28 April - 21 jaar vantevore
(ook, soos altyd, leesbaar oorgetik aan die einde)
Ek het verwag om mooi Middeleeuse goed in Frankryk te sien, maar ek het nie verwag om dit in soveel oordaad te sien nie.
(ook, soos altyd, leesbaar oorgetik aan die einde)
Ek word wakker uit ʼn droom waarin my en Judy se Europese
toer oorvleuel en ons mekaar iewers ontmoet. Ek sê haar Parys is valer as
Amsterdam.
Daarna volg ʼn heel absurde gedeelte met Phillip Steyn in, en
Peet en Johan. Ek en Johan gaan ʼn eksamen op ʼn Maandag skryf, maar Peet skryf
dieselfde eksamen al die Saterdag. (Ek dink dit hou verband met die verkiesing
waar ek en Es al vroeër kon gaan stem het.)
Die dag hou seker een van die hele toer se hoogtepunte in.
Cluny museum van die Moyen Age. Moyen Age, lei ek af, beteken “Middeleeue”.
Ek het verwag om mooi Middeleeuse goed in Frankryk te sien, maar ek het nie verwag om dit in soveel oordaad te sien nie.
Vanaf die eerste vreemde “uitsteeksels” soos die hiernaas,
wat ons aan die buitekant opgemerk het, hou ek van die museum.
Ons sien die mooiste brandskildervensters, omdat dit
uitgehaal en in ʼn donker vertrek, van agter belig, uitgestal is. Ek kan van
naby sien en ek hoop Es se foto’s kom mooi uit. (Dit val weer op hoeveel
sterker die rooi uitstaan.)
In die saal waarin konsert gehou word, lê ek op die naat van
my rug en kyk na die oeroue konstruksie. Ons neem nogal mooi foto’s van
gebreekte beelde (Notre Dame se koppe wat af is) op sulke
marmer-/granietblokke.
Ons sien vreeslike groot, vreeslike mooi tapisserieë in ʼn
vertrek van hul eie – waar ek en Es lekker lag oor die leeus en eenhorings.
Houtbeelde, goudbeslaande beelde en skilderye is daar baie
van, wat my laat “oe” en “a”.
Ons oorweeg dit lank om die Carmina Burana te kom luister,
maar besluit daarteen.
Hierna vat ons die Metro, ver Noord, St Denis toe, na die
kapel van St Denis met sy mooi grafte wat ʼn mens altyd net in boeke sien. Al
die konings van Frankryk is hier begrawe. Vir die eerste keer is daar inligting
in Engels en ek en Es lees baie in die kerkie self. Ons moet betaal om die
grafte te sien, maar dit is die moeite werd. Die crypt met die oudste grafte
is net so opwindend – ons sien selfs die grafte van Marie Antoinette en Louis
XVII /XIV (?) en ʼn leë graf wat berei is vir die koning na Louis, wat leeg is –
omdat daar toe nooit weer een was nie.
Ek gebruik ook hier vir die eerste keer een van die
spoeltoilette wat so vreemd spoel.
Hierna gaan ons weer suid, middestad toe, na die Conciergerie,
dit was ʼn gevangenis waar Marie Antoinette aangehou is – maar, glo my, dis
steeds soos by Fort Knox om daar in te kom. Dit is een of ander staatsgebou en
ons word deursoek alvorens ons kan ingaan. Ek en Es moet elkeen ons knipmessies
inhandig - teen wie hulle dink ons ʼn
sluipmoordpoging gaan loods, weet ek nie. Die museum hou regtig nie veel in nie
en dis hoogstens “vermaaklik” om in te loer waar Marie Antoinette haar laaste
ure deurgebring het.
Een van Parys se hoogtepunte volg egter kort hierna – Musee
D’Orsay, ʼn gerestoureerde stasie – die ideale plek vir ʼn kunsmuseum. Ek koop ʼn
kasset van die museum, Es ook, en ons spandeer ʼn verruklike aand hier. Gauguin
se pienk perde, of is dit wit perd op ʼn pienk strand, hang hier.
Ons leer, via die kasset, van Art Deco en Art Noveau. Die
waterlelies hier, is vir my baie mooier as die in die L’Orangerie. Ek sou wou
teruggaan om iets as ʼn aandenking te koop, maar ons voel so negatief oor Parys,
enkele dae later, dat ons ons goed oppak en loop.
MUSEUM D’ORSAY.
vol au vent
28 April - 21 jaar verder
Verkiesing
Ek kan nie glo dat ons gaan stem het en ek dit nié
aangeteken het nie. Dis eers hier, ʼn dag of wat later, dat ek daarna verwys. Ek onthou van die verkiesing net die stap na die ambasade - en dit ook maar net omdat ons verby die bekende goue beelde by Pont Alexandre gestap het oppad soheentoe. (En, verbeel ek my, omdat dit die naaste was wat ek ooit aan die Eiffel-toring gekom het terwyl ek in Parys was.)
Musée de Cluny (musée national du Moyen Âge Paris)
Daar is nie ʼn enkele top 10-lys van
toeristebesienswaardighede in Parys wat nié die Eiffel-toring in die eerste
plek het nie. Daar is nie ʼn enkele top 10-lys van toeristebesienswaardighede in
Parys wat die Cluny-museum onder die top 10 het nie.
En as ek weer moet kies tussen die Eiffel-toring of
Versailles en Cluny-museum, dan kies ek weer die museum met die Middeleeue
as sy fokuspunt. Die Middeleeue, wat
geensins so donker was soos graag aan ons voorgehou is nie, spreek net meer tot
my as die hoogbloei van Barok en Rococo nie.
Die onderstaande
video’s gee ʼn idee; die webwerf kon netsowel Grieks gewees het (want dis oorwegend Frans); maak
daarom gerus ʼn draai in my Pinterest-album.
Basilique cathédrale de Saint-Denis
Ook hier sal ek weer inloer. Destyds was ek gefokus op die konklike
grafte, vanjaar is ek spyt ek het nie meer op die gebou self gekonsentreer nie.
As die gebou effe mankoliek voorkom, dan is dit omdat die
een toring in 1844 afgebreek is. Bouwerk het in 754 begin, ingrypende
veranderinge kom in 1135, en toe weer in 1231. Heelwat is afgebreek tydens die
Franse Revolusie (juis omdat dit hier is waar die koningshuis kerk gegaan het).
Talle van die kerk se skatte het toe ook in die slag gebly, maar vir ʼn Boertjie
uit Suid-Afrika wat hoogstens die Moreletta-gemeente se sentrum van aanbidding
het om oor opgewonde te raak, is die basilika inderdaad ʼn hoogtepunt.
Die slapende honde (maar iewers ook leeus) by die dooies se
voete het my destyds opgeval – ek het dit selfs aangeteken. Ek was bly, toe ek
my Pinterest-plakboek gemaak het, om te sien dit val eietydse fotograwe ook op.
In die dagboek noem ek hoe bly ek en Es was om uiteindelik (na hoeveel dae in Parys) iets in 'n museum of kerk te kry wat 'n mens in Engels kan lees. 21 jaar later is dit ongelukkig net die mees basiese wat vanaf die webwerf Engels met jou praat.
In die dagboek noem ek hoe bly ek en Es was om uiteindelik (na hoeveel dae in Parys) iets in 'n museum of kerk te kry wat 'n mens in Engels kan lees. 21 jaar later is dit ongelukkig net die mees basiese wat vanaf die webwerf Engels met jou praat.
La Conciergerie
Ek onthou van die Conciergerie onder hierdie son niks nie –
nie eens Marie Antoinette se sel, of die kapel waar sy gebid het, iéts nie.
Net soos wat die Louvre eers ʼn koninklike paleis was, was
die Conciergerie ook eers die humble
abode van een van die Franse konings (voor dit ʼn tronk, en nog later, die
huidige paleis van justisie geword het).
Waarskynlik omdat dit so groot en beslis meer as een ingang
het, het ek destyds nie besef dis die selfde gebou waar ons die vorige dag
Saint Chapelle met sy lieflike loodglasvensters besoek het nie. Daardie lyn het
ek eers in 2016 deurgetrek toe ek op soek na inligting oor die Conciergerie ook
op foto’s van die kapel afgekom het.
Hoewel ek net een gesamentlike plakboek vir St Denis en la
Conciergerie beplan het, blyk dit toe dat hierdie Conciergerie nogal vreeslik
fotogenies is, en daar eindig La Consiergerie se fotoalbum op die ou einde toe groter as St Denis
se plakboek op. Dis nou maar net een maal een van daardie geboue wat goed op
enige foto lyk, of dit nou mooiweer, onweer, sonop, skemer of helder oordag is.
Ek het nog altyd gedog Marie en Lodewyk is so in die weghol
om die lewe gebring. Maar ek was verkeerd – ten minste wat Marie betref: sy is vir sewe maande hier aangehou voor sy
tereggestel is. Ek het selfs op haar laaste stukkies boduurwerk en
afskeidsbriefies afgekom. Iewers ook op die name van die meer as 2000 mense wat
vanuit la Conciergerie na die guillotine gestuur is om hul koppe te verloor.
Die outjies wat agter St Denis se webwerf sit, is dieselfde outjies wat vir La Conciergerie se webwerf op die been probeer hou, so van Engelse inligting is daar weer eens nie juis sprake nie.
Die outjies wat agter St Denis se webwerf sit, is dieselfde outjies wat vir La Conciergerie se webwerf op die been probeer hou, so van Engelse inligting is daar weer eens nie juis sprake nie.
Museé D’Orsay
Soos wat die Middeleeue net meer tot my spreek as die era
van die laaste Franse konings, spreek die tydperk wat deur die Museé D’Orsay
gedek word, meer tot my as die era gedek in die Louvre. So as ek weer gaan, en
ek het net ʼn dag, dan is dit eerder terug stasie (Gare D’Orsay), as oud- koninklike
paleis (Louvre) toe.
Hierdie was die wêreld se eerste stedelike stasie wat ʼn halte
vir geëlektrifiseerde treine was. Teen 1977 was hy te kort om die eietydse veel
langer treine te kan hanteer en is die stasie gesluit. Net om sowat tien jaar
later as kunsmuseum te heropen.
Die museum se webwerf is 'n Franse eerste wat meertaligheid betref: hulle vertel jou nie net in Engels hoeveel dit kos en wanneer hulle oop of toe is, in Engels nie, maar in 'n paar ander tale ook. Maar, nes jy dieper delf, slaan die ander tonge toe en sit jy net met Frans opgeskeep. My gunstelinge is daarom in my Pinterest-album, hier.
Die museum se webwerf is 'n Franse eerste wat meertaligheid betref: hulle vertel jou nie net in Engels hoeveel dit kos en wanneer hulle oop of toe is, in Engels nie, maar in 'n paar ander tale ook. Maar, nes jy dieper delf, slaan die ander tonge toe en sit jy net met Frans opgeskeep. My gunstelinge is daarom in my Pinterest-album, hier.
Laslappies en skakels
Pinterest
Cluny-museum
St Denis-basilika
La Conciergerie
Musee D'Orsay
Webwerwe
Cluny – museum of the moyen age (met dien verstandhouding dat jy Frans magtig is)
Cluny-museum
St Denis-basilika
La Conciergerie
Musee D'Orsay
Webwerwe
Cluny – museum of the moyen age (met dien verstandhouding dat jy Frans magtig is)