Dinsdag 03 April 2018

Dag 34 - 10 Mei 1994

9 Mei - 21 jaar van te vore

(netjies oorgetik... bla-bla-bla... my handskrif nie kan lees nie...)






Ag, ek sou so graag ‘n Picasso-agtige gesiggie teken, maar dit is my helaas nie beskore nie.

Hierdie dag begin nie te wonderlik nie – die tent is sopwaternat, en so ook ons handdoeke. Maar dit sal maar moet – ons gaan beslis nie nog ‘n dag in Barcelona bly nie.

Ons stap oulaas die drie kilometer (mooiweer en geen reën nie) en sluit ons bagasie in die sluitkassies toe.

Ek en Es verdeel – sy gaan na een of ander katedraal (‘n kerk is ‘n kerk is ‘n kerk) en ek gaan na die Picasso-uitstalling.

Dit is ‘n permanente uitstalling/museum en ek sien nogal uit daarna. Die pad soheentoe gaan deur smal en nou, besige strate waardeur motors sowaar probeer ry.

(Ek kom duidelik agter waarom die Europeërs so lief vir klein karretjies is.)

Geen Picasso-uitstalling sal ooit weer iets wees na Londen nie, maar dié een het ek regtig geniet. Ek het hier, vir die eerste keer, gekry van sy etse en sketse, en nie net skilderye en erdewerk nie.

Daar was geen world famous skilderye nie – met enkele uitsonderings, maar dit was die moeite werd.

Picasso was aan die begin van sy loopbaan in Barcelona en daar is gevolglik baie van sy eerste werke wat baie mooi en interessant is.

Ek kan 10F betaal vir die uitstalling, of 15F vir die Picasso- en ‘n gasuitstalling oor die Russiese Avant Garde-skilders. Nodeloos om te sê dat ek toe maar die 15 uithaal en geensins spyt was nie. Ek sal onthou dat ek baie van die Kadinskys gehou het.

Dis nog te vroeg vir my om Es op die stasie te ontmoet en ek loop deur die koopstraatjies – baie lekker – voor ek my weg vind stasie toe waar ek Es ontmoet. Die trein vat ons Figueres toe, en dan kry ons hom weer ½ 10 die aand, Nice toe.

Die trein is nie so laat soos die vorige dag Figueres toe nie, en ek kry nie geleentheid om dagboek te skryf nie.

Daar aangekom, is ons haastig museum toe want dit maak vyf vyftien toe en dis al oor drie.

Die Dali-museum was, retrospektief gesien, baie opwindend en mooi. Die dag daar, het ek nie daarvan gehou nie en was ek nogal teleurgesteld, maar nou dat ek terugdink, raak ek nogal opgewonde.

Dit is ‘n teater wat Dali surrealisties in sy eie paradys omskep het. Ek het die Mae West-teater beleef en talle ander wonderlike dinge ervaar.

Dit het my opgeval dat die Es die besoek nogal geniet het. Ek kon niks bekostig as memento nie, maar daar was gelukkig ook niks wat ek vreeslik graag wou koop nie.

Hierna pik ons verward rond. Es besluit met verloop van 20 minute om vir haar ‘n teelepel te koop en ons kyk uit vir ‘n plek om te eet – wat ons toe ook kry.

Ons eet paella, drink Sangria en eet Catalunya cream (Katalaanse room). Dis maar ‘n crème caramel, net so bietjie anders.

Ons klim op die trein tot op Cerbere, waar ons oorklim op die een na Nice, en is gelukkig genoeg om ‘n kompartement vir onsself te kry, vir die hele nag.

(Blaai om, om te sien waarom dié gelukkig, amper “ongelukkig” was.)

10 Mei - 21 (nou ook al 24) jaar verder

Dat ek my herbesoek meer as 'n jaar op die ys geplaas het, hou hoofsaaklik verband met die feit dat ons lank sonder genoeg, gemaklike, en toegangklike internet was, maar die Picasso-museum in Barcelona speel 'n groot rol.

Ek lees:  "Die pad soheentoe gaan deur smal en nou, besige strate waardeur motors sowaar probeer ry. (Ek kom duidelik agter waarom die Europeërs so lief vir klein karretjies is.)"

Maar die eerste foto's van die museum, ook tweede, derde, vierde, dwarsdeur tot twee-en-twintigste, teken 'n ander prentjie:

  



Waar is die smal straatjie? Ek lees nie net van die smal straatjie nie, ek onthou die smal straatjie - asof dit gister was. Ek was beslis nie in hierdie Barok-paleis van 'n plek nie.

Dit kos my Google Maps toe gaan om te bevestig ek is nie van my kop af nie.

 

 


Van pure nuuskierigheid vertaal ek 'n stuk teks by een van die Barok-paleis se foto's uit Romeens, en raak baie opgewonde - die museum is teen 52 000 000 euro's gerenoveer en nou drie maal groter nadat dit vir vyf jaar gesluit was.

Ek volg die ander foto's se teks op; soortgelyke stories. Maar toe van iets in Romeens weer my oog, die opskrif van my eerste artikel:  Muzeul Picasso de la Paris se va redeschide după cinci ani de renovări.

"De la Paris", is nottedonner "de la Barcelona" - ek is op 'n dwaalspoor gelei.

En daar wip ek my so dat ek summier ophou toer.

'n Jaar later trek ek weer sukkel-sukkel weg - op hierdie dag is die internetlyne tussen Pretoria en die museum in Barcelona verroes. Gelukkig het ek reeds verlede jaar 100% besoek gebring aan die museum se grootste claim to fame:  Picasso se Las Meninhas.



Dis 'n reeks van 58 skilderye wat uit 1957 dateer - 'n herinterpretasie en omskildering van Velazquez se bekende Las Meninhas. 

Dit was nie in die geheel te siene toe ek daar was nie - dit was in Londen as deel van die Tate se laaste groot Picasso-uitstalling van die twintigste eeu (en tweede millennium). 

Ook nie ek wat na hierdie betrokke uitstalling as "the last big one of this century and millennium" verwys het nie, maar 'n Britse tannie wat opgewonde met my begin gesels het toe ons in die ry gestaan het om by die Tate se uitstalling in te gaan.

En vandag is Museu Picasso de Barcelona se claim to fame my claim to fame op Pinterest - ek is die enigste pinner met al 58 werke in een album, of op een bord, soos die pinners op Pinterest dit noem.  Loer gerus in.

Die Dali-museum was verlede jaar in die nuus toe Maria Abel Pilar, 61, Dali se oorskot (wat daar begrawe is) na 'n stryd van 10 jaar laat opgrawe het. Die man se DNA moes bewys dat sy die man se dogter, en daarom enigste wettige erfgenaam, is. 

Ongelukkig het die DNA toe nie in die guns van hierdie fortuinverteller en toekomsvoorspeller van beroep, getuig nie. (Die grafskenders kon gelukkig laat weet dat Dali se snor sedert dit in 1989 gekis is, steeds in takt is.)

My twee hoogtepunte van die museum is die Mae West installasie en 1945 Mandjie met brood.

Ek het sedert 1983 'n geraamde poskaart van die 1926 Mandjie met brood, geskilder toe Dali 22 was maar die oorspronklike is in Chicago, ek sal nooit daar kom nie. Maar in 1994 beleef ek toe die mandjie brood wat 19 jaar later geskilder is. Daar is beter en duideliker foto's beskikbaar, maar ek hou van die twee hier wat die rame ook wys. Die skilderye is immers geraam as jy in 'n museum daarna kyk.

 

En dan, natuurlik, die Mae West-teater. (Ek vermoed ek noem dit 'n teater omdat die gesig se hare my aan 'n teater se prosceniumboog herinner, want 'n teater is dit nie, bloot 'n installasie, of soos mnr Dali dit noem, "Mae West's Face which May be Used as a Surrealist Apartment."

Synde die skildery, die installasie en die sofa my al van skooldae af fassineer, was die instap deur die vrou se lokke tot op die verhoog, vir my 'n belewenis, en vandag nog die sterkste herinnering.

Hier is 'n virtuele toer van die installasie, maar 'n mens mis die goue haarlokke, so geniet maar die foto's:


         

Dalk noem ek dit 'n teater omdat Dali se skildery van die installasie aan 'n teater herinner:

 

Ek het Google-maps gefynkam opsoek na die buurt, naby die stasie, waar ons die aand gaan eet het, maar, helaas, ek spoor niks op nie. Daar is twee stasies en ek weet nie van watter een ons vertrek het nie.

Dit was nie 'n toeriste-eetplek nie, so plaaslik en onpretensieus soos die dood. (My ma sou daar nie fabriekgebottelde water gedrink het nie.) 

Ek onthou die musiek het van 'n draadloos by die kasregister gekom. 

Ons het ons Katalaanse room by 'n koffieplek nog nader aan die stasie gekoop. Ek het dit nie in die dagboek geskryf nie, maar ek onthou tot vandag toe dat dit 'n teleurstelling en grensend aan hondsleg was.

Ek weet vandag wat die verskil tussen Kataleense room en Franse crème brûlée is. Eersgenoemde word van melk, nie room nie; met mielieblom by; in 'n oond, maar nie in 'n bain-marie nie, voorberei.






Sondag 01 April 2018

Dag 35 - 11 Mei 1994

11 Mei - 21 jaar van te vore


(netjies oorgetik... bla-bla-bla... my handskrif nie kan lees nie...)






Hierdie dag begin nie te lekker nie. Ek word wakker toe die trein op ʼn stasie stop, toe die kondukteur daarna inloer om te kontroleer vir kaartjies. Ek kan nie weer slaap nie en die volgende oomblik voel ek iemand saggies peuter aan my geldsakkie. Ek gil en daar staan die ou wel gebukkend oor my. Es skrik haar kaduks en ek is ook nogal in ʼn state. Kan daarna nie weer slaap nie en kyk maar uit oor die lieflike Mediterreense see.

Die gesig is beter as wat die reisagentskapadvertensies dit altyd uitbeeld.

Ons arriveer op Nice-stasie – met ʼn lot sex shops regoorkant die stasie – en trek geld. Die koers is baie sleg – waar dit aanvanklik 100:164 was, is dit nou 100:100 en alles is skielik baie duurder as wat dit bietjie meer as ʼn week gelede was toe ons Frankryk verlaat het.

Ons budget word gesny van 164FF per dag, na 133FF per dag. Dit sou 100FF per dag gewees het, maar die masjien kan nie 300FF gee nie, net veelvoude van 200FF.

Ons loop bietjie in die dorp rond om te wag vir die Toeristeburo om oop te maak. Daar kry ons inligting oor kampeerterreine. Getrou aan Esmari (en my) aard, tob ons ʼn ½ uur oor watter een, en besluit ons op een na aan ʼn stasie waarvoor ons nie busgeld uit boef te gee nie.

Die eerste kampterrein sou R71 per persoon gekos het, maar ons settle vir die R54 een net so 100 meter verder. Dit is nie ʼn sleg terrein nie – ons kry ons eie privaat hoekie – omhein deur hedges waar ons nesmaak.

My edel geteelde reisgenoot wil eers gou gaan bad en hierdie rough diamond geniet dit ook.

Toe vat ons die trein Monaco toe – Monte Carlo, met my vooropgestelde idee dat dit die speelplek van die rykes is – en, o, dit is!

Dit is die dag voor die groot grand prix en die hele dorp is daarvoor in gereedheid gebring. Ons koop middagete by so ʼn plek waarvan die lifts op straatvlak is – in ʼn berg in – en jy dan in die uitgeholde berg jou groceries en shopping doen.

Ons eet heerlik brood en tamatie op die stellasies wat so vol gepak word die volgende dag en kyk uit oor die hawe. Dis nou tot die polisie ons op grond van sekuriteitsredes kom wegjaag. Ons gaan eet toe net voor die paviljoene en eet steeds net so lekker.

Ek vergaap my aan die luukse jagte wat intrek om die grand prix vanaf die jag se dek dop te hou.

Pat sal dit geniet om op die bote te werk – almal was (spit & polish) en ek sien ʼn ou ʼn voetbruggie met sy knipmes skoon krap.


Gelukkig loer ek nie by die casino in nie, want dit kos 50FF toegang.

Ons stap na die Niceane se interpretasie van ʼn strand en is highly disgusted.

Ons ry met ʼn lift op – kyk hier is daar publieke hysbakke in plaas van trappe en kom teen ½ 5 by die toeristeburo uit om ʼn kaart van die stad te kry.

Dit word gou duidelik dat die dag nie veel meer gaan inhou nie en ons ry terug na ons kampplek.

Die Supermarche is nog oop en ons koop sjokoladepoeding, bier en wyn vir die aand, en kos vir die volgende aand. Dié aand eet ons pasta en ratatouille, en die volgende aand suurkool en vleis soos Dominique gesê het eie aan Frankryk is.

21 jaar later


21 jaar later kry ek lekker lag vir die groot skrik. Ek onthou geen detail van die skrik nie, wel dat ons voortaan baie meer versigtig op oornagtreine was.

Ons het in ʼn stadium Esmari se sambreel met ʼn tou aan die kompartementdeur vasgemaak – op so ʼn manier dat die sambreel ter gronde neerdaal as iemand dit deur die loop van die nag sou waag om die deur skelm oop te maak.

Een nag het die sambreel luidkeels in die donkerte afgeval en ek en Es het ewe luidkeels opgespring en dadelik ʼn aanvalshouding aangeneem. Ons was verward en verskrik, maar dit was niks in vergelyking met die stomme kondukteur wat sy rondes gedoen het nie.

*** 


As ek my oë toemaak sien ek ons afstap op die storte by die kampeerterrein. Ek sien die effense opdraande daarheen, die afdak en die klein storthokkies. Daar is min kere se stort wat ek so goed onthou soos hierdie een. Miskien is dit omdat ons so laat gaan stort het. Miskien is dit omdat die storte so vreemd gebou was. Letterlik ʼn gebou met ses deure langs mekaar ingeryg, en as jy die deur oopmaak is jy in ʼn stort. Miskien is dit omdat ek van openbare onsedelikheid aangeklas sou kon word as dit nie Frankryk was waar ons, ons bevind het nie.

Van die kampeerplek skryf ek elders:



En op die volgende bladsy: 





Ek het regtig baie moeite gedoen om die kampeerplek op te spoor – juis omdat ek oggend se stort so goed onthou.

Verniet of ek iewers aan die cote d'azur ʼn kampeerplek loopafstand van ʼn stasie kan opspoor. (Teen R100-00 ʼn dag, reis, verblyf en etes ingesluit, was daar nie geld vir busvervoer ook nie!)

Ek google toe in ʼn stadium Nice + France + Camping + Industrial + area. (Sit jy nie France by nie, lees hulle “Nice camping” as “Lekker kampering” en bring dit jou nêrens uit nie.)

So waar as waaragtig kry ek ʼn stukkie teks wat uit 2007 dateer:

Camping advice required please!

My girlfriend and I are flying to Nice for the last week of July, and are planning to travel along the French Riviera, camping on the way, before flying back again.

A quick question for anyone who's done something similar:

Would we better off hiring a car?

Alternative seems to be to get buses from one town to the next, but am worried that we may not be able to get to campsites very easily this way.


ʼn Gawe ou antwoord toe:

we stayed in a camp site in Velnerve lu bur (sorry I've spelt it wrong) which is right next to the train station and was a rather nice camp site in the middle of what seemed like a industrial estate but the site it self was hidden in trees and very nice. We had a car as well but it was nice to able to use the train so we could all have a drink if we wanted

ʼn Nóg gawer ou help toe met die spelling:

Velnerve lu bur = villeneuve loubet ??????

Toe was dit maklik om twee kampeerterreine, loopdistansie van mekaar, maar ook van ʼn treinstasie af, op te spoor.

Die een is beslis te up market en tien teen een die een wat destyds die duurder een van die twee was.

Die ander een, grensend aan Industriële ontwikkeling, bestaan helaas nie meer nie – die terrein is toegebou onder behuising. Die stukkie wat nog geien word as Camping Riviera Vaugrenier dra kennisgewing van die ontwikkeling wat vir daardie lappie aarde beplan word. 



   


Toe skiet ek deur Monaco toe en gaan roep die dag voor die 1994-grand prix op. Ek kuier weer waar ons begin eet het, maar toe vriendelik verplig is om elders verder te gaan eet. 



              


Ek kyk sommer daardie jaar se grand prix op Youtube en voltooi selfs ʼn virtuele ronde of twee op die een of ander rekenaarspeletjie – die sweet tap my af.

Ek spoor midde die grand prix die plek op wat lewenslank vir my die mooiste van die stukkie van die Franse Riviera wat ek leer ken het, sal bly. Dit was daardie dag die blouste blou, die helderste helder en die soelste soel. 





Ongelukkig het ʼn hommeltuig dit nog nie vir my afgeneem nie, maar dit sal kom. Tot dan kleur my geheue dit wat Google Maps se Street View en Satelliet nie kan bied nie, in.

En toe stap ek strandlangs. Strandlangs, maar nie op die strand nie, met die promenade, langs die strand, en as daar nie promenade is nie – sommer in die pad, net nie op die strand nie.

As jy groot geword het met die suidkus se golwe, as dit jou ding is om deur Muizenberg se branders gespin en op die seebodem neergedonder te word, dan is die Franse Riviera met al sy luister, prag en praal, nie vir jou nie, en sal dit nooit wees nie.

Eerstens is daar nie branders nie – die peuterpoeletjie by Durban se goue myl had meer maritieme onrus as die ganse 3 myl kuslyn van Nice se Baai van die Engele. Trouens, ʼn teelepel in ʼn Noritake-koppie sorg vir groter golwing as die gemiddelde 50 cm verskil tussen hoog en laagwater aan die hele Franse Riviera. 



       

Tweedens spog die Baai van Engele met 25 strande waarvan 20 openbaar en 15 privaat is. 20 + 15 = 35, ek weet, maar party van die strande is sowel openbaar as privaat, party privaat strande deel hul naam met ʼn openbare strand, ander nie.

Dis maklik om te sien wat is privaat en wat nie, aangesien die privaat strande met wit heinings afgebaken is vanaf die teerpad tot amper in die water. Daar is tafels en stoele uitgepak, sonbrand stoele en sambrele, alle kleure en geure. 



   
   

Dit dan ook die rede waarom ʼn mens nie juis strandlangs kan loop nie – as jy strandlangs wil gaan, moet jy met jou voete in die water loop, jy betree plek-plek en kort-kort privaat grond, stap jy hoër op met die strand langs.

Nie dat enige mens al die pad met sy voete in die water van die begin van die baai by die lughawe, tot die einde by Hôtel la Perousé sal wil stap nie, sal kán stap nie – jou skoensole sal deurgeloop wees voor jy halfpad is.

Het jy gedink jy kan kaalvoet op die strand stap? Nee, dis nie ʼn seesandstrand nie, dis ʼn steenstrand vol spoelklippe. Jy swem met skoene aan, die restourante en hotelle lê tapyte aan tot by die water en jy lê nie op ʼn handdoek nie – as jy nie een van die privaat strande se sonbrandstoele kan bekostig nie, móét jy ʼn isoleerder vir ekstra beskerming saamneem om onder jou handdoek te gooi. 



       

    

Daar kan soveel topless beauties wees as wat daar wil wees – dit sal nie genoeg wees om die skaal in die guns van die Franse Riviera te swaai nie. 

Ongeloof oor “galets” (dis wat die Franse daardie spoelklippe noem) het gemaak dat ek een vir die volgende twee maande in my rugsak saamgedra en teruggebring het – wat daarvan geword het, weet ek nie.

Sedert 1975, tot 2005 is hierdie klippe aangery strand toe, ons praat van 558,000 m3. Dit is gedoen om die strand kunsmatig breed genoeg te hou.

Met die dat die aanry van spoelklippe (daar is drie riviere in die omtrek wat die projek gevoed het) gestaak is, kla die baaiers dat hulle deesdae hande-vier-voet en op hul knieë uit die water moet kruip om net weer uit die water en op die strand te kom.

Gevolglik skraap stootskrapers die strand deesdae soggens voor die toeriste op die strand neersak, mooi gelyk. Maar teen die tyd dat sonaanbidders opdaag, is baie daarvan, afhangende van die gety en die seisoen, weer ongedaan gemaak.


***
Maar val ek met my alie in die botter, dan gaan ek weer. Die musiek op hierdie video maak my die voetseer vergeet:


Maar dis die oorbevolkte openbare strande vir die armgatte. As my gat die botter tref, word ek hier bedien:




Rick Steves, bekend vir sy toersitevideo's, vat my ervaring in hierdie kort video mooi saam:


Hierdie knaap sukkel nog om sy hommeltuig te bestuur, maar hy kry 'n goeie idee van die baai en die privaatstrande afgewissel met die publiekes:


Hierdie volgende video verklaar 'n Suid-Afrikaanse seeliefhebber se teleurstelling in Nice se branders. Die mater wat dit opgelaai verwys na die unieke geluid wat die branders/golwe maak as dit die spoelklippe tref. Daar is nie golwe of branders nie, hoogstens 'n minuskule deining:
Die opwinding rondom grand prix in Monte Carlo is groot. Ons het dit die volgende dag verby laat gaan, maar selfs 'n dag voor die tyd was die stad se atmosfeer gelade. Hier ry Martin Brundle waar ek op die blou see (blykbaar te danke aan die spoelklippe) verlief geraak het: