Dinsdag 14 Junie 2016

Dag 23 - 29 April 1994

Soos altyd ook netjies oorgetik aan die einde






Hierdie dag het ek lank na uitgesien – sedert skool en sedert tannie Jean Smit oorsee was en teruggekom het en vertel het van die Burgers van Calais. (Jacque, waar was jy?)

Die museum is in ‘n lieflike tuin geleë – sy studio gewees.

Ek sluit so soorts van aan by ‘n toergeselskap, maar so ‘n teef in ‘n blou rok kom sê my dis ‘n gids waarvoor húlle betaal het, en ek kan nie luister nie.

Ek leer darem ontsettend baie uit die kort tydjie wat ek binne hoorafstand van die toergeselskap beweeg. 

Ek sien bykans alles van Rodin wat famous is en is die minste opgetrek met Die Denker. Die Burgers van Calais is my emosionele hoogtepunt.

En dan oordryf ek nie.

Ek gaan na die katakombes toe. Dié is toe tot 2-uur en ek loop rond in ‘n straatjie wat toe die rooilig-straat van Parys blyk te wees. Die vroue hét my opgeval, maar ek het nie dadelik besef hulle is wat hulle is nie. Laer af in die straat (Rûe Saint Denis) is die sekswinkels, videostalletjies, en dies meer. 
(Dis opvallend dat die seksgedeeltes hier, in A’dam, in Switserland, telkens met ‘n godsdienstige iets verbind is.)

Die katakombes is aanvanklik vir my ‘n mors van geld, tot ek by die 1000’ende kopbene en geraamtes kom wat soos ‘n muur om jou gepak is – vir meters en meters aaneen. (Ek is in ‘n groot versoeking om ‘n been te steel, en het later besef dat ek daarmee weg sou kon kom – daar is geen sekuriteit aan die einde nie.

Dit is vir my duidelik dat ek die begrip “katakombe” verkeerd verstaan het.

Ek en Es het afgespreek om mekaar voor die Pompiedoer-sentrum (sic) te ontmoet en ek haas my soheentoe. Hierdie gebou is ‘n sprekende voorbeeld van ‘n moderne dunk (?) wat niks werd is nie. 
Die gebou is nog nie 10 jaar oud nie, en lyk klaar soos Toets se gat.

Omdat die plek eers 10-uur toemaak, eet ek en Es eers oorkant die bont bewegende spuitfonteine. (Het ‘n baie mooier fontein op dieselfde prinsiep in Basel gesien.) Ek kan onthou dat ons lekker geëet het en dat daar rooiwyn by betrokke was.

Toe vat ons Pompidoer aan. Ons het nie geld vir al die uitstallings nie, en gaan kyk net na die boonste algemene verdieping. Ek onthou mooi werke van Klee, maar dis ongelukkig op hierdie oomblik al. Miro was daar, maar niks om huis toe oor te skryf nie.


        

Ek stap vir Es deur die hoere se straat, wat baie minder opwindend as in Holland is – die vrouens hier is ook geensins soos die sexy poppies in Holland nie.

Ek smag na ‘n bietjie melk en loop ons dood agter so ‘n plek aan; kry dit nie en gaan toe maar huis toe. (Aandete was die lekker Italiaanse broodjie en avokadopeer.)


Shakespeare(?): Dit was so teleurstellende boekwinkel waar ons die aand rondloop. Ek kon niks bekostig nie, maar dis o.k. Ek soek steeds ‘n dik boek om op die trein te lees.

29 April 1994 - 21 jaar verder




Die dagboek hou van tyd tot tyd die aangenaamste verrassings in:

In 1994 had ek nog onthou dat Susan Smit se ma, Tannie Jean, my meer as 12 jaar vantevore opgewonde gemaak het oor Rodin se “Burgers van Calais”. In 2016 kan ek nie glo wat ek raaklees nie – ek onthou daar niks van nie. Al het ek vergeet van Tannie Jean se inspirasie, onthou ek wie die Jackie met die vreemde spelling is waarna ek verwys. Dis my kunsjuffrou, Juffrou Jacque, Jacque Olivier. En ook by haar, in die kunsklas, dat ek van Rodin en in besonder die Burgers van Calais, geleer het.



     



Ek onthou tot vandag dat ek my daardie middag in Rûe Saint Denis verstout het op ‘n baie duur bederfie – ek het my oorgegee aan die versoekings van die vlees, iets wat my letterlik duur te staan gekom het: ek het ‘n volle R10-00 betaal en my heel, aller heel eerste, Magnum-roomys gekoop.

Toe ons in SA weg is, was daar nog nie Magnums op die mark nie – ek het dit, orals geadverteer, in Europa raakgeloop. 


En daardie middag, toe swig ek.

Hoekom ek selfs die prys onthou, is omdat ek so verbaas was, toe ons terug in SA is, en agterkom dit kos hier, die slegte wisselkoers ten spyt, óók R10-00. (Ek het gedog dit gaan goedkoper wees op eie bodem – ons het beslis duurder as R1-00 vir FL1-00 betaal.)

      


Die ander ding wat ek beter onthou as wat ek dit in die dagboek vermeld, is ons aandete voor die Pompidou-Centre. Die feit dat ek twee keer daarna verwys (iewers in die middel, en weer aan die einde) bevestig dat dit iets besonders moes gewees het en verklaar waarom ek dit vandag nog onthou.

Ek onthou dit dalk bietjie anders – ek onthou die wyn, die kaas, die brood, die grond – en selfs waar/hoe ons gestap het om die aankoop te doen. Maar – ek onthou káás, en van avokadopeer, onder hierdie son, níks!

Ek onthou dit as ‘n romantiese ete, nie kerslig-maanskyn-en-rose-romanties nie, maar ‘n ete, met ons gatte plat op die grond, gehul in die romantiek van reis, van Spartaans leef (in Frankryk) en ‘n “martelaar wees vir die kunste” – amper Boheems. Idillies, in ‘n sin.


   

   

  

Dan onthou ek geensins die besoek aan die katakombes nie. Maar ek weet hoekom:  die laaste dag van ons toer het ons besoek gebring aan katakombes in Italië. Dit was onder begeleiding van ‘n monnik wat as gids opgetree het. Ons was 5 in sy geselskap – ek en Es en ‘n Amerikaanse ouerpaar en hul seun.

Die monnik het mooi gevra dat ons nie foto’s sal neem nie – en dis presies wat die verwaande Amerikaners gedoen het:  hulle het halfpad begin foto’s neem! Ook nie net verwaand nie – ons is in die katakombes, in Italië, waar die vroeë Christene begrawe is, en die Amerikaanse mamma wil, in alle erns (en onnoselheid) weet of Jesus, die Christus, die een van Nasaret, in hierdie katakombes gestap het! Bid jou dit aan!


So miskien het hierdie katakombe-ervaring Parys s’n net heeltemal versluier.


      


Ek is in 2016 teleurgesteld in my 1994-teleurstelling van die wêreldbekende boekwinkel, Shakespeare & Company. Miskien was ek teleurgesteld omdat ek te veel verwag het, of iets anders verwag het. Miskien is dit omdat die groot megastore-boekwinkels wat ons in Londen leer ken het, my my sin vir die romantiek van ‘n boekwinkel soos Wikkelspies en Genote laat verloor het. Ek weet nie.


Ek giggel, in retrospeksie, so bietjie vir my versugting na ‘n lekker dik boek om te lees wat ek hier nie kon bekostig nie. 


Ek hét toe ‘n boek gekoop – in die Tsjeggiese republiek (omdat die wisselkoers in ons guns was). Die geneuk is net dat ek toe ewe pretensieus met die boek rondgeloop het, maar tot vandag toe nog steeds nie gelees het nie. Nogal iets deur die president wat Tsjeggo-Slowakye sien gaan en Tsjeggië ingelei het - Václav Havel. Hoe kon ek anders – dié staatsman het ‘n rits digbundels, ‘n hele string dramatiese tekste, niefiksie, ‘n kinderboek én ‘n fliek agter sy naam! Én dan was hy president terwyl ons daar was.


Ek het nie vreeslik herbesoek aan Pompidou gebring nie – die webwerf praat net Engels tót jy begin soek of delf, dan raak jy verstrik in die Frans (én toe ek wel gestewel en gespoor is om die Frans aan te pak, toe is húlle webbediener af.) Via Pinterest het ek lekker gekuier.



Lyk nou vir my almal sit maar op hulle gatte op die grond - ons het, lyk dit my,  ingeval by dit wat almal doen.

Hoogtepunt van hierdie dag se herbesoek was, weereens, soos in 1994, Rodin-museum. Ek het lieflik ge-Pinterest en myself op Youtube verloor. Loer asseblief in.

Die Burgers van Calais, ‘n stukkie geskiedenis uit die Honderdjarige Oorlog (wat volgens party baie langer as ‘n honderdjaarlange oorlog was) het miskien ook daarin geslaag om my daaraan te herinner dat die verhoudinge tussen die Franse en die Engelse ‘n baie lang en onstuimige pad loop, dat daar diepgewortelde redes kan wees waarom 'n mens so sukkel om op Franse bodem in Engels bedien te word.


Die eerste video (8 minute, maar elke sekond die moeite werd) vertel die stukkie geskiedenis van die burgers en ontsluit die kunswerk, en Rodin se interpretasie van die geskiedenis, liéflik. Die tweede (drie minute) is eintlik net vir die aardigheid – dit bevat filmmateriaal wat in 1905 van Rodin gemaak is. Rolprentkameras was toe ‘n nuutjie en almal het op daardie wa geklim.






Laslappies en skakels

Rodin-museum
Pompidou Centre
Katakombes


           

        

Hier is die geskiedenis rondom die ses mans te lees, en hier 'n lieflike stukkie gesels rondom Rodin, onder andere deur iemand wat hom persoonlik geken het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking