4 Mei 21 jaar vantevore
Wat ‘n lieflike 3 dae het ons nie in Portugal gehad nie. Ek
sal “vir tyd en ewigheid” (soos Es sal sê) ‘n aanhanger van Portugal en die
Portugese wees.
Lisboa was regtig die stad met die meeste persoonlikheid en
karakter, en die Portugese is die mees hulpvaardige, én vriendelikste mense wat
ons tot op datum nog teëgekom het.
En eintlik het ons aankoms in Portugal iets negatiefs
ingehou. Die Spaanse Spoorwegpolisie het “Entrada” (in plaas van “Salida”) in
ons paspoorte gestempel. Dit beteken dat ons “dos entradas” verby is, hoewel ons eenkeer entrada het.
Ons besef toe dat ons dadelik kampeerplek toe moet gaan en
dan weer inkom stad toe om die Spaanse Ambasade oor hul fout te gaan spreek.
Vanaf die stasie het ons ‘n bus na die plein Resoroudades/Restoroudades
(Restauradores!) geneem, die toeristeburo besoek en weer op die bus geklim.
Die eerste busrit het al gewys dat die Portugese
“bus”-tuursvermoë baie goed, dog roekeloos, is, en eons het dieselfde nou weer
besef. Die strate en die winkeltjies lyk lieflik – ek kan net nie veel sien nie
want ek sit met net die agterste kwart van my een boud op die stoel, die rugsak
óp die stoel, in ‘n oorvol bus, terwyl ek in die omies en tannies se waterlyne
vaskyk.
As die oom ons nie gesê het dat die bus wel kampeerplek toe
gaan nie, het ons wraggies afgeklim: Die
bus ry alle sirkels en draaie, behalwe in die rigting waarin ons wil hê dat hy
sal ry. Dit neem ons 43 minute om daar te kom.
Ons betaal, slaan tent op, bus in ambassade toe. Ons kom in,
maar die oom wil ons nie help nie, dis 14:01 en die ambassade sluit 14:00.
Hiervandaan is ons Suid-Afrikaanse ambassade toe, maar hulle is toe.
Toe besluit ons om “Sê” en “Castella Sao Jorge” te besoek
(altwee is verniet) en dis net toe dat ALLES verander.
Ons stap in die mees karakteristieke stegies rond –
poskaart-stegies, met wasgoed by die vensters, ou tannies in swart wat bo-oor
die onderdeure loer, geplaveide strate, urinale aan die buitekant van geboue,
malvas, en al die klas van dinge.
“Sê” se binnekant kan ek nie nou onthou nie, en dit maak ook
nie saak nie, want dit was nie die hoogtepunt nie – “Castillo Sao Jorge” was by
verre die hoogtepunt met ‘n lieflike uitsig oor die stad, kunstenaars, poue,
watervalle en ek is SPYT ek het nie my kamera daar gehad nie.
Toe stap ons af na so ‘n klein “ontmoet-plekkie” toe, so
groot rooi stoep (rooi polish) met mooi muurtjies waar die locals
bymekaarkom en gesels – ook ‘n mooi uitsig oor die stad.
Ons besluit op ‘n eetplekkie naby, wat toe nie te goed lyk
nie, maar gaan na ons tweede keuse wat toe ‘n baie goeie keuse blyk te wees.
‘n Tannie wat Portugees en Engels magtig is, kom help ons om
te bestel en ons eet al te lekker – caldo verde, slaai, prawns, calamari,
poeding en koffie – vir ‘n belaglike bedrag. (Rooiwyn – Vinho Tinto do Casa.)
Dis ‘n baie klein eetplekkie met ‘n uitsig op die kombuis –
net 4 mense wat werk: 2 kook, 1 was en 1 bedien. Dit was ‘n hoogtepunt en
duidelik nie ‘n toeriste-eetplek nie – dit was net locals wat daar geëet het.
Na die totale laagtepunt van die oggend, is ons nou weer op
‘n totale hoogtepunt . . .
. . . net om weer weer afgedonder te word in die
allerdiepste dal van skadu’s – die laaste Bus 42 het reeds vertrek!
In ‘n vreemde land, met ‘n vreemde taal, kom ons wel by die
kampeerplek uit – via Bus 15, maar toe mos ons Bus 14 neem, maar hy is ook
reeds klaar. Ons vat toe Trem 15 na Alges en vandaar Bus 50.
Bus 50 laai ons weliswaar nie voor die kampeerterrein
af nie en ons moet ‘n entjie stap, maar dis glad nie die ergste nie.
Ons is in een stuk tuis.
Bonnoito – thia minjah
(Boa noite – is goeie nag of goeie naand, maar wat die
spelling van “thia minjah” is, weet ek nie – en wat dit beteken, kan ek ook nou
nie meer onthou nie.)
21 jaar verder
Destyds val ek weg met watter lieflike drie dae ons nie in
Portugal gehad het nie. Vandag val ek weg met watter lieflike drie weke ek nie
ronde twee in Lissabon gehad het nie.
Toe ek uiteindelik my herbesoek begin het, was die idee om
elke week ‘n dag af te handel. Dis nou seker drie weke sedert ek laas iets
gepos het (dit nadat ek ‘n week lank nie so ver kon kom om die dag in Spanje te
publiseer nie – die ding het in die gereedheidshouding gelê en wag, ek het dag
na dag net vergeet.)
En ja, die tyd wat ek kon maak om in Europa uit te kom (want
tyd krý ‘n mens nie, jy moet dit máák) was beperk – ‘n mens is besig met
broodwinning ook en nie net die voeding van die siel nie – maar die feit dat ek
so lekker in Portugal kuier het in hierdie lang stilte ‘n rol gespeel.
Eers kon ek nie uitgekyk raak nie, toe kon ek nie uitgelees
raak nie, toe begin ek ‘n Pinterest-album, toe onthou ek dat ek nog nie op
Youtube gaan inloer het nie. En soos ek nou hier sit, weet ek dat ek nog
soektogte met Alfama as trefwoord moet loods, voor ek heeltemal uitgekuier gaan
wees aan ons eerste dag in Portugal. (Alfama is die oudste deel van Lissabon,
die stadstreek tussen die Tejo-rivier en die St Jorge-kasteel, basies die
helling tussen die Se-katedraal en die kasteel, die stukkie van die stad wat
ons destyds dag 1 besoek het.)
So gesê, so gedaan: Op Pinterest is meer oor Alfama, maar hier is enkele van Alfama se katte en
honde waarby ek in ‘n stadium vasgehaak het.
Dit was aanvanklik vir my vreemd dat ons die vorige keer nog
in Spanje was (waar dit my nog opgeval het dat ek niks vertel van die
kampeerplek nie – en eintlik onthou ek dit nog goed) en hier is ek een dag
later en val weg met die verruklike drie dae in Portugal. Ek dog my dagboek
skanderings is deurmekaar. Maar, nee – niks is deurmekaar nie. Ons is met die
trein Spanje toe, het die dag in Spanje vertoef en toe ‘n deurnagtrein Lissabon
toe geneem voor ons met ‘n deurnagtrein terug is vir die res van ons besoek aan
Spanje. (Dit was goedkoper om ‘n deurnagtrein te neem, as om iewers ‘n tent op
te slaan – ons Eurorail-kaartjies het daarvoor gesorg.)
Toe is dit ons en die negehonderdjaaroue katedraal. Ek het
weer eens nie gefokus op die binnekant nie. Hierdie indrukwekkende, vroeg-Middeleeuse
gebou, ingedruk tussen die geboue, ek wil amper sê, “in die middel van nêrens,”
het my destyds tussen die oë geslaan, amper my wind uit, ook. Nou weer. Dis
amper onwerklik. En ek kan maar sê “in die middel van nêrens” want daar is niks
soortgelyk aan die katedraal, of uit dieselfde tyd, in die onmiddellike
gedeelte van die katedraal nie. Daar is niks wat jou op die katedraal voorberei
nie, geen groot kerkplein of meent nie – jy stap nog so, heuwel op, met die
relatiewe nou pad op, en dan skielik, om ‘n draai, staan hy daar, stewig
geplant, vir amper 1000 jaar al.
Ons het beslis gestap, die ikoniese Trem 28 wat daar verby
gaan, was ons nie beskore nie – en ek is bly, want buite die trem is daar
soveel méér om te beleef. Ek het gestap waar name uit my laerskoolgeskiedenistake gestap
het, Bartholomeüs Dias en Vasco da Gama. Dis hier, in hierdie einste kerk dat hul
borg, Prins Hendrik die seevaarder, en die reisigers Da Gama én Dias voorspoed
op die onderskeie ontdekkingsreise sou kom afbid het. En al hierdie honderde jare later stap Klein-Hansie
die Backpacker daar in om te kom inloer. Met Es aan sy sy.
Die eerste wat my opgeval het, en na 21 jaar steeds amper
die sterkste van Portugal bybly, is die teëlwerk. Die teëlwerk in Holland en
Spanje het tot my gespreek, ek was so beïndruk, en toe, skielik, kom ek hier en
waar ek dit glad nie verwag het nie, loop ek my vas in ganse mure en fasades
wat, party al vir honderde jare, in hul geheel toegeteël is.
Ja, ons het dit nie verwag nie. Portugal was nie ‘n
oorbekende, oorgewilde toeristebestemming in 1994 nie, ons het nie groot geword
met die land wat as toeristeaantreklikheid in ons kele afgedruk is nie. Jy word
groot met beelde van die Big Ben, Eiffel-toring, Toledo, Capri, die Griekse
strande, noem maar op . . . maar niks juis
van Lissabon, Porto, selfs die Algarve en die res van die mooi land nie.
Ek het aangedring dat ons daar aandoen op grond van die
Angolese en Portugese wat ek in SA leer ken het, die Portugese koskultuur, en
die Fado waarvan ek darem so ietsie geweet het. (Nie dat ons dit kon bekostig
om ‘n voet te sit waar die fado-sangers kwansuis opgetree het nie.)
Kyk dan net hoe mooi is die mure:
Die Castelo de Sao Jorge was ‘n stukkie hemel op aarde. (Miskien ook omdat ons so bly was toe ons uiteindelik bo kom en kan asemskep! Of het ons, ons suinigheid in ons sak gesteek en die trem tot bo geneem? Ek onthou nie, en het ook nie aangeteken nie.)
Die Castelo de Sao Jorge was ‘n stukkie hemel op aarde. (Miskien ook omdat ons so bly was toe ons uiteindelik bo kom en kan asemskep! Of het ons, ons suinigheid in ons sak gesteek en die trem tot bo geneem? Ek onthou nie, en het ook nie aangeteken nie.)
Dis nie gebou as koninklike residensie nie, allermins, dit is
aanvanklik gebou as ‘n fortifikasie en barakke vir soldate. Dis maar eers later
jare dat dit ‘n ruk lank koninklike blyplek was, tot die een of ander
aardbewing ook daaraan ‘n einde gemaak het. Maar dit maak nie saak nie – wat saak
maak is die hede, en nou se dae is en bly dit ‘n verruklike bestemming om ‘n
agtermiddag in deur te bring. Wonderlike vistas, wonderlike koelte en ewe
wonderlike mense. Ja, dis nie net toeriste wat daar gaan asemskep nie, die
plaaslike outjies pak ook daar af.
Ek kan nie nou dadelik die Portugese geldeenheid se naam onthou nie. Escudo! En straks is die einste escudo die ander rede waarom ons Portugal so gunstig beleef het. Die rand-escudo-wisselkoers het dit daardie jare vir ons moontlik gemaak om te kan gaan uiteet – in ‘n restaurant nogal, van alle plekke! Niemand het niks gesing nie. (Miskien was daar hoogstens iewers ‘n radio of kassetspeler in ‘n hoek.) My ma sou tien-teen-een nie eers water met ‘n strooitjie uit ‘n bottel in die plek gedrink het nie – maar vir my en Es was dit wondelik – ons het soos twee rykgatte, twee koninklikes gevoel.
Ek wens ek kan die gevoel beskryf as jy laat in die nag by die busstop op die plein gaan staan en wag en ‘n Portugese tannie in ‘n crimpelene rok kom op jou afgestap en jy kom na ‘n ruk agter dat die boodskap wat sy by jou wil tuisbring is die feit dat daar voor more-oggend nie weer ‘n bus gaan verbykom waar jy nou staan en wag nie. En jy weet jou slaapplek is 45 minute met ‘n bus uit die stad uit.
Ek onthou dit as hier waar ons die bus moes kry en daardie nag gestaan en wag het. As dit nie hier is nie, het dit baie so gelyk. |
Wat ons daardie nag, uiteindelik by die tent gekry het, was die bietjie Frans wat Es kon praat. ‘n Franssprekende Kongolees wat uit Zaïre (ek dink nie dit was toe al die Demokratiese Republiek van die Kongo nie) het sy verloofde, ‘n verpleegster onder opleiding in Lissabon, kom besoek. Tussen sy Frans en bietjie Portugees, en Es se Frans is ons van een bus, na die volgende, na die volgende.
Ons het in ‘n stadium af moes klim waar die bus in daardie stadium vir die nag gaan slaap het, in die hoop en vertroue dat die man reg was toe by genoem het dat daar hier ‘n ruk later ‘n bus verby gaan kom wat ons wel in die omgewing van die kampeerplek sal kan aflaai.
En so waar as wraggies – daar hét.
As ek weer kan gaan, dan gaan ek weer.
Laslappies en skakels
My Pinterest-album (hierdie is die deurmekaarste, maar lieflikste van elkeen van die albums wat ek tot op datum versamel het.)
Castelo de Sao Jorge
Se
Katedraal
Castelo de Sao Jorge
Trem 28 deur Alfama
Die stad se teëls
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking