Dinsdag 29 Maart 2016

Dag 15 - 21 April 1994

Donderdag 21 April – 21 jaar vantevore

Netjies oorgetik aan die einde (en vir die eerste keer kan ek my eie handskrif nie lees nie)




Ja, op Donderdag 32 April 1994 bel ek Judy vir haar verjaarsdag. Dit was heerlik om weer haar stem te hoor.

Waaroor ek die blyste was, was die feit dat sy nie siek geklink het of so iets nie. Die oproep kos maklik R100-00, maar nie die heel ergste nie.

Ek ontmoet Es op die stasie (ek het vroeg ingekom vir die oproep) en ons skiet deur na Anne Frank se huis. Daar was ontzettend baie mense en ons moes in ʼn tou val om in te kom. Dit is fassinerend om meer as wat jy aanvanklik geweet het, te wete te kom. Die museum is niks besonders nie – ek dink trouens hulle kon baie meer doen, tog is dit soos die museum plakkate sê: a museum wit ha story, en is dit die storie wat aangrypend is.

Hierdie museum sluit mooi aan by die Verzetmuseum waar ons vroeër was. Opvallend dat hulle deur die loop van die dag glad nie die krane of  toilet mag gebruik het nie, want ʼn mens hoor dit onder in die huis waar daar ʼn fabriek aan die gang was.

Toe stap ek en Es deur die Jordaan-distrik (op aanbeveling van Anita) en koop ʼn “Tussentidje” – ʼn broodjie met uie en kaas soos ʼn pizza = heerlik. (Tussendoortje)

Die Nieue Kerk is toe, maar die Oude Kerk is oop – dit is tot op datum nog die kerk waarin ons was, wat ek die meeste geniet het. Dit is nie overdadig nie, trouens, oud en amper vervalle. Dis vreemd om die Protestantse kerke, sonder veel versierings en afbeeldings, na die ryklik versierde kerke van Engeland te sien.


    


O, ja – daar vergeet ek skoon van die Westerkerk waar ons was op pad na Anne se huis. Die Westerkerk sal ek onthou as die kerk met die mooi orrel. (Ek het nie ʼn poskaart gekoop nie, so die kanse dat ek dit gaan onthou, is seker skraal.)


    

    


Na Anne se huis, bevind ons ons op pad na die Joods Historisch Museum. Hier leer ons die geskiedenis van die Jode in Holland. Dit was ʼn effe verwarrende museum. Es doen een helfte en ek sê haar daar is meer, sy moet loop soos ek geloop het. Toe stuur ek haar en toe kom sy nie terug nie, maar dis omdat sy toe meer sale ontdek het as waarin selfs ek was. Eers nadat ek twee keer deur die museum, soos ek dit sien, geloop het, het ek die sytak ontdek waarin sy was.

By die Joods Historisch Museum is daar hierdie aangrypende versameling kunswerke – Lewe of Teater – deur ʼn Joodse meisie wat in die Holocaust omgekom het. Sy sou nog ontwikkel het tot ʼn lieflike ekspressionis, maar is die geleentheid helaas nie gegun nie.

Haar werk fassineer my en ek sou graag ʼn boek of poster van haar wou koop.


     

     

Hier in die Joods Histories sien ons ook die regtige briewe en dinge uit die oorlog wat die Jode gestrem het – Voor Joden Verboden.

Ek begryp ten volle die Hollanders se kollektiewe beheptheid met Apartheid. Dit hou verband met die Duitse besetting van hul land en die rassisme wat hulle hier teëgekom het.

Ek moet bieg, as ek so deur die Duitse Nazi-verordeninge lees, is daar baie artikels wat ooreenstem met die wetsartikels in die ou verbygegane SA.

(Ons het die mense net nie ʼn ster gegee om te dra nie – hul velkleur was genoeg om hulle te identifiseer.)

Vandaar hardloop ons na die Rijksmuseum vir my om ʼn poster of wat te koop. Ek koop die twee posters wat by Dok Bet in die kombuis-eetkamer gehang het. Dit was deel van my opvoeding – ek kon nie anders nie.

Op ons low, lów budget koop ons brood en eet ons eerste porsie biltong en sop net klaar, en gaan terug in stad toe om deur die rooiliggebied te stap.

Van daar na die Leidse Plein vir koffie. 


      


Van daar huis toe waar Es van die bus afklim maar die deure toemaak voor ek kan afklim. Ek ry ½ 1 in die nag na die volgende stasie en stap toe terug.

(EK) kom na 2 eers in die bed en hê ʼn heerlike nagrus, tot VRYDAGOGGEND

(En dan is daar ʼn woord wat ek eerlikwaar nie kan lees nie. Dit kan  enige iets wees, van Schansen, tot Alkmaar, ek het nog nie verder in my dagboek gelees om te sien wat dit kan wees nie. Ek sal maar wag en sien.)

Donderdag 21 April – 21 jaar verder

Ek het nou op seker sewe verskillende plekke, sewe verskillende opstelle met biografiese besonderhede oor Charlotte Salomon gelees en élkeen eindig waar sy as swanger vrou dadelik met haar aankoms in Auschwitz gaskamer toe gestuur is.

Daar word sulke grappies vertel – van mense wat dieselfde fliek oor en oor kyk in die hoop dat hulle op ʼn weergawe gaan afkom waar die nadraai ʼn ander wending as die vorige vyf of ses keer inneem.

My ma, wie se verjaarsdag ons ook hierdie dag gevier het, het so ʼn grappie, ten koste van haarself, rondom haarself en David Lean se Dr Zhivago (met Omar Sharif, wat enige tyd sy skoene onder haar bed kon inskop, in die hoofrol) vertel. (Het dit my destyds lank gevat om daardie “skoene onder my bed inskop” te verstaan!)

Charlotte Solomon, die skepper van LEBEN? ODER THEATER?: EIN SINGESPIEL, se lewensverhaal het my telkens teen die einde teleurgesteld / opnuut onroer gehad – so al asof ek telkens ʼn ander uiteinde wou raaklees, of te hore wou kom van nuwe inligting wat op verrassende wyse bekom is waarvan die ander biograwe nog nie kennis gedra het toe hulle hul somber opsommings van haar lewe geskryf het nie.

Helaas.

    

    


Op 24, reeds deur die Nazi’s uit haar geboorteland verdryf, hoor sy, na sy pas getuie van haar Ouma se selfmoord was, vir die eerste keer die waarheid rondom haar ma se dood:  dié is nie, toe Charlotte 9 was, aan natuurlike omstandighede oorlede nie, maar het ook, soos haar ma (en Charlotte se ouma) 15 jaar later, selfmoord gepleeg. Haar oupa vertel haar ook die waarheid rondom ses ander vrouens in haar familie wat oor die jare heen self einde aan hul lewens gebring het.

Dit laat haar in 1940 met die vraag of sy dieselfde pad as die agt ander vrouens in haar bloedlyn gaan loop, en of sy iets, soos sy dit stel, “eksentries en mal” gaan aanvang. Haar wilsbesluit val op iets eksentries en mal – in die verloop van agtien maande skep sy 1325 gouache-skilderye wat haar familiegeskiedenis van die uitbreek van die oorlog tot en met die dag waarop sy besluit het om nié óók selfmoord te pleeg nie, uitbeeld.

Sy rangskik sowat 800 van die kunswerke in ʼn ongeveer 700 tonele met dialoog, alleensprake en musikale verwysings en noem dit:  Lewe? Of Teater? ʼn Operette.

Haar besluit om nie selfmoord te pleeg nie, skep die gulde geleentheid vir Adolf Eichmann en die res van sy SS om haar en haar ongebore kind op 7 Oktober 1943 gaskamers toe te stuur.

Dit was omtrent ʼn week waarin ek my met die Jode opgehou het.



    

    


In die vier dae dat ons en vriende weggebreek het Oos-Transvaal toe, lees ek uiteindelik Edmund de Waal se The Hare with Amber Eyes. Dag 2 se herbesoek aan die Victoria & Albert museum het my by die Japannese netsuke uitgebring, toe lees ek van De Waal se boek oor sy Joodse familie se netsukeversameling en bestel die boek. Ongelukkig kom die boek twee dae voor die skole weer begin en ek maak nie tyd vir lees as dit skooltyd is nie – 21 jaar vantevore/verder hou my dan geestesgesond.

Vier dae sonder ek my af, ek lees selfs as die 11 van ons in ʼn sirkel kuier en maak kennis met amper 200 jaar se Joods wees, 200 jaar se geskiedenis – ʼn boek wat elkeen van die sewe toekennings en vermeldings wat dit 2010 en 2011 gekry het, uit-en-uit en deur-en-deur verdien.

Die een stukkie wat ek wil oorvertel hou verband met oorspronklike versamelaar van die netsuke – die man in die swart pak regs agter in Manet se bekende skildery, Charles Ephrussi. 


  


Hy het Manet opdrag gegee vir ʼn bossie aspersies. Toe Charles hom 1000 frank betaal, in plaas van die 800 frank wat Manet gevra het, het Manet ʼn rukkie later die skildery van die enkele aspersie by die Ephrussi-huishouding laat aflewer. Die boodskap wat die skildery vergesel het:  “ Daar was een weg uit jou bossie.”

Vandag is die twee skilderye in twee afsonderlike museums.

Wat ongeveer 200 jaar later oor is van een van die rykste Europese families, is die 264 netsuke, ʼn familieportret en ʼn handjievol dokumente wat Edmund de Waal se pa vir hom gegee het.

Die foto's is grepe uit die verhaal. Die geboue wat soos groot Europese afdelingswinkels lyk, is die Ephrussi-Palais wat die boeties onderskeidelik in Wene en Parys gebou het, en nee, dit was nie afdelingswinkels nie, dit was woonhuise.

     


     


Toe raak ek, soos in 1994, die pad in die Joods Historisch Museum heeltemal byster en loop die spoor van ʼn gasuitstalling uit 2014, die van die Russies-Amerikaanse fotograaf Roman Vishniac.

Na ek vir vier dae vasgevang was in die leefruimte van een van die rykste Joodse families, die van die Ephrussi, was Roman Vishniac se kyk ook na die arm, sukkelende Jode iets wat die balans herstel en hierdie oom in die heel suide van Afrika se verwysingsraamwerk verbreed en ʼn ander perspektief gegee het.

Aanvanklik, omdat ek net ʼn halwe week had, wou ek sommer net een van die baie Pinterest-albums oor sy werk deel, maar het op die ou einde daarteen besluit – ek wil sy foto’s wat mý trek, en nie iemand anders nie, in een album deel. So toe Roman Vishniac ek na hartelus.


     
      

Dis nie die Historisch Joods Museum se video nie, maar oor dieselfde uitstalling wat daar aangebied is:




Hier by ons  word van tyd tot tyd gevrees vir die voortbestaan van ons Afrikaanse dagblaaie. Waarom sal mense nog koerante wil koop as hulle alles verniet op die web kan lees? Of die koerante se webwerwe ʼn wesentlike invloed op koerantverkope had, weet ek nie, maar na ʼn paar jaar van gratis en verniet is dit nou seker al so drie jaar dat slegs die outjies wat daagliks die koerant afgelewer kry, onbeperkte leesgeleentheid op die webwerf het.

Met hulle huidige webwerf, weet ek nie vir hoe lank nog die Anne Frank-huis op hiérdie trant sal kan berig nie:

Het Anne Frank Huis heeft in 2015 voor het zesde achtereenvolgende jaar een record aantal bezoekers ontvangen, in totaal 1.268.095 bezoekers. Dat is 40.633 meer dan in 2014 (toen 1.227.462).

Miskien sal ons oor ʼn paar moet betaal om internettoegang tot die museum te kry. Sekere afdelings en subblaaie op die webwerf word straks slegs vir toegangskaartjiehouers beskore. So iets.

Vanjaar is ek vanuit my dubbelbed op ʼn rondleiding deur die huis en die agterhuis. Ek het gekyk, geluister en gelees. Dit sal my nie verbaas as ek in 2016 langer met die muis in die geselskap van die huis deurgebring het, as in 1994 nie.

Hoe hulle in hierdie reeks foto's oor die Amsterdam van destyds daarin slaag om die verlede deel van die hede te maak, het my gedryf om elke moontlike foto hier te deel.


  

  

  

  



En ek het nie eers ʼn duik gemaak in wat alles op annefrank.org te ontdek is nie.

Ek was beïndruk deur die studiegids oor The Hare With The Amber Eyes op Edmund de Waal se webblad. Dit is onder die son niks in vergeleke met die Anne Frank Werkstukwijzer waarop ek ingestap het nie. Hier kan ek kies of ek in Britse Engels of Amerikaanse Engels aangespreek wil word.

Ek het só lekker gekuier, ek het selfs by Lina Spies ʼn draai gemaak:

Vir Anne Frank van Het Achterhuis

Hulle onthou die gaskamers, Auschwitz,
as van lyke, onsigbaar vervoer deur eensame riviere,
die meisie in haar sabbatrok,
wat in die dodeput afstort,
die vrou wat met sekslose sekerheid besef
uit haar vervloekte bloed sal ’n kind
die nuwe, vrye wêreld nooit weer vind ...

Maar in die agterhuis was veel
menslikheid: Mevrou van Daan,
prikkelbaar-bevrees, vervelig-verwaand,
’n moeder se subtiel verset,
omdat haar kind die vader liewer het ...

En tog moes jy jou jong
ontwaking leer verstaan – alleen.
En wat het al jou vroulikheid gebaat?
Jy moes die laaste toevlug deel
vir nog ’n Jood se veiligheid –
tandarts Dussel jou ongewenste kamermaat.

Toe het jy jou na hom gekeer:
blou agter ’n berookte ruit en ’n gordynde raam
het helder in sy oë kom leef ...
maar die natuur verdra geen surrogaat –
jy het geweeg, te lig bevind. Weer
moes Peter maar vir Mouschi streel
en vir ’n troos het jy seisoenverward
pinksterrose en bloudruifies in een droom verbeel.

Meer as Jood of Christen het jy geweet
die mens se gees oorwin as hy
elke dag sy aartappels met vreugde eet.

Dit behoort nie vir my nodig te wees om te noem wat ek van die aanlynwinkel sal wil aankoop nie:


    

     


Destyds het ʼn gasvrou in Duitsland vertel dat die Duitsers twee keer in ʼn jaar in die kerk kom – Kersfees en Paasfees. Hoe dit in Nederland gaan, weet ek nie.

Van die drie kerke waarby ek vanjaar ingeloer het, is dit duidelik dat die Nieuwe Kerk nie meer as kerk gebruik word nie – na 600 jaar het die Hervormende Gemeente van Amsterdam die kerkgebou, wat op grond van restourasiekoste ʼn wit olifant geword het, dit in 1979 van die hand gesit.

As ek reg onthou was die Nieuwe Kerk toe, toe ons in 1994 daar was (ek het nog nie dagboek oorgetik nie); vanjaar loop ek nie so ʼn gevaar nie:

Die Russiese Jood, Marc Chagall, is een van die Joodse kunstenaars wat nie skroom om Christus se kruisiging uit te beeld nie. In sy leeftyd skilder hy meer as 100 kruisigings. Moontlik doen hy dit in ʼn poging om begrip vir die lyding en onderdrukking van die Jode mee te werk, om ʼn lyn te trek tussen die vervolging van Christus en die vervolging van die Jode.

Vanjaar is sy een kruisiging (1912) die meesterwerk wat in ʼn reeks van jaarlikse meesterwerke uitgestal word. Hierdie meesterwerk het net een móét – dit moet godsdienstig van aard wees, nie noodwendig deel van die Christelike geloof nie.




Getrou aan my aard is ek toe twee spore – die vorige meesterwerke én Chagall se kruisigings. Gelukkig is dit vakansie (ongelukkig is dit vakansie?) en kan ek heerlik reis en kuier en inloer en afloer:


Die meesterwerke
(twee is video)











Sommige van Chagall se kruisigingstonele 

      

     


Laslappies en skakels

Anne Frank Huis




Joods Historisch Museum



The Hare with the Amber Eyes