Saterdag 26 Desember 2015

Dag 2 08/04/94

9 April 1994 - 21 jaar vantevore
Alles is mooi leesbaar oorgetik aan die einde














8 April

Vanaand is ek redelik pappas. Dit was ʼn lang dag.  Dis 7-uur en ons behoort so teen 8-uur by die huis te wees.

Voor ek vergeet – dit val my op hoe onversorg die mense se naels is. Vanoggend het ek gegril vir die vrou langs my se naels, en vanaand weer vir die man langs my.


Ek was vanoggend seker so 6-uur wakker. Ontbyt was jogurt, heuning en ʼn “weatabix” (amper soos wheatbix, net nie so lekker nie). 

1994-verpakking

Na gister se bloutjie met die Mac Donalds het ek en Esmari gister al kos vir vandag by die supermark gekoop. So vanoggend toe maak ek ʼn toebroodjie van omtrent ʼn hele brood.

Eerste na die V&A- museum. Dit is die Victoria en Albert-museum. Hier queue ons ʼn volle uur en twintig minute om na Fabérge se juwele en ornamente te kyk. Toegang was baie, maar dit was die moeite werd.


Die V&A kan mens weer eens nie woorde voor vind om dit te beskryf nie.
***
Ek is amper te moeg om enigsins ʼn pen in my hand op te tel, wat nog te sê skryf.
***
Het toe maar gaan slaap. Dis vandag al 16 April. Ek wag vir Esmari om klaar te skarrel.

Na die V&A-museum is ons na Harrods. Biltong kos £3 vir ʼn ¼ pond, dus £12 vir ʼn pond. Dus £24 vir ʼn kilogram, dus 24 x 5 vir die prys in rand. R120/kg biltong. Dis erg. Maar die winkel is ʼn ervaring. Die kosafdeling is enige kok se droom. Ek het vars kruie gesien wat ek in SA sukkel om gedroog in botteltjies te kry.



Iets wat orals lekker in Londen is, is die feit dat jy nie piesangs, pere, eiervrugte en pomelo’s koop nie. Jy koop piesangs uit Turkye, pere uit Abidjan, eiervrug uit Guatemala en pomelo’s uit Italië. Alles is die beste. (Druiwe is uit S.A., en ook party appels).

(Dit was regtig baie lekker om deur Harrods te loop.) – Meer kan ek nie daaroor sê nie.

Die wye verskeidenheid van alles val my op. 307 verskillende soorte kaas. Wyn van oor die hele wêreld (behalwe Suid-Afrika) die sjokolade en koekies – alles is te goed om waar te wees.



Dit voel vir my of my dagboek in clichés verval:  “Ek het nie woorde nie,” of  “Dis te goed om waar te wees,” ens. Maar dit is elke keer so – eerlik en opreg bedoel.

Vandaar sit ons toe af na die National History Museum. As ons so ʼn museum in SA het, sal skoolkinders met die bus van Kaapstad tot in Jhb. Ry, net om drie ure daar deur te bring. Ek en Es sal al twee ʼn volle dag daar kan deurbring.



Histerie vir die dag was egter die oomblik toe die reën op ons toesak, en ons te laat is vir die 101, en ons ʼn ½ in die reën wag vir die 101 voor ons opklim.

En toe ons op is, toe ry ons, en toe skielik, uit die bloute, draai die bus regs af van die bekende pad. Dit is die verbaasste wat ek Esmari nog ooit gesien het. Ja, dit wás die 101, maar ʼn ander, korter roete.

ʼn Roemeense meisie help ons toe, maar dit kos ons ʼn koud en nat ¾ uur. As dit nie vir die Roemeense meisie was nie, sou ons definitief totaal verlore gewees het. Sy weet nogal baie van die land af. Beslis meer as wat die gemiddelde S.A.’er van die Roemeense geskiedenis ken. Baie wyd belese.



Koop brood en botter vir vandag. Yoghurt en die usual.



9 April 1994 - 21 jaar verder


Weet-Bix, Weetbix en Weetabix (oorspronklik ook What-a-Wheat) is nou ʼn storie van ondertrouery en afstigting wat skrik vir niks.

Al drie het dieselfde stamvader, ʼn Australiër wat in die 1920 sy besigheid eers uitgebrei het Nieu-Seeland toe, toe Suid-Afrika toe. Toe verkoop hy sy besighede en begin opnuut in Engeland.

21 jaar later kry jy lankal ons bekende Weet-Bix saam met die een waarvan ek destyds geskryf het, Weetabix, op die Suid-Afrikaanse winkelrakke.

Wat destyds in Engeland by William Baxter op ons 1994-Weetabix pakkie was, weet ek nie, maar Google ek die Britse 1994-Weetabix-kaartjies, dan is dit telkens Where is Wally en Star Trek wat eerste opkom.



Wat alles destyds op die Suid-Afrikaanse eweknie was, weet ek ook nie, maar krieket het '94 beslis twee keer die ronde gedoen:





‘n Matriekjuffrou het in 1982 tydens ʼn eksamentoesigsessie waarin ons nie iets geskryf het nie (dit was die dae toe bloktyd nét in die eindeksamen en nét aan matrieks toegestaan is) gevra of ons “eet om te kan leef” of “leef om te kan eet”. Ek het my dadelik geskaar aan die kant van die outjies wat net “leef om te kan eet.”

Dis vandag nog so.

En was in 1994 ook die geval – van Harrods het ek net die kos-verdieping besoek. Watse speelgoed, klere, bykomstighede, skoene, breek- en beddegoed daar was, sal ek nie weet nie. Maar vra my van die kos, dan kry ek so ʼn verlore, veraf kyk in my oë, soos die van ʼn bok gemelk word, en trek ek los en vertel ek jou met volle oorgawe.




Maar eers die Victoria & Albert-museum (amper soos die Victoria & Alfred-hawe, -waterfront en -hotel, maar Albert was haar man en Alfred haar seun).

Die vorige dag is my verwysingsraamwerk rondom kunsmuseums, in een oggend, duisendvoudig verbreed. Ek het geken, die Johannesburgse en Pretoriase kunsmuseums, en daar vlieg die vlieë by my mond in toe ek die eerste saal van die National Gallery tref.

Vandag gebeur dieselfde wat museums betref. Die enigste museums wat ek geken het, was die in Johannesburg en Pretoria, en dan was ek darem ook al einde standerd 4 in die kasteel in Kaapstad.

Die aangrypendste Suid-Afrikaanse museumervaring wat my vandag nog die helderste voor die gees staan, is my besoek aan die Franse Hugenote-gedenkmuseum op Franschhoek. Teen die een muur, iewers in een van die buitegeboue, vermoedelik ʼn stal, hang hout plaasimplemente wat dateer uit die dae voor Jan van Riebeeck se landing aan die Kaap. Dit was, en is, vir my ongelooflik en groots. Ek onthou toe ek daar gestaan het, en die implemente voor my as onwerklik beleef het – dit kan nie wees nie, dit is nie moontlik nie. Ek onthou hooivurke en grawe maar daar sou sekels ook gewees het.

Teen hierdie agtergrond moet ons besoek aan die V&A-museum gelees en verstaan word.


Die wêreld se grootste museum van sy aard, gevul met meer as 4 500 000 kunsobjekte van elke denkbare materiaal, soort en oorsprong. In my leketaal wil ek dit só stel:  hierdie museum versamel alles wat die oog plesier. In groter woorde: ʼn versameling alles wat die mens se estetiese snare en sin vir skoonheid kan roer.

Ek was opgewonde oor ʼn vierhonderdjaaroue hooivurk; hierdie museum se versameling strek oor meer as ʼn duisend jaar.

Ek het tot die V&A en die vorige dag se National Gallery nooit geweet daar is museums wat ʼn mens soos ʼn biblioteek moet benader nie. ʼn Museum was nog altyd vir my soos ʼn kortverhaalbundel – jy beweeg hom van hoek tot kant deur.  ʼn Biblioteek, aan die ander kant, het duisende boeke en jy, die biblioteekgebruiker, lees beslis nie elke boek nie – jy het gunstelinggenres en –skrywers soos speurverhale of Deon Meyer. Gaan jy biblioteek toe, val jy dan nie vas tussen Louis Lamour of die afdeling met hygromans nie.

En só, het ek agtergekom, is hoe dit met party van hierdie museums werk – onmoontlik om by alles uit te kom, jy moet kies en keur. Amper soos met ʼn boks Quality Street-sjokolade – ek kies elke keer die groen driehoekies en los die toffies, ál die toffies.

Die V&A se groen driehoekie vir my was die Fabergé-gasuitstalling wat eers ʼn draai in Rusland self gemaak het, voor dit ruk lank in Londen kom nesskop het.



Die “National History Museum” het my lank besig gehou, nie net in 1994 nie, maar nóú, 21 jaar later. Van die museum waar my google-soektog my uitgebring het, het ek net mooi niks onthou nie – níks. Nie eers die indrukwekkende ou gebou en formidabele instapsaal nie.



Die eerste fout wat ek gemaak het, destyds, was om 8 dae te wag voor ek die dagboekinskrywing gemaak het. Na ʼn week staan ek net een paragraaf aan dié museum af en noem ek nie eers ʼn  enkele hoogtepunt wat my opgeval het nie.

Na ek myself al begin oortuig het, ek onthou sekere van die goed wat ek voor my op die rekenaarskerm sien, kom ek agter ek kuier in die “Natural History Museum” en nié die “National History Museum” nie. Dis hoekom dit net klippe en stene en koue wetenskap of skedels en skelette en allerhande sulke dooie dinge en goeterstes is.

Nóg ek, nóg Esmari sou tussen al die ander Londense museums tyd afstaan aan só ʼn koue, akademiese museum.

Toe kom ek agter daar ís nie ʼn museum soos die “National History Museum” nie! Tik ek dit by google in, dan neem die masjien my dadelik reguit “Natural History Museum” toe!

Gelukkig onthou ek drie hoogtepunte van ʼn museum wat ek nêrens elders in die Londen-deel van my dag boek opspoor nie – die Rosetta-steen, al die mummies en die Easter-Island-beeld. My “National History Museum” was toe altyd die “British Museum” gemoeid met geskiedenis, kuns en kultuur.


En toe begin ek kuier, en lekker paaie stap.

Via die BBC het ek die afgelope paar jaar al herhaaldelik daar gaan besoek aflê. Hulle had in ʼn stadium ʼn radioprogram, wat toe ook ʼn boek uitgedraai het, “A History of the World in 100 Objects”. Ek het daarop afgekom en begin lees en kyk en ontdek. En nou weer daar ʼn draai loop maak. Die hele reeks is steeds beskikbaar.


Die boek het ek nie, maar ʼn boek wat ek gister vir my bestel het, is Edmund de Waal se “The Hare with the Amber Eyes.

Ek het verdwaal geraak tussen die V&A se items toe ʼn Fabergé objek (tweede van bo, heel links op die foto hier onder) my op die spoor van Japannese “netsuke” gesit het. 


Toe hulle nog almal kimono’s gedra het, had die Japannese mans ʼn probleem – hul klere het nie sakke gehad nie; dít terwyl hulle goed met hulle wou saamdra. Dit wat moes saam, is toe in boksies en houertjies aan hul lyfbande gebind. Maar nie sommer geknoop nie, nee, die “netsuke” moes keer dat die band waaraan die houer hang nie agter die lyfband uitgly nie.


Dit was nie ʼn honderd jaar nie, toe het hierdie doodfunksionele bykomstigheid ʼn estetiese objek met baie waarde geword, en nóg honderd jaar of wat later – ʼn versamelaarsitem.



De Waal se boek vertel oor bykans 200 jaar, biografies die verhaal van sy familie en hoe dit verweef is met 'n erfporsie wat hy ontvang - 'n versameling netsuke wat twee oorloë oorleef het.

My voorstel aan enige iemand wat enige een van die twee museums via die internet wil besoek, sal wees om iets te kry wat jou interesseer en dit dan te gaan verken. Na hoeveel jaar nie, het die V&A-museum vandag maar eers 1,167,880 kunsobjekte digitaal gekategoriseer. Daarvan is nog net ʼn skrale 561,628 gefotografeer beskikbaar. Maar ek glo darem elkeen wat wil, sal iets kry om sy of haar lewe te verryk.

Die Britse Museum, die grootste van sy soort, het meer as 8 miljoen objekte wat dateer van voor die ontstaan van die mensdom. Kanse dat jy hiér ook iets gaan kry wat jou aandag hou, is goed.

Laslappies en skakels

Faberge op Pinterest
Netsuke op Pinterest

Harrods


British Museum

3 hours at the British Museum1 hour at the British MuseumThe British Museum: The top 10 exhibits
A History of the World in 100 objects

Die mense op die bus, trem, trein en moltrein



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking