Maandag 27 Junie 2016

Dag 24 - 30 April

21 jaar vantevore






Vanoggend is ek uit voor Esmari. Die Picasso-museum maak vroeg oop en toe sy eers sê “Ek gaan gou bad,” toe weet ek dis verby – sy kan nie iets gou doen nie, en sloer vreeslik. As ‘n mens 9-uur sê, is dit nie noodwendig 9-uur nie – ¼ oor 9 is ook o.k. 

9-uur aan die ander kant is vir my 9-uur. 

Ek is toe ook 9-uur uit en trein toe, waarvoor ek gelukkig nie lank hoef te wag nie.

Ek volg die bordjie “Musee Picasso” soos hulle my sê, maar toe kom ek by ‘n T-aansluiting, en daar staan toe niks verder nie. Tipies die donderse Franse. Op die ou einde spoor ek in ‘n venster ‘n A4-velletjie op waarop geskryf staan in watter rigting die museum is – daar het seker al so baie mense gevra dat die ou maar self sy velletjie ingesit het.

Na die Tate se uitstalling oor Picasso, kan ‘n  mens nie verwag dat die Picasso-museum in Parys ‘n hoogtepunt gaan wees nie – en dit was ook nie. Dit was puik, maar kan eenvoudig net nie met die Tate vergelyk word nie. Waarvan ek wel, en baie, gehou het, was om die oorspronklike beelde te sien wat hy laat giet het. Die man was ‘n genius.

Hierna skiet ek gou in by die Parys-museum (Carnavalet) wat die geskiedenis van die Parys in skilderye, meubels en ornamente uitbeeld. Dit was lag-lag die grêndste, maar verveligste museum waarin ek nog ooit was. Die Ω€¥∞∂§± Franse skryf mos alles in Frans. So jy het nie ‘n Ω€¥∞∂§± clue op watter dag die museum toe is nie. Dit is so ontsettend belaglik.

Toe skiet ek deur na die Museum vir Afrikakuns en Oseanografie. Oseanografie het nie met die see te doen nie, maar met sekere bevolkingsgroepe, het ons in A’dam geleer. Maar by die museum vir Afrikakuns en oseanografie is daar toevallig ‘n akwarium ook op die onderste vloer.

Ek spandeer ‘n ½ uur in die akwarium, omdat die museum ook eers ½ 1 of so iets open.

As ek in die bui was en nog by sulke goed uitgekom het, het ek gedigte geskryf oor die drie krokodille en arme palings wat in sulke klein hokkies is dat hulle nooit heeltemal reguit kan wees in hulle huise nie.

Dit is seker bog, maar visse het nog nooit so ongelukkig gelyk soos die visse in hierdie akwarium nie.

Die res van die museum is egter ‘n hoogtepunt. Die maskersaal, waar ek hardop in Afrikaans uitroep oor hoe ongelukkig ek is oor die afwesigheid aan Engelse inligtingsbordjies, was ‘n ervaring. 

Ek weet net nie altyd hoe oud die masker is, waar dit vandaan kom en waarvoor dit gebruik is nie.

Toe loop ek deur die Louvre se shoppies, die Tuileries en ontmoet Es by die Impressioniste se uitstalling wat 55 FF kos en 28FF vir die kassetopname, maar dit is die moeite werd.

Die aand eet ons wyn – Esmari gespuit/gespat/gedrink/dronk/besope/laggerig van die wyn, ook Tuna en mayonnaise.

Ons shop in die CD-shop, Virgin, soek ‘n ander in Les Halles, maar dis toe. Gaan moeg en voetseer huiswaarts.

21 jaar verder

Jeugdige onskuld en Musee Picasso

Dis duidelik:  ek was destyds nog naïef, jonk en ongetroud – ek was onder die wanindruk dat “skoner geslag” iets met “skoonheid” te doen het; vandag het jare se getroude lewe my geleer ons praat van die “skoner geslag” bloot net omdat dié betrokke geslag so lank bad!

9-uur was vir my ook net 9-uur tot ek pa van ‘n dogtertjie geword het – en noudat ek met ‘n tienermeisie in die huis sit, weet ek 9-uur is nader aan 09:30 as aan 09:15.

Iets anders wat ek na 21 jaar weet, is dat ek tien teen een nie by die Picasso-museum was nie, maar by ‘n Picasso-uitstalling van die een of ander aard. 

       

Ek sê dit omdat ek die papiertjie in die venster onthou, en ek geensins kan onthou dat die pad en die plek waarby daardie papiertjie my uitgebring het, naastenby soos die Picasso-museum in Parys gelyk het nie. Én ek het gaan seker maak – die Picasso-museum was in 1994 al lankal in die huidige, baie imposante, gebou.

Ek sê dit verder omdat ek, nadat ek die inhoud van die museum leer ken het, absoluut gaande oor die museuminhoud is, dis allermins nie iets waarvan ek sou sê dat dit nie ‘n hoogtepunt was nie.

Ek sê dit ook omdat ek na die museum se beeldhouwerke van die Picasso gaan kyk het, ek was destyds gaande oor die beelde, in besonder die oorspronklike modelle van dit wat hy later laat giet het. Ek spoor nie een van die beelde wat ek onthou, op nie. Daar is inderdaad een of twee sulke voorbeelde, maar dis geensins die wat ek onthou nie. Ek onthou baie opwindender werke – assemblages wat die man laat giet het.

Soos die toeval dit wil hê, het die museum (wat ek vermoed ek destyds misgeloop het) op die oomblik ‘n spesiale uitstalling van Picasso se beeldhouwerke – sowat 240 stukke. Toevallig het die uitstalling se reklameplakkaat ‘n oorspronklike model met sy gegote beeld daarnaas as onderwerp.

     


Die uitstalling loop iewers in Augustus ten einde. Ongelukkig sal ek dit nie bybring nie.


Toe kom ek af op die laaste foto hierbo (ek het die volle foto vroeër in die teks geplaas, die een met die naambord). En daardie straatjie lyk wel vir my bekend.Dit was so 'n smal stegerige drukgang, met almal wat die museumingang soek, maar dit nie kan kry nie en 'n inwoner van die straat toe noop om 'n papiertjie in sy venster te sit wat die pad aandui.

Die gevolgtrekking waartoe ek nou kom, is dat 'n mens die museum van agter ingaan, uit die smal straatjie, en dat daardie imposante vooraansig (wat ons in die ander foto van die gebou het) vir 'n ander deel van die stad en sy inwoners se oë beskore is - 'n aansig wat ek misgeloop het.

Ek verstaan ook nou hoekom ek minder opgetrek kon wees met Parys se uitstalling - al sy kopstukke (of dan nou hoogtepunte) was in daardie stadium op bruikleen vir die retrospektiewe uitstalling in die Tate. ("The last one for the century" onthou ek al die jare later steeds. Dis die woorde van 'n onbekende tannie wat die dag in die Tate saam met my opgewonde was oor die omvangryke uitstalling in Londen.) Van die werke wat deel van Parys se versameling is, van die mooistes, bekendstes en opwindendstes, 
het ek definitief in Londen gesien - ek onthou dit pertinent omdat dit van my hoogtepunte was.

("Kopstukke" in plaas van "hoogtepunte"? Kopstukke is 'n woord wat ek op die Nederlandse webwerwe leer ken het, om na die museumhoogtepunte te verwys. Ek kon nie glo toe die woord nou sommer vanself uit my onderbewussyn plek vind tussen die ander woorde nie.)


     


Carnavalet

Miskien was ek minder beïndruk met Parys se stadsmuseum, omdat Amsterdam se eweknie my so uitermate beïndruk het. 21 jaar later lyk dit steeds na “lag-lag die grêndste museum waarin ek nog was.”


     


Vervelig is dit beslis nie – ek het my tydens my herbesoek toegespits op die Middeleeue en vroeër en al wat gepla het, is die feit dat net die hoofopskrifte van elke departement in Engels is, die res is alles Frans.


  


Hierdie is bv. drie van die baie goedjies wat my fassineer het – maar ek weet nie of die 14000 by die een ‘n jaartal, afmeting, aanwinsnommer, besoekerstal of sommer net 'n drukfout is nie, dieselfde geld die res van die inligting. Die vrouefiguur weet ek darem dateer uit ongeveer 4000 jaar voor die geboorte van Christus, en die wit beeldjie was in 'n stadium deel van die Notre Dame-katedraal. Maar of die armband 'n slanke Franse dame of 'n baarbaarse koning se arm versier het, sal ek helaas nie weet nie.

Die video is weer een in Frans, maar ek is gewoond daaraan om niks te verstaan nie.




Musée national des Arts d'Afrique et Océanie



       


Die Museum vir Afrikakuns en Oseanografie bestaan nie meer nie. Die lieflike gebou, ek sien party noem dit 'n Art Deco-juweel, uit die 1930’s bestaan wel nog. Dit huisves nou ‘n museum wat die geskiedenis van emigrasie (of immigrasie) volg.

Dit is destyds vir die “1931 Koloniale Uitstalling” opgerig en duidelik ‘n bouwerk wat by die koloniale tema pas. (En vandag steeds nie die pot te ver van immigrasie/emigrasie missit nie.)

Musée du quai Branly

Toe die Museum vir Afrikakuns en Oseanografie in 2003 sy deure gesluit het, het sy inhoud hande gevat met enkele ander versamelings en word dit sedert 2006 in die Musée du quai Branly gehuisves. 

Weer word die versameling uitgestal in ‘n baie eiesoortige gebou wat nie ewe positief deur almal, of sonder heelwat kontroversie, ontvang is nie – die geboue self, sy tuin én die inhoud van die gebou. Oordeel maar self. (Die binnekant het ek op Pinterest geplak.)


     



Die video is in Frans, maar die beeldmateriaal is genoeg om 'n goeie idee van die plek en sy inhoud te kry.

Ek weet, en dit het baie met belangstelling te doen, ek sal steeds hierdie museum besoek nog lank voor ek ‘n draai in Versailles gaan maak. (Bygesê ek het myself in daardie stadium vir die lekker via UNISA in Sosiokulturele Antropologie verdiep – museums van dié aard is my kos.)


Les Origines de l'Impressionnisme





Ek weet nie die hoeveelste dag dit hierdie was wat ons in Parys deurgebring het nie, maar ek onthou dat ‘n sekere plakkaat op elke tweede of derde lamppaal in elke straat my al van dag  een af opgewonde had. Hierdie plakkaat het ‘n uitstalling in die Grand Palais bekendgestel – ‘n uitstalling rondom die oorsprong van Impressionisme. 

Ek kon die plakkaat nie opspoor nie, maar dit was 'n snit uit hierdie boonste strandtoneel deur Edouard Manet; ek onthou dit as dieselfde snit wat as voorblad vir die boek wat die uitstalling ontsluit het, gedien het. Vanuit die staanspoor het ek die plakkaat uitgekyk en kon ek nie wag om by die Grand Palais uit te kom nie.

Toe ek die uitstalling op die Grand Palais se webwerf gaan soek, het ek nie veel hoop gehad nie. En daar was ook nie veel om opgewonde oor te raak nie, nie in Engels nie en ook nie eers veel meer in Frans nie.

Maar toe lees ek raak dat die uitstalling die produk van samewerking tussen Frankryk en Amerika was. Ek het dadelik geweet die Amerikaners sal my nie teleurstel nie, en hulle het nie – trouens, om die waarheid te sê, hulle het my stoutste verwagting oortref!

Daar laai ek, nie die katalogus nie, maar die ganse boek wat in 1994 rondom die uitstalling die lig gesien het, die vertaling van die een hier bo, van die Metropolitan Museum of the Arts se webwerf af. 

Na ek die meeste van die nagenoeg 200 skilderye opgespoor en ge-Pinterest het, is dit nie eksamenvraestelle wat my besig hou nie, dis die oerwortels van Impressionisme!

(Die skilderykeuse vir die boeksomslag spreek terloops vir my boekdele - en vir 'n verandering is ek aan die Franse se kant!)

Ek kan nie glo ek wei nie meer uit oor hierdie uitstalling in die Grand Palalais (self ‘n imposante gebou) nie – dit was destyds vir my ‘n hoogtepunt, ek onthou dit as hoogtepunt, en dit was in 2016, die afgelope week of wat weer eens ‘n hoogtepunt om herbesoek te kon doen. Loer asseblief na die Pinterest-album waarop ek nogal trots is. Ná hierdie werke is so te sê nooit weer teruggekeer na die mitologiese, Christelike óf historiese skilderye wat vir soveel jare die kunswêreld gekenmerk en gedomineer het nie.

Ek maak darem melding van die kassetopname wat destyds teen ‘n addisionele bedrag geluister kon word. Destyds was dit ‘n nuutjie; 21 jaar later kry jy dit selfs in Suid-Afrika! Daardie jare was dit letterlik Sony “walkmans” waarmee ons deur die uitstallings beweeg het.

Grand Palais

Terwyl ons nou al by herhaling by die museumgeboue stilgestaan het, kan die Grand Palais waar ons na die Impressioniste in hul babaskoene gaan kyk het, verdien daarom ook vermelding.

Die Grand Palais is opgerig vir die "Expoxition Universelle" van 1900, 'n internasionale wêreldskou wat bykans 50 miljoen toeskouers getrek het. Die tema van die skou was die ontwikkeling, ontdekkings en uitvindings van die pasafgelope eeu.


Die gebou staan vandag nog uit tussen die ander, maar dis eers as 'n mens dit in die konteks van 1900 sien, dat jy besef hóé indrukewekkend dit daardie jare moes gewees het.


 


Hierdie skou kan 'n mens vir ure besig, gevange en geïnteresseer hou. In die laslappies en skakels is enkele van die blaaie wat my heerlik uit die werk gehou het.

Afloop

Die aand, lei ek af, is afgesluit met heelwat wyn en ‘n tunaslaai van die een of ander aard. Ek onthou nie dat ons ooit sleg geëet het nie, goedkoop, ja, maar áltyd lekker. Ek dink nie vir een oomblik enige een van ons twee was die aand besope nie – beide moontlik bietjie laggerig of gesellig. (Ek verbeel my dis hoeka in Frankryk – Frankryk van alle lande, waar ons agtergekom het hoe volop, én goedkoop, Suid-Afrikaanse wyne is.) En as ons daardie aand miskien meer as gebruiklik verbruik het, is dit beslis ook nie ‘n tweede bottel tussen die twee van ons nie, ons sou hoogstens dalk net ‘n literbottel in plaas van die gebruiklike 750 ml-bottels gekoop het. 

Ek het op die ou einde in Duitsland die musiek opgespoor waarna ek so op soek was – ‘n opname van Pablo Sarasate se Sigeuner Weisen. Ek moes wag vir Youtube om Pablo dit te hoor speel; my opname van Anna Sophie Muter se vertolking luister ek 21 jaar later nog gereeld.

Laslappies en skakels

Musee Picasso
webwerf
Picasso se beeldhouwerke in die museum






Musée national des Arts d'Afrique et Océanie
My eie Pinterest-album
Musee Quai Branly se webwerf


Carnavalet
webwerf

Les Origines de l'Impressionnisme
my Pinterest-album waarop ek baie trots is

Grand Palais
webwerf





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking