2 Mei – 21
jaar vantevore
Esmari gaan
in per trein om ons kaartjies sodanig te verander en ek gaan in na die laundromat (wishy-washy soos Judy altyd se.)
Hier het ons
‘n effense boggeroppie – hoewel net ’n voorspel tot die dag se boggerop: Es gooi te min waspoeier in, omdat ons laas
te veel ingegooi het – en ons mors basies die R40-00 wat dit ons kos om die
wasgoed te was. Ek dwaal so bietjie buite rond en ontdek die allerlieflikste patisserie waar ek ‘n Paris Breast koop. En diek daarna ‘n eclair wat skrik vir niks.
Hierna gaan
pak ons in – dit gaan maklik. Dominique daag op en sy offer om ons stasie toe
te neem. Eers het Es probeer om haar donderse pakkie, waarvoor ek al net so
gatvol soos sy is, te gaan pos. Dit blyk to dat dit haar ‘n skrale R150-00 sal
kos en ek voel summier skuldig oor die drie of vier poskaarte wat ek
saamgestuur het. Ou twyfelaar wat sy is, en een wat nie haar mind kan opmaak
nie, stap ons toe terug met die pakkie – ons sal dit maar in Spanje –
“Gamon-gamon” gaan pos. (My geduld bereik amper breekpunt.)
Ons kry ons
kaartjies vir die trein, en om ‘n baie lang storie kort te maak, word ons
beboet, 20 minute later, vir 145 FF wat amper R89-00 is. O, ek was suur, Esmari
was suur. Hoe die koolkop sonder IK gedink het dat ek en Es met ons moerse
pakkasie, sonder ‘n kaartjie, op die
metro gekom het, weet ek nie. En ons het nie tyd gehad om te redekawel nie (ons was onskuldig) want ons was – nie danksy
my nie – so bietjie laat.
Hierna klim
ons hoogsbemoerd – gelukkig het ons die FF (Frank) aan ons gehad – op die luuksste
trein wat ek nog ooit gery het – ‘n TGV – ‘n eersteklas –effekkie wat ons neem
na Irun, ‘n klein dorpie in Spanje.
Die rit is egter baie onaangenaam danksy ons onaangename
ervaring. Ek het hierdie ontzettende behoefte om op die vrou oorkant my, so ‘n ryk
Franse bitch, se skoot te kots. (Esmari voel nie veel anders nie.)
Op
Irun-stasie – drie ure later – die aand, koop ons kos in Franse Frank – ek kop
‘n heerlike sereveja: ‘n literbottel San Miguel-bier en so ‘n worsie wat baie lekkerder lyk as wat
dit is.
Gewapen met
ons kossies klim ons op die tweedeklas passasierstrein. Ons gaste is 3/2 baie
dierbare Spaanse tannies wat nie ‘n enkele woord Engels kan praat nie. (Hulle
kan dalk meer praat, ék kan hulle uitspraak net nie so lekker volg nie.)
Nodeloos om
te sê: ons is baie meer versigtig wat
ons bagasie betref – ek bêre my money-belt-sakkie onder my matras.
2 Mei – 21 jaar
verder
Ek het die
oorgang van plat, ronde, vet sjampanjeglase na hoë, lang, maer sjampanjeglase
beleef. Iewers in die oorgangsjare is vertel dat die ouer, plat, vet glase om een
van oorle’ Marie Antoinette se borste gevorm is. My verbeelding het met my op
hol gegaan en ek het myself wysgemaak dat die afdruk enkele oomblikke na haar
dood saam met die koningin se dodemasker gemaak is.
In dieselfde
asem is ons ingelig dat die langer, hoër, heelwat maerder sjampanjeglase wat die
boesemglase vervang het, op soortgelyke wyse deur ‘n anatomiese onderdeel van
Marie se man, oorlye Lodewyk, inspireer is.
En dis aan Marie Antoinette wat ek gedink het toe ek die Paris Breast so grafies in my dagboek verwoord het.
Dis eers nou dat ek agterkom dis nie “breast” nie maar “Brest” die naam van ‘n dorp waarheen en terug al om die ander vier jaar daar nou al van 1901 af fiets gery word. Paris – Brest (en terug na Paris) is amper soos die Tour de France, net langer – as ek my dit nie mis het nie. En die banketsoetigheid wat Paris Brest genoem word, is eintlik veronderstel om ‘n fietswiel, en allermins nie ‘n vrou se boesem nie, in die herinnering te roep.
Welvoeglikheidhalwe brei ek nie verder uit nie, maar as een van daardie romerige soetighede weer oor my lippe gaan, sal ek tog kyk of ek my eerder kan vertel ek is besig om my weg deur ‘n fiets se rubberbuiteband te vind.
Wishy-washies, soos Judy die goed genoem het, het, soos ek, duidelik ook 21 jaar aangestap. Ek kan nie glo die goed is deesdae sommer so in die oopte, op straat, gereed vir gebruik nie.
Die Duitsers praat van swartz fahren (hulle spel dit straks anders, ek sal nie weet nie). Ek onthou nie onwettige moltreingebruikers wat saam met jou deur die ingang geglip het as jou kaartjie die hek oopgemaak het nie. Ek onthou wel mense wat flink bo oor die hekke en muurtjies gespring het om sonder reiskaartjie aan die kant van die spoor te kom. Amper soos ‘n koedoe wat draadspring, of skaapdief wat soos ‘n wafferse gimnas oor die boer se lemmetjiesdraad-grensdraad wip.
Nou dit is wat ek en Es daardie middag volgens die breindood knoffelasem wat ons beboet het, moes gedoen het. Behalwe dat daar nie ‘n manier is dat ek of Es dit sou kon gedoen het nie – ons is nie daartoe gebore in staat nie, sou ons dit nog moes doen met ons rugsakke wat vir ‘n reis van amper vier maande gepak was.
En dan het ons teen daardie tyd nog handbagasie ook gehad. Ek weet nie of Esmari se Delft-koffiemeuletjie al gepos was nie. Miskien was dit deel van die pakkie wat hier ter sprake was, iets wat sy vir weke saamgedra het. (Maar, boeta, was ons darem bly toe die ding in een stuk in Suid-Afrika aankom! Die ding was elke meter wat sy dit in die vreemde saam met haar gedra het, die sweet en die moeite werd.
Gelukkig het ek my ekwivalent van Esmari se koffiemeule eers op die laaste skof van ons toer, in Italië gekoop – ‘n ystermasjien wat pasta rol en sny, iets wat ek nou nog van tyd tot gebruik.
Ons had hierdie naweek vriende oor vir ete, ek het die meel gekoop gehad, maar was op nommer 199 te lui om die pasta aan huis te maak – toe koop ek maar die soort tuisgemaakte pasta wat die laaste klompie jare hier by ons te kope is.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking