Die heel eerste dagboekinskrywing van die heel eerste uitstappie is niks anders as ʼn herinneringsnota nie. Ek onthou dat dit later die gebruik sou word om sulke kriptiese notas te maak. Ek het dan later, te gelegener tyd (op ʼn bus, by die blyplek, in ʼn waglokaal) hierna teruggekeer en daarop uitgebrei.
O, ja - wees gerus - as jy nie, soos ek, nog gewoond is om handskrifte te ontsyfer nie (ek merk nog baie opstelle), dan is die dag se skrywe mooi netjies oorgetik as jy net verby die fotoweergawe van die dagboekaantekening is.
In die National Gallery oorkant Trafalgar o
Ek kan dit nie glo nie. Cezanne Pragtig
Van Gogh – slordige bliksem
Renoir en Monet à Pragtig
Picasso se vet vrou
“soos groen sipresse tot ʼn vlam verwring"
8 April 1994 - 21 jaar vantevore
Ek het lank gewag vir die geleentheid. Dis nou ½ 7 en ek en Es is op pad Huis Toe – soos ware Londoniete (met een of twee –n’e?) Vandag was by verre die hoogtepunt van die toer. (O.K. vandag was die eerste dag – maar dit was ʼn hoogtepunt.) Ons het laat opgestaan en ingewaag stad toe. (Bus, trein).
Trafalgar square en toe in by ʼn gebou omdat dit verniet was: National Gallery.
Ek was nie heeltemal daarop voorberei nie – Dit was te gou op my, te veel, te skielik en ek was totaal oorstelp. Ons stap toe in by die Middeleeuse saal – Giotto en daai ouens. Ek was regtig emosioneel en het plek-plek om een of ander rede die krane oopgedraai. Die eerste wat dit aan my gedoen het was Giotto, en toe El Greco se “Reiniging van die Tempel.” Ek gaan beslis terug soheentoe om rustig deur die Middeleeue te stap en alles te lees.
ʼn Tipiese Middeleeuse skildery het dít in:
Madonna in blou of groen
duif (vrede) Heilige Gees
skaap (?)
Romeinse Ruïne – simboliseer die vervalle ou wêreld wat tot ʼn einde gekom het met die geboorte van Christus.
Ander totale hoogtepunte was Cezanne. Ek het nooit baie van sy werk gehou nie – uitgesonder “Die Baaiers”. Maar vandag, in lewende lywe, is sy landskappe oooooooooooo (onbeskryflik). Mount Saint Victor was nooit vir my mooi nie – Dis pragtig.
Die museum het 1 van Picasso se monumentale vroue (met die doring in haar voet).
Ek is bly ek het nie eerste by die Impressioniste se saal ingestap nie – Ek sweer ek sou ʼn floute gekry het. As is het ek my broek bietjies-bietjies natgemaak.
Van 12-uur tot 3-uur.
Toe soek ons ʼn goedkoop burger. Goedkoopste ete teen ¼ 4 was Mac Donalds £2-85 x 5 vir ʼn burger en Coke. (Na ete het ons honderde goedkoperes gesien, maar dit maar daargelaat.)
Toe die Boekwinkels: ʼn Hele straat vol boekwinkels – Dillons + Foyle’s + nog talle ander. Exclucive Books in Pta. Lyk soos ʼn poskantoor op Genadendal in vergelyking met die 3- of 4-verdiepingwinkels hier. Jy moet weet wat jy soek, of bereid wees om ʼn dag net te browse.
Toe na St. Martin’s in-the-field kerk en winkel en gemeenskapsentrum. Weird, maar jy kry geen religieuse gevoel what so ever nie. Dis te toeristefied en gekommersialiseer.
St Martin in the fields |
Ons het kaartjies gekry vir Les Miserables.
London: 4 seisoene in 1 dag.
kapok-sneeu-hael in één woord “sleet” (“sleat?) genoem. Dis kapok/hael wat hard val en dadelik smelt. En dan skyn die son en dan reën dit en dan is dit warm en dan is dit koud – goeie nag.
8 April 1994 - 21 jaar later
Dat ons lankverwagte toer toe nou op so ʼn teleurstellende noot moet afskop. Ek onthou dit soos gister en dit word eintlik heel duidelik in my dagboekinskrywing uitgespel, maar nie almal sal dit dadelik optel nie: “Trafalgar square en toe in by ʼn gebou omdat dit verniet was: National Galery.”
Die wegspringblok van ons reis was Trafalgar-plein, maar dié word net in een woordjie vermeld, die naam van die plein. Ek noem niks, brei nie uit nie – daar is darem ʼn lawwe stokmannetjie-sketsie in ʼn poging om adrenalien te pomp. Maar niks van die plein, die beelde, Nelson, die leeus, die fonteine nie. Net mooi niks.
Ek het net een ding verwag, en ook nie net een nie, maar duisende van die goed – duiwe! As jy my in die middel van die nag moes wakker maak en vra wat die eerste is wat in my kop opkom as ek “Londen” hoor, dan was dit nie die toring, die brug of die grote Ben nie – dit was Trafalgar se duiwe.
Ek kan nie glo hulle het maar eers nou die ander dag ʼn verbod geplaas op die voer van die duiwe nie, daadwerklike pogings aangewend om die duifbevolking te verminder. Ek het 7 April 1994 die idee gekry daar was nie meer ʼn enkele duif op die ganse Britse eiland oor nie.
Dankie tog daar was nie juis duiwe nie – toe kon ons meer tyd in die National Gallery spandeer.
Daar word van ʼn onervare jagter wat sy eerste bok skiet, gesê dat hy bokkoors kan kry; ek dink ek had akute toerkoors onder lede toe ek 19:30 daardie aand my eerste dagboekinskrywing maak.
Eerstens wei ek uit oor hoe mooi Cezanne se Mont Sainte Victoire skielik vir my geword het. Die man het die berg vier keer geskilder, maar nie een van hulle hang in die National Gallery nie. Die een hang in New York, ʼn ander in Tokio. Twee ís in inderdaad in Engeland, die een in Edinburgh en die ander, hoewel in ʼn Londense museum, is dit in ʼn galery waarby ek eers ʼn dag of wat later sou uitkom.
Die naaste wat die National aan Mont sainte Victoire kom, is ʼn heuweltjie elders in Provence!
Maar dis nie al nie – Picasso se monumentale vrou met die doring in haar voet is óók nie eiendom van die National Gallery nie.
Die naakte nimf waarna ek verwys, het ook nie ʼn doring in haar voet nie, sy is besig om haar voet met ʼn handdoek af te droog. Ek verwys bloot net altyd na die betrokke skildery as sou daar ʼn doring in die voet wees, omdat die kunswerk so sterk aan die antieke bronsbeeldjie van die seuntjie met die doring in sy voet herinner – beide figure sit in baie dieselfde posisie.
Ek troos my daaraan dat dit dalk in 1994 op bruikleen in die museum uitgestal is.
Wat Cezanne betref, vermoed ek dat ek die man se landskappe bedoel het. Dis aan die hand van daardie berg dat die man se landskappe met hul kenmerklike voor-, middel- en agtergronde, in my matriekjaar deur die skool se kunsonderwyseres aan my bekend gestel is. Straks praat ek van dié betrokke landskap, maar bedoel ek eerder sy landskappe in die algemeen.
Ek sal nie weet nie.
ʼn Ander fout wat ek in my dagboek gemaak het, was om van die Impressioniste te praat, toe ek die Post-Impressioniste bedoel het. Die eerste vertrek van die dag (Giotto en tydgenote) het my aangegryp omdat dit grootse oomblik in my lewe was, maar saal 45 met Cezanne, Van Gogh, Gauguin en Henri Rousseau het my aan die hart gegryp. Dit was vir my onwerklik, ondenkbaar, ek was bang om nader te gaan en te kyk, ek het teruggekeer na die saal om te kyk of alles nog daar is.
Dit was, en dit is nog steeds – ek het vandag op die kamer se virtuele toer gegaan en selfs vir Annieka met die druk van ʼn knoppie ʼn poskaart per e-pos gestuur. (Ek vermoed dis suiwer sodat hulle blikbrein my e-pos-adres kon kry en my in die toekoms gaan lastig val. Maar dit skeel my nie in die minste nie. Dit was heerlik om weer daar besoek af te kon lê.)
Ook lekker om te sien ons sou vandag ook sommer vier McDonald’s-gemorskosrestourante binne loopafstand van die galery hê.
Selfs McDonald’s kry meer woorde as Trafalgar Square! Maar dan moet almal wat hier lees onthou dat McDonald’s vir die gemiddelde Suid-Afrikaner soos ek, in daardie jare iets was waarvan ons nog net gehoor het. Dit sou nog meer as ʼn jaar wees voor die eerste Suid-Afrikaanse McDonald’s sy deure in November 1995 oopmaak.
Ek vermoed hierdie was die enigste keer dat ons McD’s gedoen het – ons het gou geleer om ons kos in die supermarkte te koop.
Ai, en dan wens ek so dat ek destyds aangeteken het watter Afrikaanse skrywer se Engelse vertaling van sy of haar nuutste boek, ek daardie dag in die boekwinkels raakgeloop het. Dit lyk of dit Andre P Brink se “Inteendeel” was. Nie Etienne van Heerden of Dalene Matthee het in ’94 ʼn vertaalde iets daar anderkant bekendgestel nie. En ek onthou ʼn bekendstelling met promosiemateriaal en dinge wat ons in SA nog nooit gesien het nie – hoogstens miskien vir komende aanbiedings in die foyers van groot stedelike filmteaters.
Orals waar ek nou weer Charing Cross boekwinkels gaan kuier het, is die boodskap dieselfde, min of meer soos hierdie skrywe van 2004:
Money-grabbing landlords are destroying one of London's most famous streets, replacing long-established, small independent bookshops with bland, faceless shops.
Charing Cross Road is world famous for its second hand and specialist bookshops - in fact there's even been a film and a book about the street, 84 Charing Cross Road (1986).
But all that looks to change as greedy landlords look set to put the bookstores out of business with punitive rent increases.
Recently, rents have increased from anything between 65% to 218%, with greedy landlords seeking to raise rents even further in a fresh round of 'negotiations'.
In December 2001, Waterstones closed, shortly followed by Silver Moon, a world famous bookstore, specialising in books by and for women (Silver Moon is now exiled in Foyles bookstore).
Zwemmers art shop has also closed and staff at the remaining Zwemmers Design bookstore recently found themselves locked out by the landlord over a rent dispute.
Ian of Shipley Books has been running his shop for over 20 years but now fears for its future
If proof were ever needed of just how serious the situation has become, ponder this depressing fact: the famous bookstore at 84 Charing Cross Rd is now part of the ghastly 'All Bar One' pub chain.
Op die ou einde was dit meer as net gulsige huisbase en verhuurders wat die Charing Cross-boekwinkelervaring van ouds beïnvloed het – die e-boeklesermark had ook ʼn rol te speel.
Daar is steeds nie onderwerp onder die son of Londen het ʼn spesialisboekwinkel wat dit aanspreek nie. Dis net nie meer so maklik soos om in Charing Cross af te stap en geholpe te kom nie.
Visitlondon.com spel die boekwinkels mooi vir jou uit, met selfs die opsie van ʼn kaart, maar ek hou van Evelyn C Leeper se baie vollediger en uitgebreide lys van boekwinkels wat my laat dink daar staan nog ʼn dot-matrix-drukker op haar lessenaar en sy stoor haar data op die goed wat ons destyds floppies (die generasie voor stiffies) genoem het.
Meer byderwets is miskien The London Bookshop Map, ʼn niewinsgewende organisasie wat die hele lang rits onafhanklike boekwinkels in Londen bedien.
Van hierdie boekwinkels het hulle te vertelle: Independent bookshops fill the gaps left by high street chains, stocking thoughtful and idiosyncratic choices of books rather than market-driven selections. They sustain local interests and offer different ways for communities to participate in a range of cultural activities. They are crucial platforms for alternative publishing.
Moet nou net nie so vreeslik twintigste-eeus wees en die kaart in een van die boekwinkels aan te wil skaf, of op die internet op te soek nie – wees een-en-twintigste-eeus en laai die app (of dan nou toep, maar ek het ʼn broertjie dood aan dié verbeeldinglose woord en verkies dan eerder toepassing of die Engelse app) af op jou selfoon. Dan tik jy jou belangstelling-nis in en jou foontjie lei jou na die naaste toepaslike boekwinkel.
En as jy die dag niks het om te doen nie, of ʼn storielyn vir jou nuwe boek soek, maak asseblief ʼn draai by hul blog Twenty‑three million, five hundred and eighty‑six thousand, four hundred and ninety stories. Hier word elke dag vanaf 2001 ʼn kort robotgegenereerde storielyn of twee publiseer. Sedert 2013 is dit jy – die I-phone-toepassinggebruiker – wat bydra om ʼn storie te genereer as jy die toepassing gebruik.
Nodeloos om te sê dat ek selfs die blogargief besoek het om te loer watter rekenaar- of robotstories op 8 April 2015, presies 21 jaar nadat ek in Charing Cross straat gesnuffel het, die lig gesien het:
Wednesday 8th April 2015, Chelmsford, 7:39pm: A boy and a girl fall in love. But he finds this little girl who reminds him so much of his own daughter and he just cannot do it.
Wednesday 8th April 2015, Hackney Central, 1:17pm: A man is poisoned with a very effective but extremely slow-acting poison. He was never seen again and nine years later he was declared dead. But then resumes watering the plants.
Wednesday 8th April 2015, Telok Blangah, 1:11pm: A boy was castrated in his childhood in order to preserve his voice. From the carpet emerges a young woman who offers to tell a series of fantastic stories in exchange for food and shelter.
Wednesday 8th April 2015, Hackney Central, 12:01pm: A former teenage idol pleads not guilty to drug possession charges in Los Angeles after being arrested for allegedly trying to ride the subway without a ticket. As a result one of them becomes a murderer.
Wednesday 8th April 2015, Hackney Central, 12:01pm: Medical students begin to explore the realm of near-death experiences, hoping for insights. Once there, she is kidnapped by deformed cannibals who want her to breed with their evil leader.
Saint Martin on the Fields (wat volgens my eerder Saint-Martin-on-the-Square of Saint-Martin’s-on-Trafalgar moet heet) lê my nader aan die bas as wat ʼn mens sou kon vermoed.
As my pa hom nie knap voor my geboorte so propperlies vir ou ds. Raath gewip het, dat hy nie net van gemeente gewissel het nie, maar sommer denominasie, en die proses van ons almal Hervormers gemaak het nie, dan sou ek vanuit ʼn kerk gedoop word wat daarop roem dat sy argitekte by Saint Martin on the Fields afgekyk het.
Die ooreenkoms is opvallend en doelbewus, voorafbereken en iets waarop breedvoerig in feesjaarbundels uitgebrei word. (My ma het jare later na haar huwelik met Oom Jack weer ʼn suster van hierdie kerk geword en ek het gereeld in hul mees onlangse feesbundel gelees.)
Amper laat ek na om te noem hoe ek deur amper 500 jaar van die National Gallery is, sonder om ʼn enkele skildery (a) uit die Middeleeue, (b) met die Madonna, (c) in rooi of blou, (d) met ʼn skaap, (e) ʼn duif en (f) ʼn Romeinse ruïne in die agtergrond te kry. Ek het die gedagte gekry dis met hierdie brokkie inligting soos met Picasso en Cezanne se skilderye – ek moes my dit verbeel het. Toe besef ek dat ek dit nie sommer in één enkele skildery gaan kry nie, ek het die tipiese skildery wat ek beskryf het, opgebou uit inligting wat ek by verskillende skilderye raakgelees het, ʼn periodeskildery op steroïdes, by wyse van spreke.
Ek wil afsluit, ek moet afsluit, maar nie voor ek weer uitkom by daardie een sinnetjie, heel aan die begin van my dagboekinskrywing nie: “soos groen sipresse tot ʼn vlam verwring”
Dit kom uit Dirk Opperman se gedig, “Vincent van Gogh”
Jy het as 'n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurtes en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou - alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot 'n vlam verwring.
Dis darem één verwysing, anders as Cezanne se Mont Sainte Victoire en Picasso se Female nude drying her feet wat ek kan vertrou. Dis beslis die sipres in die skildery heel regs in my poskaart aan Annieka, wat my gedagtes destyds by Opperman uitgebring het.
Die skildery is in 1987 skoon gemaak en gerestoureer. ʼn Baie interessante verslag van 20 bladsye, wat ek baie geniet het om te lees, is beskikbaar. Loer gerus. Die PDF is groot, maar die teksweergawe gelukkig net so leersaam, verrykend én verreikend.
Laslappies en skakels
Virtuele toere
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking