Maandag 23 Mei 2016

Dag 21 - 27 April

Dis die geneuk met Frankryk – jy leer om, ten spyte van die Franse, tog van die plek, die res van die land en alles daarin te hou.

“Adapt or die,” is dalk wat Darwin bedoel het, maar nie wat hy gesê het nie – dit was PW Botha. En dis wat ek met Frankryk moes doen, destyds; en nou, weer eens, moes doen – en toe gedoen het.

Dis dag 3 in Frankryk, week vier van my herbesoek, en ek het vrede gemaak, lieflik ge-adapt.

Ek het byvoorbeeld tot op datum nog nie so ʼn ontoereikende museumwebwerf raakgeloop soos die een wat die Louvre saamgeflans het nie. (Die Franse een is gelukkig net so vrotsig soos sy Engelse eweknie en ek kan nie, soos verlede week oor die Notre Dame en Saint Germain des Pres, kla, kef en kyf nie.)

Maar waffers is dit wraggies nie. Toe gaan soek ek maar elders, en kom ek reg. (En het ek nie lieflik reggekom nie!)

Ek toer weer op ʼn hondegaloppie en is heimlik bly ek was in 1994 in die Louvre, en nie vanjaar nie. Daar loer die laaste klompie jare daagliks enige iets tussen twaalf en vyftien duisend mense in; jaarlikse besoekersgetalle wissel tussen 9 200 000 en 9 700 000.

Dit was in 1994 seker ook maar hoog, maar toe was selfone nog net-net ʼn nuutjie en het die goed genadiglik nog nie kameras gehad nie. Orals waar ek die week lees, kry ek die idee ʼn mens gaan nie meer Louvre toe om skilderye te kyk nie, jy besoek die Louvre om foto’s van jouself met skilderye en beelde (of dele van skilderye en beelde) iewers ver in die agtergrond, te neem.

Hoe was dit destyds?

21 jaar vantevore
(Netjies en leesbaar oorgetik ook.)








Trein na Louvre – mors tyd     venus de milo, mona lisa.     vier seisoene    Marat Sade    Rembrandt selfportret    Hals    (voete seer)2    Orangerie  - Monet  waterblomme  (kos soek)    Saint Chapelle    Moderne kuns museum – voetpeoeier          Les Chatelets    Les Halles – doodloop  Garre du Nord – huisie   wasgoed  (watersop hoender sampioene + paryspram)    wag 2de trein  staking, Latynse kwartier
__________
Ek verstaan nie lekker my kriptiese leidrade nie en dis nou al die 18e Mei, so ek sal my bes probeer, maar waarborg niks:

     

Die Louvre, waar die metro ons aflaai, het ʼn baie goeie face lift gekry vir so ʼn ou gebou – ons klim van onder af, in die gebou in by die piramide van glas. (Dankie vir die museumkaart, want dit sou ʼn aardige bedraggie gekos het.)

Dit het my nie lank geneem om te besef dat 95% van die mens se tyd in die Louvre spandeer word om skilderye te soek nie. Ek en Es het kilometers binne die moerse gebou geloop op soek na die hoogtepunte.

Die Mona Lisa was nie vir my ʼn teleurstelling soos almal voorspel / gesê het nie. Vir my was dit nogal ʼn spesiale oomblik – net jammer van elke bloody Sjinees wat voor die ding gaan staan om afgeneem te word terwyl hy/sy die hele skildery toestaan.

Ook die Venus de Milo was daar – hier sien ek mense letterlik hul kameras bo hul (en ander) se koppe oplig om foto’s te neem. En dit sonder om ʼn vae idee te hê watter deel hulle van Venus, of die omstaanders, se anatomie afneem.

     

Ek sien at last die Hals-skilderye wat ek wil sien, Marat Sade se dood, die skilderye van die 4 seisoene (vrugte- en groenteportretstudies), Rembrandt se selfportret en 100e ander mooier, of soms baie leliker, skilderye. (voetseer)2 Ek en Es loop myle agter die groot “M” se slaves-beelde aan, net om uit te vind, die rede waarom ons dit nie kry nie, is omdat dit vir die dag gesluit is.


           

Moeg en uitgeput verlaat ons die museum, stap in die fancy tuine af na die L’Orangerie om daar te herstel terwyl ons na Monet se lieflike muurskilderye van die waterblomme kyk.
Ek sien ook mooi Picasso’s, Cezanne’s, Soutine se koorknaap en mooi voorbeelde van die ou wat Haiti/Tahiti toe is – ek het nou sy naam vergeet – kan jy dit glo. (Gauguin)


     


Hierna is ons Latynse kwartiere toe – toe ons gister daar was het ons deur die Griekse deel gestap, maar wou nie van hulle heerlike soewarma-goedjies koop nie (ek het wel halva gekoop) maar vandag wil ons. Ek en Es soek die plek en kan dit glad nie opspoor nie. Na wat omtrent ʼn uur gevoel het, spoor ons die Griekse “vyf minute” in die Latynse “kwarture” op en koop die kosdingetjies. (Wat toe geensins so lekker is nie).

Ons vreet dit egter van honger op, ek kry ʼn liter melk teen 8 FF en ons skiet deur na die Saint Chapelle. 

     

Waar ek die eerste dag sou moes betaal, kan ek dit nou gratis doen met my museumkaart. Saint Chapelle lê binne een of ander iets van die Franse Staatsdiens en ons gaan deur vreeslike staatsveilighede voor ons die kerkie tref. ʼn Dertiende-eeuse kerkie met baie mooi glasvensters – die vensterervaring wat net gewen word deur Cluny (ʼn dag of wat later).

Ek onthou egter dat ek ook opgetrek was met die grondvertrek van die kerk – waar die mure embossed was met “fleurs de lys” (goud op rooi). (Amper soos die goue skulpe in die ewe oue Middeleeuse Cluny.)

Hierna skei ek en Es, ek stap deur die straatjies rond, besoek ʼn moderne kunsmuseum (waarvan ek niks onthou nie), loop in boekwinkeltjies rond en koop met gebaretaal talk / talc vir my voete. Die ou gee weliswaar nie vir my medisinale voetpoeier nie, maar twee houers – ʼn pienk plastiek ene hervul (wat op 20 Mei gebruik is).

Ek het ʼn boggerop op die stasie (die drywers staak al vir twee dae en ons moes vanoggend wag vir die tweede wa om op te klim – ek het nog nooit so beknop gestaan nie). Ek kan nie lyn B kry van die stasie waar ek is nie en moet Gare Nord toe. Ek sluit by Es aan met die wasgoed.

     

Die aand eet ons sulke waterige groentesop en heerlike “hoender met sampioene”. Daar is weer slaai en ons eet ons borde uit met die brood.



26 April – 21 jaar verder

Laat ek by die einde begin:  “Daar is weer slaai en ons eet ons borde uit met die brood.”

  • Die een rare ding wat ek van daardie slaai onthou, is dat die vrou hierdie lieflike groot bloedrooi tamaties (waarvan ons, Bertie van Zyl en die ganse ZZ2 maar net kan droom) gehad het om in haar slaai te gebruik. Sy het die jong spanspek van tamatie in die breedte halveer en dan die pitte en sopperigheid met ʼn teelepel uitgekrap en net die vastekosgedeeltes gebruik. Vandag nog, as ek fancy wil wees, verbeel ek my dat ek fancy is, as ek die helfte van die tamatie met ʼn teelepel wegskep. (Bygesê, hier teen die einde móés ons dit so vir my ma voorberei – haar op-die-koffie spysverteringstelsel het ons genoop om van enige klein tamatiepitjies ontslae te raak.)
  • En dan lieflike, volksvreemde gebruik om die laaste sous, sop, souserigheid of sopperigheid, en selfs vinaigrette in jou bord, met ʼn afgeknypte stukkie baguette op te mop! So volksvreemd en kultuurskok is dit seker nie; wel groot genoeg vir my,destyds, om dit aan te teken. Miskien was dit net ʼn aardigheid, omdat jy rondborstig en met oorgawe in geselskap van ander kon doen. Want wat is dan nou lekkerder ...
   


Ja, dit was vir my lekker om by ʼn vriendin van Es te kon afpak. Dit het geleentheid om iets van die mense se manier van leef te leer ken, gebied – ʼn geleentheid wat ons in die meeste lande nie gehad het nie.

By haar maak ek vir die eerste keer kontak met ʼn onderwyseres wat met haar motor net halfpad werk toe ry, en dan verder met die moltrein of bus by die skool moet kom. Dis maar eers vyftien of sestien jaar later dat die Gautrein daardie vorm van pendel aan my vriendekring bekendgestel het.

Naas klein stukkies onthou soos dié wat ek nié aangeteken het nie, hou die dag dan ook die groot teleurstelling, wat ek na 21 jaar eers besef en beleef in:  ek het Michelangelo se “Slaves” met sy “Prisoners” verwar.

Ek het gedog die prisoniers is die slawe en ek was teleurgestel omdat die groot M se slawe daardie dag (soos wafferse tronkvoëls) agter slot en grendel toegesluit was.

Dis eers toe ek nou, 21 jaar later, die tronkdeure oop kry, dat ek agterkom dis die slawe wat destyds agter die toe deur weggekruip het, en nie die prisoniers nie.

Maar erger nog as dit – ons wás in Italië, ons was ín Italië, ín die museum bý die prisoniers, maar ek het nie na hulle gesoek of daarvoor uitgekyk nie – want ek het gedog hulle was drie maande vroeër – in Frankryk – agter die geslote deur in die Louvre.

Hier is die Louvre se slawe – lieflik en meesterlik, maar nie op my kluitklaplysie nie.


   


Hier is die prisoniers of gevangenes wat, as hulle slange was, my kon gepik het toe ons sowat drie maande later na die oorspronklike Dawid-beeld gaan kyk het.


     


Maar wie weet, miskien erf ek eendag ryk van ʼn verlangse familielid wat ek nie eers geweet het ek het nie, en dan gaan maak ek tog ʼn draai by die outjies vasgevang in klip wat meer van ons almal se gevangenisskap verklap as van Michelangelo se beeldhouvaardighede of enige van sy onvoltooide werke.

Met meer as 70 000 artefakte om te gaan kyk, het ek nie geweet waar om te begin nie. Ek het besluit om op Jesus Christus te fokus omdat die Christendom na my beskeie mening daarin kon slaag om van die mensdom se mooiste kuns, hetsy beeldend of uitvoerend, op te lewer.


     


Ek het gehoop om elke uitbeelding van Jesus onder daardie 70 000 op te kon spoor, maar helaas, die Louvre se webwerf teken slegs 109 aan; toe soek ek maar elders en kom af op Gergana Gadeva se Pinterest-blad. Gergana, sy is ʼn Bulgaar, en pinterest in die oortreffende trap – sy het 262 albums, dík albums, en nie minder nie as ses oor Le Louvre. Gaan loer gerus in – ek het heerlik aan die hand van haar versameldrang herbesoek aan die wêreld se grootste, en bekendste, en gewildste kunsmuseum gebring.

Die National Gallery in Londen het in 2000 ʼn uitstalling, Seeing Salvation at the National Galery, gehad. Self kon ek nie daar wees nie, maar ek het my broer gevra om die lywe boek wat die uitstalling vergesel vir my saam te bring. Dis een van die min kunsboeke wat ek het, wat ek al meer as een keer van hoek tot kant deurgelees het.

Daarom dat ek wou kyk hoe lyk Seeing Salvation at the Louvre, maar helaas – ek kon nergens iemand opspoor wat al pertinent vir die tientalle gesigte en aangesigte van Jesus Christus gaan soek het nie.

Die oortjies van die seekoei wat tussen die Louvre se 70 000 kunswerke wegkruip is darem in my eie beskeie albumpie te sien.

Voordat die Franse koningshuis Versailles in 1793 hul hoofkwartier gemaak het, was die Louvre die kroon se amptelike adres en residensie.

Die L’Orangerie was op sy beurt die Louvre (en later 'n ander paleis) se koninklike kweekhuis waar lemoen- en ander vrugtebome pamperlang is. 

Vandag huisves hierdie kweekhuis ʼn lieflike permanente versameling  impressionistiese en post-impressionistiese skilderye. As ek ooit in lewende lywe weer 'n dag in Parys het, is dit die LÓrangerie (en Musee D'Orsay) wat my weer sal sien, en nie die Louvre nie.



           


Hulle webwerf, al dek dit geensins die ganse versameling, is net ʼn plesier. Dalk is dit om die Amerikaners ʼn vinger in die pie het. Ek lees op hul webwerf:

The American Friends Musée d’Orsay (AFMO) is a U.S. non-profit, tax-exempt organization, created in 2011 to support the Musée d'Orsay and the Musée de l'Orangerie and strengthen the ties between the museums and Americans on both sides of the Atlantic. Since it’s creation in 2009 and it’s acceptance of members in 2011, the organization has known great success and counts almost 300 members.

Hoe dit ook al sy, dis ʼn gebruikersvriendelike, kompakte webwerf wat ʼn mens uitnooi om te kom kuier – dit was vir my heerlik om foto’s van die kunstenaars as vertrekpunt tot hul skilderye en meer oor hulself te kan gebruik.

Ek onthou die stap deur die Tuilleries-tuin soos gister – die beste van alles die bootjies op die dam. Om die waarheid te sê, ek onthou dit so goed, dat ek nie seker is of ek en Es dit self beleef het, en of ek dit uit ʼn toneel in die een of ander fliek onthou nie.




     

Dat dit ʼn dag met baie insette was, is ʼn feit – ek dink trouens ons was gek. En om te dink ek donder toe deur na ʼn derde kunsmuseum – waarvan ek die naam ʼn paar dae later nie eers meer kon onthou nie.

Maar ek was 32 en het in jeugdige voortvarendheid seker vir baie meer kans gesien as vandag.

Dit was beslis nie die “Musée d'Art Moderne de la Ville de Paris” (Parys se stadsmuseum vir moderne kuns nie) want daar is hopeloos te veel twintigste-eeuse meesterwerke in die versameling – ek sou dit beslis onthou het. (Ek het toe maar hierdie ronde tussen hul 10 000 kunswerke gaan kuier, maar die oomblik as hulle openingstye en enkele hoogtepunte in Engels kommunikeer het, is die res alles Frans - maar wie is ek nou om toe te wil laat dat 'n Franse instruksie tussen my en 'n lekker kuier kom staan!


     


Ek vermoed, te oordeel aan my vertelling, dat die een of ander hipermoderne moderne kunsuitstalling of –museum moes gewees het.

Die ander ding waarvan ek tot my skande en skaamte niks onthou nie is Saint Chapelle. Ek onthou die ingang na die militêre terrein, die sekuriteit, maar van die kerk self, en sy verruklike vensters, onthou ek minder as niks.

Dit was asof ek anderdag vir die eerste keer oog daarop gelê het.

Ek onthou Saint Chapelle se vensters die beste van almal, dis my kerkvensterhoogtepunt van die hele toer, maar ek hierdie vensters nie by die kerkie gesien nie; dit was in ʼn museum waarby ons ʼn dag of wat later uitgekom het. Hier is dit in die museummure ingebou en van agter kunsmatig verlig. Ek kon aan hierdie vensters uit die 1200’s so naby kom, dat ek dit met my asem op sou kon wasem as ek net wou.


   


Die deuntjie wat in my kop draai terwyl ek hierdie dag die laaste week of wat besoek?

I love Paris in the springtime
I love Paris in the fall
I love Paris in the winter when it drizzles
I love Paris in the summer when it sizzles

Which reminds me (en ek moes vier of vyf keer lees):





Laslappies en skakels

Ek kuier lekkerder in die Louvre via Pinterest as hul webwerf

Louvre-beeldhouwerke   
My eie blad oor Christus in die Louvre
Gergana Gadeva se Louvre (rol net so bietjie na onder, maar beloer na haar ander albums ook)

Ek wil, voor ek verder reis, bietjie langer stilstaan by die L'Orangerie. As ek so ver kom, sal hierdie die skakel na die fotoalbum wees.







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking