Dinsdag 30 Augustus 2016

Dag 27 - 3 Mei 1994

3 Mei - 21 jaar vantevore









Ek voel met die intrapslag baie positief oor Spanje.

Ons word verwelkom met ‘n pragtige landskap voor Madrid – ek sien bokkies, en nie een nie, baie, wat toe later takbokkies blyk te wees.

Die ander rede was die rooi papawers orals langs die spoor wat vir jou groet so ver soos jy ry. (Dit sou later blyk dat hierdie einste binnekoms in Madrid die enigste mooi een was – al die ander entradas en salidas  het deur nywerheidsgebiede, subekonomiese woonstelbehuising en dié klas van ding, geskied – regtig nie baie aptytlik nie.)

    

Esmari is nog suur – maar dit is oor die onaangename insident in Frankryk. (Ek moes aan myself werk om positief te word – ons het trouens besluit om nie die ekstra dag in Frankryk te hê nie, maar elders.)

Madrid-stasie:  Ons pik aanvanklik verward rond – sonder geld op die stasie. Ons trek uit ons kitskaarte – voordat die rand se wisselkoers te veel versleg. Dit is vir my wonderlik om masjiene te sien waarin jy ‘n $200-noot indruk en hy wissel jou geld vir jou in Pesetas.

Chaos rondom lockers – ons het genoeg geld, maar in verkeerde munte. Ek moet toe geld gaan trek – tweede keer en ‘n Coke koop om die korrekte kleingeld te kry.

Ek trek – net daar in die locker-kamer – vir my ‘n skoon broek en hemp aan.

Nodeloos om te sê:  die eerste wat ons in Madrid doen is om Esmari se donderse pakkie wat sou nou al amper twee weke saamdra te gaan pos. Dit kos haar toe in die omgewing van R60-00 (teen R150-00 in Frankryk.)

Ek stap aan Prado toe:  en watter wonderlike ervaring was Prado toe nie.

       


Dis die eerste keer in my lewe dat ek positief voel oor ou skilderye. Die bekendste, maar bekendste goed hang hier. Goya, Velázquez, en natuurlik – my hoogtepunt:  Bosch se Garden of Delights.

Ons spandeer ‘n goeie tydjie hier. Aangesien ek min geld het, koop ek nie ‘n poster nie – dit breek my hart, maar nou ja.

Van daar gaan ons na waar Guernica hang, maar dis toe. Ons gaan toe na die Royal Palace toe, maar dis te duur en ek het in elk geval geen behoefte aan ‘n oordadige kasteel nie.

       

Ons stap deur Madrid se strate – dit val op hoe mooi die naamborde geskryf word – van die strate – sulke lieflike pottery naamborde.

Ek sien ‘n koei wat ek begeer, ek sien Lladro wat ek begeer. (Ek sien so baie wat ek begeer.) (In Spanje.)

Alles en almal siesta dan ook in die land en 14:00 toe maak bykans alles toe, tot 17:00. Ons sien honderde tradisionele Spaanse kak wat aan die toeriste verkoop word.

Ons besoek Fnac – die CD-plek – koop kos vir die aand en gaan eet heerlik aandete op so grasperkie in die middel van die stad – vino.

Middagete was by ‘n pleintjie in die stad by ‘n waterval.

21 jaar verder

       


21 jaar verder kan ek my nie voorstel van watter Lladro ek destyds sou gehou het nie, ook nie waffer koei so sterk tot my kon gespreek het nie. Die koeie is 21 jaar verder redelik algemeen hier by ons - ek verbeel my die goed word selfs al van Sjina ingevoer, maar destyds, 1994, was dit ongesiens in die republiek en beslis redelik eksklusief.

Lladro is nou ook die hele land vol, maar daardie jare is die enigste Lladro wat ek geken het, Lladro wat besoekers van oorsee ingebring het. Ek was van skooldae af harlekyn-beheb en ons in ons tweede jaar op universiteit met die Commedia Del'Arte te doen gekry het, nog meer. So ek vermoed my hart sou met 'n punt na die harlekyne toe gestaan het.

My broer-hulle had een so harlekyn vir een van die kinders die land ingebring, en ek was o so mal oor die ding. Toe hulle Kaap toe getrek het, is die outjie in 'n pakkamer gepak. My hart het gebreek en seker vir tien jaar gebrand van begeerte elke keer as ek in die pakkamer gekom het om wyn of iets te gaan haal.

          



Wat ek wel deeglik onthou, is die treinrit Madrid toe – en die rooi papawers soos gister. Dit was nie ‘n rooi veld vol blomme nie. Wanneer dit daar in volle blom is, weet ek nie, maar ek weet Mei was te laat of te vroeg vir die lappe en lappe rooi. Ek onthou lieflike spikkels rooi.

Ek kry sommer heimwee as ek terugdink aan die pakkie wat toe uiteindelik gepos is. En dit wás toe die moeite werd om te wag – dit was toe baie goedkoper.

Die een ding wat die herbesoek aan my bewys het, is hoe bedrieglik ‘n mens se geheue kan wees. In Dick Swaab se boek, Ek is my brein: Van baarmoeder tot Alzheimer, het ek moes lees dat die brein selektief onthou, nie huiwer om die geheue in te span (en te plooi) soos dit hom pas nie, en jou sonder om te blik of te bloos lekker ‘n rat voor die oë kan draai.

Maar ek het die man met ‘n knippie sout opgeneem, myself wysgemaak hy gesels hy dik sommer aan.

Ek is weer eens verkeerd bewys; professor Swaab reg.

 
 


Ek onthou Prado as ‘n volslae hoogtepunt, ek onthou my gaan staan voor El Bosco (soos die Spanjaarde na Boch veryws) se “Tuin ter Lusten” (Nederlands se lieflike vertaling van die Engelse “Garden of earthly delights”) asof dit gister was.

Ek het al male sonder tal weer in my geestesoog gestap en regs gekyk en my oog op die triptiek gelê. Dit was ongelooflik, onglobaar, ondenkbaar, onwerklik.

Dit was een van daardie oomblikke wat ek myself nooit kon voorstel nie, een van daardie belewenisse wat ek nooit gedink het moontlik sal wees nie – dis presies soos die oomblik toe ek dag een van die toer in Londen in die National Gallery se Post-Impressionistiese saal instap en ek, in lewende lywe, voor ‘n Van Gogh (ook in lewende, trouens lewendiger, lywe) staan.

Haai, en toe ek nou via die museum se webwerf weer ‘n ogie gaan gooi, is die triptiek soveel groter as wat ek dit onthou. En ook nie sommer net groter nie, ‘n goeie twee en selfs drie keer groter.

Ek het, elke keer die laaste klompie jare as ek die besoek in die herinnering roep, ‘n heelwat kleiner skildery onthou – my brein het, elke keer die laaste klompie jare as ek die besoek in die herinnering roep, ‘n veel kleiner skildery vir my opgetoor. Lag-lag omtrent ‘n derde van die grootte wat die skildery in werklikheid is.

Ek was só verbaas, en het soveel kleiner onthou, dat ek begin wonder het of ek nie aan ‘n ander skildery gedink het nie. Maar dit is nie so nie.

Toe ek nou op foto’s van mense voor die skildery afkom, had ek geen deja vu nie, ek had eerder ‘n kortsluiting van die een of ander aard.

Wat my die besigste gehou het, of sal ek sê wié my die besigste gehou het, is Aglaia, Euphrosyne en Thalia, onderskeidelik die draers van skoonheid, vreugde en geluk, in Rubens se skilderye van die drie, The Three Graces.

Hierdie drie susters was vir die antieke Grieke die verpersoonliking van menslike skoonheid, afronding en verfyndheid - en dis ook hoe hulle vir eeue uitgebeeld is. (Dit sal my nie verbaas as hierdie drie, naas natuurlik die Madonna en Kind, vir jare die mees populêre onderwerp in Westerse kuns was nie.)

Ek had geen idee hoe om in Afrikaans na dié drie dames te verwys nie. “Die drie grasies” sou beslis nie deug nie. Die Nederlanders praat van “De drie gratiën”, maar dit bring my ook nergens nie.

Danksy Sophia Kapp, hooftaaladviseur by  VIVA (Virtuele Instituut Vir Afrikaans) weet ek nou dat dit “Die drie grasieë” is.

 

 


Oordink ons die stereotiepe uitbeelding van die vrouefiguur in ons huidige eeu, danksy die media ook ons persepsies en opvattings oor hoe ‘n vrou wat vrou wil wees, moet lyk, en ons vergelyk dit met Rubens se uitbeelding van die drie vrouens, dan voel dit my of ons meer as net amper 400 van mekaar verwyderd is.

Dis nie ons wat bevry is nie, dis Rubens en sy tydgenote wat bevry was! Die gevangenis het later gekom. Ons is die outjies wat vasgevang, beperk en ingeperk is.

Ek onthou van skooldae in die kunsjuffrou se klas dat Rubens lief was vir die voller figuur, maar hóé vol, moes my ontgaan het.

Dat sy tweede vrou (die sestienjarige meisie, presies so oud soos sy oudste van drie kinders by sy oorlee eerste vrou, wat hy op ouderdom van 53 trou) die hoofbron van inspirasie vir hierdie voller figure was, is ook vir my nuus.

So ook die feit dat die ou bok in die volgende tien jaar vyf kinders by die jong blaartjie verwek het – die jongste Rubensie het enkele maande na die pappa se afsterwe op 63, eers die eerste lewenslig aanskou.

Na ek toe heerlik in die geselskap van Rubens en sy tydgenote in die Prado gekuier het, wou ek summier ‘n Pinterest-album rondom die drie grasieë begin – sommer om te kyk hoe die verskillende tye se uitbeeldings van hulle, as verteenwoordigers van die vrouefiguur, gewissel het.

Groot was my teleurstelling, toe ek gaan loer of so iets al gedoen is en of ek nie dalk die eerste een is wat met so ‘n oulike idee vorendag kom nie, om te sien die kuberruim is vervuil van Pinterest-blaaie wat presies dit doen. (Ek het ophou tel by 72 – en dit net in Engels!)

Maar toe kuier ek éérs lekker.

Aanvanklik begin ek by die drie grasieë, toe enige iets wat aan hulle sou kon herinner, later sommer enige drie vrouens en in ‘n stadium selfs drie swart rawe!

Waar ons daardie aand kampeer het, weet ek nie! Ek verbeel my dit was naby die lughawe en dat ons vreeslik ver moes gestap het na die naaste bushalte. Ek kan nie glo ek het geen, maar geen, aantekening oor die verblyf gemaak nie.

Laslappies en skakels

Drie Grasieë
Prado (dit gaan hier, terloops, nie veel anders as in Frankryk nie - die Engels hou gou op.)

Hierdie webwerf wat fokus op skilderye wat Rubens en Jan Brueghel gesamentelik geskilder het, was vir my baie interessant.

Woensdag 10 Augustus 2016

Dag 26 - 2 Mei 1994

2 Mei – 21 jaar vantevore





Staan die oggend betreklik vroeg op – Dominique is steeds weg vir die naweek. Ons besluit om die stad vandag te verlaat en eerder die ekstra dag in die suide van Frankryk by te voeg.


Esmari gaan in per trein om ons kaartjies sodanig te verander en ek gaan in na die laundromat (wishy-washy soos Judy altyd se.)

Hier het ons ‘n effense boggeroppie – hoewel net ’n voorspel tot die dag se boggerop:  Es gooi te min waspoeier in, omdat ons laas te veel ingegooi het – en ons mors basies die R40-00 wat dit ons kos om die wasgoed te was. Ek dwaal so bietjie buite rond en ontdek die allerlieflikste patisserie  waar ek ‘n Paris Breast koop. En diek daarna ‘n eclair wat skrik vir niks.

  


Hierna gaan pak ons in – dit gaan maklik. Dominique daag op en sy offer om ons stasie toe te neem. Eers het Es probeer om haar donderse pakkie, waarvoor ek al net so gatvol soos sy is, te gaan pos. Dit blyk to dat dit haar ‘n skrale R150-00 sal kos en ek voel summier skuldig oor die drie of vier poskaarte wat ek saamgestuur het. Ou twyfelaar wat sy is, en een wat nie haar mind kan opmaak nie, stap ons toe terug met die pakkie – ons sal dit maar in Spanje – “Gamon-gamon” gaan pos. (My geduld bereik amper breekpunt.)

Ons kry ons kaartjies vir die trein, en om ‘n baie lang storie kort te maak, word ons beboet, 20 minute later, vir 145 FF wat amper R89-00 is. O, ek was suur, Esmari was suur. Hoe die koolkop sonder IK gedink het dat ek en Es met ons moerse pakkasie, sonder ‘n kaartjie,  op die metro gekom het, weet ek nie. En ons het nie tyd gehad om te redekawel nie  (ons was onskuldig) want ons was – nie danksy my nie – so bietjie laat.

Hierna klim ons hoogsbemoerd – gelukkig het ons die FF (Frank) aan ons gehad – op die luuksste trein wat ek nog ooit gery het – ‘n TGV – ‘n eersteklas –effekkie wat ons neem na Irun, ‘n klein dorpie in Spanje. 

  


Die rit is egter  baie onaangenaam danksy ons onaangename ervaring. Ek het hierdie ontzettende behoefte om op die vrou oorkant my, so ‘n ryk Franse bitch, se skoot te kots. (Esmari voel nie veel anders nie.)

Op Irun-stasie – drie ure later – die aand, koop ons kos in Franse Frank – ek kop ‘n heerlike sereveja: ‘n literbottel San Miguel-bier  en so ‘n worsie wat baie lekkerder lyk as wat dit is.

     


Gewapen met ons kossies klim ons op die tweedeklas passasierstrein. Ons gaste is 3/2 baie dierbare Spaanse tannies wat nie ‘n enkele woord Engels kan praat nie. (Hulle kan dalk meer praat, ék kan hulle uitspraak net nie so lekker volg nie.)

Nodeloos om te sê:  ons is baie meer versigtig wat ons bagasie betref – ek bêre my money-belt-sakkie onder my matras.

2 Mei – 21 jaar verder


Ek het die oorgang van plat, ronde, vet sjampanjeglase na hoë, lang, maer sjampanjeglase beleef. Iewers in die oorgangsjare is vertel dat die ouer, plat, vet glase om een van oorle’ Marie Antoinette se borste gevorm is. My verbeelding het met my op hol gegaan en ek het myself wysgemaak dat die afdruk enkele oomblikke na haar dood saam met die koningin se dodemasker gemaak is.

In dieselfde asem is ons ingelig dat die langer, hoër, heelwat maerder sjampanjeglase wat die boesemglase vervang het, op soortgelyke wyse deur ‘n anatomiese onderdeel van Marie se man, oorlye Lodewyk, inspireer is.



      

En dis aan Marie Antoinette wat ek gedink het toe ek die Paris Breast so grafies in my dagboek verwoord het.

Dis eers nou dat ek agterkom dis nie “breast” nie maar “Brest” die naam van ‘n dorp waarheen en terug al om die ander vier jaar daar nou al van 1901 af fiets gery word. Paris – Brest (en terug na Paris) is amper soos die Tour de France, net langer – as ek my dit nie mis het nie. En die banketsoetigheid wat Paris Brest genoem word, is eintlik veronderstel om ‘n fietswiel, en allermins nie ‘n vrou se boesem nie, in die herinnering te roep.

Welvoeglikheidhalwe brei ek nie verder uit nie, maar as een van daardie romerige soetighede weer oor my lippe gaan, sal ek tog kyk of ek my eerder kan vertel ek is besig om my weg deur ‘n fiets se rubberbuiteband te vind.

  


Wishy-washies, soos Judy die goed genoem het, het, soos ek, duidelik ook 21 jaar aangestap. Ek kan  nie glo die goed is deesdae sommer so in die oopte, op straat, gereed vir gebruik nie.

Die Duitsers praat van swartz fahren (hulle spel dit straks anders, ek sal nie weet nie). Ek onthou nie onwettige moltreingebruikers wat saam met jou deur die ingang geglip het as jou kaartjie die hek oopgemaak het nie. Ek onthou wel mense wat flink bo oor die hekke en muurtjies gespring het om sonder reiskaartjie aan die kant van die spoor te kom. Amper soos ‘n koedoe wat draadspring, of skaapdief wat soos ‘n wafferse gimnas oor die boer se lemmetjiesdraad-grensdraad wip.

Nou dit is wat ek en Es daardie middag volgens die breindood knoffelasem wat ons beboet het, moes gedoen het. Behalwe dat daar nie ‘n manier is dat ek of Es dit sou kon gedoen het nie – ons is nie daartoe gebore in staat nie, sou ons dit nog moes doen met ons rugsakke wat vir ‘n reis van amper vier maande gepak was.

En dan het ons teen daardie tyd nog handbagasie ook gehad. Ek weet nie of Esmari se Delft-koffiemeuletjie al gepos was nie. Miskien was dit deel van die pakkie wat hier ter sprake was, iets wat sy vir weke saamgedra het. (Maar, boeta, was ons darem bly toe die ding in een stuk in  Suid-Afrika aankom! Die ding was elke meter wat sy dit in die vreemde saam met haar gedra het, die sweet en die moeite werd.

Gelukkig het ek my ekwivalent van Esmari se koffiemeule eers op die laaste skof van ons toer, in Italië gekoop – ‘n ystermasjien wat pasta rol en sny, iets wat ek nou nog van tyd tot gebruik.

   

Ons had hierdie naweek vriende oor vir ete, ek het die meel gekoop gehad, maar was op nommer 199 te lui om die pasta aan huis te maak – toe koop ek maar die soort tuisgemaakte pasta wat die laaste klompie jare hier by ons te kope is.