Vrydag 15 April 2016

Dag 17 - 23 April

23 April – 21 jaar vantevore
(Netjies, leesbaar oorgetik aan die einde)





Die dag begin met ʼn redelike ramp:  Die melk val om. Ek kom weer eens agter dat ek en Esmari verskil in die opsig dat sy ontsettend aanhoudend is. Sy kan nie end kry oor haar histerie oor die melk in die tent nie. Dit was met ingehoue moeite dat ek my nie vererg het nie. Ons pak toe bietjie langer as wat ons aanvanklik antisipeer het.

Ek wil solank ons tent se nommer gaan inhandig by die baie vriendelike tannie by die resepsie – maar sy wil dit nie in ontvangs neem alvorens sy ons nie met ons hele “spulletje” voor haar sien staan nie. Die tewerasie het ons natuurlik nie vertrou nie, gedink ons gaan ons nommer ingee maar nog ʼn nag slaap.

(Hierna gaan “validate” ons ons Eurorail-kaartjies op die stasie. Ons wou dit baie later eers gedoen het, die 25’e, maar weens ʼn gebrek aan geld doen ons dit ʼn bietjie vroeër – nou hoef ons nie te betaal vir die treinrit nie) → Dit het die vorige dag al gebeur – ekskuus.

Ons skiet deur Haarlem toe. Die dorpie sorg vir sy sports. Daar is ontsettend baie toeriste en terwyl ons op soek is na die Groot Kerk van St Bavo, sien ons ʼn trop toeriste by ʼn deur instorm waar die kerk veronderstel is om te wees. Ons volg hulle toe. Dit was egter eers na ʼn geruime tydjie dat ons agtergekom het ons staan in die stadsaal in plaas van die kerk.

Hierna kry ons darem die regte kerk. Ek onthou dat ons 5 fl betaal het om in te gaan, dat Es gesê het ek druk voor ʼn ou tannie in en dat dit weer eens een van die mooi kerke was wat ek al gesien het. Hierdie kerk was amper soos die ou Middeleeuse Grote Kerk in A’dam, dié een was net beter versorg en restoureer. Dit val my op hoeveel mense letterlik in die kerk begrawe word.

Daar is ʼn foto-uitstalling in die kerk van kinders in ʼn gestig. Hierdie kerk het baie mooi glasvensters gehad, alhoewel heelwat al beskadig was.

Van hieraf gaan ons na De Halle toe – die museum vir moderne kuns op Haarlem. Ons wys net ons museumkaart en stap in. Van die sale was toe, maar die wat oop was, was baie bevredigend. Al was al die skilderye nie van die mooiste nie, het die lokaal waarin dit uitgestal was, daarvoor opgemaak.

Ons besoek aan die Corrie Ten Boom-huis het ek baie geniet, al het ek nie, soos Es, haar boek gelees nie.

Hierna besoek ons die Frans Hals Museum. Ek hou meer daarvan as Esmari. Die Ndl’ers het ʼn tulpefees en ʼn kompetisie (nasionaal) uitgeskryf vir die ontwerp van tulpvase. Hier het ek die lieflikste, interessantste potte denkbaar gesien. Daar is ook lieflike skilderye rondom die tema.

Die skilderye is maar redelik boring. Ek dog dit gaan die beste ooit van Frans Hals hê, wat toe nie die geval is nie – dit is in die Louvre, maar die besoek was die moeite werd – veral as in ag geneem word dat ons ʼn questionaire invul en twee poskaarte en ʼn gratis koffie score.

Hierna stap ons na die nuwe Basilika van St Bavo vir ʼn gratis konsert. Hierdie kerk het die mooiste glasvensters in wat ek nog gesien het – dit is natuurlik 20ste-eeus, maar nou-ja. Ons luister na ʼn orreluitvoering – ek raak inderdaad aan die slaap, maar snork gelukkig nie.

Na hierdie besoek:  Teylers Museum. Die oudste museum in Nederland. Ek het dit baie geniet. Sulke ou uitstalkaste. Die museum is basies ʼn museum oor hoe ou museums gelyk het. Ons hoor ʼn oorlosie tik oor ʼn afstand van seker 20m meter.

Die aand slaap en eet en bad ons by die Van der Schee’s, dierbare en vriendelike mense.

Ek onthou net dat ons baie ver gestap het, soheentoe.

23 April – 21 jaar verder

Een en twintig jaar later (16 daarvan in ʼn huwelik en 4 van die res in aanloop tot die groot dag) weet ek dat my nie-histeries-wees, my nót crying over spilt milk, net so frustrerend is, indien nie meer nie, vir die outjies wat wél histeries raak oor iets soos omgestampte melk in ʼn tent.

Maar hoe kon ek ook nou, 21 jaar vantevore, geraai het ek gaan my dagboek eendag openbaar maak? 

Had ek geweet dat dit is wat kom, het ek straks  nié sulke inkriminerende opmerkings (inkrimenerend teenoor my) geskryf nie.

Aan die anderkant, twee mense vir drie maande in die vreemde... waar anders as in die dagboek kon ʼn mens ook noustoomafblaas?


Ek onthou daardie besoek aan die “kerk” wat toe al die tyd die stadsaal was, soos gister. Ons was teen daardie tyd darem toe nou al gewoond aan die gestrooptheid van ʼn kerkgebou wat na die Hervorming die lig gesien het (of van alles Rooms gestroop is) maar skielik was daardie kerk darem net té, vrééslik, gestroop – tot ons besef dis die burgersentrum/stadsaal, ons is in ʼn ander gebou – die verkeerde gebou!


    


Ek het vir foto’s gesoek met honderde meer toeriste op die markplein – soos toe ons die dag daar was, maar hierdie is die naaste wat ek kon kry. Blameer jy nou ʼn oorywerige toeris uit Suid-Afrika wat daardie gebou met ʼn kerk en sy toring verwar!?

Heel links, hier onder, is die stadsaal (verbeel jou! bid jou dit aan!); heel regs is die kerk.



    

Die ander besoek van hierdie dag, wat ek onthou asof dit gister was, is die besoek aan die Frans Hals-museum.

Ja, ek onthou die effense teleurstelling. Die mensdom is gelukkig om oog te kan lê op 271 van die man se skilderye. Van daardie 271 is net 17 in die Frans Hals-museum. 


    

Ek het gedog dit gaan soos die Van Gogh-museum wees. Hierdie museum had 1056 werke van Van Gogh – die meeste daarvan natuurlik nie eers op uitstalling nie; hier in Harlem stap ek toe in op 17 deur Frans Hals en ongeveer 750 ander deur sy voorgangers en tydgenote.

Toevallig ook talle van die skilderye wat voor die Hervorming nog in die (Rooms Katolieke) kerke / kerkgeboue gehang het.

Ja, ek kan nie wegkom van die Hervorming wat Frans Hals vooruitgeloop. het nie. Hier wei die man sy lewe aan portrette en groepe mense – hy onderskei hom as meester – maar ek kan nie anders as om te wonder wat hy nie ook alles sou kon skilder as Bybelse temas na die Reformasie nie so ʼn groot nee-nee vir skilders geword het nie.

Maar dis nie die teleurstelling in my soeke na Frans Hals wat my die sterkste bybly nie – dis die gasuitstalling van vase spesiaal vir tulpe wat ek onthou. Ons Suid-Afrikaners is mos nie groot op tulpe nie! Hoe moet ons nou weet wat die eiesoortige blompotte spesiaal vir tulpe wat al eeue deel van die Nederlande se erfenis is.

Ek het iets daarvan in die Rijksmuseum leer ken, maar hier in Haarlem spring die mooiste moderne vase voor my in. Ongelukkig gaan die museum se argief net tot 2000. Ek kon elders op die internet ook niks rondom die 1994-kompetisie en uitstalling opspoor nie.

Maar dit het my nie gekeer om vase soortgelyke aan dié wat ek onthou, op te soek nie:


          


Hoogtepunt van die dag, ʼn museum waaraan ek die afgelope 21 jaar gereeld teruggedink het, is die Teylers-museum.

Die feit dat dit die oudste museum in Nederland is, maak dit nie so spesiaal nie; die feit dat die uitstallings sedert die museum se ontstaan bykans niks verander het nie, is wat dit spesiaal maak. 


    


Dis nie net wetenskaplike en kunsmuseum nie, dis ʼn museum wat wys hoe museum destyds gelyk het.


    

Jy stap in die verlede in, anders as in die ander museums waar die verlede agter eietydse glas en met nuwerwetse tegnologie opgesmuk word.

    

 Die Corrie Ten Boom-huis het my hierdie ronde net so lekker besig gehou en interesseer as in 1994. Dis geensins ʼn herhaling van die Anne Frank-verhaal nie. Die Ten Booms se betrokkenheid by die Nederlandse verset was heeltemal anders – hulle het nie beskerming aan ʼn enkele groep mense probeer bied nie, hulle het veilige hawe aan honderde vlugtelinge wat in transito was, gebied.


    


Ek vermoed ons maak nou klaar met Nederland, ek sloer daarom en hou aan kuier. Ek dwaal in De Hallen rond. Nadat ek deur die permanente versameling se vase gegaan het (om aan te sluit by die tulpvase van die Frans Hals-museum, spreek ʼn portret van ‘n nar só tot my dat ek opnuut ʼn ander koers inslaan – portrette.


    

        


Soos destyds, interesseer die drie geboue wat die museum uitmaak my ook. Ons het bykans elke gebou rondom Kerkplein in Pretoria plat gemaak met die grond - en die wat nie plat geslaan is nie, is in verval (gedagtig aan die ou Capital Teater). Nie die Nederlanders nie - hulle omskep die abattoir van ouds in 'n kunsmuseum, en brei die museum uit om twee ander ou geboue ook in te sluit. Al wat verander het is die standbeeld voor die gebou. (Paul Kruger en sy vier soldate was die week weer in die nuus - oor waar dit nou geplaas gaan word na die RhodesMustFall-veldtog dit in lemmetjiesdraad omring gelaat het.)


    


En dan wil ek nog by die stasie kom - een van die oudstes, en enigste Nederlandse stasie in die styl van die Jugendstil! Ek het dit destyds nie so opgelet nie, onthou Wene as die Jugendstil-stad van ons toer, maar hierdie keer kyk ek beter.


        

En die Basiliek van St Bavo, die nuwe Rooms Katolieke Kerk! Die laaste van die groot Europese katedrale. 


    

Ons het uit die jare 70 hier by ons, op Hammanskraal, 'n Rooms Katolieke kerk met 'n soortgelyke koperkoepel wat van die groenspaan oortrek was. Toe die priester so 15 jaar gelede Rome toe is, besluit die vaktotum om die hoof van hulle gemeente te bederf met 'n verassing. Toe die man na twee weke in die buiteland op Hammanskraal terugkom, toe is sy kerk se koperdak dieselfde skakering groen, durable en weather guard groen geverf!

Eers hier aan die einde van die verblyf in Nederland, kom ek af op die Minesterie van Onderwijs, Cultuur en Wetenschap se Beeldbank van de Rijksdienst voor het Cultureel Erfgoed. Dis 'n beeldbank met duisende andersoortige foto's oor die ganse nederlandse erfenis van die laaste 150 jaar. Ek gaan loer sommer in by plekke waar ek verlede week, en die week nog voor dit gaan kuier het. 


          


En, en, en...

So much to do and so little time...

Van die mense by wie ons gebly het, onthou ek net dat hulle oud en dierbaar was. Wat ek die helderste onthou, is hoe steil die trappe in die huis was – drie stelle trappe (eintlik vier as jy afgaan kelder toe) wat die twee oues elke dag moes op en af. Maar dan het hulle al twee nog fiets gery op ʼn ouderdom wat die meeste eintlik nie eers meer motor mag bestuur nie.

Ja, gebrek aan ruimte is rede vir die kenmerkende steil trappe in baie van die huis, maar dis suiwer omdat daar vir jare geen bouregulasies rondom trappe was nie, dat dit die norm geword en gebly het, tot ordentlike bouregulasies in plek gekom het.


    


Laslappies en skakels

Ek sal nie weer deur ʼn stroom toeriste verwar word nie – die Grote kerk van St Bavo ís indrukwekkend, van buite én van binne.

Hierdie virtuele toer vreet nie jou bandwydte (of wat dit ook al wat jou internet verorber) nie. Ek het aanvanklik gesukkel om met die kompas te werk – jy moet op die onderskeie pylpunte druk om links en regs te draai. Vorentoe en agtertoe is maklik.

Die kerk se webblad noem hierdie video ʼn “vogelvlucht” oor die kerk. Beslis nie ʼn albatros of die een of ander gevleugelde vogel nie, eerder ʼn drone of hommeltuig wat sy vlieg geken het.

Ek is nou twee weke in ons toer van destyds in en ek het al ʼn paar keer aan die hand van hommeltuie op my en Es se spore teruggegaan. ʼn Mens het rede om bly te wees ek het hierdie nie 10 jaar gelede gedoen nie– dan het ek uitgemis op wonders van hierdie klein onbemande vliegtuigies en hul kameras.

Ek het die vogelvlucht-video nie een keer enduit gekyk nie – dis 10 minute lank, maar ek het ʼn paar keer teruggekeer daarnatoe om die stadsaal, De Hallen en die Frans Hals-museum op te spoor. Maar ook omdat dit so indrukwekkend is.




Haarlem-toeristeburo het hul eie Youtube-rekening. Na ek by al die plekke se amptelike webwerwe gekuier het, het ek hul kort insiggewende video’s oor ons besoekpunte ontdek. Loer eerder hier vir as 'n vogelvlucht en kry meer inligting oor die kerk:




Die woord “kakhuis” dra seker nie in Nederlands dieselfde bagasie as in Afrikaans nie, want in hierdie volgende video – die een rondom die basilika – vertel (en illustreer) die aanbieder sonder skroom van die gebrek aan ʼn kakhuis toe die kerk gebou is. Nogal ʼn interessante staaltjie, met ʼn unieke standbeeld as uiteinde.




Ander kort video's:


Corrie ten Boom-huis en museum
(by die skakels - hier onder - is 'n lieflike virtuele toer)


Haarlem-stadshuis


Webwerwe












Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking