Maandag 27 Februarie 2017

Dag 31 - 7 Mei 1994


7 Mei - 21 jaar vantevore







Die trein het ons op die stasie afgelaai, en dit was heerlik om op ‘n stasie aan te kom en nie verward rond te pik nie. Ons het dadelik geweet waar alles was, ons goed gaan toesluit en na die Guernica-museum gegaan.

(Iets met Sofia te doen, blykbaar hul koningin en Es is baie gesteld op die regte name van die goed – maar wat my betref, was dit die Guernica-museum.)

Dit was weer eens vir my heerlik om in ‘n museum te stap waar ek weet my ma ook was – sy het vir my ‘n memento van die museum gebring.

Ons spandeer die tyd daar tot ons die trein na Toledo moes haal.

Ek sal die museum onthou vir sy modernistiese en kubistiese beelde wat lieflik was. Guernica, blykbaar geleen aan die VSA, maar moes terugkom sodra daar vrede is en in die Prado hang. Hy hang nie in die Prado nie, maar nou-ja.

Ons kom ook in kontak met “konsepsuele” kuns. (Verskoon my terminologie.) Ek sien onder andere die stoel met die kaas op (Jeromy Iemand.) En Stan Douglas se kamer uitgevoer met die tapyte. Ons sien ook ‘n stilprent met ‘n jolenklavier wat self speel. (Evenwel heel vreemd en raar.)

Hierna gaan ons Toledo wat ‘n wonderlike ervaring was. Portugal het so ‘n bietjie van die stad se donder gesteel, maar ons het dit regtig baie geniet. ‘n Mens kan maklik ‘n dag lank daar ronddwaal.


   


Die eerste wat ons besoek is die Toledo-katedraal. (Na die siësta.) Danksy, of te wyte aan, die siësta eet ons eers onder so ‘n poortjie, brood en kaas en wat ook al. Die katedraal is verruklik, oordadig, maar die gegraveerde pilare maak dit uniek. Ek koop ‘n kruisie.

Net toe ons uit is en Es ‘n foto wil neem, sak daar ‘n reënbui uit wat skrik vir niks. Maar eerder die reën as die versengende hitte wat ek met Toledo assosieer.


         


Hierna:  Museu Casa D’El Greco. Ek sien die gesigte wat hy gedoen het van die mal mense in Toledo se gestig om die 12 apostels of dissipels uit te beeld. Dit is vir my heerlik om te weet ek het uitgekom waar my ma so vreeslik graag wil ek uit moes kom.

Direk hierna doen ek aan by die kerk van Sao Tome om ‘n very famous skildery te sien – net jammer jy mag nie in die kerk in nie. Jy betaal ‘n bedrag en stap in die kamertjie in waar die skildery hang, kyk daarna en stap weer uit.


Ek koop die duurste marsepein ooit op die toer, in so ‘n skyfie, en deel dit summier met Esmari. Ons koop ‘n redelike slegte koek op pad na die dorpsplein, waar ons die bus na die stasie neem. Op die stasie verwyl ons die half uur of so voor die bus kom deur bier in die kroeg te drink. Op Atochu (?) stasie aangekom – jaag ons met die metro na die hoofstasie om betyds Barcelona toe te kan gaan.

7 Mei - 21 jaar later (nou ook al 23 jaar later)




Na ek 23 kg verloor het, het ek oor twee jaar weer 27 kilogram opgetel. 10 daarvan, is ek seker, hou verband met my herbesoek aan hierdie dag.

Want daar is ek toe lus om my eie Toledo-marsepein te maak.

Ek het soveel amandelmeel gekoop dat Klaradyn se onderwysers selfs einde verlede jaar handgemaakte marsepein as deel van hul Kerspakkie gekry het.

Watter resep ek ronde een gekies het, weet ek nou lankal nie meer nie – ons praat van einde Oktober, en toe, ronde 2, begin Desember.

In Laslappies en skakels spoeg-en-plak ek twee resepte. Die res van die amandelmeel (want steeds is dit het einde niet, gebruik ons helaas deesdae vir banting-vriendelike brood en pannekoek.


           


Hoogtepunt van 7 Mei 1994 was beslis Picasso se Guernica. Dit is dan ook die lekkerste lekker van my herbesoek ook.

Toe dit vir my duidelik word dat daar op Pinterest geen enkele  bron met elke voorafstudie wat hy in aanloop tot Guernica gemaak het, beskikbaar is nie, het ek my dit ten doel gestel om dit dan self te loop doen.

En ek het dit reggekry – ‘n Pinterest-album waarop ek baie trots is.

Dat my ma my destyds ‘n sleutelhouer van die Guerrnica terug gebring het van oorsee, is raar. My ouers was nie gaande oor die man nie. 

Het ons die Johannesburg-kunsmuseum besoek, het Judy elke keer skepties voor die museum se enigste Picasso gaan staan en elke keer gemor oor die groot bedrag wat destyds daarvoor opgedok is.

Kuier ons aan huis van Oom Moris en Tannie Faye, ‘n Joodse egpaar wat ek nie weet waar, wanneer en hoe hulle in SA aangekom het nie, is sy liries oor elke Dali, Miro, en watter twintigste-eeuse kunstenaar se werk nuut aangekoop is, maar die tweetjies se Picasso, wat ‘n hele muur gevul het, het haar (ek vermoed dit was sommer ‘n beginselsaak) koud gelaat.

Dit kon net Guernica gewees het, wat haar kop geswaai het.

Ook vir my was my eerstehandse kennismaking met Guernica ‘n volslae hoogtepunt.

Met die herbesoek, eweneens. Daar is ongelooflik baie artikels en besprekings op die internet beskikbaar. 

Ek het einde verlede jaar, na baie naleeswerk, enkele Guernica-gesentreerde aanhalings van Picasso in my werksdokument oor hierdie dag afgelaai:

"If you give a meaning to certain things in my paintings it may be very true, but it is not my idea to give this meaning. What ideas and conclusions you have got I obtained too, but instinctively, unconsciously. I make the painting for the painting. I paint the objects for what they are."

“It isn’t meant to decorate a room. It is an instrument of defensive and offensive war…”
People who try to explain pictures are usually barking up the wrong tree."

"Everyone wants to understand painting. Why not try to understand the songs of the birds?"

Die res van die Reine Sofia was net ‘n frustrasie, ‘n weke-lange frustrasie:

Filmvertoning van een van Stan Douglas se films

“Ons kom ook in kontak met “konsepsuele” kuns. (Verskoon my terminologie.) Ek sien onder andere die stoel met die kaas op (Jeromy Iemand.) En Stan Douglas se kamer uitgevoer met die tapyte. Ons sien ook ‘n stilprent met ‘n jolenklavier wat self speel. (Evenwel heel vreemd en raar.)”

Nog nooit het ‘n enkele paragrafie my so lank besig gehou soos hierdie een nie.

Ek is deur elke denkbare kunstenaar wat as Jeromy, Jeremy (en selfs Jeremia) bekend kan staan, maar geen stoel met kaas in ‘n enkele een van die honderde via die internet bereikbaar is nie.

“Jeromy Iemand” is toe niemand anders nie as Joseph Beuys, en die kaas al die tyd nie kaas nie, maar vet. 

Daar kuier ek toe ‘n week lank in dié man se geselskap. Hy kan vir jou besig hou.


           

Ook nie Stan Douglas se kamer met tapyte nie (dit kom daarvan as jy ‘n week lank wag om dagboek te hou), dis ook Joseph Beuys daai, Stan Douglas het foto’s en video’s daar gehad.

Van die vier video’s kon ek net een opgespoor kry:



Speelfilmtegnologie het so verander sedert daardie jare en vandag, dat die werk nou vreemd op die oog val. Die tweede video, 'n moet-kyk, eintlik ‘n advertensie vir ‘n app, spreek meer tot die een-en-twintigste-eeuse oog en oor:  



Wat op aarde ‘n Jodenklavier wat vanself speel, is, weet ek geensins nie. 

Ek het gedog dis dalk ‘n kasregister wat outomaties doen wat ‘n kasregister maar doen (die enigste klavier wat in die anti-Semitisme as ‘n Joodse klavier bekend staan) maar ek kon niks opspoor nie.

Vandaar toe Toledo toe! Ons was gek.

Nee, ons was nie gek nie. Ons het geweet die geleentheid sal hom nie sommer weer voordoen nie, en ge-carpe diem.

Es het die onderwys gelos en in die toerismebedryf beweeg – sy het miskien geleentheid om te kan rits; ek sal die lotto moet wen om weer daar te kom. (En om die lotto te wen, moet ek dit eers speel, iets wat ek nie doen nie.)

Van Toledo onthou ek die marsepein die beste.

En dan die teleurstelling omdat al wat van Sao Tome te sien was, El Greco se Begrafnis van Graaf Orgaz was.

Bygesê dat die Toledo-katedraal opgemaak het vir enige behoefte aan kerkgeboue wat ons kon hê.

Bygesê dat die Begrafnis van Graaf Orgaz ‘n mens die hele oggend in Toledo besig kan hou.




‘n Interessante artikel, ‘n interessante toeval, waarop ek afgekom het, handel toe oor einste twee skilderkunshoogtepunte van die dag:  Guernica en Begrafnis van Graaf Orgaz.

Met die titel, Two paintings and a sceptic, en onderskrif, A discussion of works by El Greco and Picasso, and what they can tell us about faith and the human condition, is dit regtig die moeite werd.

Die lesing is aangebied deur Lord Sutherland of Houndwood, KT FBA, Provost of Gresham College (wie hy ook al mag wees, en wat dit ook al mag beteken).

Die plek waar dit aangebied is, is nogal interessant: Gresham College was founded in 1597 and has been providing free lectures within the City of London for over 400 years.

Hulle neem sedert 1980 hul lesings op en daar is tans meer as 1 900 lesings waarna ‘n mens kan luister.
Hulle kan hier opgespoor word, en die lesing oor Picasso en El Greco se twee skilderye hier. (Maak die PDF-dokument oop. Daar is 'n Powerpoint ook, maar as jy die skilderye ken, is dit nie nodig nie.)

Ter afsluiting moet ek bely:  Ek wens ek kan iéts van die Toledo-katedraal onthou, maar alles is, helaas, vir my nuut.


Ek dink, was ek ‘n baba, het ek 7 Mei 1994 huilend gaan slaap, en sou ‘n ma gesê het: "die kind is beslis net oorgestimuleer, dis maar al."

Laslappies en skakels

Guernica

Twee video's, die eerste een nie oor Guernica nie, maar 'n manier om Picasso (enige skildery?) te ontsluit. Tweede bespreek Guernica (die meeste video's is ongelukkig in Spaans, hierdie een gelukkig nie.)



Twee besprekings van die graaf se begrafenis




Joseph Beuys

Joseph Beuys het 47 gedenkboksies met 'n opname saam met Jam Nume Paik gemaak. Die boksies is genommer soos etswerke. Dit was in herinnering aan George Maciunas. Die video is 'n opname van hul konsert.

   


El Greco






Toledo Katedraal (tweede een het Black Sabbath as agtergrondmusiek!)





Reina Sofia se onthou van die '94 uitstallings

Stan Douglas
Joseph Beuys

Marsepein

Ons marsepein het sterk hieraan herinner:


300 gr grounded almonds

300 gr confectioners sugar
2 spoon of water
1 egg white
optional: lemon peel or cinnamon (just for a different flavor)

In a bowl, mix almonds, confectioners sugar and water.  Mix it well until we get a soft and uniform paste.  Let this paste rest for a few hours.


After letting our preparation rest, we can start making little shapes like fruits, animals or angels. Now we beat the egg white until we get crops;  using a brush, we can paint the figures we already made. 


Now is the moment to bake our marzipan figures on a 200 ºC preheated oven for just two minutes, until golden brown.  Let them stand and they are ready to eat!


Hier is een sonder soveel suiker met esdoringstroop wat soet maak (hoewel ons Toledo nou verloor het)

2 cup almond flour
3-4 tablespoon maple syrup
1 teaspoon of ONE of the following: rosewater OR vanilla extract OR rum OR amaretto

Chocolate
½ cup of virgin coconut oil 
2 tablespoon maple syrup
⅓ cup unsweetened cocoa
1 cup unsweetened coconut flakes or any other topping of your choice

Instructions

In a bowl, combine almond flour, maple syrup and rosewater/vanilla extract/rum/amaretto and knead with your hands until you have a firm, sticky dough.

Pinch off about 1 tablespoon of dough to form a round, small marzipan ball.

Optional (but recommended): roll ball in coconut flakes until covered (you may have to press down gently while rolling for the flakes to stick). If you're not opposed to refined sugar, rolling them in powdered sugar is the traditional way of covering them.

Directions for chocolate coating

Slowly heat coconut oil until it begins to soften; you don't want it liquefied, just smooth.

Transfer coconut oil into a tall cup and add maple syrup and cocoa; stir until well incorporated.


Dip a marzipan ball into the chocolate (I use a spoon and my hands), pull out and immediately roll it in coconut flakes until fully covered and perfectly round. 

Set on a plate and refrigerate for at least 30 minutes.

Nog enkele van die meer konseptuele werke van Beuys wat op die uitstalling was
Ek kan darem nou al konseptuele spel, anders as die konsepsuele van destyds, maar ek is helaas nog nie seker of ek die konsep verstaan nie. 

   


Maandag 17 Oktober 2016

Dag 30 - 6 Mei 1994


6 Mei - 21 jaar vantevore








Hierdie is pretty much ons laaste dag in Portugal en teen dié tyd het Esmari al erken dat sy spyt is ons het net drie dae om hier deur te bring. (Ek het amper gesê wat ek wou maar nie heeltemal gesê wat ek wou nie.)

Ons pak op en vat ons hele pakkaas eers na die toeristeburo toe, vir inligting, en toe na Sta Apolonia waar ons dit vir die dag toesluit. Hierna kruis ons weë oor sy nie wil gaan waar ek wil gaan nie.

(Voor ek vergeet – die Portugese haan het lewendig geword om ‘n ou se onskuld te bewys – jare gelede.)

Ek gaan na die Museu Caluste Gulbenkian wat by verre die beste museum is wat ek nog besoek het. My boek praat van ‘n “tailor made” museum – ek noem dit sommer ‘n “designer museum” soos die “designer onderbroeke” wat ons in Amsterdam in die koninklike paleis gesien het.

Hierdie is ‘n privaatmuseum – blykbaar die grootste van sy soort. Dit is presies soos die Britse Museum, net een duisendste so groot.

Alles, maar soos in alles in die museum is mooi en bevredigend. 




Ek betrap myself dat ek na goed kyk waarna ek andersins nooit sou gekyk het nie. Dit sluit in, lieflike glasgoed uit Turkye, mooi ou Egiptiese beelde (twee katte en ek dink aan Barry Hough se “My kat word herfs”). Die Japannese boksies val my ook op.

Die eerste keer wat ek trouens verveeld word, is toe ek die Europese kuns tref, veral die gedeeltes rondom die sewentiende eeu en verder. Daar was baie boring meubels wat vir my vreklelik was – tog ‘n lieflike horlosie in die vorm van ‘n aardbol. Met die tyd op die ewenaar gemerk – dan draai die aardbol en ‘n engel se vingertjie dui die tyd aan.

Ek koop ook vir my twee posters, baie goedkoop, ek kan die prys na die duur posters in Spanje (Prado) nie glo nie.

Hierna gaan stap ek so ‘n bietjie in die meer moderne shopping centres. (Die een waarna ek gesoek het, spoor ek nooit op nie, maar ek kom wel by twee ander uit wat die moeite werd is.)

Die winkels is kleiner en die loopgange baie kleiner – dis duidelik dat die mense nie die ruimte het om te mors soos daar by ons nie.

Ontmoet Es by die Discovery-gedenkteken wat uitkyk op die rivier.

Gaan na monsastery, maar dis te duur.

Gaan na Belem-toring, maar dis te duur.


Gaan soek ‘n kruisie vir my, anders het ek geen kruisie nie – kry toe sommer drie of vier vir baie goedkoop.

Van hier gaan ons na die eetplekkie van twee aande tevore, maar hy maak te laat oop vir ons senuwees.

Toe na die stasie. Ons eet hier in ‘n eetplek waar my ma nie water uit ‘n bottel sal drink nie. Ons eet vis en ertappels, drink ‘n heerlike bottel rooiwyn en gaan na die stasie self vir poeding en koffie.

Die (slegte) poeding kos toe bykans R10-00 en die koffie is ook nie te hot nie.

Op die trein stempel die Spanjaarde toe nie dat ons die land in is nie en ek is redelik senuweeagtig oor ons sortida.


6 Mei - 21 Jaar verder




Nodeloos om te sê dat ek die Gulbenkian museum weer eens net soveel soos laas geniet het. Vandag, en in vergelyking met die Britse Museum, sou ‘n mens hierdie seker ‘n boetiekmuseum kon noem.

Caluste Gulbenkian se persoonlike versameling kan in die 9 kategorieë hier bo opgedeel word - dis wat die plek se webwerf doen, toe speel ek maar met dieselfde gedagte.



Ek was al gaande oor die plek, nog voor ek 'n voet binne die museum gesit het - die gebou is is klassieke Brutalisme (wat ons in Londen leer ken het). Ek het my in 'n stadium (nou, ronde twee) betrap dat ek meer buite die gebou gekuier en oplees as by en oor die die inhoud van die museum, die versameling self. Meer daaroor in die laslappies en skakels.


Die genot wat ek destyds in lewende lywe ervaar het, is presies wat ek nou op my rug, vanuit die privaatheid van my eie huis via die internet ervaar het.

Ek is duidelik nie die eerste een wat beïndruk is deur die horlosie in die vorm van 'n aardbol en klein Atlassies/gerubs wat dit soos 'n speelbal dra nie. Ek het regtig nie nodig gehad om vreeslike speurvernuf in te span ten einde die betrokke uurwerk op te spoor nie. Daar is omtrent nie iemand wat foto's van die museum op Tripadvisor aflaai, wat  nie die horlosie afgeneem het nie.

Waaroor ek nog blyer is, is die relikwieë van ivoor wat ek so goed onthou en destyds so opgetrek mee was. Ek het twee van die artefakte in die foto's hier ingewerk.

Die foto net regs van die drie seuntjies en hul aardbol, hou ook vir my spesiale herinnering in. Die rottangding bo die een tapyt, die ding wat aan 'n tennisraket herinner, had destyds my asem weggeslaan. My ma se suster, tannie Anne, had toe ek baie klein was, nog so rottang-tapytklopper in haar huis. Dit het dateer uit die dae voor stofsuiers en die matte van tyd tot tyd oor 'n draad gehang is en deeglik uitgeklop is om van alle stof ontslae te raak, alvorens dit weer huis in ingedra is.En daar loop ek toe destyds so 'n ding in Portugal in 'n museum raak.


Ek het dit nie aangeteken nie, maar ek verbeel my, ek is amper oortuig daarvan, dat Es daardie dag Cristo Rei toe is, toe besluit ek dat ek nou in die nuwe millennium die tyd het, toe gaan loer ek in by en lees bietjie op oor dit waarop destyds uitgemis het. 

Ek is weer eens bly dat ek nie heelwat vroeër begin het om via die internet herbesoek aan al die plekke van destyds te bring nie - dan sou ek nooit die voordeel van hommeltuie kon geniet nie. Hierdie nuwerige stukkies tegnologie het my die afgelope jaar darem al op plekke uitgebring wat vroeër nie so maklik sou gewees het nie.



Ek doen toe dieselfde met die Belem-toring en die klooster. Deesdae sien ek een kaartjie koop jou by beide besienswaardighede in. Dis duidelik ‘n jammerte dat ons te armgat vir die klooster wys – dit is asembenemend.



Oor die binnekant van die Belem-toring kry ek nie veel te sien en te lees nie – en as ek lees is dit telkens mense wat laat val dat die buitekant veel meer bied om oor huis toe te skryf as die binnekant.

Ek het die heeltyd stilgebly daaroor, maar laat ek nou maar eerlik wees en iets bely.

Toe ek so met die elektriese kabels langs terug is Lissabon toe, is die eerste wat my beïndruk het, die Padrão dos Descobrimentos - die monumente ter herinnering aan die Portugese seevaarders, hul ontdekkingsreise en ontdekkings.

Ek wou kyk hoe lank na ons in 1994 daar was, dié indrukwekkende monument opgerig is. Ek was so spyt dat ons dit met 'n jaar of wat gemis het. 

O, aarde, die konstruksie dateer toe uit 1960!

Nog groter was my verbasing toe ek by vandag se inskrywing lees dat ek en Es mekaar by die monument ontmoet het!

Ek onthou dit geensins. Ek voel soos Annieka wat elke keer as sy 'n fliek 'n derde of vierde keer kyk, dit soos 'n eerste keer beleef - omdat sy die vorige drie kere aan die slaap geraak het!

So toe was dit vir my lekker om iets wat bekend is, veronderstel is om te wees, opnuut as 'n eerste te kon beleef.

Aan die ander kant, iets anders wat ek onthou, wat ek nié aangeteken het nie, en maklik maar van kon kon vergeet het, is die poeding op die stasie wat so vrotsig was. Daar is min mense wat so ‘n lekker en maklike creme caramel maak soos die Angolese Portugese – gelyke hoeveelhede eier en melk en suiker vir die poeding, en gelyke hoeveelheid suiker met ‘n bietjie water vir die karamel sous. Alles in ‘n ringvorm in ‘n stoompot, en 30 minute later koek jy jou poeding af.

Tog het ons nie daardie aand die Portugese se tradisionele poeding geëet nie – al wat op die spyskaart was, was die variasie waarvan die Spanjaarde hou – die gestolde vla met gebrande suiker bo op – creme brulee (of soos die Spanjaarde dit noem, crema catalana).

Ek onthou my teleurstelling in ons baster brulee soos gister. Maar hoe ons kon gedink het ons gaan ‘n lekker creme brulee op ‘n stasie kry, gaan ook my verstand te bowe.

Laslappies en skakels 

Gulbenkian-museum



Gulbenkian-museum die gebou en brutalisme


Jeronimos monastery:  



Sondag 25 September 2016

Dag 29 - 5 Mei 1994

Ek het regtig 'n rukkie gewonder wat op aarde ons pad 5 Mei gekruis het om my tot die dag se eerste prentjie in my dagboek te dryf. Selfs nadat ek die dag se inskrywing deurgelees het, was ek steeds in die duister.

Daar is immers geen verwysing na 'n Picasso-uitstalling nie, nog minder na 'n opgestopte dodo iewers in 'n museum . . .

En toe onthou ek, middel sewentigs, die Portugese restaurant in Alberton (ek het sy naam lankal vergeet) en die Portugese hoenderhaan op hul spyskaart, op die tafel, teen die venster, op die muur - Galo do Barcelos.

Hierdie hoenderhaan het 'n interessante storie, dis nie sommer vandag se hoenderhaan nie - die geveerde vriend dateer uit die 1600's toe 'n onskuldige pelgrim op die dorpie Barcelos skuldig bevind en ter dood veroordeel is. Hy sou vir die regter, wat met 'n gebraaide hoender voor hom gesit het (gelukkig darem nie in die hof nie), gesê het, iets soos  "É tão certo eu estar inocente, como certo é esse galo cantar quando me enforcarem."

Rofweg vertaal, kom dit neer op: "So seker soos wat ek onskuldig is, so seker gaan daardie haan kraai wanneer ek gehang word."

En soos voorspel kan word, het die haan 'n rukkie later gekraai toe die terdoodveroordeelde gehang is. Die regter het uitgestorm om te red wat daar te redde was - en daar was heelwat, want die galgtou was swak geknoop en het los gegaan toe hulle die man gehang het. 

Gelukkig kon die regter toe keer dat die outjies wat die doodvonnis voltrek, 'n tweede keer probeer, om 'n beter knoop in die tou te kry.

Hierdie laaste sin is my eie sin, ek het dit nêrens gelees nie. Maar met verloop van baie jare, het die storie as so baie stertjies en variasies gekry, dat mý enkele ou sinnetjie beslis nie die appelkar gaan omgooi nie.

In breë trekke, dan dit die storie waarom die bont haantjie al vir jare 'n simbool van geluk onder die Portugese is.

Maar terug nou eers, dagboek toe.

5 Mei, 21 jaar vantevore




Hierdie oggend is ons vroeg op om 9-uur by die Spaanse ambassade te wees.

Die Beampte (KLOT, soos Willem sal sê) sê net dis nie sy probleem nie, dis die probleem van die Spoorwegpolisie in Spanje. En ons is in Portugal – so die probleem is ons s’n.

Ál wat die ou sê is dat ons paspoorte ongeldig is en ons weer een moet uitneem. Dit kos ons R80-00 en vier foto’s en wag tot 13:00 om ons paspoorte op te tel. (Die ou haal ons kleingeld uit sy gatsak uit en ek wonder hoe eerlik hy is. Hy het gesê dit 24 uur vir die paspoort, en nou kry ons dit 4 ure later.)

Van hier ry ons met die allerlieflikste lift (hout uitgevoer van binne, soos trouens ook die trems) op pad na die ruïne wat ons die vorige dag vanaf die Castillo Sao Jorge  gesien het, en toe geblyk het om die argeologiese museum te wees. Weer eens ‘n hoogtepunt. Ek het ‘n poskaart vir Judy gekoop.

Die museumgedeelte was maar klein – Portugal het mos omtrent met die aarde gelyk geword ten tye van die een of ander aardbewing. Tog was die murasie van die katedraal uit en uit die moeite werd. Die blouste blou lug midde die serene koepels – duiwe wat vlieg – stilte midde die stad. ‘n Amper-heilige oomblik wat baie vir my siel beteken het.

Ek was weer eens sput dat ek nie my kamera gehad het nie, maar noudat, ek dink, ek my vorige film verloor het, is ek nie baie lus om foto’s te neem nie.

Van hier gaan kry ons ons paspoorte (wat heel geldig lyk, hoewel ek steeds dink die beampte het ons geld gesteel.)

Toe gaan ons Rossio-stasie toe – ‘n totale Art Nouveau stasie, as daar ooit ‘n Art Nouveau stasie gebou is. Ons besluit sommer op ‘n treintrippie na Sao Martinho do Porto – ‘n rustige klein dorpie aan die kus, met mooi strate en dié klas van ding waarna ons so smag.

Dit was weer eens ‘n oorhaastige besluit van my en Esmari want ons het nie mooi gelet op die treine wat terug kom Lisboa toe nie – en dit blyk toe dat ons weer gevaar loop om die Bus 43 te mis – presies soos die vorige aand.

Sao Martinho do Porto was egter elke risiko die moeite werd. Die stasie was klein – moer klein – en dit het gelyk of ons myle van die see af is. Dit was toe nie so nie – eerder so ‘n baai, presies soos Dr Buchel se skildery wat in Jac-hulle se sonkamer hang.

Ons spandeer ‘n lieflike agtermiddag hier, loop deur n tonnel, sit op die rotse, loop deur die dorpie, besoek die kerkie, en SOEK ‘n eetplek wat betyds oopmaak – iets wat ons toe nie kry nie.

Ons koop toe maar 1 bier, 1 bottel wyn, ‘n gaar hoender, 2 porsies tjips en ek koop knoffelsous. Dié eet ons die aand op die strand. (Aand is dalk misleidend – onthou dit word eers 22:00 donker.

Ons skiet terug Lisboa toe en HOL vir Bus 43 wat ons toe net-net betyds haal. As ons nie gehol het nie, het ons die laaste bus beslis verpas.

Trein reverse.

5 Mei - 21 jaar verder


Van hierdie dag is daar heelwat waarvan ek niks onthou nie. Baie ander van hierdie dag onthou ek weer baie goed.

Dit wat ek amper die duidelikste onthou, dit wat ek die laaste 21 jaar die meeste in die herinnering geroep het, word nie eers juis in my dagboekinskrywing genoem nie – dit word trouens in slegs twee skamele woordjies, amper as kantaantekening, net vermeld.

Ek verwys na die laaste twee woorde van die dagboekinskrywing:  “trein reverse”.

Op daardie lieflike middag van 4 Mei 1994, had ek en Esmari ‘n hele treinwa vir onsself, al die vensters wat oop en die wind het met die gordyne gespeel. (Ja, in Portugal en Italië, had sommige treine daardie jare nog gordyne wat soos badkamer- en kombuisgordyne kon wapper van die wind.) Ons was dronk van die vars seelug, die sonskyn, die landskap en die wind.

En die volgende oomblik stop die trein, in die middel van nêrens – kyk ons links uit, is dit net blond en blou, veld en lug, selfs sonder ‘n enkele voël in vlug; kyk ons regs uit, is dit dieselfde.

Toe trek die trein met ‘n ruk weg, maar in presies die teenoorgestelde rigting as waarheen ons op pad was.

As ‘n trein ratte soos ‘n kar het, dan het die masjinis die trein in trurat gegooi, en daar gaan ons terug na vanwaar ons gekom het.

Na ‘n wyle stop ons by ‘n halte, ook nie ‘n halte nie – eerder ‘n haltetjie. Ek dink nie eers die Karoo had ooit so ‘n klein kolletjie in die middel van niks wat as ‘n halte bekend gestaan het nie. 

Ek weet nie of die trein (of dan nou die man aan stuur van die trein) vergeet het om te stop en toe bang was dat hy iemand (of ‘n melkemmer) gemis het nie, maar na ons ‘n minuut of wat gekyk het hoe absoluut niks gebeur nie, is ons toe verder – hierdie keer darem weer in die rigting waarheen ons op pad was.


Toe ek herbesoek aan Lissabon begin bring het, het die hysertoring my weer dadelik opgeval, soos destyds, dag een, 21 jaar gelede. Maar as jy vir my gesê het dat ek dag twee van ons besoek aan die stad in einste hysbak op is, het ek vir jou gesê dat jy lieg. Ek onthou daar dan niks van nie. Ek het selfs gesoek vir foto’s van die ding se binnekant – om te kyk of dit van hout is. Ek gaan seker maak dat dit die hysbak is wat ‘n mens by die klooster uitbring – en, ja, dit is.

Toe beleef ek hom weer, asof vir ‘n eerste keer, saam met goeie internetvriend (ons is nou al selfs Facebook-vriende), Vic Stefanu:


Ek moet dan tot my skaamte erken dat die lieflike klooster óók by my geen klokkie lui nie. 


Wéér (2016) het dit dadelik ‘n diep indruk op my gemaak, ek is daardeur aangegryp – en toe lees ek, op dag twee van my destydse besoek, was ek inderdaad daar. As die dagboek so sê, dan is dit seker so. Ons kon tog nie soveel wyn gedrink het dat ek dagboekinskrywings versin het nie. 

Ek het Julie-vakansie deur oorle’ Judy se een trommel gegaan en op my briewe en poskaarte uit Europa aan haar afgekom. Desembervakansie dan vat ek dit aan – miskien kom ek nog af op die poskaart wat ek noem ek gekoop het. Soos wat die Karmeliete klooster vandag nog getuie is van die destydse aardbewing, sal die poskaart verdere getuie wees dat die dagboek nie onsin praat nie.

Sao Martinho do Porto, en die treinrit daarheen, is weer kristalhelder in my ingeprent.

Danksy my krabbelskets op die laaste bladsy van die dagboek kon ek die kerkie waarvan ek praat gou opspoor. Dit blyk toe geen kerkie te wees nie, maar ‘n kapelletjie wat opgerig is om almal op see te beskerm.



Na die teleurstelling van Engeland en Holland se see – dit het herinner eerder aan Baberspan in die Wes-Transvaal as aan enige iets aan die wes- of ooskus van Suid-Afrika – onthou ek soos gister hoe wonderlik dit vir my was om weer see te kon sien soos ek see leer ken het.

En dan verwys ek nie na die baai self nie, ek verwys na die stukkie see wat ons rondom hoogwater vanuit die tonnel se bek kon beleef. Ek onthou dat dit my selfs bang gemaak het.



Aan die anderkant, in die baai self, was dit pure Baberspan. Ek het elkeen van die strand se foto’s gekies omdat dit presies is soos ek dit onthou. 

Wyn en bier, ‘n gare hoender en tjips met ‘n lekseltjie knoffelsous het nog nooit weer so lekker gesmaak soos daardie aand op die strand nie.

Laslappies en skakels


Sao Martinho do Porto

 Die kloosterruïnes in Lissabon






Sondag 11 September 2016

Dag 28 - 4 Mei 1994



4 Mei 21 jaar vantevore






Wat ‘n lieflike 3 dae het ons nie in Portugal gehad nie. Ek sal “vir tyd en ewigheid” (soos Es sal sê) ‘n aanhanger van Portugal en die Portugese wees.

Lisboa was regtig die stad met die meeste persoonlikheid en karakter, en die Portugese is die mees hulpvaardige, én vriendelikste mense wat ons tot op datum nog teëgekom het.

En eintlik het ons aankoms in Portugal iets negatiefs ingehou. Die Spaanse Spoorwegpolisie het “Entrada” (in plaas van “Salida”) in ons paspoorte gestempel. Dit beteken dat ons “dos entradas”  verby is, hoewel ons eenkeer entrada het.

Ons besef toe dat ons dadelik kampeerplek toe moet gaan en dan weer inkom stad toe om die Spaanse Ambasade oor hul fout te gaan spreek.

Vanaf die stasie het ons ‘n bus na die plein Resoroudades/Restoroudades (Restauradores!) geneem, die toeristeburo besoek en weer op die bus geklim.

Die eerste busrit het al gewys dat die Portugese “bus”-tuursvermoë baie goed, dog roekeloos, is, en eons het dieselfde nou weer besef. Die strate en die winkeltjies lyk lieflik – ek kan net nie veel sien nie want ek sit met net die agterste kwart van my een boud op die stoel, die rugsak óp die stoel, in ‘n oorvol bus, terwyl ek in die omies en tannies se waterlyne vaskyk.

As die oom ons nie gesê het dat die bus wel kampeerplek toe gaan nie, het ons wraggies afgeklim:  Die bus ry alle sirkels en draaie, behalwe in die rigting waarin ons wil hê dat hy sal ry. Dit neem ons 43 minute om daar te kom.

Ons betaal, slaan tent op, bus in ambassade toe. Ons kom in, maar die oom wil ons nie help nie, dis 14:01 en die ambassade sluit 14:00. Hiervandaan is ons Suid-Afrikaanse ambassade toe, maar hulle is toe.

Toe besluit ons om “Sê” en “Castella Sao Jorge” te besoek (altwee is verniet) en dis net toe dat ALLES verander.

Ons stap in die mees karakteristieke stegies rond – poskaart-stegies, met wasgoed by die vensters, ou tannies in swart wat bo-oor die onderdeure loer, geplaveide strate, urinale aan die buitekant van geboue, malvas, en al die klas van dinge.

“Sê” se binnekant kan ek nie nou onthou nie, en dit maak ook nie saak nie, want dit was nie die hoogtepunt nie – “Castillo Sao Jorge” was by verre die hoogtepunt met ‘n lieflike uitsig oor die stad, kunstenaars, poue, watervalle en ek is SPYT ek het nie my kamera daar gehad nie.

Toe stap ons af na so ‘n klein “ontmoet-plekkie” toe, so groot rooi stoep (rooi polish) met mooi muurtjies waar die locals bymekaarkom en gesels – ook ‘n mooi uitsig oor die stad.

Ons besluit op ‘n eetplekkie naby, wat toe nie te goed lyk nie, maar gaan na ons tweede keuse wat toe ‘n baie goeie keuse blyk te wees.

‘n Tannie wat Portugees en Engels magtig is, kom help ons om te bestel en ons eet al te lekker – caldo verde, slaai, prawns, calamari, poeding en koffie – vir ‘n belaglike bedrag. (Rooiwyn – Vinho Tinto do Casa.)

Dis ‘n baie klein eetplekkie met ‘n uitsig op die kombuis – net 4 mense wat werk: 2 kook, 1 was en 1 bedien. Dit was ‘n hoogtepunt en duidelik nie ‘n toeriste-eetplek nie – dit was net locals wat daar geëet het.

Na die totale laagtepunt van die oggend, is ons nou weer op ‘n totale hoogtepunt . . .

. . . net om weer weer afgedonder te word in die allerdiepste dal van skadu’s – die laaste Bus 42 het reeds vertrek!

In ‘n vreemde land, met ‘n vreemde taal, kom ons wel by die kampeerplek uit – via Bus 15, maar toe mos ons Bus 14 neem, maar hy is ook reeds klaar. Ons vat toe Trem 15 na Alges en vandaar Bus 50.

Bus 50 laai ons weliswaar nie voor die kampeerterrein af nie en ons moet ‘n entjie stap, maar dis glad nie die ergste nie.

Ons is in een stuk tuis.

Bonnoito – thia minjah

(Boa noite – is goeie nag of goeie naand, maar wat die spelling van “thia minjah” is, weet ek nie – en wat dit beteken, kan ek ook nou nie meer onthou nie.)

21 jaar verder

Destyds val ek weg met watter lieflike drie dae ons nie in Portugal gehad het nie. Vandag val ek weg met watter lieflike drie weke ek nie ronde twee in Lissabon gehad het nie.

Toe ek uiteindelik my herbesoek begin het, was die idee om elke week ‘n dag af te handel. Dis nou seker drie weke sedert ek laas iets gepos het (dit nadat ek ‘n week lank nie so ver kon kom om die dag in Spanje te publiseer nie – die ding het in die gereedheidshouding gelê en wag, ek het dag na dag net vergeet.)

En ja, die tyd wat ek kon maak om in Europa uit te kom (want tyd krý ‘n mens nie, jy moet dit máák) was beperk – ‘n mens is besig met broodwinning ook en nie net die voeding van die siel nie – maar die feit dat ek so lekker in Portugal kuier het in hierdie lang stilte ‘n rol gespeel.

Eers kon ek nie uitgekyk raak nie, toe kon ek nie uitgelees raak nie, toe begin ek ‘n Pinterest-album, toe onthou ek dat ek nog nie op Youtube gaan inloer het nie. En soos ek nou hier sit, weet ek dat ek nog soektogte met Alfama as trefwoord moet loods, voor ek heeltemal uitgekuier gaan wees aan ons eerste dag in Portugal. (Alfama is die oudste deel van Lissabon, die stadstreek tussen die Tejo-rivier en die St Jorge-kasteel, basies die helling tussen die Se-katedraal en die kasteel, die stukkie van die stad wat ons destyds dag 1 besoek het.)

So gesê, so gedaan:  Op Pinterest is meer oor Alfama, maar hier is enkele van Alfama se katte en honde waarby ek in ‘n stadium vasgehaak het.


Dit was aanvanklik vir my vreemd dat ons die vorige keer nog in Spanje was (waar dit my nog opgeval het dat ek niks vertel van die kampeerplek nie – en eintlik onthou ek dit nog goed) en hier is ek een dag later en val weg met die verruklike drie dae in Portugal. Ek dog my dagboek skanderings is deurmekaar. Maar, nee – niks is deurmekaar nie. Ons is met die trein Spanje toe, het die dag in Spanje vertoef en toe ‘n deurnagtrein Lissabon toe geneem voor ons met ‘n deurnagtrein terug is vir die res van ons besoek aan Spanje. (Dit was goedkoper om ‘n deurnagtrein te neem, as om iewers ‘n tent op te slaan – ons Eurorail-kaartjies het daarvoor gesorg.)




Toe is dit ons en die negehonderdjaaroue katedraal. Ek het weer eens nie gefokus op die binnekant nie. Hierdie indrukwekkende, vroeg-Middeleeuse gebou, ingedruk tussen die geboue, ek wil amper sê, “in die middel van nêrens,” het my destyds tussen die oë geslaan, amper my wind uit, ook. Nou weer. Dis amper onwerklik. En ek kan maar sê “in die middel van nêrens” want daar is niks soortgelyk aan die katedraal, of uit dieselfde tyd, in die onmiddellike gedeelte van die katedraal nie. Daar is niks wat jou op die katedraal voorberei nie, geen groot kerkplein of meent nie – jy stap nog so, heuwel op, met die relatiewe nou pad op, en dan skielik, om ‘n draai, staan hy daar, stewig geplant, vir amper 1000 jaar al.


Ons het beslis gestap, die ikoniese Trem 28 wat daar verby gaan, was ons nie beskore nie – en ek is bly, want buite die trem is daar soveel méér om te beleef. Ek het gestap waar name uit my laerskoolgeskiedenistake gestap het, Bartholomeüs Dias en Vasco da Gama. Dis hier, in hierdie einste kerk dat hul borg, Prins Hendrik die seevaarder, en die reisigers Da Gama én Dias voorspoed op die onderskeie ontdekkingsreise sou kom afbid het. En al hierdie honderde jare later stap Klein-Hansie die Backpacker daar in om te kom inloer. Met Es aan sy sy.


Die eerste wat my opgeval het, en na 21 jaar steeds amper die sterkste van Portugal bybly, is die teëlwerk. Die teëlwerk in Holland en Spanje het tot my gespreek, ek was so beïndruk, en toe, skielik, kom ek hier en waar ek dit glad nie verwag het nie, loop ek my vas in ganse mure en fasades wat, party al vir honderde jare, in hul geheel toegeteël is.

Ja, ons het dit nie verwag nie. Portugal was nie ‘n oorbekende, oorgewilde toeristebestemming in 1994 nie, ons het nie groot geword met die land wat as toeristeaantreklikheid in ons kele afgedruk is nie. Jy word groot met beelde van die Big Ben, Eiffel-toring, Toledo, Capri, die Griekse strande, noem maar op . . .  maar niks juis van Lissabon, Porto, selfs die Algarve en die res van die mooi land nie.

Ek het aangedring dat ons daar aandoen op grond van die Angolese en Portugese wat ek in SA leer ken het, die Portugese koskultuur, en die Fado waarvan ek darem so ietsie geweet het. (Nie dat ons dit kon bekostig om ‘n voet te sit waar die fado-sangers kwansuis opgetree het nie.)


Kyk dan net hoe mooi is die mure:

 Die Castelo de Sao Jorge was ‘n stukkie hemel op aarde. (Miskien ook omdat ons so bly was toe ons uiteindelik bo kom en kan asemskep! Of het ons, ons suinigheid in ons sak gesteek en die trem tot bo geneem? Ek onthou nie, en het ook nie aangeteken nie.)

Dis nie gebou as koninklike residensie nie, allermins, dit is aanvanklik gebou as ‘n fortifikasie en barakke vir soldate. Dis maar eers later jare dat dit ‘n ruk lank koninklike blyplek was, tot die een of ander aardbewing ook daaraan ‘n einde gemaak het. Maar dit maak nie saak nie – wat saak maak is die hede, en nou se dae is en bly dit ‘n verruklike bestemming om ‘n agtermiddag in deur te bring. Wonderlike vistas, wonderlike koelte en ewe wonderlike mense. Ja, dis nie net toeriste wat daar gaan asemskep nie, die plaaslike outjies pak ook daar af. 



Ek kan nie nou dadelik die Portugese geldeenheid se naam onthou nie. Escudo! En straks is die einste escudo die ander rede waarom ons Portugal so gunstig beleef het. Die rand-escudo-wisselkoers het dit daardie jare vir ons moontlik gemaak om te kan gaan uiteet – in ‘n restaurant nogal, van alle plekke! Niemand het niks gesing nie. (Miskien was daar hoogstens  iewers ‘n radio of kassetspeler in ‘n hoek.) My ma sou tien-teen-een nie eers water met ‘n strooitjie uit ‘n bottel in die plek gedrink het nie – maar vir my en Es was dit wondelik – ons het soos twee rykgatte, twee koninklikes gevoel.

Ek wens ek kan die gevoel beskryf as jy laat in die nag by die busstop op die plein gaan staan en wag en ‘n Portugese tannie in ‘n crimpelene rok kom op jou afgestap en jy kom na ‘n ruk agter dat die boodskap wat sy by jou wil tuisbring is die feit dat daar voor more-oggend nie weer ‘n bus gaan verbykom waar jy nou staan en wag nie. En jy weet jou slaapplek is 45 minute met ‘n bus uit die stad uit.

Ek onthou dit as hier waar ons die bus moes kry
en daardie nag gestaan en wag het. As dit nie hier is nie,
het dit baie so gelyk.


Wat ons daardie nag, uiteindelik by die tent gekry het, was die bietjie Frans wat Es kon praat. ‘n Franssprekende Kongolees wat uit Zaïre (ek dink nie dit was toe al die Demokratiese Republiek van die Kongo nie) het sy verloofde, ‘n verpleegster onder opleiding in Lissabon, kom besoek. Tussen sy Frans en bietjie Portugees, en Es se Frans is ons van een bus, na die volgende, na die volgende.

Ons het in ‘n stadium af moes klim waar die bus in daardie stadium vir die nag gaan slaap het, in die hoop en vertroue dat die man reg was toe by genoem het dat daar hier ‘n ruk later ‘n bus verby gaan kom wat ons wel in die omgewing van die kampeerplek sal kan aflaai.

En so waar as wraggies – daar hét.

As ek weer kan gaan, dan gaan ek weer.

Laslappies en skakels

My Pinterest-album (hierdie is die deurmekaarste, maar lieflikste van elkeen van die albums wat ek tot op datum versamel het.)
Castelo de Sao Jorge
Se


Katedraal



Castelo de Sao Jorge


Trem 28 deur Alfama


Die stad se teëls