Maandag 04 April 2016

Dag 16 - 22 April 1994

22 April - 21 jaar vantevore en verder

 


Ek moes hierdie week van die vakansie skoolwerk doen, EN ek moes TWEE reekse van Person of Interest deurwerk. Ek het in belang van geestesgesondheid geweier om my herbesoek aan 22 April 1994 af te skaal en het heerlik gekuier. Tussen A4-velle vol woorde, 'n TV-skerm vol geweld en 'n rekenaarskerm met inligting en beelde, was my twee kykers teen die einde van die week propperlies vierkantig.

Weens die opstelle en 43 spanningsvolle episodes is die enigste plek waar ek kon snoei die terugvoer op my herbesoek.
Maar, soos ek gekuier het, het ek foto's afgelaai. Lucas Maree stel dit immers mooi:  "My kiekies is bewyse vir die feit dat ek ook daar was, ‘n prentjiekommentaar wat my beaam."

Laat die foto's vandeesweek dan maar beaam dat ek weer daar was, waar ek en Es destyds wonderlike spore getrap het.


Hierdie is 'n outentieke kiekie
- Es het dit vir my uit die Kaap
aangestuur.
Hier dan die woorde van 21 jaar vantevore, gemeng met die beelde van 21 jaar later:

Alkmaar – ons kry 20 minute oor 8 die trein na Alkmaar – ons eerste rit op Eurorail omdat ons begroting nie so lekker klop nie en ons verplig is om “verniet” trein te ry as ons êrens wil kom.

Ons ry eersteklas omdat ons verplig is – maar ek is tot op datum nogal bly ons ry eersteklas. Die banke is sagter en die kompartemente nie so vol nie – die kompartement is trouens leeg. As daar iemand saam met jou in die kompartement is, is dit trouens die uitsondering.

Ons kom in Alkmaar aan. Ek het gedog dis ʼn plattelandse dorpie – soos ek kon aflei uit Anita se gesprek – glo my dit is nie. Dit is ʼn heel knappe dorpje, leuk en prettig.

Ons stap ʼn hele entjie, tot ons die toeristegedeelte tref. Dit was weliswaar amper ʼn uur voor die aanvang van die mark maar die markplein was toegepak.

Ek sien vensters in die kaasmuseum en sê vir Es ons moet museum toe. Daar kry ons prima kykplek waarop enige toeris jaloers sou gewees het.

    


     


Die mark (enig in sy soort in die wêreld) is maar ʼn show vir toeriste, en om ʼn tradisie in stand te hou.

Interessantste van die museum is die film (nou ʼn video) wat in 1956 gemaak is oor die maak van kaas op ʼn plaas. Ons koop ook vir fl 1 (een “kondoom” soos ek en Es dit noem) ʼn proe van 6 soorte kase.

                  
Hierna sit ons af na die biermuseum, en daarna drink ons ʼn Heineken op die museum se boot wat op die grag staan. Die biermuseum was eintlik ʼn mors van tyd – maar die bier op die boot was heerlik.

    

    


Op die mark (nie die kaasmark nie – die vlooimark) koop ek en Es elkeen ʼn kaas vir die dag – ek, knoffel; Es, ui.

     


Vandaar na Kaagen Zaan-stasie waar ons, volgens die boek, ʼn 8 minute stap het na Zaanse Schans. (Die 8 minute blyk toe nader aan 10 – 12 minute te wees, maar dit voel soos ʼn uur.)





Die dorp het Nederland se kakaofabriek en ons stap reg langs hom verby, in ʼn kakaogegeurde straatjie af.

Zaanse Schans os ʼn sewentiende-eeuse dorpie met windmeulens wat nog werk.

       
       


Hier besoek ons eers die klokkemuseum. Die eerste horlosie, naas die uurglas, het nie wysers gehad nie – hy het net elke uur ʼn geluid gemaak. Of dit 7-uur of 8-uur was, moes jy onthou het.


    

    


Ons besoek ʼn bakkerymuseum waar ek van die lekkerste drop ooit, koop.

Die toeriste het die kaasfabriek so toegestaan, dat ek en es net in-en-uit loer.

Dit is ʼn heel atmosferiese (heel leuke) besoeke waar ons museumkaart baie help.

Die piouterplekkie het ʼn kruis vir fl 29 wat baie aanloklik klink, maar ek weerhou my daarvan.


               

Aan die einde hiervan skiet ons deur na Den Helder – die verste noord wat ons op ons spoor kan gaan. Die besoek is toe nie aan die klein plattelandse plekkie wat ons antisipeer het nie, maar ʼn groterige plek met baie strate. Ons stap af see toe, maar dit hou weer eens ʼn teleurstelling in – dit is bloot polder, of dyk, of wal, of wat hulle dit ook al noem. Daar is geen branders nie – net wind. Ons stap terug. Na A’dam per spoor.

   

Ons drink twee biere en eet nog ʼn lekker vet dik boerewors ook voordat ons gaan slaap.


Laslappies en skakels

Nog twee outentieke kiekies as bewys "dat ons ook daar was." Vliegtuigkaartjies is nog met die hand geskryf. En dis tien teen een die boek wat vertel het ond gaan net 8 minute Zaanse Schans toe stap.

     

Alkmaar
Kaasmark
Kaasmuseum
Biermuseum

Zaanse Schans
Zaanse Schans
Klokmuseum
Bakkerymuseum 

Pinterest (nie my eie albums nie)

Alkmaar kaasmark  
Zaanse Schans







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking