Dinsdag 03 April 2018

Dag 34 - 10 Mei 1994

9 Mei - 21 jaar van te vore

(netjies oorgetik... bla-bla-bla... my handskrif nie kan lees nie...)






Ag, ek sou so graag ‘n Picasso-agtige gesiggie teken, maar dit is my helaas nie beskore nie.

Hierdie dag begin nie te wonderlik nie – die tent is sopwaternat, en so ook ons handdoeke. Maar dit sal maar moet – ons gaan beslis nie nog ‘n dag in Barcelona bly nie.

Ons stap oulaas die drie kilometer (mooiweer en geen reën nie) en sluit ons bagasie in die sluitkassies toe.

Ek en Es verdeel – sy gaan na een of ander katedraal (‘n kerk is ‘n kerk is ‘n kerk) en ek gaan na die Picasso-uitstalling.

Dit is ‘n permanente uitstalling/museum en ek sien nogal uit daarna. Die pad soheentoe gaan deur smal en nou, besige strate waardeur motors sowaar probeer ry.

(Ek kom duidelik agter waarom die Europeërs so lief vir klein karretjies is.)

Geen Picasso-uitstalling sal ooit weer iets wees na Londen nie, maar dié een het ek regtig geniet. Ek het hier, vir die eerste keer, gekry van sy etse en sketse, en nie net skilderye en erdewerk nie.

Daar was geen world famous skilderye nie – met enkele uitsonderings, maar dit was die moeite werd.

Picasso was aan die begin van sy loopbaan in Barcelona en daar is gevolglik baie van sy eerste werke wat baie mooi en interessant is.

Ek kan 10F betaal vir die uitstalling, of 15F vir die Picasso- en ‘n gasuitstalling oor die Russiese Avant Garde-skilders. Nodeloos om te sê dat ek toe maar die 15 uithaal en geensins spyt was nie. Ek sal onthou dat ek baie van die Kadinskys gehou het.

Dis nog te vroeg vir my om Es op die stasie te ontmoet en ek loop deur die koopstraatjies – baie lekker – voor ek my weg vind stasie toe waar ek Es ontmoet. Die trein vat ons Figueres toe, en dan kry ons hom weer ½ 10 die aand, Nice toe.

Die trein is nie so laat soos die vorige dag Figueres toe nie, en ek kry nie geleentheid om dagboek te skryf nie.

Daar aangekom, is ons haastig museum toe want dit maak vyf vyftien toe en dis al oor drie.

Die Dali-museum was, retrospektief gesien, baie opwindend en mooi. Die dag daar, het ek nie daarvan gehou nie en was ek nogal teleurgesteld, maar nou dat ek terugdink, raak ek nogal opgewonde.

Dit is ‘n teater wat Dali surrealisties in sy eie paradys omskep het. Ek het die Mae West-teater beleef en talle ander wonderlike dinge ervaar.

Dit het my opgeval dat die Es die besoek nogal geniet het. Ek kon niks bekostig as memento nie, maar daar was gelukkig ook niks wat ek vreeslik graag wou koop nie.

Hierna pik ons verward rond. Es besluit met verloop van 20 minute om vir haar ‘n teelepel te koop en ons kyk uit vir ‘n plek om te eet – wat ons toe ook kry.

Ons eet paella, drink Sangria en eet Catalunya cream (Katalaanse room). Dis maar ‘n crème caramel, net so bietjie anders.

Ons klim op die trein tot op Cerbere, waar ons oorklim op die een na Nice, en is gelukkig genoeg om ‘n kompartement vir onsself te kry, vir die hele nag.

(Blaai om, om te sien waarom dié gelukkig, amper “ongelukkig” was.)

10 Mei - 21 (nou ook al 24) jaar verder

Dat ek my herbesoek meer as 'n jaar op die ys geplaas het, hou hoofsaaklik verband met die feit dat ons lank sonder genoeg, gemaklike, en toegangklike internet was, maar die Picasso-museum in Barcelona speel 'n groot rol.

Ek lees:  "Die pad soheentoe gaan deur smal en nou, besige strate waardeur motors sowaar probeer ry. (Ek kom duidelik agter waarom die Europeërs so lief vir klein karretjies is.)"

Maar die eerste foto's van die museum, ook tweede, derde, vierde, dwarsdeur tot twee-en-twintigste, teken 'n ander prentjie:

  



Waar is die smal straatjie? Ek lees nie net van die smal straatjie nie, ek onthou die smal straatjie - asof dit gister was. Ek was beslis nie in hierdie Barok-paleis van 'n plek nie.

Dit kos my Google Maps toe gaan om te bevestig ek is nie van my kop af nie.

 

 


Van pure nuuskierigheid vertaal ek 'n stuk teks by een van die Barok-paleis se foto's uit Romeens, en raak baie opgewonde - die museum is teen 52 000 000 euro's gerenoveer en nou drie maal groter nadat dit vir vyf jaar gesluit was.

Ek volg die ander foto's se teks op; soortgelyke stories. Maar toe van iets in Romeens weer my oog, die opskrif van my eerste artikel:  Muzeul Picasso de la Paris se va redeschide după cinci ani de renovări.

"De la Paris", is nottedonner "de la Barcelona" - ek is op 'n dwaalspoor gelei.

En daar wip ek my so dat ek summier ophou toer.

'n Jaar later trek ek weer sukkel-sukkel weg - op hierdie dag is die internetlyne tussen Pretoria en die museum in Barcelona verroes. Gelukkig het ek reeds verlede jaar 100% besoek gebring aan die museum se grootste claim to fame:  Picasso se Las Meninhas.



Dis 'n reeks van 58 skilderye wat uit 1957 dateer - 'n herinterpretasie en omskildering van Velazquez se bekende Las Meninhas. 

Dit was nie in die geheel te siene toe ek daar was nie - dit was in Londen as deel van die Tate se laaste groot Picasso-uitstalling van die twintigste eeu (en tweede millennium). 

Ook nie ek wat na hierdie betrokke uitstalling as "the last big one of this century and millennium" verwys het nie, maar 'n Britse tannie wat opgewonde met my begin gesels het toe ons in die ry gestaan het om by die Tate se uitstalling in te gaan.

En vandag is Museu Picasso de Barcelona se claim to fame my claim to fame op Pinterest - ek is die enigste pinner met al 58 werke in een album, of op een bord, soos die pinners op Pinterest dit noem.  Loer gerus in.

Die Dali-museum was verlede jaar in die nuus toe Maria Abel Pilar, 61, Dali se oorskot (wat daar begrawe is) na 'n stryd van 10 jaar laat opgrawe het. Die man se DNA moes bewys dat sy die man se dogter, en daarom enigste wettige erfgenaam, is. 

Ongelukkig het die DNA toe nie in die guns van hierdie fortuinverteller en toekomsvoorspeller van beroep, getuig nie. (Die grafskenders kon gelukkig laat weet dat Dali se snor sedert dit in 1989 gekis is, steeds in takt is.)

My twee hoogtepunte van die museum is die Mae West installasie en 1945 Mandjie met brood.

Ek het sedert 1983 'n geraamde poskaart van die 1926 Mandjie met brood, geskilder toe Dali 22 was maar die oorspronklike is in Chicago, ek sal nooit daar kom nie. Maar in 1994 beleef ek toe die mandjie brood wat 19 jaar later geskilder is. Daar is beter en duideliker foto's beskikbaar, maar ek hou van die twee hier wat die rame ook wys. Die skilderye is immers geraam as jy in 'n museum daarna kyk.

 

En dan, natuurlik, die Mae West-teater. (Ek vermoed ek noem dit 'n teater omdat die gesig se hare my aan 'n teater se prosceniumboog herinner, want 'n teater is dit nie, bloot 'n installasie, of soos mnr Dali dit noem, "Mae West's Face which May be Used as a Surrealist Apartment."

Synde die skildery, die installasie en die sofa my al van skooldae af fassineer, was die instap deur die vrou se lokke tot op die verhoog, vir my 'n belewenis, en vandag nog die sterkste herinnering.

Hier is 'n virtuele toer van die installasie, maar 'n mens mis die goue haarlokke, so geniet maar die foto's:


         

Dalk noem ek dit 'n teater omdat Dali se skildery van die installasie aan 'n teater herinner:

 

Ek het Google-maps gefynkam opsoek na die buurt, naby die stasie, waar ons die aand gaan eet het, maar, helaas, ek spoor niks op nie. Daar is twee stasies en ek weet nie van watter een ons vertrek het nie.

Dit was nie 'n toeriste-eetplek nie, so plaaslik en onpretensieus soos die dood. (My ma sou daar nie fabriekgebottelde water gedrink het nie.) 

Ek onthou die musiek het van 'n draadloos by die kasregister gekom. 

Ons het ons Katalaanse room by 'n koffieplek nog nader aan die stasie gekoop. Ek het dit nie in die dagboek geskryf nie, maar ek onthou tot vandag toe dat dit 'n teleurstelling en grensend aan hondsleg was.

Ek weet vandag wat die verskil tussen Kataleense room en Franse crème brûlée is. Eersgenoemde word van melk, nie room nie; met mielieblom by; in 'n oond, maar nie in 'n bain-marie nie, voorberei.






Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking