maar toe kry ons hom, en toe ís hy báie goedkoper. Ons koop kos.

Hierna volg die hoogtepunt van Parys:  Die begraafplaas van Pere la Chaise [ Pierre La Chez ]. 


     

Dit is lag-lag die wonderlikste begraafplaas waarin ek my nog ooit bevind het. Dit presies hoe Thys (Nel) gesê het dit sal wees, 9 jaar gelede). Piaf, Gertrude Stein, die tannie met die houtbeen – Sarah Bernhart – Wilde en baie ander lieflike graffies. Dit reën saggies en dis die ideale weer vir so ʼn besoek.

Hierna suiker ons deur na Dominique se plek waar ek besef hoe baie ek het om voor dankbaar te wees i.v.m. ruimte. As jy nie die toiletdeksel oplig nie, maak die deur nie toe nie.


  


26 April – 21 jaar later

21 jaar later is Frankryk jou wraggieswaar nog steeds so merderig as 21 jaar terug – nee, ek lieg, die plek en sy mense is 21 jaar méér chiererig as in 1994.

Ek het die herbesoek wat ek meer as ʼn week lank aan Pere Lachaise en Notre Dame gebring het, aanvanklik regtig geniet.

Ek het vir 21 jaar nie gedink ek sal my voete ooit weer in Parys wil sit nie, maar ek het myself die afgelope week op meer as een geleentheid betrap dat ek die hoop uitgespreek het om weer by, sowel die begraafplaas as die katedraal, ʼn lang en uitgerekte, rustige, draai te kan maak.

Ek het besef ek het sommer tjol gepraat toe ek gereken het die Notre Dame se gekleurde vensters is nie so mooi soos ek in Holland gesien het nie.

Ek het trouens begin uitsien na my herbesoek aan Saint Chapelle – juis oor dit die loodglas- en brandskilderhoogtepunt van die toer was, en ek dit tot vandag toe nog onthou.

En toe maak ek die fout om die Notre Dame se houtpanele, waarvan ek in my dagboek spesifiek melding maak, te wil gaan opsoek! 


    


Had ek dit maar gelos! Maar nee, ek wil mos nou meer weet, herbeleef!

Dit neem my lank, want om “houtpanele” en “Notre Dame” in die soekenjin te sit, bring jou nêrens uit nie. 

“Wooden panels” en “Notre Dame” help ook nie veel nie want elke tweede Franse, Rooms Katolieke kerk en katedraal word “Notre Dame” (Ons Dame?) genoem.

In ʼn stadium wil ek settle  vir ʼn bewerige video-opname wat iemand gemaak het, maar dit laat geensins reg geskied aan die betrokke meesterstukke nie.

Later knip en plak ek Franse woorde wat ek op sommige foto’s raaklees, in ʼn poging om te kyk of ek nie iewers op iemand afkom wat hierdie panele/houtsnywerke in die kuberruim gedeel het nie.

Ek oorweeg dit selfs om ʼn oudleerling van 1989 – 1991 wat die laaste paar jaar in Frankryk bly, te kontak en te vra of sy nie in Frans vir my kan opspoor wat ek soek nie.

Met ʼn moerse gesukkel (en nou google ek al frases soos “Clôture nord du Choeur Notre Dame Paris” en “Clôture sud du Choeur apparitions du Christ ressuscité”) kom ek uiteindelik af op presiés dit wat ek soek – ek word sommer verlief op die Notre Dame, Parys en die hele Frankryk.

Onthou, my enigste voorafkennis van Notre Dame is inderdaad The Hunchback of Notre Dame maar nie die Walt Disney-weergawe van 1996 nie; 'n swart-en-wit speelfilm met Anthony Quinn, 'n lieflike Nina Lollobrogida en vreeslik baie gargoyles (waterspuwers?) uit 1956. Daardie fliek maak 'n volwassene vandag opgewonde, maar toe ek dit as agt- of negejarige gesien het, was alles effe bo my vuurmaakplek.


    

Ek navigeer aan die hand van Google Translate om van prent tot prent te volg. Google Translate maak in ʼn stadium ʼn vertaling van die ganse webblad vir my oop. Dis toe dat ek agterkom ek is op die amptelike webwerf van die Notre Dame in Parys.

Ek is so bly toe ek dit snap, want toe weet ek daar sal iewers op die webwerf waaruit ons nou net vertaal het, ʼn knoppie wees om die ganske webwerf in Engels aan sy lesers bekend te stel. (Onthou, ek het drie weke gelede vertel van die Hollandse webwerwe en kerke wat in ses Europese en twee Oosterse tale met jou in gesprek tree!)

Voila – daar is toe so knoppie, links bo en ek druk hom.

Kan jy glo! Die Engelse weergawe het nie eers ʼn helfte van die inligting wat in Frans in ons kele afgedruk word nie! Dit wat ék in belang stel, dit wat ék soek, is níks, nie ʼn enkele greep, op die Engelse afgewaterde verskoning vir ʼn gebruikersvrienelike webwerf  nie.

Vergelyk byvoorbeeld net die verskil tussen die Franse en Engelse portale wat deurgang bied na beeldhouwerke (en ek dink nie dit behoort vir my nodig wees om te noem dat Frans, links, en Engels, regs, is nie):


 


Ek het lus en los hierdie merderige land en merderige mense en hervat my herbesoek aan Europa in die volgende land.

Ek gaan praat toe maar met die Franse juffrou en vertel haar alles in die hoop dat sy wat van nature aangetrokke tot die betrokke kultuur voel,   perspektief sal bring en my gemoed sal swaai.

Wat sy natuurlik toe ook doen. 

(Tydelik. Voorlopig. Momenteel.)

Maar ek sal teruggaan en verder kuier.

Ek het weliswaar steeds lus en maak ʼn Pinterest-album oop waarin ek elke enkele foto op die Franse blad, wat nié op die Engelse blad is nie, deel en ek noem dit iets soos “All the official Notre Dame images the supercilous French denies English speaking visitors.”

Ek het hier, op die Franse webwerf, afgekom op detail wat ek nie eers geweet het bestaan nie.


      


Pere la Chaise (en ek spel dit doelbewus verkeerd om die wit waks uit elkeen wat hier lees en iets van Frans weet, te orriteer) was met herbesoek weer eens ʼn hoogtepunt, maar ...


     

... reggeraai, dit was weer eens, eweneens, iets wat sommige mense rede kan gee om nie van die Galliese nasate te hou nie.

Ek het gewonder, en ek moes weer eens liefs nie, wie die laaste mens is wat daar begrawe is – Napoleon het immers die begraafplaas geproklameer, die lap aarde is seker lankal vol.

Toe kom ek agter dat ek verkeerd was – jy kan vandag nog daar begrawe word, mits jy in Frankryk gebly en gesterf het. Selfs al is die begraafplaas lankal vol.

Sien, sommige dooies se beendere word bloot opgegrawe en in die een of ander eietydse katakombe gegooi. En as die katakombe oorloop is daar massaverassing (of so iets).


    


Die lappie aarde wat jy deesdae koop, koop jy dan ook net vir ʼn tydperk van 10, 20 of 50 jaar  (na gelang nou van hoe lank jy dink die mense nog in jou graf belang sal stel) elkeen teen ʼn verskillende prys natuurlik.

Bid jou dit aan!

Nee, wag, laat ek eerlik wees – dit pla my net uit beginsel uit. Self gee ek nie om wat met my oorskot gebeur nie. Party mense hou nie eers van die woord “oorskot” nie. Wat my betref kan jy dit maar ʼn karkas ook noem – ek gee nie om nie.

As ek dood is, is ek dood, ontbind ek en keer stof terug tot stof.

Maar as die Franse, en dis seker maar net omdat hulle Franse is, nou die bene deurmekaar wil kom krap, lyk dit my, het ek sommer uit beginsel ʼn probleem daarmee.

Wag, ek trek my woorde terug, dit het met beginsel niks te doen nie; met dure ondervinding, alles!

Ek het klaar met Frankryk:  Ek dog toe laat ek gaan inloer by die St Germain Des Pres wat my destyds, te oordeel aan die dagboek, nie juis beïndruk het nie.

Waarom leer ek nie!

Niks het verander nie. Ek weet trouens nie wat ons destyds daar gaan soek het nie – dis duidelik nie ʼn toeristebestemming nie! Wat het 'n toeris nou te verloor! 

Dis 21 jaar later en die ganske webwerf praat slegs Frans. Self, kliek jy hoopvol op die woord “audio-guide” (die enigste wat jy herken, regs bo op die blad) vat  dit jou nie noodwendig na ʼn “audio-guide” toe nie. Ek sal nie weet waarheen dit jou vat nie – want “audio-guide” is die enigste twee Engelse woorde op die bladsy, kom jy eers daar anderkant uit; die res is en bly in Frans. Alles.


     


Ek het iewers gelees dis blykbaar die oudste kerk onder die grotes in die land, daar is glo/miskien/skynbaar/blykbaar iets omtrent die pilaar hier bo. Maar ek sal nie weet nie. And to be quite honest – I don’t give a continental damn. (En dan is “damn” –  welvoeglikheidshalwe – my tweede woordkeuse.)

Wat wel positief is aan my inloer by hierdie kerk, is dat dit aan Heinz Theuerkauf se webwerf, Gotik Romanik, bekendgestel het. Dis nou 'n man met mannemoed - hy het 2 200 middeleeuse kerke wat tussen die sesde en sestiende eeu op Europese grond opgerig is, op een webwerf saamgegooi - en meer as genoeg foto's,wat op die argitektuur fokus, oor elkeen geplaas. Ek haal my hoed vir die man af.

Ek wou nog herbesoek aan die wonderlike Latynse kwartier gebring het - dis hier waar 'n straatkunstenaar my 'n houtskoolsketsie present gegee het. 

Kom ons los dit maar vir die frankofiele.

Laslappies en skakels vir einste frankofiele en frankonfurters

My Pinterest-album oor Parys se Nortre Dame (met heelwat foto's wat blykbaar oorspronklik net vir Franse kykers bedoel was

My Pinterest-album oor Saint Germain des Pres (ek hou van die kerk omdat hy op grond van sy ouderdom meer as een aangesig het, en die minder bekende aangesig my die meeste trek)

'n Ander se Pinterest-album oor die begraafplaas











Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking