Woensdag 10 Augustus 2016

Dag 26 - 2 Mei 1994

2 Mei – 21 jaar vantevore





Staan die oggend betreklik vroeg op – Dominique is steeds weg vir die naweek. Ons besluit om die stad vandag te verlaat en eerder die ekstra dag in die suide van Frankryk by te voeg.


Esmari gaan in per trein om ons kaartjies sodanig te verander en ek gaan in na die laundromat (wishy-washy soos Judy altyd se.)

Hier het ons ‘n effense boggeroppie – hoewel net ’n voorspel tot die dag se boggerop:  Es gooi te min waspoeier in, omdat ons laas te veel ingegooi het – en ons mors basies die R40-00 wat dit ons kos om die wasgoed te was. Ek dwaal so bietjie buite rond en ontdek die allerlieflikste patisserie  waar ek ‘n Paris Breast koop. En diek daarna ‘n eclair wat skrik vir niks.

  


Hierna gaan pak ons in – dit gaan maklik. Dominique daag op en sy offer om ons stasie toe te neem. Eers het Es probeer om haar donderse pakkie, waarvoor ek al net so gatvol soos sy is, te gaan pos. Dit blyk to dat dit haar ‘n skrale R150-00 sal kos en ek voel summier skuldig oor die drie of vier poskaarte wat ek saamgestuur het. Ou twyfelaar wat sy is, en een wat nie haar mind kan opmaak nie, stap ons toe terug met die pakkie – ons sal dit maar in Spanje – “Gamon-gamon” gaan pos. (My geduld bereik amper breekpunt.)

Ons kry ons kaartjies vir die trein, en om ‘n baie lang storie kort te maak, word ons beboet, 20 minute later, vir 145 FF wat amper R89-00 is. O, ek was suur, Esmari was suur. Hoe die koolkop sonder IK gedink het dat ek en Es met ons moerse pakkasie, sonder ‘n kaartjie,  op die metro gekom het, weet ek nie. En ons het nie tyd gehad om te redekawel nie  (ons was onskuldig) want ons was – nie danksy my nie – so bietjie laat.

Hierna klim ons hoogsbemoerd – gelukkig het ons die FF (Frank) aan ons gehad – op die luuksste trein wat ek nog ooit gery het – ‘n TGV – ‘n eersteklas –effekkie wat ons neem na Irun, ‘n klein dorpie in Spanje. 

  


Die rit is egter  baie onaangenaam danksy ons onaangename ervaring. Ek het hierdie ontzettende behoefte om op die vrou oorkant my, so ‘n ryk Franse bitch, se skoot te kots. (Esmari voel nie veel anders nie.)

Op Irun-stasie – drie ure later – die aand, koop ons kos in Franse Frank – ek kop ‘n heerlike sereveja: ‘n literbottel San Miguel-bier  en so ‘n worsie wat baie lekkerder lyk as wat dit is.

     


Gewapen met ons kossies klim ons op die tweedeklas passasierstrein. Ons gaste is 3/2 baie dierbare Spaanse tannies wat nie ‘n enkele woord Engels kan praat nie. (Hulle kan dalk meer praat, ék kan hulle uitspraak net nie so lekker volg nie.)

Nodeloos om te sê:  ons is baie meer versigtig wat ons bagasie betref – ek bêre my money-belt-sakkie onder my matras.

2 Mei – 21 jaar verder


Ek het die oorgang van plat, ronde, vet sjampanjeglase na hoë, lang, maer sjampanjeglase beleef. Iewers in die oorgangsjare is vertel dat die ouer, plat, vet glase om een van oorle’ Marie Antoinette se borste gevorm is. My verbeelding het met my op hol gegaan en ek het myself wysgemaak dat die afdruk enkele oomblikke na haar dood saam met die koningin se dodemasker gemaak is.

In dieselfde asem is ons ingelig dat die langer, hoër, heelwat maerder sjampanjeglase wat die boesemglase vervang het, op soortgelyke wyse deur ‘n anatomiese onderdeel van Marie se man, oorlye Lodewyk, inspireer is.



      

En dis aan Marie Antoinette wat ek gedink het toe ek die Paris Breast so grafies in my dagboek verwoord het.

Dis eers nou dat ek agterkom dis nie “breast” nie maar “Brest” die naam van ‘n dorp waarheen en terug al om die ander vier jaar daar nou al van 1901 af fiets gery word. Paris – Brest (en terug na Paris) is amper soos die Tour de France, net langer – as ek my dit nie mis het nie. En die banketsoetigheid wat Paris Brest genoem word, is eintlik veronderstel om ‘n fietswiel, en allermins nie ‘n vrou se boesem nie, in die herinnering te roep.

Welvoeglikheidhalwe brei ek nie verder uit nie, maar as een van daardie romerige soetighede weer oor my lippe gaan, sal ek tog kyk of ek my eerder kan vertel ek is besig om my weg deur ‘n fiets se rubberbuiteband te vind.

  


Wishy-washies, soos Judy die goed genoem het, het, soos ek, duidelik ook 21 jaar aangestap. Ek kan  nie glo die goed is deesdae sommer so in die oopte, op straat, gereed vir gebruik nie.

Die Duitsers praat van swartz fahren (hulle spel dit straks anders, ek sal nie weet nie). Ek onthou nie onwettige moltreingebruikers wat saam met jou deur die ingang geglip het as jou kaartjie die hek oopgemaak het nie. Ek onthou wel mense wat flink bo oor die hekke en muurtjies gespring het om sonder reiskaartjie aan die kant van die spoor te kom. Amper soos ‘n koedoe wat draadspring, of skaapdief wat soos ‘n wafferse gimnas oor die boer se lemmetjiesdraad-grensdraad wip.

Nou dit is wat ek en Es daardie middag volgens die breindood knoffelasem wat ons beboet het, moes gedoen het. Behalwe dat daar nie ‘n manier is dat ek of Es dit sou kon gedoen het nie – ons is nie daartoe gebore in staat nie, sou ons dit nog moes doen met ons rugsakke wat vir ‘n reis van amper vier maande gepak was.

En dan het ons teen daardie tyd nog handbagasie ook gehad. Ek weet nie of Esmari se Delft-koffiemeuletjie al gepos was nie. Miskien was dit deel van die pakkie wat hier ter sprake was, iets wat sy vir weke saamgedra het. (Maar, boeta, was ons darem bly toe die ding in een stuk in  Suid-Afrika aankom! Die ding was elke meter wat sy dit in die vreemde saam met haar gedra het, die sweet en die moeite werd.

Gelukkig het ek my ekwivalent van Esmari se koffiemeule eers op die laaste skof van ons toer, in Italië gekoop – ‘n ystermasjien wat pasta rol en sny, iets wat ek nou nog van tyd tot gebruik.

   

Ons had hierdie naweek vriende oor vir ete, ek het die meel gekoop gehad, maar was op nommer 199 te lui om die pasta aan huis te maak – toe koop ek maar die soort tuisgemaakte pasta wat die laaste klompie jare hier by ons te kope is.




Donderdag 07 Julie 2016

Dag 25 - 1 Mei

21 jaar vantevore 










Ja, dis min of meer hoe ek oor  hierdie dag voel:  Passage Interdit.

Maklik die akste dag op die toer – alles is toe – dis ‘n openbare vakansiedag.


   


Ek en Es gaan weer uitmekaar nadat ons finaal uitgevind het ons kan nie na die kasteel op die eiland gaan waantoe sy so graag wil nie.

Toe besluit ons om Giverny toe te gaan. Monet se huis. En toe ons op die stasie kom, kom ons agter die volgende trein is eers ½2 of so iets belagliks.


     


Toe besluit ek om maar na die twee kunsmuseums te gaan en Es kies haar eie rigting.

Die 1’e museum waar ek wil in , is toe en die oom op die trap sê dis ‘n bankvakansiedag. Dit is 1 Mei, die Europeërs se Lentedag – die oggend in die Barget (le Bourget?) al, was daar orals blomme te koop. By orals, bedoel ek órals – op elke groot straathoek en teen elke roltrap by die stasie.


                       

Ek is Dadelik spyt dat ek en Es geskei is want nou is sy tot 6-uur gestrand, én ek.

Vandaar skiet ek toe maar deur na die Rûe Saint Denis se rigting – Les Halles, om te kyk of daar nie lewe is nie. Daar was – nie veel nie – maar tog.

  

Ek sit in die son voor ‘n mooi fontein en skryf aan Judy se brief. Ek hou mimiekkunstenaars dop. Ek stap in die rooiligstraat af en loer in die sexshops in. Live sex en peep shows lyk volop – hoeveel dit kos, weet ek egter nie.

Hierna gaan ek Louvre toe, maar dit is ook pretty much toe. Ek loop rond, dwaal rond en betaal 2 x 10FF vir ‘n koeldrank en uit frustrasie 15 FF vir ‘n sjokoladegeurige roomys – Magnum.

Toe stap ek na die Champs Elysees af tot by die Arc de Triomphe. Ag, dit is vrekvervelig en ek is geensins beïndruk nie.


      


Daar was wel ‘n sjokoladewinkel wat sy sjokolade vir 300FF per kilogram verkoop het. (Dis meer as R200-00 per kilo.) Daar was van die lemoenskil met sjokolade om wat vir my so heerlik is, maar ek het weggebly daarvan.

Na die Champs Elysees skiet ek deur na die Mont Martre – waar ek Es moet ontmoet. Dit is weliswaar 4-uur in plaas van 6-uur, maar as ek daar is, kan ek daar rondloop.

Tot my verbasing is die Arts Naïf museum – ‘n galery wat ek intens geniet – oop. Ek skryf my kommentaar in Afrikaans in die boek – uit beginsel uit.

Ek en Es ontmoet mekaar 6-uur soos afgespreek, kyk na die portretkunstenaars kaartjiewinkels en sy soek ‘n toilet. 2 keert sluk die slotmasjientoilette haar geld. (Ek het dit ook al gebruik, maar was nog nooit so ongelukkig nie.)

Ons koop ‘n 25FF bottel wyn (gewoonlik  koop ons onder 10FF) brood, roomkaas en ek ‘n worsie vir aandete.

Ons gaan ry op die Seine-rivier wat baie lekker is om in die aand te doen. Dit is egter redelik koud en ek is spyt ek het nie iets warmders saamgeneem nie.


   


Ek sê dit weer eens – Ek hou nié van Parys nié – Ek het niks positiefs in die stad ervaar nie – maar sy sights en museums maak hom ongelukkig ‘n stad wat besoek moet word.

Hans Moolman

21 jaar verder


                         

Ja, die tradisie om op die Europese Lentedag blomme uit te deel  is duidelik ‘n baie ou tradisie. Die Franse koning, Karel IX, het die gebruik in die 1560’s begin toe hy al die dames in sy hofhouding jaarliks op 1 Mei  met ‘n bossie Franse veldlelies bederf het. Teen die 1900’s had Franse mans die gebruik om bossies lelies aan hul bemindes te oorhandig.  Deesdae is dit algemeen vir familie en vriende om die blomme onder mekaar uit te deel as simbool van toegeneentheid en liefde.

Gelukkig is Werkersdag en Lentedag hier by ons in die suidelike halfrond vier maande uit mekaar uit – daar oorkant is hulle nie so gelukkig nie. Lentedag is immers ook Werkersdag en in Parys word Werkersdag ook assosieer met protesoptogte en vakbondvierings.


   

Ek onthou hoe ek daardie oggend van onder die grond op ‘n plein uitgestap het en dadelik in my vier spore omgedraai het, nie net omdat daar nie plek meer vir ‘n muis was nie, maar ook  omdat die toneel my stedelike onrus en oproer herinner het.

By ‘n volgende moltreinstasie uitgeklim, is dit dan weer soos enkele oomblikke na die wegraping – daar is geen teken van lewe nie, want anders as deesdae hier by ons, is bykans alles, nie net banke, skole en poskantore nie, daardie jare (en miskien vandag nog) op 1 Mei gesluit.
      
      

Die historiese spuitfontein oorkant Les Halles (die varsproduktemark wat Emile Zola as die “maag van Parys” beskryf het) het nie vakansie gevat nie. Dis die oudste fontein in die stad en dit het my ‘n rukkie geneem om te besef dat dit oor die jare heen maar verskillend kán lyk – dit het al op meer as een plek diens gedoen en as ek reg onthou was Napoleon die eerste om dit te skuif.

Ek het die afgelope week motorhuis skoongemaak en deur ‘n krat gegaan wat in die hoek beland het toe ons my ma-hulle destyds Pretoria toe getrek het. Ek verbeel my ek het op ‘n stapel briewe afgekom wat gelyk het soos die briewe van my toer. Ek sal daar ‘n draai gaan maak – straks kom ek op die brief af waaraan ek aan die voet van die Fontein van die Onskuldiges geskaaf het.

Ek was toe verkeerd, ‘n reisdag of wat gelede, toe ek my eerste Magnum roomys herroep het – dit was eers op hierdie dag. Maar ek het reg onthou van die venue – die Rûe Daint Denis. Hoe duur daardie roomys destyds was (15FF) word mooi in perspektief gestel as ek hier noem dat ons gewoonlik hoogstens 10FF vir ‘n bottel rooiwyn betaal.  (Hoe belaglik duur die sjokolade-omhulde lemoenskil teen 300FF is ook duidelik. Ek koop elke jaar rondom Kersfees as Woolworths áltyd daarvan het, so ‘n klein verpakkinkie van dié lekkerny. Elke keer as ek skelm en op my eie daaraan weglê, dan spring my gedagtes terug Champs Elysees toe.

       

Ek onthou die Arts Naïf Museum soos gister – ek is uit om Es te gaan kry en is toe summier saam met haar terug. Ek lees op meer as een blog dat die museum deesdae eerder op Art Brut (outsider kuns, rou kuns, ook barbaarse kuns met Jean Dubuffet as grondlegger) as Arts Naïf (kuns van die onopgeleides, die amateurs met Henri Rousseau as grondlegger) fokus, hoewel ek glo dat die naïewe goedjies wat destyds deel van die permanente versameling was, seker steeds daar is.

Die gebou self was ook eers ‘n markgebou voordat maar redelik onlangs eers (ek onthou iewers in die 1980’s) ‘n kunsmuseum geword het.


          


En dis ons dag – behalwe nou vir die romantiese (romantieke?) bootrit op die Seine. Hoe romanties, of eerder idillies hierdie rivier en die tonele wat dit oproep, uitgebeeld word, word mooi illustreer die eerste 1 (of is dit 2?) van die volgende foto/foto’s wat ek vermoed nie net die een nie, maar beide ooglopend ge-photoshop is. 

Al wat ek van die walle van die Seine onthou, is die nudiste wat in die son gebaai het – maar verniet of ek hulle vandag raak Google.

Toegegee ons het miskien een keer op 'n naakte sonbaaier of twee afgekom, maar dan is dit mos nou maar hoe dit so dikwels is - dis juis dáárdie toneel wat vasgesteek het. (So het ek en Annieka een jaar in Duitsland op twee jeugdiges langs die pad afgekom wat besig was om dwelmmiddels van die een of ander aard in lepels te verwarm en te gebruik. En daardie is die beeld waarna haar gedagtes weer gereeld teruggaan as Duitse jeugdiges, die Berlynse dieretuin of Duitse stedelike wandelpaaie ter sprake kom.