Maandag 13 Maart 2017

Dag 32 - 8 Mei 1994




Kan twee dae met 21 jaar wat tussen hulle uitgestrek lê; ook lankal nie 21 nie, maar amper 23,  so presies dieselfde wees, asof dit nie ‘n mondige leeftyd nie, maar ‘n oogwink is wat hulle skei?

Ek had verlede week die voorreg om met mense te kuier wat ek, party van hulle, in 1988 laas gesien het, en soos met elke reünie, is die eerste wat opval, nie hoe ons verander het nie, maar hoe dieselfde dit al hierdie jare later is.

Maar dis ménse, nie ‘n vakansiedag in ‘n lieflike reis (1994) en ‘n herbesoek van agter ‘n rekenaar (2017) nie.

Miskien is dit die ou cliché, hoe meer dinge verander, hoe meer bly hulle dieselfde.

8 Mei 1994 - 21 jaar vantevore







Die trein spoeg on uit op Barcelona-stasie waar ons een uur moet wag vir die toeristeburo om oop te maak.

Die tannie help ons mooi en ons koop ‘n dagkaart (wat ons toe op die ou einde net vir een trip gebruik het) vir die metro en die bus.

Ons sit af na die metro en iemand (3 of 4 mans) prober IETS – wát weet ek nie. Hulle (wie anders kan dit wees) spuit ons vol vel-/handeroom, en sê dit kom uit die dak van die metro uit. Hulle offer (bied aan) om te help skoonmaak, maar dis opvallend dat die “handeroom uit die dak” net ons drie toeriste (‘n nader ou ook) getref het. Hulle vee op waar niks vuil is nie en ons bemerk dadelik onraad. Dis Sondag en die metro is baie stil. Gelukkig klim ons een stasie verder af.

Ons klim redelik ge-rattle op Plaza Espanya af – maar te wyte aan ‘n klein misverstandjie tussen ons en die tannie by die toeristeburo eindig ek en Es op om drie kilometer te stap na die kampeerterrein.

En dit reën, en ons het min slaap agter die rug. En ons weet nie hoe ver dit nog is nie – al wat ons weet is dat ons reeds ver geloop het, en daar is nie ‘n kampterrein vir myle in sig nie.

Daar aangekom, verseker die tannie ons dat daar nie ‘n vinniger / ander / geriefliker manier is om by die kampterrein uit te kom as om te stap nie.

Ons slaan tent in die reën op en in plaas van om dadelik in te skiet Barcelona toe, gaan stort ons eers – en toe is dit verby: ek is nie meer lus om in te gaan Barcelona toe nie, en Es ook nie juis nie. Ons verklaar die dag net daar en dan ‘n “algemene rusdag.”

Ons het darem eers gaan kos koop – brood en wors en ek dink ons drink koffie.

Toe ons besluit om na ete te gaan slaap, is ons eers weer (in die reën) winkel toe om sjokolade en bier te gaan koop.

Hierna vergryp ons, ons toe – daar is mos toe, aangesien ons die dag nou nie veel gaan doen nie, geld vir sulke luxuries soos sjokolade.

Wakker geword, het ons vuurhoutjies gaan koop en afgestap strand toe – net om uit te vind dat die strand agter slot en grendel toegesluit is. Ons is uit by die hoofhek en af strand toe.

Daar eet ons heerlike sjokoladekoek uit Duitsland wat ons in die winkel gekoop het.

Hierdie strand was meer soos die strand waaraan ons gewoond is, as dié in Holland en daar was selfs branders.

Die aand kan ons nie anders as om te wonder hoe dit is dat die mense in die karavaanpark woon nie (permanent bly).

Ons maak warm kookkos – brood met meatballs en ertjies, in sous, en ‘n blikkie sampioene.

Na ete en ‘n bottel wyn, kon ons nie veel anders as om te gaan slaap nie.

Ek wou Jac vrekgraag gebel het, maar dit blyk onmoontlik vanaf die tiekieboks e wat daar is.

8 Mei 1994 – 21 jaar later



Party dae onthou ek 21 jaar later net beter as ander. 21 jaar later onthou ek hierdie dag helderder as wat ek hom destyds beskryf het.

Bygesê, ons het selde ‘n dag se gebeure dieselfde aand nog aangeteken.

Ek het net die sleutelwoorde kripties neergeskryf en drie bladsye oopgelos, dan weer die dag se sleutelwoorde en drie bladsye oop.

Doen die geleentheid hom voor, dan haal ek in. Party keer was ons ‘n week agter – en dan brei jy nie uit nie, jy is hopeloos te agter om te borduur.

Die mans op die trein was niks anders as ‘n spul sakkerollers nie. Hulle het handeroom of iets op jou gemors. Dan wys hulle dit uit en begin jou skoonmaak – baie hulpvaardig. Hulle staan vir jou toe, en terwyl jy fokus op waar hulle vryf, beweeg ‘n hand na waar jou geld ook al is.

Ek het my geld in ‘n leer “clutch bag” aan ‘n gordel om my middellyf gedra. Teen my lyf, toe onder ‘n ekstragrootte t-hemp of dalk nog een van wye Mandela-hemde. Es sien toe hoe die een man se hand  onder my hemp ingaan terwyl die ander my aandag op my skouers en agter my rug vestig.

“Pasop, Hans, daai een man is besig om jou geldsak oop te maak!”

Dit sal my nie verbaas as dit Es se presiese woorde was nie. So goed onthou die oomblik.



Ek sal op Google-maps se straataansig-skerm kan gaan en die plek waar ons afgeklim het tot op die naaste sentimeter kan opspoor – so helder is die insident in my geheue vasgebrand. Dit was ‘n Sondagoggend baie vroeg in ‘n stad, die stad het nog geslaap, daar was skaars ‘n mens op straat.

Ek onthou dit, want wat deur my kop gegaan het, toe ons afklim, is dat daar nie ‘n Sunday morning sidewalk kan wees, wat meer ‘n Sunday moning sidewalk kan wees (soos Kris Kristofferson se Sunday morning sidewalk) as hierdie Sunday morning sidewalk wat ons nou hier in Barcelona instap nie.



Dit het dieselfde gevoel gehad as die ikoniese beeld van Kristofferson se liedjie, behalwe dit was nie Amerika in die 70’s nie, dit was helderblou, oop, Barcelona, ‘n goeie 23 jaar later.

Nie dat die helderblou en oop lank geduur het nie - 'n uur of wat later, toe stap ek en Es toegegooi onder ons plastiek poncho's druipnat in die pad af slaapplek toe.

‘n Ander ding wat ek onthou, so helder soos gister, al het ek dit nie aangeteken nie (en ek kan nie glo dat ek dit nie sou neerskryf nie) is die swane...

Miskien was dit eende?

Dit kon tog nie ganse gewees het nie! Kon dit?

Maak dit dan maar watervoëls.

‘n Ander ding wat ek onthou, so helder soos gister, al het ek dit nie aangeteken nie (en ek kan nie glo dat ek dit nie sou neerskryf nie) is die watervoëls in die voor langs die pad kampeerterrein toe.

Sê nou net dit was nie langs hierdie pad nie, maar langs gans ‘n ander pad in ‘n ander stad en land?

Niks van hierdie dag wil in plek val nie.




Oorsee het hulle Twinkies, ons hier in SA het Tinkies – sulke olieryke, soet sponskoek-goeterstes wat in plastiek toegedraai verkoop word en ‘n vreeslike lang rakleeftyd het. Ons sjokoladekoek, wat ek in die gees en opwinding van die ooblik “Duitse Sjokoladekoek” noem, was so iets. Maar verniet of ek ‘n prentjie daarvan kan opsoor. Dit sou ‘n Made-in-Germany-koek gewees het, ek proe dit, ruik dit, hoor selfs die plastiek skeur om by die stukkie koek uit te kom. Maar verniet of ek ‘n voorbeeld op die internet opgespoor kan kry.

En dís hoekom die twee dae so dieselfde vir my is. Niks het daardie dag uitgewerk nie, niks werk 21 jaar later uit nie.

Ook verniet of ek ons kampeerterrein kan opsoor, daardie lang stuk pad wat ons gestap het.


  


Ek kry die naam van die kampeerterrein teenaan die lughawe, Camping Cala GoGo El Prat de LLobregat, en die eerste frustrasie is dat daar twee Cala GoGo-kampeerterreine in Spanje is, en ek beland elke keer in Costa Brava, in plaas van Barcelona.

Ek lees selfs raak van ander wat melding maak van die feit dat die plek nou via publieke vervoer bereikbaar is.

Maar verniet of ek die plek se webwerf kan kry.

Dis toe dat ek op ‘n FB-blad afkom, waarvan die Spaanse naam vir my ‘n klokkie lui:  Ex-campista Cala GoGo – Barcelona –El Prat de LLobregat.

Ex-campista kan net een ding beteken, en dit is toe ook so, ons lieflike kampeerterrein is nou ‘n aanloopbaan wat die lughawe onlangs aangebou het, die plek is nie meer nie. 


  


Die FB-blad waarop ek afgekom het, is toe al die tyd waar almal nou nostalgies raak en hul herinneringe deel. Toe ek hul Spaanse omskrywing deur Google-translate stuur, staan daar:

“Simply because they were the best Years of our lives, participates helping to recover images and moments of that incredible and wonderful unfortunately disappeared Camping del Prat de Llobregat affected by the expansion of the Airport.

In this Group we welcome any person or friend who could enjoy a short or long stay in this Camping at some time or stage of his life.”

En daar neem einste Sunday-morning-sidewalk-gevoel van my gemoed besit elke Sondag van my besit as ek deur die foto’s gaan en Youtube-video’s kyk van ‘n verbygegane era.

Ja, Sondagoggende, wanneer die girls slaap, het die tydjie geword wat ek afknyp om oorsee te loop kuier.

Soos vanoggend weer.




Laslappies en skakels



‘n Interessante Suid-Afrikaanse geurtjie aan die aanbouings by die lughawe is die feit dat David Goldblatt die uitbreiding van die lughawe met sy kamera dokumenteer en verewig het.




          

As part of a photographic study on Barcelona that was carried out during 2007 and 2008, in which MACBA commissioned new work from several renowned photographers, David Goldblatt focused specifically on the area of the Llobregat river, with its many road networks, industrial estates, and the airport site. The result is a set of photographs entitled Global Connections, which was part of the group show Metropolitan Images of the New Barcelona, within the exhibition Universal Archive. The Condition of the Document and the Modern Photographic Utopia at MACBA in 2008. David Goldblatt documented various aspects of changing relationships between the economy, forms of labour and social networks in Barcelona, as part of this initiative of the MACBA Independent Studies Program (PEI).
Goldblatt’s photographs show the control tower and the construction of the new terminal at the airport, the nearby Logistic Activities Zone (ZAL), and the construction work on the new high speed train (Barcelona-Madrid TGV) and on the southern breakwater at the city’s port. Goldblatt documents the industrial and communications infrastructures, but also the human habits that coexist in these contexts of urban transformation: agricultural workers at El Prat who trade their products at Mercabarna, Barcelona’s central market; La Ricarda beach and the Sant Cosme neighbourhood; European truck drivers in the industrial estates at the ZAL; people watching planes fly in at the Mirador del Prat; prostitution on the motorway from Castelldefels to Gavà; window cleaners at Hotel Hesperia in l’Hospitalet; and the falconers who help to drive off the birds in the airport area.
As in his many of his previous works, Goldblatt shows human interventions in the landscape, architectural structures and constructions, but also the political decisions and ideological frameworks that bring them into existence.

Wil jy nou meer!

Kookkos!
Ek giggel vir myself as ek lees wat ek die aandete noem:  kookkos!
Bid jou dit aan – kookkos.
Dis nou op ‘n klein blou gasstofie waarmee stappers op staptoere gaan. In ‘n potjie kleiner as army-dixie!

Die brein onthou soos dit hom pas, en geensins noodwendig soos dit was
Dit is die een ding wat ek nie geglo het nie, maar toe vir 'n feit gelees het in Dick Swaab se vertaalde boek, Ek is my brein - Van baarmoeder tot Alzheimer.
Vandat ek weer op my paaie van destyds loop, het ek dit al by herhaling eerstehands beleef. Kyk bv. wat het ek in 'n stadium, met presies soveel oortuiging as vandag hier bo, geskryf (onder andere oor die swane, of was dit nou eende):
Ons klim af op Plaza Espanya, nie omdat ons wil nie – omdat ons moet.
Maar Plaza Espanya is 14 km van ons kampeerplek. So ons sou ‘n bus verder geneem het. Tot so min of meer 3 gewraakte kilometer van waar ons seker ‘n uur stap verder druipnat tent opslaan.
Ek onthou van elders op die toer ‘n baie mooi lang ent se stap kampeerplek toe. Dit was groen met ‘n watervoor langs ons. In die voor was eende, ganse en swane. (OK, ek oordryf dalk oor die ganse en die swane, maar dit was te heerlik so saam met die eende.)
Hierdie was nie daardie mooi lang ent se stap nie. Hierdie was drie troostelose kilometer al om die lughawe langs. Dooie grond.
Daar aangekom het die kampeerterrein plek-plek aan ‘n klein dorpie herinner. Karavane met tuin en klein houtheinings om die staanplek gespan. Suburbia.
Nie soos suburbia nie, inderdaad ‘n tipe surburbia, vir die permanente inwoners van Camping Cala Gogo del Llobregat.






Maandag 27 Februarie 2017

Dag 31 - 7 Mei 1994


7 Mei - 21 jaar vantevore







Die trein het ons op die stasie afgelaai, en dit was heerlik om op ‘n stasie aan te kom en nie verward rond te pik nie. Ons het dadelik geweet waar alles was, ons goed gaan toesluit en na die Guernica-museum gegaan.

(Iets met Sofia te doen, blykbaar hul koningin en Es is baie gesteld op die regte name van die goed – maar wat my betref, was dit die Guernica-museum.)

Dit was weer eens vir my heerlik om in ‘n museum te stap waar ek weet my ma ook was – sy het vir my ‘n memento van die museum gebring.

Ons spandeer die tyd daar tot ons die trein na Toledo moes haal.

Ek sal die museum onthou vir sy modernistiese en kubistiese beelde wat lieflik was. Guernica, blykbaar geleen aan die VSA, maar moes terugkom sodra daar vrede is en in die Prado hang. Hy hang nie in die Prado nie, maar nou-ja.

Ons kom ook in kontak met “konsepsuele” kuns. (Verskoon my terminologie.) Ek sien onder andere die stoel met die kaas op (Jeromy Iemand.) En Stan Douglas se kamer uitgevoer met die tapyte. Ons sien ook ‘n stilprent met ‘n jolenklavier wat self speel. (Evenwel heel vreemd en raar.)

Hierna gaan ons Toledo wat ‘n wonderlike ervaring was. Portugal het so ‘n bietjie van die stad se donder gesteel, maar ons het dit regtig baie geniet. ‘n Mens kan maklik ‘n dag lank daar ronddwaal.


   


Die eerste wat ons besoek is die Toledo-katedraal. (Na die siësta.) Danksy, of te wyte aan, die siësta eet ons eers onder so ‘n poortjie, brood en kaas en wat ook al. Die katedraal is verruklik, oordadig, maar die gegraveerde pilare maak dit uniek. Ek koop ‘n kruisie.

Net toe ons uit is en Es ‘n foto wil neem, sak daar ‘n reënbui uit wat skrik vir niks. Maar eerder die reën as die versengende hitte wat ek met Toledo assosieer.


         


Hierna:  Museu Casa D’El Greco. Ek sien die gesigte wat hy gedoen het van die mal mense in Toledo se gestig om die 12 apostels of dissipels uit te beeld. Dit is vir my heerlik om te weet ek het uitgekom waar my ma so vreeslik graag wil ek uit moes kom.

Direk hierna doen ek aan by die kerk van Sao Tome om ‘n very famous skildery te sien – net jammer jy mag nie in die kerk in nie. Jy betaal ‘n bedrag en stap in die kamertjie in waar die skildery hang, kyk daarna en stap weer uit.


Ek koop die duurste marsepein ooit op die toer, in so ‘n skyfie, en deel dit summier met Esmari. Ons koop ‘n redelike slegte koek op pad na die dorpsplein, waar ons die bus na die stasie neem. Op die stasie verwyl ons die half uur of so voor die bus kom deur bier in die kroeg te drink. Op Atochu (?) stasie aangekom – jaag ons met die metro na die hoofstasie om betyds Barcelona toe te kan gaan.

7 Mei - 21 jaar later (nou ook al 23 jaar later)




Na ek 23 kg verloor het, het ek oor twee jaar weer 27 kilogram opgetel. 10 daarvan, is ek seker, hou verband met my herbesoek aan hierdie dag.

Want daar is ek toe lus om my eie Toledo-marsepein te maak.

Ek het soveel amandelmeel gekoop dat Klaradyn se onderwysers selfs einde verlede jaar handgemaakte marsepein as deel van hul Kerspakkie gekry het.

Watter resep ek ronde een gekies het, weet ek nou lankal nie meer nie – ons praat van einde Oktober, en toe, ronde 2, begin Desember.

In Laslappies en skakels spoeg-en-plak ek twee resepte. Die res van die amandelmeel (want steeds is dit het einde niet, gebruik ons helaas deesdae vir banting-vriendelike brood en pannekoek.


           


Hoogtepunt van 7 Mei 1994 was beslis Picasso se Guernica. Dit is dan ook die lekkerste lekker van my herbesoek ook.

Toe dit vir my duidelik word dat daar op Pinterest geen enkele  bron met elke voorafstudie wat hy in aanloop tot Guernica gemaak het, beskikbaar is nie, het ek my dit ten doel gestel om dit dan self te loop doen.

En ek het dit reggekry – ‘n Pinterest-album waarop ek baie trots is.

Dat my ma my destyds ‘n sleutelhouer van die Guerrnica terug gebring het van oorsee, is raar. My ouers was nie gaande oor die man nie. 

Het ons die Johannesburg-kunsmuseum besoek, het Judy elke keer skepties voor die museum se enigste Picasso gaan staan en elke keer gemor oor die groot bedrag wat destyds daarvoor opgedok is.

Kuier ons aan huis van Oom Moris en Tannie Faye, ‘n Joodse egpaar wat ek nie weet waar, wanneer en hoe hulle in SA aangekom het nie, is sy liries oor elke Dali, Miro, en watter twintigste-eeuse kunstenaar se werk nuut aangekoop is, maar die tweetjies se Picasso, wat ‘n hele muur gevul het, het haar (ek vermoed dit was sommer ‘n beginselsaak) koud gelaat.

Dit kon net Guernica gewees het, wat haar kop geswaai het.

Ook vir my was my eerstehandse kennismaking met Guernica ‘n volslae hoogtepunt.

Met die herbesoek, eweneens. Daar is ongelooflik baie artikels en besprekings op die internet beskikbaar. 

Ek het einde verlede jaar, na baie naleeswerk, enkele Guernica-gesentreerde aanhalings van Picasso in my werksdokument oor hierdie dag afgelaai:

"If you give a meaning to certain things in my paintings it may be very true, but it is not my idea to give this meaning. What ideas and conclusions you have got I obtained too, but instinctively, unconsciously. I make the painting for the painting. I paint the objects for what they are."

“It isn’t meant to decorate a room. It is an instrument of defensive and offensive war…”
People who try to explain pictures are usually barking up the wrong tree."

"Everyone wants to understand painting. Why not try to understand the songs of the birds?"

Die res van die Reine Sofia was net ‘n frustrasie, ‘n weke-lange frustrasie:

Filmvertoning van een van Stan Douglas se films

“Ons kom ook in kontak met “konsepsuele” kuns. (Verskoon my terminologie.) Ek sien onder andere die stoel met die kaas op (Jeromy Iemand.) En Stan Douglas se kamer uitgevoer met die tapyte. Ons sien ook ‘n stilprent met ‘n jolenklavier wat self speel. (Evenwel heel vreemd en raar.)”

Nog nooit het ‘n enkele paragrafie my so lank besig gehou soos hierdie een nie.

Ek is deur elke denkbare kunstenaar wat as Jeromy, Jeremy (en selfs Jeremia) bekend kan staan, maar geen stoel met kaas in ‘n enkele een van die honderde via die internet bereikbaar is nie.

“Jeromy Iemand” is toe niemand anders nie as Joseph Beuys, en die kaas al die tyd nie kaas nie, maar vet. 

Daar kuier ek toe ‘n week lank in dié man se geselskap. Hy kan vir jou besig hou.


           

Ook nie Stan Douglas se kamer met tapyte nie (dit kom daarvan as jy ‘n week lank wag om dagboek te hou), dis ook Joseph Beuys daai, Stan Douglas het foto’s en video’s daar gehad.

Van die vier video’s kon ek net een opgespoor kry:



Speelfilmtegnologie het so verander sedert daardie jare en vandag, dat die werk nou vreemd op die oog val. Die tweede video, 'n moet-kyk, eintlik ‘n advertensie vir ‘n app, spreek meer tot die een-en-twintigste-eeuse oog en oor:  



Wat op aarde ‘n Jodenklavier wat vanself speel, is, weet ek geensins nie. 

Ek het gedog dis dalk ‘n kasregister wat outomaties doen wat ‘n kasregister maar doen (die enigste klavier wat in die anti-Semitisme as ‘n Joodse klavier bekend staan) maar ek kon niks opspoor nie.

Vandaar toe Toledo toe! Ons was gek.

Nee, ons was nie gek nie. Ons het geweet die geleentheid sal hom nie sommer weer voordoen nie, en ge-carpe diem.

Es het die onderwys gelos en in die toerismebedryf beweeg – sy het miskien geleentheid om te kan rits; ek sal die lotto moet wen om weer daar te kom. (En om die lotto te wen, moet ek dit eers speel, iets wat ek nie doen nie.)

Van Toledo onthou ek die marsepein die beste.

En dan die teleurstelling omdat al wat van Sao Tome te sien was, El Greco se Begrafnis van Graaf Orgaz was.

Bygesê dat die Toledo-katedraal opgemaak het vir enige behoefte aan kerkgeboue wat ons kon hê.

Bygesê dat die Begrafnis van Graaf Orgaz ‘n mens die hele oggend in Toledo besig kan hou.




‘n Interessante artikel, ‘n interessante toeval, waarop ek afgekom het, handel toe oor einste twee skilderkunshoogtepunte van die dag:  Guernica en Begrafnis van Graaf Orgaz.

Met die titel, Two paintings and a sceptic, en onderskrif, A discussion of works by El Greco and Picasso, and what they can tell us about faith and the human condition, is dit regtig die moeite werd.

Die lesing is aangebied deur Lord Sutherland of Houndwood, KT FBA, Provost of Gresham College (wie hy ook al mag wees, en wat dit ook al mag beteken).

Die plek waar dit aangebied is, is nogal interessant: Gresham College was founded in 1597 and has been providing free lectures within the City of London for over 400 years.

Hulle neem sedert 1980 hul lesings op en daar is tans meer as 1 900 lesings waarna ‘n mens kan luister.
Hulle kan hier opgespoor word, en die lesing oor Picasso en El Greco se twee skilderye hier. (Maak die PDF-dokument oop. Daar is 'n Powerpoint ook, maar as jy die skilderye ken, is dit nie nodig nie.)

Ter afsluiting moet ek bely:  Ek wens ek kan iéts van die Toledo-katedraal onthou, maar alles is, helaas, vir my nuut.


Ek dink, was ek ‘n baba, het ek 7 Mei 1994 huilend gaan slaap, en sou ‘n ma gesê het: "die kind is beslis net oorgestimuleer, dis maar al."

Laslappies en skakels

Guernica

Twee video's, die eerste een nie oor Guernica nie, maar 'n manier om Picasso (enige skildery?) te ontsluit. Tweede bespreek Guernica (die meeste video's is ongelukkig in Spaans, hierdie een gelukkig nie.)



Twee besprekings van die graaf se begrafenis




Joseph Beuys

Joseph Beuys het 47 gedenkboksies met 'n opname saam met Jam Nume Paik gemaak. Die boksies is genommer soos etswerke. Dit was in herinnering aan George Maciunas. Die video is 'n opname van hul konsert.

   


El Greco






Toledo Katedraal (tweede een het Black Sabbath as agtergrondmusiek!)





Reina Sofia se onthou van die '94 uitstallings

Stan Douglas
Joseph Beuys

Marsepein

Ons marsepein het sterk hieraan herinner:


300 gr grounded almonds

300 gr confectioners sugar
2 spoon of water
1 egg white
optional: lemon peel or cinnamon (just for a different flavor)

In a bowl, mix almonds, confectioners sugar and water.  Mix it well until we get a soft and uniform paste.  Let this paste rest for a few hours.


After letting our preparation rest, we can start making little shapes like fruits, animals or angels. Now we beat the egg white until we get crops;  using a brush, we can paint the figures we already made. 


Now is the moment to bake our marzipan figures on a 200 ºC preheated oven for just two minutes, until golden brown.  Let them stand and they are ready to eat!


Hier is een sonder soveel suiker met esdoringstroop wat soet maak (hoewel ons Toledo nou verloor het)

2 cup almond flour
3-4 tablespoon maple syrup
1 teaspoon of ONE of the following: rosewater OR vanilla extract OR rum OR amaretto

Chocolate
½ cup of virgin coconut oil 
2 tablespoon maple syrup
⅓ cup unsweetened cocoa
1 cup unsweetened coconut flakes or any other topping of your choice

Instructions

In a bowl, combine almond flour, maple syrup and rosewater/vanilla extract/rum/amaretto and knead with your hands until you have a firm, sticky dough.

Pinch off about 1 tablespoon of dough to form a round, small marzipan ball.

Optional (but recommended): roll ball in coconut flakes until covered (you may have to press down gently while rolling for the flakes to stick). If you're not opposed to refined sugar, rolling them in powdered sugar is the traditional way of covering them.

Directions for chocolate coating

Slowly heat coconut oil until it begins to soften; you don't want it liquefied, just smooth.

Transfer coconut oil into a tall cup and add maple syrup and cocoa; stir until well incorporated.


Dip a marzipan ball into the chocolate (I use a spoon and my hands), pull out and immediately roll it in coconut flakes until fully covered and perfectly round. 

Set on a plate and refrigerate for at least 30 minutes.

Nog enkele van die meer konseptuele werke van Beuys wat op die uitstalling was
Ek kan darem nou al konseptuele spel, anders as die konsepsuele van destyds, maar ek is helaas nog nie seker of ek die konsep verstaan nie.