Maandag 28 Desember 2015

Dag 3 09/04/94

9 April - 21 jaar vantevore








9 April

O, vandag was weer ʼn hoogtepunt na gister wat nie 100% so wonderlik was nie – die rede – vandag het nie één teleurstelling ingehou nie.

Dit is geyk, maar ek gaan dit weer sê: Daar stap ek by die klein galery in en daar hang “Ete op die gras” (Piekniek op die gras). Daar hang die een van die vrou in die kroeg – die famous een.


Courtauld Gallery

En of dit nie genoeg is nie – Degas se dansers. Die impressionistiese tannie wat haarself poeier (pointelisme) walglike skildery. Die hoogtepunt was definitief Cezanne – Die Kaartspelers. Ek was op skool nie mal oor Cezanne nie, maar as jy sy werk lewendig voor jou sien, verander boekdele. Ek kan net sit en kyk en kyk en kyk.

Van Gogh se selfportret met die af oor hang ook daar. 

Ek moes nader gaan om te kyk of dit nie dalk vervalsings of prints is nie. Ek het ook my eerste “Tauloes” “Lautrec” van die toer gesien – ek sal voortaan heel anders oor hom ook dink. Sy goed is actually nogal oulik.

Dit is verbasend watter groot verskil dit maak om die goed lewendig te sien.

Ek sien ook 3 puik Gauguins. Nou van sy werk het ek nog altyd gehou – nou hou ek nog meer daarvan.

Vandag se museumbesoeke het ook ingesluit ʼn besoek aan die Museum of Mankind, ʼn antropologiese versameling wat in party opsigte Engeland se skuldgevoel oor die “Rape of Africa” probeer verlig. Die interessantste was die skulpinligwerk (turkoois) van die Meksikaanse Inkas. Heel, egte skedels uitgevoer met die fynste inlegwerk. ʼn Spreekwoord wat ons hier opgetel het, is: ʼn Mens kook nie pap in ʼn koffiepot nie. Dit beteken geen twee mense is dieselfde nie. Ek en Esmari maak ons eie Benin-gesigmaskers uit klei. All very-very exiting. Ek sien ʼn regte-egte Easter Island beeld, maar kom soos so baie keer in die verlede in opstand teen die hele antropologiese idee. Die goed is gesteel, geroof, met geweld afgevat. Al het hulle toe nie gedink dit is verkeerd nie, weet ons nou dit was verkeerd en behoort ons dit aan die mense terug te gee.


Museum of Mankind (1994)

(Ek was vandag ook by die Fotografiese museum.) 


Photographers' Gallery (1994)

Vandaar is ek na die Royal Academy of Arts – die mooiste vioolmusiek in die saal (suil?) aan die buitekant.


Royal Academy of Arts

Vandaar na ʼn boekwinkel by die Camden Town Square + die mark daar. Amper soos Rocky Straat, net 120 x erger en meer scaly. 


Camden Market


Ook by Institute of Contemporary Art. – Vreeslik kontemporêr gewees. Sewe beeldhouwerke van skilpaddop en toue. Man in ʼn boomhuis wat strip (ʼn video).


Institute of Contemporary Art

Die aand is afgesluit met ʼn opvoering van The Mouse Trap. In sy 42’e jaar. Dit is regtig net ʼn toeristeaantreklikheid (uit ʼn toneelmatige oogpunt). Die teater is lieflik (in vergelyking met Jhb-stadskouburg – as enigste verwysing in my raamwerk.) Dis vreemd om koeldrank en eetgoed in te mag vat. Ons sit heel agter en heel bo. Heel bo is hoër as wat dit ooit in enige teater in SA is. Die teater is baie klein, so die sitplekke is ontsettend styl. Dis nie stoele nie, dis trappe met die sitplekke op die trappe. Ek sal nie sê wie die moord gepleeg het nie, maar ek en Esmari het al twee antwoorde gehad, en ons al twee was verkeerd.


St Martin's Theatre

Dit is bly opvallend hoe intens die moltreinstelsel gebruik word. Toe ons ½ 11 uit die teater kom, toe lyk die hele Londen soos Sunnypark op ʼn Saterdagoggend. Op die moltrein is daar toe opgedressde man en vroue – dis vir hulle niks vreemds nie. Ek en Esmari het doodseker gemaak van die bus, maar dit het toe nie weer afgedraai nie. Ons het by die huis gekom, iets gesnack en toe gaan slaap. Ek het nog TV gekyk, of sal ek sê gespeel tussen die 50 kanale wat beskikbaar is.

(Waaroor ek wel teleurgesteld was, was die feit dat die Mondigliani, die bekende een, nie te besigtig was by die Courlands Foundation se uitstalling nie.) Hulle het die saal voorberei vir die komende Someruitstalling.


Die fotografiese uitstalling by die Fotografiese museum sluit in daai reeks foto’s van Salvador Dali se snor. Ek het dit al boeke gesien, so dit was nie so vreeslik opwindend nie. Ja, ek raak klaar blasé oor al die kuns.

9 April - 21 jaar verder


Só opgewonde was ek oor die Courtauld Stigting se galery, dat ek aanvanklik selfs nalaat om die naam van die plek te noem – dis eers hier teen die einde dat ek, verkeerdelik, daarna verwys as Coursland Foundation.

Het ek aan Courland, wat hier by ons in Afrikaans Koerland is, gedink?

In Afrikaans het ons die sêding dat iemand van Koerland se vleis geëet het, as hy of sy baie lui is. Ek het aanvanklik gedink Koerland is iets soos Luilekkerland, of dalk Kammaland

Na ek van die Engelse Courland, in Duits en Nederlands onderskeidelik Koerland en Kurland, gehoor het, het ek gedog die uitdrukking hou verband met hierdie Baltiese landstreek.

Anton Prinsloo, skrywer van Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom (ook pa van ʼn oudleerling van my) lig toe uiteindelik die sluier vir my (help my om die kloutjie by die oor te bring):  Koerland was toe al die tyd nooit ʼn land of plek nie, maar die naam van ʼn baie lui, bekende én berugte, Bolandse trekos gewees.

Samuel Courtauld, die nasaat van ʼn Franse Hugenoot, het in die Britse tekstielbedryf aan sy rykdom gekom. 

Deel hiervan het hy teruggeploeg in die kunste – eers deur die vestiging van sy eie privaatversameling, en later aan die hand van die Courtauld Stigting.

Hy is die man heel links hier onder. 




Langs hom is Théo van Rysselberghe se skildery van Ana Boch. Samuel het sy privaatversameling begin deur heelwat skilderye uit haar versameling op te koop. 

Langs haar, is haar boetie, Eugéne Boch, soos Vincent van Gogh hom geskilder het. Die twee was vriende, baie goeie vriende, en dis moontlik dat Ana, om haar boetie gelukkig te hou, onthou word as die enigste mens wat ooit amptelik ʼn skildery, die een heel regs (The red vineyard), by Vincent gekoop het. Samuel het hierdie een nié by haar gekoop nie, dit was toe reeds aan Sergei Shchukin (toevallig ook ʼn tekstielmagnaat) in Rusland verkoop.

As die Boch-van vandag nog vir ons bekend op die oor val, is dit te verstane – die Boch-dinastie leef vandag steeds, sedert 1748, voort in die naam Villeroy & Boch, die outjies wat bekend is vir hul breekgoed (baddens, wasbakke en toilette).

En dis waarby ek in die hede volstaan.

Die res is net laslappies en skakels. Ek het daglank heerlik gekuier en alles wat my aandag getrek het, op bloot op Pinterest gesit. 

Kom kuier asseblief saam.

Die Museum of Mankind soos ons dit besoek het, bestaan nie meer nie - dis opgeneem in die British Museum maar ek het al my destydse hoogtepunte opgespoor.

Die Photographers' Gallery het intussen geskuif, maar is nog springlewendig. Ek het van Dali se snorre gelaai.

Die herbesoek aan die Institute of Contemporary Art was 'n pyniging en steeds hopeloos te kontemporêr vir my lekesmaak, laat dit maar verby gaan. 

Laslappies en skakels

Pinterest-blaaie
Courtauld-Gallery
History of Mankind
Royal Academy of Arts
The Photographers' Gallery
The Institute of Contemporary Arts
Camden Market
St Martin's Theatre / Mousetrap

Webwerwe
Courtauld-Gallery
Royal Academy of Arts
The Photographers' Gallery
The Institute of Contemporary Arts
Camden Market  / Camdenlock
St Martin's Theatre / Mousetrap




Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking