Maandag 14 Maart 2016

Dag 13 19/04/94

19 April 1994 – 21 jaar vantevore















Soos altyd mooi oorgetik aan die einde




Dit was gister, maar slaan my dood – ek moet eers tot stilstand kom en mooi dink wat ons gedoen het. A, die belangrikste is seker die feit dat ons teen R5-00 kon gaan stort het vir 7 minute se warm water. Ek het in die ijsere koue opgestaan en oorgehardloop na die badkamers. Daar het ek my klappertand gestrip en die kosbare munt ingegooi. Ek het gestort tot al die warm water op was.

Die eerste museum vir die dag was ʼn taamlike teleurstelling, in die sin dat ons museumkaart nie gegeld het nie en ek geweier het om te betaal. Dis nadat die plek ʼn halfuur na die geskeduleerde oopmaaktyd hul deure oopgemaak het.

Toe sit ek en Es af na die Bijbelmuseum. Dit was lekker om my eerste Vulgaatbybel, waarvan ek nog net gelees en geleer het, te sien. My kennis van ʼn Statebybel is ook aansienlik uitgebrei. Ek het Luther en Erasmus se vertalings onder oog gehad.

All in all was dit lieflik.

Ek het nou net seker vir 20 minute geknikkebollen – my kop “bol” het ge-“knik”-ken.

Museumhoogtepunt was egter die besoek aan die Verzetmuseum. Dit is ʼn museum in ʼn sinagoge wat die Hollanders se verset teen die Nazi-besetting van die land, én die Joodse vervolging uitbeeld.

Daar het ek na radioprogramme van destyds geluister, koepons leer ken en tekenprogramme en skyfie-insetsels gesien. Ek sowel as Esmari het die museum besonder geniet. Slim vir my was die rekenaarsentrumpie bo op die boonste vlak vir die kinders om te speel / volg. Ek het self twee van die programme deurgewerk.

O, hel – amper vergeet ek (ek sal probeer om nie weer met my dagboek agter te raak nie) die hoogtepunt van die dag! Die Stedelijk museum! Ook dit is ʼn kunsmuseum, maar dis een oor hedendaagse en moderne kuns. Die werk van die Duitse ekspressioniste en die Blaue Reiter het my die meeste getrek. Gelukkig was hier net poskaarte – anders het ek sweerlik nog ʼn poster daar ook gekoop. Malevich, Mondriaan, Chagall, Kirchner en ander. Daar is ook akelike moderne abstraksies. (O, ja, noudat ek daaraan dink, ek het iewers ook Jackson Pollock en Andy Warholl gesien – maar dit was by die British National Gallery).

Hier by die Stedelijk Museum was ook werke van die abstrakte ekspressioniste. Appel, Soutine en nog ʼn ander bekende ou wat ek nou vergeet het. Weer eens was dit die geval dat ek nou vir hul werke baie meer begrip het. Op ʼn plat afdruk, in swart en wit, lyk dit akelig, maar in die werklike lewe LEWE die skilderye.

Ek het in “The Beanery” geloop – dit was een heerlike ondervinding. Ek het my lewe lank nog net foto’s daarvan gesien – en hier stap ek in en luister en beleef alles lewendig. Die kunswerk doen nogal iets aan ʼn mens en vra om be-lééf te word.

Die aand was chaos – danksy trems en ek en Esamri wat verskillende flieks wil gaan sien. Op die ou einde eet ek die dag om. Die lekkerste hier is wat die mense met amandel doen – ek het vandag blote amandel geëet, maar ook al die lekkerste amandelkoekies.

Hierdie plek se krokette – met die vleis in en deeg rondom – is baie lekker.

Die aand loop ek deur die rooiliggebied. Ek wil vanaand vir Esmari daardeur vat. Ons sal maar sien wat sy sê.

19 April - 21 jaar verder



    
    



Verdomp of ek kan herken waar ons kampeer het, maar elkeen van hierdie foto's bring lieflike herinneringe terug. Ek verbeel my die reception by ons A'damse kampeerterrein sal 21 jaar kan lyk soos die reception hier bo.


Ja, die realiteite van kampeer in een van Europa se stedelike kampeerterreine word al hoe duideliker  – jy betaal nie, soos by ons, net om die wasmasjien of kleredroogmaker te gebruik nie; nee, jy betaal selfs om met warm water te kan stort.

Maar dan is groot stedelike kampeerterreine iets wat ons Suid-Afrikaners glad nie ken nie. Dis niks soos Scottburgh, Margate of Manaba Beach se karavaanparke nie, nog minder soos by Satara of selfs Skukuza.

Ek en Es kón in Londen nie kampeer nie – die kampeerterreine was nog gesluit. Party maak die ganse winter toe, ander laat wintermaande darem hierdie motorkaravane toe, maar weier steeds outjies wat gevaar loop om in een-, twee- en driemantentjies te verkluim.

Dan is daar van hulle wat permanente verblyf bied. Dis soos hele voorstede met teerstrate en mense wat tuin maak en heinings opsit. Nie karavane wat jy daar kry nie, maar hierdie groot mobiele wooneenhede.


Daar is hoogseisoen op party plekke soveel tente opgeslaan, oor so ʼn groot gebied, dat jy gevaar loop om te verdwaal. Weë die een wat aangeklam by die kampeerterrein aankom – hy gaan nou wel nie hoef te sukkel om sy sleutel in die sleutelgat gepas te kry nie, maar, erger nog, hy gaan sukkel om sy blyplek te kry!

      

ʼn Paar woorde wat op hierdie reis deel van my woordeskat geword het, en vandag nog van tyd tot oor my lippe of deur my gedagtes gaan, het in hierdie dag, die vorige en die volgende paar dae hul oorsprong.

Die belangrikste hiervan is “onderduiken” (met geheel en al ʼn nader betekenis as wat dit in Nederland het). Maar voor ek dié kan ontsluit, moet ons eers by twee ander uitkom:  “belegde broodje” en “tussendoortje”

Tussendoortje val letterlik én figuurlik héérlik op die tong – hy klink én sê lekker, en dan smáák hy ook lekker as jy die regte banketbakkerij of delicatessen besoek.

Die woorde wat ons daarvoor ken, is seker die Engelse “snack” of Afrikaanse “peuselhappie”.  In Hollands (ek weet nooit of dit Hollands of Nederlands is nie, en of dit iemand aanstoot kan gee as ek die verkeerde een gebruik nie) vertel ek myself, het dit iets van die Afrikaanse “tussendeur” in. Iets van die Engelse “on-the -go”.

ʼn Tussendoortje is nie vir ontbyt, middag- of aandete nie, dis nie vir aansit om 'n tafel nie, maar sommer so ʼn snoepdingetjie halfpad tussendeur (tussendoor?) een van die drie groot etes, 10:00 of 16:00.

O, aarde, en Amsterdam had die lieflikste, geurigste en grootste verskeidenheid tussendoortjes denkbaar.

ʼn Belegde broodje is op sy beurt ʼn broodrolletjie waarin ʼn trio of kwintet "smakelik-smaakliks" of selfs hele sestet "heerlik-heerliks" gepak lê – ʼn belegde broodjie daarom, verbeel ek my, ʼn broodjie wat letterlik “belê” (toegelê) is met lekkernye.

ʼn Propperse belegde broodje sou al kon deurgaan as ʼn lunch, maar as jy so lief vir kos is soos ek, dan vul jy jou dag met belegde broodjes, nie as hoofmaaltyd nie, maar as tussendoortje, 10:00 én 11:00.

Hierdie goed kos alles geld. Geld waarvan ons nie baie gehad het nie – R100-00 per dag, álles ingesluit.

En dís waar "onderduiken" inkom.

Die Joods Historisch Museum (ek verbeel my ons gaan later daar herbesoek bring) definieer die woord só:

Zich verbergen voor de nazi’s. Het verbergen van personen op een adres waar zij niet geregistreerd stonden. In sommige gevallen werden geheime ruimtes gecreëerd waar de onderduikers zich moesten schuilhouden. In andere gevallen (vooral bij kinderen) namen zij deel aan het ‘pleeggezin’. In dat laatste geval werd vaak gebruik gemaakt van valse papieren. Wanneer de onderduik ontdekt werd, werden de onderduikers gedeporteerd of ter plekke doodgeschoten. Ook de onderduikgevers werden in vele gevallen gedeporteerd. Begin 1943 zaten zo’n 25.000 joden ondergedoken.

Ek en Es het die woord, na vandag se kennismaking daarmee in die Versetmuseum, begin gebruik met min of meer die betekenis van “laag-lê” of “wegkruip”. Weliswaar nie letterlik laag-lê en wegkruip nie, eerder figuurlik, monetêr, finansieel.

As ons vandag oorboord gaan met hopeloos te veel tussendoortjes en belegde broodjes, dan moet ons die volgende dag onderduiken, laag-lê en min geld uitgee.

Ons sou kon onderduiken om op te maak vir ʼn vorige dag, óf ons kon vooraf onderduiken in antispasie van ʼn kulinêre vergryp (“pig out”) die volgende dag.

Teen die einde van die toer het dit neergekom op “geld spaar” om iets lekkers te kan bekostig.

Ek onderduiken vandag steeds, ek troos my siel gereeld met tussendoortjes en geniet graag Saterdae belegde broodjes. Hierdie gelaaide broodjes het ons tot verlede jaar het op ʼn stel van ses houtbordjies wat ek ’94 van Europa saamgebring het, bedien. 21 jaar het egter sy tol begin eis en ek moes dit rondom laas Kersfees met ʼn seer hart vervang.

Al wat dit draaglik gemaak het, is die feit dat ek dit by die Johannes Gemeente van die Duiste kerk in Pretoria se jaarlikse Kersmark gekoop het – méér Europese bordjies sal en kan jy nêrens anders in Suid-Afrika kry nie.




         


Die Bijbelsmuseum het ons die wonderlike geleentheid gebied om een van daardie historiese Amsterdamse huise wat teenaan die gragte gebou is en op twee uit elke drie poskaarte pryk, te besoek.  Watter lieflike ervaring was dit nie!

Dis soos die sjokoladebokse van ouds – nie net is die inhoud iets oom huis toe te skryf nie, maar die verpakking óók.


Die uitstalling lyk 21 jaar later strate beter as wat ek dit onthou – my herinnering is amper in swart en wit, soos in ʼn swart-en-witfoto. Kuier ek vandag via die internet daar, lyk alles volkleur en op glanspapier.


    

Dit voel my die Verzetsmuseum het ook 21 jaar aangestap. Behalwe dat dit nét vooruitgegaan het, uitgebrei het en elke akkolade wat dit geniet, verdien, is dit tog of die museum in ʼn helikopter opgegaan het en nie meer suiwer op die versetbeweging  fokus nie, maar ook die ander opsies wat daar tussen 1940 en 1945 vir die land en sy mense was, betrek.

Ek het my herbesoek aan die museum net so geniet soos in 1994. Anders as met ander museums het ek myself toegelaat om talle afdraaipaadjies te neem en as ek weer sien, is ek op gans ander plekke as in die internetdomein van die Verzetsmuseum. Talle van die foto’s in my Pinterest-album van die museum is geensins in die museum te sien nie – ek het dit langs die pad opgetel en daar gaan pos. Dit hou verband met die museum en die oorlog.

Die enigste realiteit wat daardie oorlog vir my is, vir my aan eie bas is, is die vertelling van my ma dat haar eerste man se duim in Egipte afgeskiet (of afgesny) is en dat die veldhospitaal die duim toe iewers aan sy maag vasgewerk het om bloedtoevoer te kry tot hulle hom by ʼn hospitaal in Suid-Afrika kon kry om die duim aan sy hand te heg.

So, ja, vir my is die geskiedenis aangrypend. Ek beveel al twee video’s wat ek deel, aan. Die eerste vertel van die museum se teelaarde en neem ons na ʼn tyd en plek wat vir ons selfs vreemder as die maanoppervlakte is; die tweede neem ons in die museum in.





Die museum het intussen verhuis en ʼn gedaanteverwisseling ondergaan. Dis eers toe ek foto’s van die museum wat ons in 1994 besoek het, opspoor, dat ek besef die museum was geensins ʼn hoogetpunt op grond van vertoon en allerhande foefies nie – die museum was (en is steeds) ʼn hoogtepunt op grond van die fassinerende, aangrypende inhoud.

    


Ek het hierdie ronde hopeloos te veel tyd in die Stedelijk Museum spandeer. Ek dink ek weet hoekom.  Juffrou Jackie Olivier se kunsklas, op skool, had twee Bybels, beide van Thames &Hudson:  “A History of Art” en “A History of Modern Art.”

AVBOB weet hulle prop nie ʼn kussing onder my kop nie – my kop word op hierdie twee boeke neergelê (vir ingeval ek sou wakker word en ʼn tydjie het om te verwyl tot die tweede dood kom.)

 

Ek het my kuns-tande gesny aan hierdie boeke. Voor ek in my eerstejaar op universiteit enige regte, egte universiteitshandboeke by Prorege-boekhandelaars op Die Bult aangekoop het (Ma het ʼn rekening oopgemaak en ek had carte blanche) het ek dié twee boeke vir my aangekoop. Én ek het my ma oortuig dat dit in belang van my studies was. (Ons praat hier van Afrikaans-Nederlands, Engels en Toneelkunde!)

    

    


Sovéél van die skilderye in Amsterdam se Stedelijk Museum is van die skilderye wat ek uit daardie twee boeke met moedersmelk ingekry het, dat ek nie anders kon as om soveel as moontlik afknyptydjies in dié museum deur te bring nie.

Die nuwe vleuel – ek sien party A’dammers praat daarvan as ʼn plastiekbad (en ʼn mens kan sien hoekom) het my as buitestaander heel opgewonde en beïndruk gelaat.

Destyds, so lyk dit my, was dit ook die stad se omgaan met amandels en kroketten wat my beïndruk het – dís waar ek die aldag en heeldag se tussendoortjes kom, dis duidelik.

Hoe dit gekom het dat ons nie gaan fliek het nie, weet ek nie – ek het tot vandag nog, nog nie “The Piano” gesien nie. Dit het in SA gewys toe ons oorsee was, en toe ons eers terug is, toe wys dit nie meer nie.

Dalk het ek maar net rede gesoek om alleen in Walletjiesstraat te gaan stap. Ek kan nie wag om te lees of ek en Es toe wel saam soheentoe is nie.

My sterkste herinnering aan daardie deel van die stad is reuse berge wit uitgerysde deeg, so groot en rond soos seekoeie wat kliënte ontvang het en dan die luike of gordyne toegetrek het. Elke diertjie seker maar sy plesiertjie.


Ek onthou ook dat ek meer ongemaklik was met prostitute wat hulle helder oordag by jou kom aanmeld het. Ek en Es het nou nog ʼn grappie rondom “Would you like to have sex business with me”, maar dis nog baie slapies verder, iewers in Praag.

Laslappies en skakels

Webwerwe

Pinterest

Maandag 07 Maart 2016

Dag 12 18/04/94

Hierdie is 'n draai-orrel as jy dit nie weet nie

Na dit verlede week duidelik was dat ons van Londen af op pad Holland toe is, laat weet ʼn vriendin wat nou al ʼn geruime tydjie daar woonagtig is, dat sy nie kan wag om van Holland te hoor nie.

Terwyl ek deur die dagboek werk, lees ek nie vooruit nie, dink ek nie vooruit nie – ek fokus op die dag waarby ek daardie week probeer stilstaan.

Maar met die dat sy nie kan wag om te hoor oor die stamland nie, én ek klaar van Engeland afskeid geneem het, begin ek toe self, vooruit, sonder dat ek dagboek gelees het, wonder hoe dit destyds vir my was.

En wat by my opkom, wat ek 21 jaar later onthou en aan die amperse vergetelheid ontruk, is bykans verbatim dieselfde wat ek destyds in my dagboek aangeteken het:

  • Ek het in geen land die wonderlike gevoel gehad wat ek gehad het toe ek uit A’dam-stasie op die plein uitstap nie.
  • Ons is op die trein, deur doeane en daar borrel ons toe uit die ondergrondse gat tot op die plein voor die stasie. Ek dit sal tot in tyd en ewigheid een van die lekkerste aankomste wees. Mense en busse beweeg, trams en busse is iewers in die gedrang en ʼn draaiorrel se klanke sing in my ore.
  • Ek is nou in Switzerland en ek het geensins die relaxed A’dam-gevoel oor my lyf nie.



     

  
       
Eerste indrukke ís blywende indrukke. My eerste indruk was ongelooflik – sonder dat ek ooit poëties of literêr dagboek wou hou gebruik ek die woorde “en daar borrel ons toe uit die ondergrondse gat.”

En dis presies wat dit was en hoe ek dit onthou – ʼn tintelende, energieke borrel en bruis – ʼn aanstééklike “vonkelwynerigheid” (by gebrek aan ʼn beter woord en ás ek myself ʼn leeftyd later dan nou die geleentheid gun om beeldsprakig te wil raak).

Ek stel my voor – gedagtig aan ʼn moontlike vergelyking, dat die kinders, toe hulle in Charlie se Chocolate Factory instap, gevoel het soos ek gevoel het toe ek uit die ondergrond op Centraal-stasie se plein uitstap.

Ek weet ook dat ek daarna vir jare vertel het (reg of verkeerd, maak nie saak nie – dis hoe ek dit beleef het) dat, al verskil die mense daar in temperament van my mense in Suid-Afrika, lýk hulle oorwegend soos my mense tuis. Die mense wat my omring het, het dalk anders aangetrek, ander geklink, maar dieselfde gelyk, dieselfde gelaatsrekke gehad. ʼn Mooi Amsterdamse meisie, kan netsowel ʼn mooi Boeremeisie wat saam met jou klas gedraf het, op die skoolbanke langs jou gesit het, of deel van die span waar jy werk, wees.

Midde die volksvreemde, die onbekende, was ek heeltyd omring deur die bekende. En dan die vertroude “gezelligheid” (ek vermoed dis wat ek wil verwoord met die “relaxed A’dam-gevoel oor my lyf” waarvan ek skryf).

Ek herinner daaraan dat ons op R100-00 per dag – reis en verblyf ingesluit – getoer het.


Daarom vir my moeilik om in te dink dat ons ʼn toeristerige ding soos ʼn Amesterdamse gragvaart op daardie begroting kon inpas. Maar wag, ek loop, getrou aan my aard, dinge vooruit.

Hier dan die dag se dagboek, netjies oorgetik met die faksimilee vandeesweek eers heel aan die einde:

18/04/94 21 jaar vantevore

OK, hierdie is dalk ʼn bietjie te veel gevra. Dit is vandag – toevallig 18 Mei – ʼn maand ná hierdie dag. Ek sal my bes doen, maar beloof niks. Ek was nie bewus van hierdie oop gat in die boek nie – dis eers toe ek begin om die bladsye te nommer, dat ek op die lugleegte afkom. Ek is nou in Switzerland en ek het geensins die relaxed A’dam-gevoel oor my lyf nie.

Ek het in geen land die wonderlike gevoel gehad wat ek gehad het toe ek uit A’dam-stasie op die plein uitstap nie – maar wag, ek loop die dag vooruit.

Ek het deur die loop van die nag op die grond gaan lê, die boot se stoel was net té ongemaklik, en heerlik verder geslaap. Die oggend het ons, ons bagasie gaan haal waar ons dit ongesluit in die  bagasieruimte gelaat het. Op die boot eet ons koffie en ʼn heerlike muffin. (Ek sing Tulips from Amsterdam.)

Ons is op die trein, deur doeane en daar borrel ons toe uit die ondergrondse gat tot op die plein voor die stasie. Ek dit sal tot in tyd en ewigheid een van die lekkerste aankomste wees. Mense en busse beweeg, trams en busse is iewers in die gedrang en ʼn draaiorrel se klanke sing in my ore.

Daar storm summier 3 of 4 of 5 mense op ons af met aanbiedinge vir verblyf, maar ek en Es glip in die VVV in wat net oorkant die stasie is. Ons koop ʼn plattegrond vir twee gulden en koop ook die fotostaat met die kampeerplekke se adresse op – belaglik!

Ons drink koffie teen die kanaal, maar dis só dúúr! Ek glo nie ons het al ooit weer in so tipe plek koffie gedrink nie.

Hierna sluit ons ons tasse in die sluitkassies toe. Es bel om te hoor of die kampeerplek vir ons plek het en ons gaan op ʼn bootvaart watt ons iets soos 12 gulden kos. Dit was vir my baie lekker, ek wou die foto wat met die intrapslag van my geneem is, steel, maar kon uit die aard van die saak nie so ver kom nie.

Die karakteristieke boustyl met die haak bo teen die gewel vir die ophys van goedere sal my altyd bybly.

Hierna stap ons – ver – na die Tropenmuseum. (In hierdie maand wat intussen verby is, was dit nog net die Tropenmuseum in A’dam en die Rooikruis-museum in Geneve wat die kwaliteit en styl van Londen se museums gehad het.

Die gasuitstalling was oor die verskillende maniere waarop verskillende volke van die wêreld hul babas dra. Dit was ontzettend goed en interessant.

Ek aktiveer talle videoprogramme en in die musiekinstrument-afdeling druk jy ʼn knoppie en dan hoor jy die betrokke instrument se klank.

Die uitstalling oor iewers in Spaans-Amerika waar jy basies deur ʼn gerekonstrueerde dorpie loop, en ook die dorpie in Indië, was baie lekker.

Hierna stap ons verby ʼn museum waarby ons toe nooit weer uitgekom het nie, terug na die VVV op die stasie en ek koop my museumkaart – vir ʼn jaar – te heerlik.

ʼn Stap deur die strate van A’dam kan nogal ʼn kinky ervaring wees – nog nooit het ek so baie penisse en vaginas op- en oopgeblerts op straat gesien nie. Nog nooit het ek so openlik met dagga te doen gekry nie.

Ons vat die bus kampeerplek toe (sic) – ʼn vriendelike omie wat ons presies sê waar om af te klim, ʼn vriendelike ontvangs by die kampeerplek. Ons slaan op, eet iets (vermoedelik brood en kaas en bier) en ek en Es gaan weer in stad toe op soek na Anita se vriendin wat nie daar is nie, ook nie die volgende aand nie.

Ons stap toe maar deur die strate, dit blyk gou dat A’dam se naglewe nie voor 22:00 begin nie. Ons stap deur ʼn deel van die stad wat grens aan die rooiliggebied.

(Ek dink dit

18/04/94 21 jaar verder

Wonder ek darem nou ʼn leeftyd later lekker oor daardie afgekapte “(e)k dink dit” waarmee ek die dag se aantekening afsluit.

Het ek besluit om wat ek ook al gedink het, eerder vir myself te hou en dit tot eie gedagtes te beperk sonder om dit op papier te verwoord?

Het iets voorgeval wat my abrup onderbreek het?

Die meeste van die dagboek is op die trein of die bus gehou – saans was ons te moeg en die dae was meesal hopeloos te vol gepak om kosbare tyd aan iets soos dagboekhou af te staan. Miskien het ek bloot by die halte of stasie aangekom waar ek moes af, en geleentheid om klaar te maak, het hom bloot net nie weer voorgedoen nie.

Ewenwel, in die tydjies wat ek hierdie week af kon knyp om herbesoek aan 18 April 1994 te bring, het ek van vooraf op Amsterdam verlief geraak.

Praag was daardie jare die mees fotogeniese stad – ek het selfs ʼn koffietafelboek met swart-en-wit stadsfoto’s van die plek gekoop. Toe ek hierdie rondte begin rondkrap Amsterdam-foto’s  aan, kom ek agter Amsterdam is net so mooi uitgeknip vir ʼn kameralens. 

Dan is sy ook nog soos ʼn meisie wat jy enige tyd van die dag kan betrap – 06:00, 10:00, 15:00, 22:00, 01:49, dit maak nie saak nie – selfs die mees onbeholpe hand wat die kamerasluiter druk, kry ʼn lieflike stadskap (soos in “landskap” – as jy berge, skapens en bokkens in plaas van stadsgeboue, stegies, strate, en – in A’dam se geval, gragte – afneem).

Toe ons na die ’94-verkiesing ook in Suid-Afrika uiteindelik kaal tannies sonder sterretjies (waar ons mans nog al die jare tepels had) begin kry, het ʼn vriend wat gou uitgekuier geraak het met hierdie nuutgevonde vrolikheid, droogweg en banaal opgemerk dat ʼn boesem na ʼn ruk ook maar net nog ʼn boesem is. (Hy was natuurlik ʼn effe méér banaal as wat ek myself nou hier toelaat om te wees – maar ‘n goeie begryper, weet ek, kan ver kom met ʼn halwe woord.

            

Hierdie woorde van hom het weer by my opgekom toe ek die 200ste prentjiemooi prentjie van ʼn gestereotipeerde Amsterdam-stadskap in my A’dam-Pinterestalbum wou laai. As jy een asembenemende kiekie gesien het, het jy almal gesien. Maar, en seker maar soos my vriend ook, het ek aanhou kyk, en kyk en kyk. Ek het later net nie meer moeite gedoen om elkeen in die album te stoor nie – elke nuwe een is immer net so mooi soos elke vorige een.



Ek het in my snuffel afgekom op, vermoedelik ʼn Hollander, se Pinterest album wat hy (of sy) iets soos “There is more to Holland than only Amsterdam” of “Amsterdam isn’t all there is to Holland” noem.

In die tien dae (of hoeveel dit ook al was) waarby ek hierdie jaar in Engeland herbesoek gebring het, het die behoefte, of begeerte, om in lewende lywe weer daar uit te kom, nie een keer by my opgekom nie. In die weer-kuier in A’dam (ek sien ek moet deesdae onder invloed van ʼn baie gedrewe toerisme-bemarkingstrategie  eerder skryf van I amsterdam) het ek kort-kort vir myself gesê, iets soos “ek en Annieka sal maar net hier móét uitkom.”




Ek onthou die besoek aan die Tropenmuseum soos gister. Ek het die vorige jaar klaar gemaak met my tweede jaar van Sosio-kulturele Antroplogie aan UNISA. En as dit nie was dat ek geweet het ek gaan met langeverlof nie, het ek daardie jaar my derdejaarstudies begin. Sommer vir die lekker, om myself te verryk in ʼn rigting waarin my belangstelling lê.

So ja, nodeloos om te sê – daar is nie ʼn volkekundige iets waarby ons kón uitkom, waarby ek nié uitgekom het nie.


  


Wat die Tropenmuseum betref, is ek darem nou al ʼn gesoute internettoeris – danksy die ervaring wat ek in die Britse en Victoria & Albert museums opgedoen het. Ek het geweier om verdwaal te raak tussen al die moontlikhede en vanuit die staanspoor besluit dat dit Afrika en nié een van die ander kontinente gaan wees nie. Behalwe die fokus op Afrika het ek toe verder ingezoem op Afrika-maskers. Die enigste afdraaipaadjies wat ek toe op die ou einde gevolg het, was hier en daar maskers uit ander kulture ook – aanvanklik wanneer dit baie aan Afrika-maskers herinner (en later sommer net omdat dit mooi of interessant is).



Ander mense sal, en sou, en het, dit seker anders as ons gedoen. Ons nie. Ons kom in ʼn vreemde land, in ʼn vreemde stad aan. Kry die adres van ʼn wildvreemde slaapplek, hoor hulle het vir ons plek, en dan gaan sluit ons ons rugsakke in ʼn sluitkas op ʼn stasie toe – en gaan carpe diem vir die res van die dag.

En ás ons dan teen die einde van die dag kamp opgeslaan het (voor sononder, dat ons nie sukkel nie) dan is dit nie om af te skakel nie – dan neuk ons weer in stad toe om die stadsliggies te ervaar. (Gedagtig aan waar ons hier kuier, moes daardie “neuk” seker maar eerder iets soos “foeter” gewees het.)

Ek is spyt dat ek nie die naam van ons kampeerplek aangeteken het nie. Maar daardie jare het ek nie vir een oomblik gedink dat ek dit weer sou nodig kry nie. Esmari het straks – vir al wat ek weet, het sy nog die kwitansie of faktuur vir haar plakboek gehou. Nie een van die groot stedelike kampeerplekke se name het vir my bekend geklink nie. Niks, waar ek gaan inloer het, het bekend gelyk nie. En almal was naby water (die leidraad wat ek wou gebruik om my by die kampplek uit te kry.)

Die vriendelike bestuurders onthou ek soos gister, en haar “as’t u ‘blief” (of what ever) wat, verbeel ek my, eerder as “dankie” as “asseblief” gebruik word. Maar ek mag verkeerd wees.

Laslappies en skakels



Ons vertroude VVV-toeristeburo van ouds