Vrydag 13 April 2018

Dag 36 - 12 Mei 1994


12 Mei - 21 jaar van te vore

Die figuur links is deur Henri Matisse (1869 - 1954); die figure regs is deur Yves Klein (1928 - 1962). Naas die opvallende ooreenkomste, is die Franse stad, Nice, 'n ander groot ooreenkoms.


(netjies oorgetik... bla-bla-bla... my handskrif nie kan lees nie...)







Die dag begin met die vorige aand se skottelgoed – pasta en ratatouille, bier, wyn en sjokoladepoeding. Maar getrou aan my aard was ek eerder die volgende oggend as die aand direk na ʼn heerlike ete.

(Na Portugal se lekker goedkoop rooiwyn is Frankryk se goedkoop rooiwyn nie so lekker nie.)

Die dag skop af met die trein wat baie laat is op die stasie – seker 15 minute, en dit nadat ek en Es letterlik stasie toe gehardloop het om betyds te wees. (OK, nie al die pad gehardloop nie – die laaste 100 m.)

Ons eerste besoek is die Russiese Ortodokse kerkie wat vir my nog ʼn klimaks op die toer is. Die ikoonuistalling in Holland word oorskadu deur die klein kerkie – hier sien jy ikone in hul natural environment. (Soos ʼn leeu in die wildtuin teenoor ʼn leeu in die zoo.) Dit kos ons weliswaar R12-00, en die kerkie is baie klein. Es is teleurgesteld toe die kerk nie veel groter as haar woonstel se oppervlakte is nie, maar ek is in die sewende hemel oor die ikone en gee nie om nie.

Hierna skei ons weë: Ek stap af see toe op pad na die Raoul Dufy-museum. Ja, ek weet ek het nooit van Dufy se werke gehou nie, maar nadat ek in die A’damse Stedelijkmuseum gesien het hoe mooi Dufy se goed in die regtige lewe is, het ek tot ʼn totale herwaardering van die man se werk gekom. Die museum is egter toe – Hemelvaartdag.

Ek is toe in so ʼn straatjie af en kom af op die verruklikste varsprodukte- en blommemark. Ek koop summier R12-00 se olywe (½ lekker, die ander ½ nie so lekker nie) en verkyk my aan die gebeure, kleure en geure. Verglansde vrugte, angelica, neute, kaas, vars vis en goed in lelike skulpe, blomme en aarbeie by die 1000e. Ek stap daar op en af soos die jakkals in gevangenisskap op Rundu se dieretuin.

Vandaar is ek in Markstraat op – ʼn voetgangerstraatjie met die alleroulikste stalletjies links en regs. Ek sien tuisgemaakte ravioli, opgestopte speenvarke wat in skywe gesny verkoop word, Herbs de Provence... en is in totale vervoering.

Die pad bring my by die moderne kunsmuseum van Nice – en wás dit modern! Die gebou is basies vier geboue wat met wandelgange verbind is. Die kunswerke is net so modern, en die sekuriteit ewe modern. Ek loop in ʼn stadium oor die strepe en toe aktiveer ek ʼn alarm.

Ek is opgetrek met die Gilbert & George wat ek sien.

Toe weer af met Markstraat waar ʼn blaasorkes speel en ek nie meer lus het om Es op die strand te ontmoet nie, maar my eerder net te laat opslurp deur die atmosfeer op die plein. Ek kry myself wel daar weg en ons eet tunaslaai op die strand. (Besluit summier om nog ʼn dag op Nice deur te bring)

Toe stap ons teen ʼn helse heuwel op na die Matisse-museum wat in baie opsigte vir my ʼn teleurstelling was – hulle het baie min skilderye.

Ons besoek ʼn Franciskaanse kerkie (die klooster is gesluit).

Ons besoek die Argeologiese museum want die Romeine het eens gebly waar ons loop en hul geboue agtergelaat.

Toe sit ons bult-af stasie toe om heerlike suurkool en worsies te eet die aand. Sonder poeding die keer, behalwe vir die lekker sjokolade wat Es op die stasie gekoop het – uit hierdie slotmasjiene.

(Moet net noem dat ek ʼn kraan tref sonder ʼn kraan – maar toe ek my hand onder die kraan hou, toe registreer hy vanself en spuit my met water.)

21 jaar later

Ek is tevrede met my lewe, ek leef nie onvergenoegd met ʼn hunkering na meer nie. Dis daarom min dat ek iets sal kwytraak soos dit wat ek rondom my herbesoek aan Nice met Annieka gedeel het: “Ek wens ons was ryker, dan het ons gesin volgende vakansie Nice toe gegaan.”

            

Hierdie Italiaanse graafskap, sedert die 1300’s deel van die Huis van Savoje, en die van iewers in die 1500’s meer spesifiek deel van Piedmont-Sardinië, is maar eers in 1860, ʼn jaar vóór die unifikasie van Italië in 1861, deur Frankryk annekseer. (So hoewel dit vir honderde jare so Italiaans soos kan kom, was, was dit nooit deel van Italië nie.)

Toe (1860) was dit al vir jare die winteruithangplek van die Europese aristokrasie – die rykes het onder doktersorders soontoe gestroom agter die skoon vars lug en gematigder wintersmaande aan.

Die winter van 1820 was besonder koud, en nie net die aristokrate nie, maar ook heelwat meer bedelaars as gewoonlik het daardie jaar op Nizza toegesak. Dit was ʼn besoekende Britse predikant wat met die gedagte gekom het dat hulle die bedelaars kon inspan om vir hulle ʼn wandelpad langs die kus aan te lê. (Dis immers beter om iemand te laat werk vir geld, as om net aalmoese uit deel.) Hy het geld onder die Britse edellui ingespan en dit was die begin van die “strada del littorale”. In die volksmond, en plaaslike dialek, Nizzardo, het dit bekend gestaan as “camin dei Inglés” (Loopvlak van die Engelse). Sedert 1860 staan dit bekend as die “Promenade des Anglais”. Kortweg, natuurlik sommer net, “La Prom.”


(Aktiveer HIER 'n skakel na my Pinterest-album met skilderye van die Nice se baai en promenade.)

"Ons eerste besoek is die Russiese Ortodokse kerkie wat vir my nog ʼn klimaks op die toer is."
Nie net uit Europa nie, maar ook vanaf Rusland, dat die rykes gekom het. Drie tsarinas het hul winters daar spandeer. Daarom dat daar sommer drie ortodokse Russiese kerke in Nice is – elke tsarina het vir haar eie kerk gesorg. 

                                                    
  
Die eerste was Tsarina Alexandra Feodorovna, weduwee van Tsaar Nicholas I, wat in 1856 ʼn kerkie vir haar en die Russiese winterbesoekers aangelê het.

Tsarina, Maria Alexandrovna, vrou van Alexander II, se seun, Tsarewitsj Nicolas Alexandrowitch, kom kuier in die winter van 1865 by sy ma en sterf. Die Tsarina sloop toe die gebou waarin haar seun gesterf het en bou daar ʼn tweede Russies-ortodokse kerk.

Maria Feodorovna, wat aan die oorlede Tsarewitsj Nicolas Alexandrowitch verloof was, trou toe maar met sy boetie, wat later Tsaar Alexander III geword het. In 1896, op 49, was sy ook al weduwee. Toe sy hoor ʼn groter kerk in Nice is in die pyplyn (die een in gebruik het te klein geword vir die groende Russiese gemeenskap) oorreed sy haar seun, toe Tsaar Nicholas II, om pa te staan vir 'n nuwe katedraal.

En dis die kerk waarin ons was. Ek noem dit klein, maar dis suiwer gelees teen die groot katedrale waaraan die laaste maand in Europa my gewoond gemaak het.

         


"Ek stap af see toe op pad na die Raoul Dufy-museum."
Ook maar goed dat dit Hemelvaart was, en die plek toe – ek sou teleurgesteld wees. Die museum is suiwer na Dufy vernoem (dit kan selfs wees dat hy die plek gebou het, maar jy weet hoe dit met die verdomde Franse webwerwe is – niks is in Engels nie) Soos wat ek kon aflei is daar nie ʼn lywige, noemenswaardige permanente versameling van Dufy se werke in die museum nie.


Maar Dufy het lieflike skilderye van die Promenade des Anglais en Baie des Anges geskilder, dat ek maar by hulle gaan stilstaan het.


"Ek is toe in so ʼn straatjie af en kom af op die verruklikste varsprodukte- en blommemark."
           
 

Dis haar waar ek op Nice verlief geraak het, en vanjaar opnuut weer. In 1994 was die naaste wat ek as Suid-Afrikaner aan ʼn kosmark gekom het, boere se padstalletjies, langs die pad Ficksburg toe, Kaap toe en Natalse suidkus toe. En die wat daardie jare se padstalletjies onthou, sal onthou dat drie uit elke vier al vir jare gesluit was.

Niks in Suid-Afrika, selfs vandag nog, herinner aan die Europese kosmarkte nie – Die Boeremark in Pretoria is so Suid-Afrikaans as wat kan kom, en die Kaap se markte wil die een meer pretensieus as die ander wees.

So toe ek dié mooi dag op daardie mark afstap toe word ek dronkgeslaan, die wind uit my seile geneem, my asem weggeslaan. Gelukkig dat ek nie soos ʼn hond aanmekaargeslaan is nie, want ek sou onkeerbaar aan het kwyl gegaan het.

ʼn Olyf in ʼn balie trek my vandag nog aan soos min dinge kan.


(Aktiveer 'n skakel HIER na my Pinterst-album oor skilderye van die mark.)

"Vandaar is ek in Markstraat op – ʼn voetgangerstraatjie met die alleroulikste stalletjies links en regs."



Iets waarvan ek nie tóé bewus was nie, en vandag ʼn jammerte, is die feit dat Matisse ʼn goeie 17 jaar in die gebou aan die bopunt van die straat gebly het. Niks aan die gebou, nie eens ʼn gedenkplaatjie, maak ʼn mens daarvan bewus nie – maar daar bo, eers op die derde vloer en toe die vierde het hierdie groot kunstenaar gewoeker.

"Die pad bring my by die moderne kunsmuseum van Nice – en wás dit modern!"



           



Die herbesoek, soos aan bykans enige Franse museum, was weer eens teleurstellend omdat elke Frankofiele Franse museum se teikenmark suiwer, slegs, alleen maar, net Frankofiele Franke is; niemand meer, niemand anders, basta met enige iemand meer, iemand anders en nie van Frankiese afkoms.

Tog, behalwe dat dit opnuut my renons in die ganse Franse maatskappy aanwakker, bring dit lieflike herinneringe terug. En die verleentheid van die alarm!

  


Ek weet dis drie aansigte van dieselfde skildery en installasie, maar dis nie wat ek wil hê die besoeker moet raaksien nie. Op een foto is dit duidelik dat ʼn museumbesoeker op veilige afstand gehou word deur ʼn gespande tou. Op ʼn ander is dit duidelik dat daar wit streep op die grond getrek is en jy breindood moet wees as jy nie besef die museumbase wil hê dat jy en jou voete aan die anderkant van daardie lyne op veilige afstand van die skildery en muur sal bly nie. En, dan, op die ander foto is daar duidelik niks. Ek sou nie sommer in die vreemde oor die tou wou trap nie, en as iemand ʼn streep getrek het, eerbiedig ek daardie streep – maar in 1994 was daar niks wat verklap het dat daar nie niks is nie, maar ʼn laser of kamera of ding en as jy dit te naby sou waag aktiveer dit ʼn alarm.

Wel ek het dit te naby gewaag en my vingers verbrand met twee hoogsintimiderende museum-bouncers wat in International Klein Blue-kleurige polisieuniform op my kom spoeg het. Dis nou nadat ʼn alarm aan die gil en skree gegaan het dat hoor en sien vergaan.

Gewoonlik is dit sulke ou, afgetreede ou balies wat in die museums toekyk dat jy nie aan die beelde vat of aan ʼn skildery raak nie en hoogstens iets niksseggend in jou oor kom fluister as jy te na aan hulle sin aan die kunswerke kom – nie in Nice nie, nie in 1994 nie, glo my vry.

Wat hulle ook al doen, blyk nie aldag te werk nie – hierdie knaap hier onder het verlede jaar vir ontsteltenis gesorg toe hy sy voet in dit gesit het. Gelukkig kon die kurator die installasie vinnig herstel – dit is immers net ʼn dik laag poeierverf, International Klein Blue, en die pigmenthandelaar wat dit in 1962 vir meneer Klein gemeng het, dryf steeds handel in dieselfde verf.


   


Ek, op my beurt, waag dit nooit weer nader as die standbeeld regs van die skildery oorkant hom nie. Dit was hoeka te na aan die een of ander blou klerewinkelmannekyn teen ʼn goue agtergrond, dat ek dit destyds gewaag het.

Die skildery wat lyk soos twee blou visse en die torso's heel bo was nogal 'n gedoente om te skilder - die "kwas" was telkens 'n naakte vrouefiguur, 'n tipe skildery wat Klein "anthropométrie" gedoop het. Alles onder orkesbegeleiding, natuurlik. (Hier onder sien jy hoe die blou visse gemaak is - die derde foto wys die begin van die een vis.)


   


"Toe weer af met Markstraat waar ʼn blaasorkes speel en ek nie meer lus het om Es op die strand te ontmoet nie, maar my eerder net te laat opslurp deur die atmosfeer op die plein."
Dis duidelik dat die benaming, Markstraat, ʼn skepping van my eie was. Maar ek was in die sewende hemel. En toe ek eers op die blaasorkes afkom, toe was dit verby. ʼn Blaasorkes vir my was die enkele hout-en koperblasers van die Heilsleër wat een keer ʼn jaar in ons woonstel se agterplaas kom speel het, en dan het ons ʼn geldjie gegee. Of ons het hulle oor Kersfees iewers in die strate raakgeloop.

Hier oorrompel ʼn hele blaasorkes my – nie ʼn militêre orkes met marsmusiek nie, ʼn vriendelike moppie ooms en tannies wat op ʼn pleintjie, tussen tafels en stoele, toeriste en kelners, uithang en die geselligste musiek maak.



Dit was hier, op hierdie pleintjie, (of 'n soortgelyke een wat baie so lyk) iewers tussen die tafels en die mense, dat die blaasorkes my tot stilstand geruk het. 

Ek het nog nie my dagboek vooruit gelees nie, maar ek verbeel my, na ons besluit het om nog ʼn dag in die stad aan te bly, en my oorvertel van my besoek aan die Oudorp en die jolige blasers was genoeg oorreding, is Es dag drie saam met my Oudorp toe, ek sowaar in die hoop dat ons die orkes weer sou raakloop. Maar helaas.

"Toe stap ons teen ʼn helse heuwel op na die Matisse-museum wat in baie opsigte vir my ʼn teleurstelling was – hulle het baie min skilderye."
Ek kan nie glo ek het myself nie toegelaat om die besoek te geniet nie, ja, daar is nie veel van sy skilderye nie, maar ek het tog sekerlik nie ʼn Tate of Metropolitan museum verwag nie, het ek.
Ek dink ek was meer teleurgesteld oor die skilderye wat ek gehoop het om te sien, en toe nie gesien het nie. Alles juffrou Jacque Olivier, my kunsonderwyseres se skuld – sy het Matisse in 1982 so lewendig aangebied, die werke so raak beskryf, dat ek nie kon wag om die werke waaroor sy so liries geraak het, op te spoor nie. Maar helaas.




Ek sal beslis nie, sou ek ooit weer daar kom, so blasé wees om teleurgesteld te wil voel omdat daar nie genoeg skilderye is nie. Bid jou dit aan. Die voortvarendheid van die jeug! (Wysheid met die grysheid?)


Wat ek die meeste van die herbesoek geniet het, is die kennismaking met die objekte, tekstiele en ander persoonlike besittings wat Matisse geskilder het. Op een van die foto's regs onder, is Matisse se kleinseun.


 

"Ons besoek ʼn Franciskaanse kerkie (die klooster is gesluit)."


Van dié besoek onthou ek niks. Hemelvaartdag 1994 is die klooster gesluit; Goeie Vrydag 2018 kuier ek heerlik in die kloostertuine, die kerk én die klooster.



               



"Ons besoek die Argeologiese museum want die Romeine het eens gebly waar ons loop en hul geboue agtergelaat."



   


Hiervan onthou ek nog minder, maar dit maak sin – as ons al die pad opgefoeter het om bo op die kop by Matisse se museum te kom, sou ons by die twee ander besienswaardighede, links en regs van die museum ook ingeloer het.

"Toe sit ons bult-af stasie toe om heerlike suurkool en worsies te eet die aand."
Ek laat dit so lekker klink – dit sou beslis suurkool uit ʼn bottel en worsies uit ʼn blik gewees het.



 


Dalk, net dalk, het ons dit op die mark gekoop.

24 jaar later sal ek my maar wysmaak, en my dit verbeel, dat ons dit by een van die Cours de Saleya se kraampies gekoop het.


Laslappies en skakels