Maandag 17 Oktober 2016

Dag 30 - 6 Mei 1994


6 Mei - 21 jaar vantevore








Hierdie is pretty much ons laaste dag in Portugal en teen dié tyd het Esmari al erken dat sy spyt is ons het net drie dae om hier deur te bring. (Ek het amper gesê wat ek wou maar nie heeltemal gesê wat ek wou nie.)

Ons pak op en vat ons hele pakkaas eers na die toeristeburo toe, vir inligting, en toe na Sta Apolonia waar ons dit vir die dag toesluit. Hierna kruis ons weë oor sy nie wil gaan waar ek wil gaan nie.

(Voor ek vergeet – die Portugese haan het lewendig geword om ‘n ou se onskuld te bewys – jare gelede.)

Ek gaan na die Museu Caluste Gulbenkian wat by verre die beste museum is wat ek nog besoek het. My boek praat van ‘n “tailor made” museum – ek noem dit sommer ‘n “designer museum” soos die “designer onderbroeke” wat ons in Amsterdam in die koninklike paleis gesien het.

Hierdie is ‘n privaatmuseum – blykbaar die grootste van sy soort. Dit is presies soos die Britse Museum, net een duisendste so groot.

Alles, maar soos in alles in die museum is mooi en bevredigend. 




Ek betrap myself dat ek na goed kyk waarna ek andersins nooit sou gekyk het nie. Dit sluit in, lieflike glasgoed uit Turkye, mooi ou Egiptiese beelde (twee katte en ek dink aan Barry Hough se “My kat word herfs”). Die Japannese boksies val my ook op.

Die eerste keer wat ek trouens verveeld word, is toe ek die Europese kuns tref, veral die gedeeltes rondom die sewentiende eeu en verder. Daar was baie boring meubels wat vir my vreklelik was – tog ‘n lieflike horlosie in die vorm van ‘n aardbol. Met die tyd op die ewenaar gemerk – dan draai die aardbol en ‘n engel se vingertjie dui die tyd aan.

Ek koop ook vir my twee posters, baie goedkoop, ek kan die prys na die duur posters in Spanje (Prado) nie glo nie.

Hierna gaan stap ek so ‘n bietjie in die meer moderne shopping centres. (Die een waarna ek gesoek het, spoor ek nooit op nie, maar ek kom wel by twee ander uit wat die moeite werd is.)

Die winkels is kleiner en die loopgange baie kleiner – dis duidelik dat die mense nie die ruimte het om te mors soos daar by ons nie.

Ontmoet Es by die Discovery-gedenkteken wat uitkyk op die rivier.

Gaan na monsastery, maar dis te duur.

Gaan na Belem-toring, maar dis te duur.


Gaan soek ‘n kruisie vir my, anders het ek geen kruisie nie – kry toe sommer drie of vier vir baie goedkoop.

Van hier gaan ons na die eetplekkie van twee aande tevore, maar hy maak te laat oop vir ons senuwees.

Toe na die stasie. Ons eet hier in ‘n eetplek waar my ma nie water uit ‘n bottel sal drink nie. Ons eet vis en ertappels, drink ‘n heerlike bottel rooiwyn en gaan na die stasie self vir poeding en koffie.

Die (slegte) poeding kos toe bykans R10-00 en die koffie is ook nie te hot nie.

Op die trein stempel die Spanjaarde toe nie dat ons die land in is nie en ek is redelik senuweeagtig oor ons sortida.


6 Mei - 21 Jaar verder




Nodeloos om te sê dat ek die Gulbenkian museum weer eens net soveel soos laas geniet het. Vandag, en in vergelyking met die Britse Museum, sou ‘n mens hierdie seker ‘n boetiekmuseum kon noem.

Caluste Gulbenkian se persoonlike versameling kan in die 9 kategorieë hier bo opgedeel word - dis wat die plek se webwerf doen, toe speel ek maar met dieselfde gedagte.



Ek was al gaande oor die plek, nog voor ek 'n voet binne die museum gesit het - die gebou is is klassieke Brutalisme (wat ons in Londen leer ken het). Ek het my in 'n stadium (nou, ronde twee) betrap dat ek meer buite die gebou gekuier en oplees as by en oor die die inhoud van die museum, die versameling self. Meer daaroor in die laslappies en skakels.


Die genot wat ek destyds in lewende lywe ervaar het, is presies wat ek nou op my rug, vanuit die privaatheid van my eie huis via die internet ervaar het.

Ek is duidelik nie die eerste een wat beïndruk is deur die horlosie in die vorm van 'n aardbol en klein Atlassies/gerubs wat dit soos 'n speelbal dra nie. Ek het regtig nie nodig gehad om vreeslike speurvernuf in te span ten einde die betrokke uurwerk op te spoor nie. Daar is omtrent nie iemand wat foto's van die museum op Tripadvisor aflaai, wat  nie die horlosie afgeneem het nie.

Waaroor ek nog blyer is, is die relikwieë van ivoor wat ek so goed onthou en destyds so opgetrek mee was. Ek het twee van die artefakte in die foto's hier ingewerk.

Die foto net regs van die drie seuntjies en hul aardbol, hou ook vir my spesiale herinnering in. Die rottangding bo die een tapyt, die ding wat aan 'n tennisraket herinner, had destyds my asem weggeslaan. My ma se suster, tannie Anne, had toe ek baie klein was, nog so rottang-tapytklopper in haar huis. Dit het dateer uit die dae voor stofsuiers en die matte van tyd tot tyd oor 'n draad gehang is en deeglik uitgeklop is om van alle stof ontslae te raak, alvorens dit weer huis in ingedra is.En daar loop ek toe destyds so 'n ding in Portugal in 'n museum raak.


Ek het dit nie aangeteken nie, maar ek verbeel my, ek is amper oortuig daarvan, dat Es daardie dag Cristo Rei toe is, toe besluit ek dat ek nou in die nuwe millennium die tyd het, toe gaan loer ek in by en lees bietjie op oor dit waarop destyds uitgemis het. 

Ek is weer eens bly dat ek nie heelwat vroeër begin het om via die internet herbesoek aan al die plekke van destyds te bring nie - dan sou ek nooit die voordeel van hommeltuie kon geniet nie. Hierdie nuwerige stukkies tegnologie het my die afgelope jaar darem al op plekke uitgebring wat vroeër nie so maklik sou gewees het nie.



Ek doen toe dieselfde met die Belem-toring en die klooster. Deesdae sien ek een kaartjie koop jou by beide besienswaardighede in. Dis duidelik ‘n jammerte dat ons te armgat vir die klooster wys – dit is asembenemend.



Oor die binnekant van die Belem-toring kry ek nie veel te sien en te lees nie – en as ek lees is dit telkens mense wat laat val dat die buitekant veel meer bied om oor huis toe te skryf as die binnekant.

Ek het die heeltyd stilgebly daaroor, maar laat ek nou maar eerlik wees en iets bely.

Toe ek so met die elektriese kabels langs terug is Lissabon toe, is die eerste wat my beïndruk het, die Padrão dos Descobrimentos - die monumente ter herinnering aan die Portugese seevaarders, hul ontdekkingsreise en ontdekkings.

Ek wou kyk hoe lank na ons in 1994 daar was, dié indrukwekkende monument opgerig is. Ek was so spyt dat ons dit met 'n jaar of wat gemis het. 

O, aarde, die konstruksie dateer toe uit 1960!

Nog groter was my verbasing toe ek by vandag se inskrywing lees dat ek en Es mekaar by die monument ontmoet het!

Ek onthou dit geensins. Ek voel soos Annieka wat elke keer as sy 'n fliek 'n derde of vierde keer kyk, dit soos 'n eerste keer beleef - omdat sy die vorige drie kere aan die slaap geraak het!

So toe was dit vir my lekker om iets wat bekend is, veronderstel is om te wees, opnuut as 'n eerste te kon beleef.

Aan die ander kant, iets anders wat ek onthou, wat ek nié aangeteken het nie, en maklik maar van kon kon vergeet het, is die poeding op die stasie wat so vrotsig was. Daar is min mense wat so ‘n lekker en maklike creme caramel maak soos die Angolese Portugese – gelyke hoeveelhede eier en melk en suiker vir die poeding, en gelyke hoeveelheid suiker met ‘n bietjie water vir die karamel sous. Alles in ‘n ringvorm in ‘n stoompot, en 30 minute later koek jy jou poeding af.

Tog het ons nie daardie aand die Portugese se tradisionele poeding geëet nie – al wat op die spyskaart was, was die variasie waarvan die Spanjaarde hou – die gestolde vla met gebrande suiker bo op – creme brulee (of soos die Spanjaarde dit noem, crema catalana).

Ek onthou my teleurstelling in ons baster brulee soos gister. Maar hoe ons kon gedink het ons gaan ‘n lekker creme brulee op ‘n stasie kry, gaan ook my verstand te bowe.

Laslappies en skakels 

Gulbenkian-museum



Gulbenkian-museum die gebou en brutalisme


Jeronimos monastery:  



Sondag 25 September 2016

Dag 29 - 5 Mei 1994

Ek het regtig 'n rukkie gewonder wat op aarde ons pad 5 Mei gekruis het om my tot die dag se eerste prentjie in my dagboek te dryf. Selfs nadat ek die dag se inskrywing deurgelees het, was ek steeds in die duister.

Daar is immers geen verwysing na 'n Picasso-uitstalling nie, nog minder na 'n opgestopte dodo iewers in 'n museum . . .

En toe onthou ek, middel sewentigs, die Portugese restaurant in Alberton (ek het sy naam lankal vergeet) en die Portugese hoenderhaan op hul spyskaart, op die tafel, teen die venster, op die muur - Galo do Barcelos.

Hierdie hoenderhaan het 'n interessante storie, dis nie sommer vandag se hoenderhaan nie - die geveerde vriend dateer uit die 1600's toe 'n onskuldige pelgrim op die dorpie Barcelos skuldig bevind en ter dood veroordeel is. Hy sou vir die regter, wat met 'n gebraaide hoender voor hom gesit het (gelukkig darem nie in die hof nie), gesê het, iets soos  "É tão certo eu estar inocente, como certo é esse galo cantar quando me enforcarem."

Rofweg vertaal, kom dit neer op: "So seker soos wat ek onskuldig is, so seker gaan daardie haan kraai wanneer ek gehang word."

En soos voorspel kan word, het die haan 'n rukkie later gekraai toe die terdoodveroordeelde gehang is. Die regter het uitgestorm om te red wat daar te redde was - en daar was heelwat, want die galgtou was swak geknoop en het los gegaan toe hulle die man gehang het. 

Gelukkig kon die regter toe keer dat die outjies wat die doodvonnis voltrek, 'n tweede keer probeer, om 'n beter knoop in die tou te kry.

Hierdie laaste sin is my eie sin, ek het dit nêrens gelees nie. Maar met verloop van baie jare, het die storie as so baie stertjies en variasies gekry, dat mý enkele ou sinnetjie beslis nie die appelkar gaan omgooi nie.

In breë trekke, dan dit die storie waarom die bont haantjie al vir jare 'n simbool van geluk onder die Portugese is.

Maar terug nou eers, dagboek toe.

5 Mei, 21 jaar vantevore




Hierdie oggend is ons vroeg op om 9-uur by die Spaanse ambassade te wees.

Die Beampte (KLOT, soos Willem sal sê) sê net dis nie sy probleem nie, dis die probleem van die Spoorwegpolisie in Spanje. En ons is in Portugal – so die probleem is ons s’n.

Ál wat die ou sê is dat ons paspoorte ongeldig is en ons weer een moet uitneem. Dit kos ons R80-00 en vier foto’s en wag tot 13:00 om ons paspoorte op te tel. (Die ou haal ons kleingeld uit sy gatsak uit en ek wonder hoe eerlik hy is. Hy het gesê dit 24 uur vir die paspoort, en nou kry ons dit 4 ure later.)

Van hier ry ons met die allerlieflikste lift (hout uitgevoer van binne, soos trouens ook die trems) op pad na die ruïne wat ons die vorige dag vanaf die Castillo Sao Jorge  gesien het, en toe geblyk het om die argeologiese museum te wees. Weer eens ‘n hoogtepunt. Ek het ‘n poskaart vir Judy gekoop.

Die museumgedeelte was maar klein – Portugal het mos omtrent met die aarde gelyk geword ten tye van die een of ander aardbewing. Tog was die murasie van die katedraal uit en uit die moeite werd. Die blouste blou lug midde die serene koepels – duiwe wat vlieg – stilte midde die stad. ‘n Amper-heilige oomblik wat baie vir my siel beteken het.

Ek was weer eens sput dat ek nie my kamera gehad het nie, maar noudat, ek dink, ek my vorige film verloor het, is ek nie baie lus om foto’s te neem nie.

Van hier gaan kry ons ons paspoorte (wat heel geldig lyk, hoewel ek steeds dink die beampte het ons geld gesteel.)

Toe gaan ons Rossio-stasie toe – ‘n totale Art Nouveau stasie, as daar ooit ‘n Art Nouveau stasie gebou is. Ons besluit sommer op ‘n treintrippie na Sao Martinho do Porto – ‘n rustige klein dorpie aan die kus, met mooi strate en dié klas van ding waarna ons so smag.

Dit was weer eens ‘n oorhaastige besluit van my en Esmari want ons het nie mooi gelet op die treine wat terug kom Lisboa toe nie – en dit blyk toe dat ons weer gevaar loop om die Bus 43 te mis – presies soos die vorige aand.

Sao Martinho do Porto was egter elke risiko die moeite werd. Die stasie was klein – moer klein – en dit het gelyk of ons myle van die see af is. Dit was toe nie so nie – eerder so ‘n baai, presies soos Dr Buchel se skildery wat in Jac-hulle se sonkamer hang.

Ons spandeer ‘n lieflike agtermiddag hier, loop deur n tonnel, sit op die rotse, loop deur die dorpie, besoek die kerkie, en SOEK ‘n eetplek wat betyds oopmaak – iets wat ons toe nie kry nie.

Ons koop toe maar 1 bier, 1 bottel wyn, ‘n gaar hoender, 2 porsies tjips en ek koop knoffelsous. Dié eet ons die aand op die strand. (Aand is dalk misleidend – onthou dit word eers 22:00 donker.

Ons skiet terug Lisboa toe en HOL vir Bus 43 wat ons toe net-net betyds haal. As ons nie gehol het nie, het ons die laaste bus beslis verpas.

Trein reverse.

5 Mei - 21 jaar verder


Van hierdie dag is daar heelwat waarvan ek niks onthou nie. Baie ander van hierdie dag onthou ek weer baie goed.

Dit wat ek amper die duidelikste onthou, dit wat ek die laaste 21 jaar die meeste in die herinnering geroep het, word nie eers juis in my dagboekinskrywing genoem nie – dit word trouens in slegs twee skamele woordjies, amper as kantaantekening, net vermeld.

Ek verwys na die laaste twee woorde van die dagboekinskrywing:  “trein reverse”.

Op daardie lieflike middag van 4 Mei 1994, had ek en Esmari ‘n hele treinwa vir onsself, al die vensters wat oop en die wind het met die gordyne gespeel. (Ja, in Portugal en Italië, had sommige treine daardie jare nog gordyne wat soos badkamer- en kombuisgordyne kon wapper van die wind.) Ons was dronk van die vars seelug, die sonskyn, die landskap en die wind.

En die volgende oomblik stop die trein, in die middel van nêrens – kyk ons links uit, is dit net blond en blou, veld en lug, selfs sonder ‘n enkele voël in vlug; kyk ons regs uit, is dit dieselfde.

Toe trek die trein met ‘n ruk weg, maar in presies die teenoorgestelde rigting as waarheen ons op pad was.

As ‘n trein ratte soos ‘n kar het, dan het die masjinis die trein in trurat gegooi, en daar gaan ons terug na vanwaar ons gekom het.

Na ‘n wyle stop ons by ‘n halte, ook nie ‘n halte nie – eerder ‘n haltetjie. Ek dink nie eers die Karoo had ooit so ‘n klein kolletjie in die middel van niks wat as ‘n halte bekend gestaan het nie. 

Ek weet nie of die trein (of dan nou die man aan stuur van die trein) vergeet het om te stop en toe bang was dat hy iemand (of ‘n melkemmer) gemis het nie, maar na ons ‘n minuut of wat gekyk het hoe absoluut niks gebeur nie, is ons toe verder – hierdie keer darem weer in die rigting waarheen ons op pad was.


Toe ek herbesoek aan Lissabon begin bring het, het die hysertoring my weer dadelik opgeval, soos destyds, dag een, 21 jaar gelede. Maar as jy vir my gesê het dat ek dag twee van ons besoek aan die stad in einste hysbak op is, het ek vir jou gesê dat jy lieg. Ek onthou daar dan niks van nie. Ek het selfs gesoek vir foto’s van die ding se binnekant – om te kyk of dit van hout is. Ek gaan seker maak dat dit die hysbak is wat ‘n mens by die klooster uitbring – en, ja, dit is.

Toe beleef ek hom weer, asof vir ‘n eerste keer, saam met goeie internetvriend (ons is nou al selfs Facebook-vriende), Vic Stefanu:


Ek moet dan tot my skaamte erken dat die lieflike klooster óók by my geen klokkie lui nie. 


Wéér (2016) het dit dadelik ‘n diep indruk op my gemaak, ek is daardeur aangegryp – en toe lees ek, op dag twee van my destydse besoek, was ek inderdaad daar. As die dagboek so sê, dan is dit seker so. Ons kon tog nie soveel wyn gedrink het dat ek dagboekinskrywings versin het nie. 

Ek het Julie-vakansie deur oorle’ Judy se een trommel gegaan en op my briewe en poskaarte uit Europa aan haar afgekom. Desembervakansie dan vat ek dit aan – miskien kom ek nog af op die poskaart wat ek noem ek gekoop het. Soos wat die Karmeliete klooster vandag nog getuie is van die destydse aardbewing, sal die poskaart verdere getuie wees dat die dagboek nie onsin praat nie.

Sao Martinho do Porto, en die treinrit daarheen, is weer kristalhelder in my ingeprent.

Danksy my krabbelskets op die laaste bladsy van die dagboek kon ek die kerkie waarvan ek praat gou opspoor. Dit blyk toe geen kerkie te wees nie, maar ‘n kapelletjie wat opgerig is om almal op see te beskerm.



Na die teleurstelling van Engeland en Holland se see – dit het herinner eerder aan Baberspan in die Wes-Transvaal as aan enige iets aan die wes- of ooskus van Suid-Afrika – onthou ek soos gister hoe wonderlik dit vir my was om weer see te kon sien soos ek see leer ken het.

En dan verwys ek nie na die baai self nie, ek verwys na die stukkie see wat ons rondom hoogwater vanuit die tonnel se bek kon beleef. Ek onthou dat dit my selfs bang gemaak het.



Aan die anderkant, in die baai self, was dit pure Baberspan. Ek het elkeen van die strand se foto’s gekies omdat dit presies is soos ek dit onthou. 

Wyn en bier, ‘n gare hoender en tjips met ‘n lekseltjie knoffelsous het nog nooit weer so lekker gesmaak soos daardie aand op die strand nie.

Laslappies en skakels


Sao Martinho do Porto

 Die kloosterruïnes in Lissabon






Sondag 11 September 2016

Dag 28 - 4 Mei 1994



4 Mei 21 jaar vantevore






Wat ‘n lieflike 3 dae het ons nie in Portugal gehad nie. Ek sal “vir tyd en ewigheid” (soos Es sal sê) ‘n aanhanger van Portugal en die Portugese wees.

Lisboa was regtig die stad met die meeste persoonlikheid en karakter, en die Portugese is die mees hulpvaardige, én vriendelikste mense wat ons tot op datum nog teëgekom het.

En eintlik het ons aankoms in Portugal iets negatiefs ingehou. Die Spaanse Spoorwegpolisie het “Entrada” (in plaas van “Salida”) in ons paspoorte gestempel. Dit beteken dat ons “dos entradas”  verby is, hoewel ons eenkeer entrada het.

Ons besef toe dat ons dadelik kampeerplek toe moet gaan en dan weer inkom stad toe om die Spaanse Ambasade oor hul fout te gaan spreek.

Vanaf die stasie het ons ‘n bus na die plein Resoroudades/Restoroudades (Restauradores!) geneem, die toeristeburo besoek en weer op die bus geklim.

Die eerste busrit het al gewys dat die Portugese “bus”-tuursvermoë baie goed, dog roekeloos, is, en eons het dieselfde nou weer besef. Die strate en die winkeltjies lyk lieflik – ek kan net nie veel sien nie want ek sit met net die agterste kwart van my een boud op die stoel, die rugsak óp die stoel, in ‘n oorvol bus, terwyl ek in die omies en tannies se waterlyne vaskyk.

As die oom ons nie gesê het dat die bus wel kampeerplek toe gaan nie, het ons wraggies afgeklim:  Die bus ry alle sirkels en draaie, behalwe in die rigting waarin ons wil hê dat hy sal ry. Dit neem ons 43 minute om daar te kom.

Ons betaal, slaan tent op, bus in ambassade toe. Ons kom in, maar die oom wil ons nie help nie, dis 14:01 en die ambassade sluit 14:00. Hiervandaan is ons Suid-Afrikaanse ambassade toe, maar hulle is toe.

Toe besluit ons om “Sê” en “Castella Sao Jorge” te besoek (altwee is verniet) en dis net toe dat ALLES verander.

Ons stap in die mees karakteristieke stegies rond – poskaart-stegies, met wasgoed by die vensters, ou tannies in swart wat bo-oor die onderdeure loer, geplaveide strate, urinale aan die buitekant van geboue, malvas, en al die klas van dinge.

“Sê” se binnekant kan ek nie nou onthou nie, en dit maak ook nie saak nie, want dit was nie die hoogtepunt nie – “Castillo Sao Jorge” was by verre die hoogtepunt met ‘n lieflike uitsig oor die stad, kunstenaars, poue, watervalle en ek is SPYT ek het nie my kamera daar gehad nie.

Toe stap ons af na so ‘n klein “ontmoet-plekkie” toe, so groot rooi stoep (rooi polish) met mooi muurtjies waar die locals bymekaarkom en gesels – ook ‘n mooi uitsig oor die stad.

Ons besluit op ‘n eetplekkie naby, wat toe nie te goed lyk nie, maar gaan na ons tweede keuse wat toe ‘n baie goeie keuse blyk te wees.

‘n Tannie wat Portugees en Engels magtig is, kom help ons om te bestel en ons eet al te lekker – caldo verde, slaai, prawns, calamari, poeding en koffie – vir ‘n belaglike bedrag. (Rooiwyn – Vinho Tinto do Casa.)

Dis ‘n baie klein eetplekkie met ‘n uitsig op die kombuis – net 4 mense wat werk: 2 kook, 1 was en 1 bedien. Dit was ‘n hoogtepunt en duidelik nie ‘n toeriste-eetplek nie – dit was net locals wat daar geëet het.

Na die totale laagtepunt van die oggend, is ons nou weer op ‘n totale hoogtepunt . . .

. . . net om weer weer afgedonder te word in die allerdiepste dal van skadu’s – die laaste Bus 42 het reeds vertrek!

In ‘n vreemde land, met ‘n vreemde taal, kom ons wel by die kampeerplek uit – via Bus 15, maar toe mos ons Bus 14 neem, maar hy is ook reeds klaar. Ons vat toe Trem 15 na Alges en vandaar Bus 50.

Bus 50 laai ons weliswaar nie voor die kampeerterrein af nie en ons moet ‘n entjie stap, maar dis glad nie die ergste nie.

Ons is in een stuk tuis.

Bonnoito – thia minjah

(Boa noite – is goeie nag of goeie naand, maar wat die spelling van “thia minjah” is, weet ek nie – en wat dit beteken, kan ek ook nou nie meer onthou nie.)

21 jaar verder

Destyds val ek weg met watter lieflike drie dae ons nie in Portugal gehad het nie. Vandag val ek weg met watter lieflike drie weke ek nie ronde twee in Lissabon gehad het nie.

Toe ek uiteindelik my herbesoek begin het, was die idee om elke week ‘n dag af te handel. Dis nou seker drie weke sedert ek laas iets gepos het (dit nadat ek ‘n week lank nie so ver kon kom om die dag in Spanje te publiseer nie – die ding het in die gereedheidshouding gelê en wag, ek het dag na dag net vergeet.)

En ja, die tyd wat ek kon maak om in Europa uit te kom (want tyd krý ‘n mens nie, jy moet dit máák) was beperk – ‘n mens is besig met broodwinning ook en nie net die voeding van die siel nie – maar die feit dat ek so lekker in Portugal kuier het in hierdie lang stilte ‘n rol gespeel.

Eers kon ek nie uitgekyk raak nie, toe kon ek nie uitgelees raak nie, toe begin ek ‘n Pinterest-album, toe onthou ek dat ek nog nie op Youtube gaan inloer het nie. En soos ek nou hier sit, weet ek dat ek nog soektogte met Alfama as trefwoord moet loods, voor ek heeltemal uitgekuier gaan wees aan ons eerste dag in Portugal. (Alfama is die oudste deel van Lissabon, die stadstreek tussen die Tejo-rivier en die St Jorge-kasteel, basies die helling tussen die Se-katedraal en die kasteel, die stukkie van die stad wat ons destyds dag 1 besoek het.)

So gesê, so gedaan:  Op Pinterest is meer oor Alfama, maar hier is enkele van Alfama se katte en honde waarby ek in ‘n stadium vasgehaak het.


Dit was aanvanklik vir my vreemd dat ons die vorige keer nog in Spanje was (waar dit my nog opgeval het dat ek niks vertel van die kampeerplek nie – en eintlik onthou ek dit nog goed) en hier is ek een dag later en val weg met die verruklike drie dae in Portugal. Ek dog my dagboek skanderings is deurmekaar. Maar, nee – niks is deurmekaar nie. Ons is met die trein Spanje toe, het die dag in Spanje vertoef en toe ‘n deurnagtrein Lissabon toe geneem voor ons met ‘n deurnagtrein terug is vir die res van ons besoek aan Spanje. (Dit was goedkoper om ‘n deurnagtrein te neem, as om iewers ‘n tent op te slaan – ons Eurorail-kaartjies het daarvoor gesorg.)




Toe is dit ons en die negehonderdjaaroue katedraal. Ek het weer eens nie gefokus op die binnekant nie. Hierdie indrukwekkende, vroeg-Middeleeuse gebou, ingedruk tussen die geboue, ek wil amper sê, “in die middel van nêrens,” het my destyds tussen die oë geslaan, amper my wind uit, ook. Nou weer. Dis amper onwerklik. En ek kan maar sê “in die middel van nêrens” want daar is niks soortgelyk aan die katedraal, of uit dieselfde tyd, in die onmiddellike gedeelte van die katedraal nie. Daar is niks wat jou op die katedraal voorberei nie, geen groot kerkplein of meent nie – jy stap nog so, heuwel op, met die relatiewe nou pad op, en dan skielik, om ‘n draai, staan hy daar, stewig geplant, vir amper 1000 jaar al.


Ons het beslis gestap, die ikoniese Trem 28 wat daar verby gaan, was ons nie beskore nie – en ek is bly, want buite die trem is daar soveel méér om te beleef. Ek het gestap waar name uit my laerskoolgeskiedenistake gestap het, Bartholomeüs Dias en Vasco da Gama. Dis hier, in hierdie einste kerk dat hul borg, Prins Hendrik die seevaarder, en die reisigers Da Gama én Dias voorspoed op die onderskeie ontdekkingsreise sou kom afbid het. En al hierdie honderde jare later stap Klein-Hansie die Backpacker daar in om te kom inloer. Met Es aan sy sy.


Die eerste wat my opgeval het, en na 21 jaar steeds amper die sterkste van Portugal bybly, is die teëlwerk. Die teëlwerk in Holland en Spanje het tot my gespreek, ek was so beïndruk, en toe, skielik, kom ek hier en waar ek dit glad nie verwag het nie, loop ek my vas in ganse mure en fasades wat, party al vir honderde jare, in hul geheel toegeteël is.

Ja, ons het dit nie verwag nie. Portugal was nie ‘n oorbekende, oorgewilde toeristebestemming in 1994 nie, ons het nie groot geword met die land wat as toeristeaantreklikheid in ons kele afgedruk is nie. Jy word groot met beelde van die Big Ben, Eiffel-toring, Toledo, Capri, die Griekse strande, noem maar op . . .  maar niks juis van Lissabon, Porto, selfs die Algarve en die res van die mooi land nie.

Ek het aangedring dat ons daar aandoen op grond van die Angolese en Portugese wat ek in SA leer ken het, die Portugese koskultuur, en die Fado waarvan ek darem so ietsie geweet het. (Nie dat ons dit kon bekostig om ‘n voet te sit waar die fado-sangers kwansuis opgetree het nie.)


Kyk dan net hoe mooi is die mure:

 Die Castelo de Sao Jorge was ‘n stukkie hemel op aarde. (Miskien ook omdat ons so bly was toe ons uiteindelik bo kom en kan asemskep! Of het ons, ons suinigheid in ons sak gesteek en die trem tot bo geneem? Ek onthou nie, en het ook nie aangeteken nie.)

Dis nie gebou as koninklike residensie nie, allermins, dit is aanvanklik gebou as ‘n fortifikasie en barakke vir soldate. Dis maar eers later jare dat dit ‘n ruk lank koninklike blyplek was, tot die een of ander aardbewing ook daaraan ‘n einde gemaak het. Maar dit maak nie saak nie – wat saak maak is die hede, en nou se dae is en bly dit ‘n verruklike bestemming om ‘n agtermiddag in deur te bring. Wonderlike vistas, wonderlike koelte en ewe wonderlike mense. Ja, dis nie net toeriste wat daar gaan asemskep nie, die plaaslike outjies pak ook daar af. 



Ek kan nie nou dadelik die Portugese geldeenheid se naam onthou nie. Escudo! En straks is die einste escudo die ander rede waarom ons Portugal so gunstig beleef het. Die rand-escudo-wisselkoers het dit daardie jare vir ons moontlik gemaak om te kan gaan uiteet – in ‘n restaurant nogal, van alle plekke! Niemand het niks gesing nie. (Miskien was daar hoogstens  iewers ‘n radio of kassetspeler in ‘n hoek.) My ma sou tien-teen-een nie eers water met ‘n strooitjie uit ‘n bottel in die plek gedrink het nie – maar vir my en Es was dit wondelik – ons het soos twee rykgatte, twee koninklikes gevoel.

Ek wens ek kan die gevoel beskryf as jy laat in die nag by die busstop op die plein gaan staan en wag en ‘n Portugese tannie in ‘n crimpelene rok kom op jou afgestap en jy kom na ‘n ruk agter dat die boodskap wat sy by jou wil tuisbring is die feit dat daar voor more-oggend nie weer ‘n bus gaan verbykom waar jy nou staan en wag nie. En jy weet jou slaapplek is 45 minute met ‘n bus uit die stad uit.

Ek onthou dit as hier waar ons die bus moes kry
en daardie nag gestaan en wag het. As dit nie hier is nie,
het dit baie so gelyk.


Wat ons daardie nag, uiteindelik by die tent gekry het, was die bietjie Frans wat Es kon praat. ‘n Franssprekende Kongolees wat uit Zaïre (ek dink nie dit was toe al die Demokratiese Republiek van die Kongo nie) het sy verloofde, ‘n verpleegster onder opleiding in Lissabon, kom besoek. Tussen sy Frans en bietjie Portugees, en Es se Frans is ons van een bus, na die volgende, na die volgende.

Ons het in ‘n stadium af moes klim waar die bus in daardie stadium vir die nag gaan slaap het, in die hoop en vertroue dat die man reg was toe by genoem het dat daar hier ‘n ruk later ‘n bus verby gaan kom wat ons wel in die omgewing van die kampeerplek sal kan aflaai.

En so waar as wraggies – daar hét.

As ek weer kan gaan, dan gaan ek weer.

Laslappies en skakels

My Pinterest-album (hierdie is die deurmekaarste, maar lieflikste van elkeen van die albums wat ek tot op datum versamel het.)
Castelo de Sao Jorge
Se


Katedraal



Castelo de Sao Jorge


Trem 28 deur Alfama


Die stad se teëls

Dinsdag 30 Augustus 2016

Dag 27 - 3 Mei 1994

3 Mei - 21 jaar vantevore









Ek voel met die intrapslag baie positief oor Spanje.

Ons word verwelkom met ‘n pragtige landskap voor Madrid – ek sien bokkies, en nie een nie, baie, wat toe later takbokkies blyk te wees.

Die ander rede was die rooi papawers orals langs die spoor wat vir jou groet so ver soos jy ry. (Dit sou later blyk dat hierdie einste binnekoms in Madrid die enigste mooi een was – al die ander entradas en salidas  het deur nywerheidsgebiede, subekonomiese woonstelbehuising en dié klas van ding, geskied – regtig nie baie aptytlik nie.)

    

Esmari is nog suur – maar dit is oor die onaangename insident in Frankryk. (Ek moes aan myself werk om positief te word – ons het trouens besluit om nie die ekstra dag in Frankryk te hê nie, maar elders.)

Madrid-stasie:  Ons pik aanvanklik verward rond – sonder geld op die stasie. Ons trek uit ons kitskaarte – voordat die rand se wisselkoers te veel versleg. Dit is vir my wonderlik om masjiene te sien waarin jy ‘n $200-noot indruk en hy wissel jou geld vir jou in Pesetas.

Chaos rondom lockers – ons het genoeg geld, maar in verkeerde munte. Ek moet toe geld gaan trek – tweede keer en ‘n Coke koop om die korrekte kleingeld te kry.

Ek trek – net daar in die locker-kamer – vir my ‘n skoon broek en hemp aan.

Nodeloos om te sê:  die eerste wat ons in Madrid doen is om Esmari se donderse pakkie wat sou nou al amper twee weke saamdra te gaan pos. Dit kos haar toe in die omgewing van R60-00 (teen R150-00 in Frankryk.)

Ek stap aan Prado toe:  en watter wonderlike ervaring was Prado toe nie.

       


Dis die eerste keer in my lewe dat ek positief voel oor ou skilderye. Die bekendste, maar bekendste goed hang hier. Goya, Velázquez, en natuurlik – my hoogtepunt:  Bosch se Garden of Delights.

Ons spandeer ‘n goeie tydjie hier. Aangesien ek min geld het, koop ek nie ‘n poster nie – dit breek my hart, maar nou ja.

Van daar gaan ons na waar Guernica hang, maar dis toe. Ons gaan toe na die Royal Palace toe, maar dis te duur en ek het in elk geval geen behoefte aan ‘n oordadige kasteel nie.

       

Ons stap deur Madrid se strate – dit val op hoe mooi die naamborde geskryf word – van die strate – sulke lieflike pottery naamborde.

Ek sien ‘n koei wat ek begeer, ek sien Lladro wat ek begeer. (Ek sien so baie wat ek begeer.) (In Spanje.)

Alles en almal siesta dan ook in die land en 14:00 toe maak bykans alles toe, tot 17:00. Ons sien honderde tradisionele Spaanse kak wat aan die toeriste verkoop word.

Ons besoek Fnac – die CD-plek – koop kos vir die aand en gaan eet heerlik aandete op so grasperkie in die middel van die stad – vino.

Middagete was by ‘n pleintjie in die stad by ‘n waterval.

21 jaar verder

       


21 jaar verder kan ek my nie voorstel van watter Lladro ek destyds sou gehou het nie, ook nie waffer koei so sterk tot my kon gespreek het nie. Die koeie is 21 jaar verder redelik algemeen hier by ons - ek verbeel my die goed word selfs al van Sjina ingevoer, maar destyds, 1994, was dit ongesiens in die republiek en beslis redelik eksklusief.

Lladro is nou ook die hele land vol, maar daardie jare is die enigste Lladro wat ek geken het, Lladro wat besoekers van oorsee ingebring het. Ek was van skooldae af harlekyn-beheb en ons in ons tweede jaar op universiteit met die Commedia Del'Arte te doen gekry het, nog meer. So ek vermoed my hart sou met 'n punt na die harlekyne toe gestaan het.

My broer-hulle had een so harlekyn vir een van die kinders die land ingebring, en ek was o so mal oor die ding. Toe hulle Kaap toe getrek het, is die outjie in 'n pakkamer gepak. My hart het gebreek en seker vir tien jaar gebrand van begeerte elke keer as ek in die pakkamer gekom het om wyn of iets te gaan haal.

          



Wat ek wel deeglik onthou, is die treinrit Madrid toe – en die rooi papawers soos gister. Dit was nie ‘n rooi veld vol blomme nie. Wanneer dit daar in volle blom is, weet ek nie, maar ek weet Mei was te laat of te vroeg vir die lappe en lappe rooi. Ek onthou lieflike spikkels rooi.

Ek kry sommer heimwee as ek terugdink aan die pakkie wat toe uiteindelik gepos is. En dit wás toe die moeite werd om te wag – dit was toe baie goedkoper.

Die een ding wat die herbesoek aan my bewys het, is hoe bedrieglik ‘n mens se geheue kan wees. In Dick Swaab se boek, Ek is my brein: Van baarmoeder tot Alzheimer, het ek moes lees dat die brein selektief onthou, nie huiwer om die geheue in te span (en te plooi) soos dit hom pas nie, en jou sonder om te blik of te bloos lekker ‘n rat voor die oë kan draai.

Maar ek het die man met ‘n knippie sout opgeneem, myself wysgemaak hy gesels hy dik sommer aan.

Ek is weer eens verkeerd bewys; professor Swaab reg.

 
 


Ek onthou Prado as ‘n volslae hoogtepunt, ek onthou my gaan staan voor El Bosco (soos die Spanjaarde na Boch veryws) se “Tuin ter Lusten” (Nederlands se lieflike vertaling van die Engelse “Garden of earthly delights”) asof dit gister was.

Ek het al male sonder tal weer in my geestesoog gestap en regs gekyk en my oog op die triptiek gelê. Dit was ongelooflik, onglobaar, ondenkbaar, onwerklik.

Dit was een van daardie oomblikke wat ek myself nooit kon voorstel nie, een van daardie belewenisse wat ek nooit gedink het moontlik sal wees nie – dis presies soos die oomblik toe ek dag een van die toer in Londen in die National Gallery se Post-Impressionistiese saal instap en ek, in lewende lywe, voor ‘n Van Gogh (ook in lewende, trouens lewendiger, lywe) staan.

Haai, en toe ek nou via die museum se webwerf weer ‘n ogie gaan gooi, is die triptiek soveel groter as wat ek dit onthou. En ook nie sommer net groter nie, ‘n goeie twee en selfs drie keer groter.

Ek het, elke keer die laaste klompie jare as ek die besoek in die herinnering roep, ‘n heelwat kleiner skildery onthou – my brein het, elke keer die laaste klompie jare as ek die besoek in die herinnering roep, ‘n veel kleiner skildery vir my opgetoor. Lag-lag omtrent ‘n derde van die grootte wat die skildery in werklikheid is.

Ek was só verbaas, en het soveel kleiner onthou, dat ek begin wonder het of ek nie aan ‘n ander skildery gedink het nie. Maar dit is nie so nie.

Toe ek nou op foto’s van mense voor die skildery afkom, had ek geen deja vu nie, ek had eerder ‘n kortsluiting van die een of ander aard.

Wat my die besigste gehou het, of sal ek sê wié my die besigste gehou het, is Aglaia, Euphrosyne en Thalia, onderskeidelik die draers van skoonheid, vreugde en geluk, in Rubens se skilderye van die drie, The Three Graces.

Hierdie drie susters was vir die antieke Grieke die verpersoonliking van menslike skoonheid, afronding en verfyndheid - en dis ook hoe hulle vir eeue uitgebeeld is. (Dit sal my nie verbaas as hierdie drie, naas natuurlik die Madonna en Kind, vir jare die mees populêre onderwerp in Westerse kuns was nie.)

Ek had geen idee hoe om in Afrikaans na dié drie dames te verwys nie. “Die drie grasies” sou beslis nie deug nie. Die Nederlanders praat van “De drie gratiën”, maar dit bring my ook nergens nie.

Danksy Sophia Kapp, hooftaaladviseur by  VIVA (Virtuele Instituut Vir Afrikaans) weet ek nou dat dit “Die drie grasieë” is.

 

 


Oordink ons die stereotiepe uitbeelding van die vrouefiguur in ons huidige eeu, danksy die media ook ons persepsies en opvattings oor hoe ‘n vrou wat vrou wil wees, moet lyk, en ons vergelyk dit met Rubens se uitbeelding van die drie vrouens, dan voel dit my of ons meer as net amper 400 van mekaar verwyderd is.

Dis nie ons wat bevry is nie, dis Rubens en sy tydgenote wat bevry was! Die gevangenis het later gekom. Ons is die outjies wat vasgevang, beperk en ingeperk is.

Ek onthou van skooldae in die kunsjuffrou se klas dat Rubens lief was vir die voller figuur, maar hóé vol, moes my ontgaan het.

Dat sy tweede vrou (die sestienjarige meisie, presies so oud soos sy oudste van drie kinders by sy oorlee eerste vrou, wat hy op ouderdom van 53 trou) die hoofbron van inspirasie vir hierdie voller figure was, is ook vir my nuus.

So ook die feit dat die ou bok in die volgende tien jaar vyf kinders by die jong blaartjie verwek het – die jongste Rubensie het enkele maande na die pappa se afsterwe op 63, eers die eerste lewenslig aanskou.

Na ek toe heerlik in die geselskap van Rubens en sy tydgenote in die Prado gekuier het, wou ek summier ‘n Pinterest-album rondom die drie grasieë begin – sommer om te kyk hoe die verskillende tye se uitbeeldings van hulle, as verteenwoordigers van die vrouefiguur, gewissel het.

Groot was my teleurstelling, toe ek gaan loer of so iets al gedoen is en of ek nie dalk die eerste een is wat met so ‘n oulike idee vorendag kom nie, om te sien die kuberruim is vervuil van Pinterest-blaaie wat presies dit doen. (Ek het ophou tel by 72 – en dit net in Engels!)

Maar toe kuier ek éérs lekker.

Aanvanklik begin ek by die drie grasieë, toe enige iets wat aan hulle sou kon herinner, later sommer enige drie vrouens en in ‘n stadium selfs drie swart rawe!

Waar ons daardie aand kampeer het, weet ek nie! Ek verbeel my dit was naby die lughawe en dat ons vreeslik ver moes gestap het na die naaste bushalte. Ek kan nie glo ek het geen, maar geen, aantekening oor die verblyf gemaak nie.

Laslappies en skakels

Drie Grasieë
Prado (dit gaan hier, terloops, nie veel anders as in Frankryk nie - die Engels hou gou op.)

Hierdie webwerf wat fokus op skilderye wat Rubens en Jan Brueghel gesamentelik geskilder het, was vir my baie interessant.