Vrydag 22 April 2016

Dag 18 - 24 April

24 April - 21 jaar vantevore
(netjies oorgetik aan die einde, soos altyd)







Hier sit ek soos die vrou wat Griekeland toe is, sonder haar man, op Scheveningen se strand. Ek het sopas ʼn pannekoek en ʼn bier bestel. My geld was vanoggend al op, maar hoekom nie een keer in twee weke oorboord gaan nie! Anita, ek het gedoen wat jy gesê het ek moet doen – ek het na die promenade gestap. Daar daal ʼn rustigheid oor my. Links en regs stap mense op die strand – party mense sê dis vandag Nederland se tweede sonskyndag in ʼn jaar...


     

Ja, hierdie was nie ʼn sleg dag nie.

Ek skryf in die verledetyd want ek is ʼn hele week of wat agter met my dagboek en het dae om in te haal. Ek sit nou en wasgoed was in Parys en haal die ergste in terwyl Es in stasie toe is. (Was en droog kos ons R40-00.)

Die oggend (in Holland) het ek vir die eerste keer in meer as ʼn week, so voel dit, opgestaan uit ʼn bed uit. My kamer het ʼn mooi uitsig oor die tuin gehad. Die mense waar ons gebly het, het net een badkamer en daar is ook net ʼn stort in. (Ja, ons Suid-Afrikaners het ʼn siek waardesisteem gehad, danksy Apartheid, wat ek dink ons nog baie gaan mis in die nuwe SA.)

     


Delft:  Besoek 1 vir die dag. Ek is geensins beïndruk nie – dit is ʼn groot, vet toeristefoefie. Dit is Sondag maar die vertoonlokaal is oop vir die publiek, en glo my, die hele publiek, sy ouers en kinders was daar. Ek het ʼn reeks gesien wat vir my nogal mooi was – maar die reject borde het iets soos R240-00 gekos, en dan het ek dit nog nie eens in een stuk by die huis gekry nie. Ons is op pad terug stasie toe onderdeur ʼn lieflike voetgangerstonnel wat uitgevoer was/is met Delftskerwe. Es het ʼn foto geneem en ek hoop dit kom mooi uit.


     


Den Haag:  Hierdie is eintlik die doel van die dag en ons besoek die VVV (toeristeburo) teen so 11 uur se kant. Ons betaal 2.5 Gulden vir ʼn boekie oor die stad se aantreklikhede en maak onsself gereed vir ʼn heerlike dag – net om agter te kom die meeste museums en dinge waar ons wil wees, maak eers 12 uur na ½ 1 oop.

Ons stap deur die strate – dis regtig ʼn heerlike oggend. Ek onthou ʼn klein karnavalletjie – ʼn merry-go-round, skyfskiet en sulke goedjies waar ʼn mens kan aandoen. Ek onthou ook dat ons vreeslik gesoek het vir ʼn oop kafee wat bier verkoop. (Wat ons nie gekry het nie.)

Ons draai om by die Torture-museum omdat ʼn toergroep klaar daar is, maar meld ʼn ½ uur later weer aan vir ʼn baie genotvolle besoek. Dis regtig die verkeerde tyd gewees – die Middeleeue – om in die tronk te beland. Snaaks genoeg, tronke in daardie dae, was nie tronke soos vandag nie. Jy het  betaal vir jou sel as jy ʼn fancy een wou hê, en jy is nie opgesluit vir jou straf nie – jy is net in die sel aangehou tot jy gestraf is – lyfstraf of openbare vernedering, of die dood.

     

Hierna stap ek in op wat lag-lag die hoogtepunt van Holland was – ʼn uistalling van ikone, baie eksklusief en die gaste word met lemoensap bedien. Daar speel Middeleeuse musiek en dit is wonderlik.

     

Hierna –  Den Haagse Stedelijk museum:  Dit was ʼn R18-00 busrit (vreeslik duur) maar ons klim af. Hier is ʼn oorvloed Mondriaans. (Die bome en talle ander abstraksies.) Ek kan nie so mooi onthou watter ander skilderye ek gesien het nie – maar ek weet dit was ʼn hoëkwaliteitgalery.

     


Ons sien, en beweeg deur, na ʼn ander museum waar ek na die diere van Jurrasic Park wil kyk. Ons soek en soek, net om agter te kom dat die uitstalling eers baie later open. Dié museum is regtig ʼn puik museum, baie puik ingerig, maar ek en Es staan stil by net twee klein afdelinkies – die vulkane, en die tropiese reënwoude, waar ons na die TV-programme kyk en luister. Dis eers toe hulle die ligte agter ons afsit, dat hulle ons daar uitkry.

       


Toe volg die hoogtepunt – ʼn nag in Scheveningen – die hawegedeelte van Den H.

O, dit was elke oomblik die moeite werd soos Anita gesê het. Ons stap op die pier, eet pannekoek met pynappel, drink bier en mors geld, maar dis heerlik.

Ek koop oulaas drop en drink melk voor ons na die stasie – Hollands Spoor – vir ons treinrit na parys.

Die kompartement is leeg – 1 ou klim eers later op, en ons gaan slaap met ʼn geruste hart.



24 April - 21 jaar verder

Wat Paul Kruger destyds in Clarens, Switserland, gaan soek het, weet ek waaragtig nie. Dit moes verband gehou het met die horlosiemakers se politieke neutraliteit of so iets.

Miskien was dit die kaas? Ek weet nie.

Maar die Nederlanders maak tog net sulke lekker kaas! En hulle was hom en die Boere se saak tog goedgesind? Selfs Vincent van Gogh se een boetie het hier kom oorlog maak, aan die kant van die Boere, teen Ingeland.

Gaan google sélf ʼn bietjie “Clarens Sitzerland 1900” en kyk wat meld hulself aan. Vergelyk dit dan met wat “Scheveningen Netherlands 1900” voor jou neus kom swaai. Nie vinkel en koljander nie, maar soos einste Ingelsmanne sê, so verskillend soos “chalk and cheese”.

        


Ek sien ons waardige ou president op een van die stoele sit terwyl oor die see uitkyk en na sy vaderland verlang, miskien indut en 'n uiltjie knip, ook.



Die bekende kurhaus is in  1895 geopen – hy kon selfs daar tuisgegaan, een in ʼn hele linie staatsmanne en hul egas wat oor die jare heen daar besoek afgelê het.

Sonder dat ek doelbewus daarna gesoek het, is die een ding waarvan die herbesoek my bewus gemaak het, die feit dat hierdie dag en plek nie in 1994 geword het wat dit is nie, dit was in 1994 al vir jare so uitsonderlik, spesiaal, buitengewoon en elke denkbare ander sinoniem onder die son.

Neem byvoorbeeld ook die karnavalletjie wat my so opgewonde had.

   


Toe ek eers agtergekom het die Nederlanders noem dit wat ek gesien het, nie ʼn karnaval nie, maar ʼn kermis, vertel die webwerwe my gou-gou dat kermisse letterlik al honderde jare sinoniem met Den Haag is:

   


Hierdie vaalpens ken dit wat ek daar gesien het net April-maande by die Randse Paas Skou (en dan mog ons nie daar tussen die takhare en dwelmsmouse uitgehang het nie) en Desember-vakansies by Margate se strand (en dan had ons hoogstens skelm tussen die ongure, guur karakters uitgehang.) So ek onthou daardie kermis/karnavalletjie as ʼn wonderlike gezelligheid.

So baie soos wat dinge dieselfde gebly het, so baie het dit verander – die Kurhaus het anderdag oornag, na donkiesjare, ʼn Hotel geword, die Torture Museum is nou die Gevangenpoort-museum en die Stedelijk-museum van destyds, spoor ek vanjaar onder Gemeentemuseum Den Haag op.

Verdomp of ek kon uitvind waar ons die ikoonuitstalling met die lemoesap en Middeleeuse musiek raakgeloop het. Ek het “Russiese ikone” “Den Haag” en “1994” in Nederlands en Engels ge-google maar dit is asof daar nog nooit (wat nog te sê in 1994) ʼn uitstalling van Russiese Ikone in Den Haag was nie - en dit loopafstand van die Martel-/Gevangenepoort-museum af.

Die ander ding wat ek nie kon opspoor nie, was die voetgangertonnel wat met skerwe en brokkies Delft gemosaïek is. (As alles goed gaan stuur Es haar foto - skimp-skimp, wink-wink.)

Dis moontlik dat die een wat ons besoek het, afgebreek is en vervang is met ʼn nuwe een wat die hele internet vol rondlê. Ons sʼn was deel van die twintigste eeu, hierdie een staan met al twee sy voete stewig in die een en twintigste eeu.



   


Met die dat ek nie die ikoon-plek óf die Delft-tonnel kon opspoor nie,  was ek baie bly toe ek sien dat ene Neelis(@neelis1983) vroeër vanjaar sy kinderfoto’s rondom sy en sy ouma se  1994-besoek aan die Jurassic park-uitstalling waarvan ek praat, op Twitter gedeel het. Toe kon ek uiteindelik (vaagweg?) sien wat ek destyds misgeloop het.


   

Die museum wat ek in my dagboek nie by die naam noem nie, is toe al die tyd die Museon, Den Haag se museum vir wetenskap en kultuur. Die uitstalling oor die tropiese reënwoude moes ʼn tydelike of besoekende uitstalling gewees het, maar vulkane is steeds een van die museum se permanente uitstallings.


   


Eers was dit natuurlik die eertydse Stedelijk Museum wat nou die Gemeentemuseum is.

Weer eens is dit mees gebruikervriendelike webwerf om besoek by af te lê. Soos van die ander museums, het hulle ʼn skakel na “kopstukken” wat dan die hoogtepunte van die museum se versameling is. Hiérdie museum het egter verder gegaan en hul hoogtepunte in verskillende temas rangskik. As jou belangstelling, soos in my geval, Mondrian en sy De Stijl, asook die Ekspressiioniste is, dan gaan kuier jy in daardie tema rond. Ander hoogtepunte soos die Nederlandse modeontwerpers, Paryse skilders of Art Deco kruis dan nie eers jou pad nie.

Die meeste Suid-Afrikaners van my generasie wat nie bekend is met Monrian se skilderye, ken hom eintlik, sonder dat hulle weet, aan die hand van ‘n Citi Golf/Volkswagen-advertensieveldtog wat in 1983 afgeskop het.


       


My gedagtes neem die man se werk weer terug na my kunsjuffrou op skool, Juffrou Olivier – sy het so ʼn reeks van sy skilderye onder mekaar rangskik om te wys hoe die man uiteindelik uitgekom het by sy geometriese, veelkleurige (Citi-Golf) abstraksies van 1937.


Of dit enigsins was soos sy dit destyds rangskik het, weet ek nie, want ek weet sy was ʼn kunsjuffrou soos ek ʼn Afrikaans-meneer is – ons laat nie toe dat die waarheid tussen ons en ʼn mooi storie kom nie. Maar hier is iets soortgelyk aan dit wat ek uit die kunsklas in 1982 onthou – dit is dan ook “die grys bome” waarvan ek in my dagboek praat. Ons had ʼn lieflike kunsgeskiedenislangvraag oor Juffrou Olivier se reeks prentjies (wat natuurlik heelwat korter was as die pad wat ʼn mens in die Gemeentemuseum kan loop.


         



Dit móés ʼn lekker dag gewees het – ek noem drie verskillende goed deur die loop van die dag ʼn “hoogtepunt” (kopstuk?). Die ikone word sommer ʼn hoogtepunt van die hele Holland!


Charles Valentine (Wonder waar was Es?)


21 jaar later is die hoogtepunt wat my die sterkste bygebly het, die aand op Scheveningen-promenade/boulevard/pier. Amper soos Durban se goue myl (van destyds), maar tog so ontsettend anders.


   


Ek onthou dag een in Amsterdam se kafeteriabesoek aan die see– ek onthou ek wou zoute haring of ʼn tongvisserige iets hê (Nederland is die grootste roes op die wêreld se tongvisbevolking) maar dat ek dit toe nie kon bekostig nie.  Ek sien waar ons was, hoe dit om ons gelyk het en hoe die kraampie met Hollandse lekkernye gelyk het. Ek voel selfs weer die verleentheid van te armgat wees om iets te kan koop aan eie bas.

En so goed soos ek dag een se haring en tongvisfilette onthou, so onthou ek niks van die laaste dag se pannekoek met pynappel nie! Ek moes gaan google om te kyk of daar ooit so iets is, maar inderdaad, die gereg bestaan.


   


My ma se vriendinne van die Transvaalse Landbou-Unie, die Betsie Verwoerd-Damesklub en die Verjaarsdagklub (dit was die jare voor boek- en leesklubs) het plaatkoekies met pynappelringe in versteek, gebak. Partykeer het Judy daarvan vir my in ʼn servetjie toegedraai gebring.  Hierdie is maar so iets, net in ʼn pannekoek en nie ʼn plaatkoekie nie.

Gelukkig onthou ek die storie agter die volgende herinneringsnota in my dagboek.




Dit hou verband met die besoek aan Gevangenpoort-museum en ek vertel nog gereeld die storie wat ek daar geleer het - die oorsprong van ons spreekwoord “die een se dood is die ander se brood.”

In die museum is daar ʼn geldkassie van yster, omtrent so groot soos ʼn skoenboks. Die kas kan gesluit word, met ʼn slot en dan is daar aan die bokant ʼn gleuf ingesny waar geld ingegooi kan word – amper soos ʼn overs sized spaarbussie. Hierdie “spaarbussie” is op ʼn lang, dun staalpen, wat soos ʼn sambreel se steel in die grond ingedruk kan word, monteer.

Hierdie kontrepsie het aan die stadsvaders (die “munisipaliteit”) behoort. So ʼn geldkas is langs elke toegangroete na die dorpsplein geplant. As die volk dan opruk om ʼn openbare teregstelling by te woon, het hulle ʼn muntjie moes betaal om die teregstelling gade te kan slaan. ʼn Teregstelling mag vermaak wees – maar beslis nie gratis vermaak nie!

Geld wat op hierdie manier ingesamel is, het die dorp se tesourie dan onder die gemeente se weduwees en wese versprei – die een se dood gee geld vir die ander se brood.

Laslappies en skakels

Delft-fabriek 1
Delft-fabriek 2 
Gevangenpoort-museum
Stedelijk-museum
Museon