Maandag 27 Februarie 2017

Dag 31 - 7 Mei 1994


7 Mei - 21 jaar vantevore







Die trein het ons op die stasie afgelaai, en dit was heerlik om op ‘n stasie aan te kom en nie verward rond te pik nie. Ons het dadelik geweet waar alles was, ons goed gaan toesluit en na die Guernica-museum gegaan.

(Iets met Sofia te doen, blykbaar hul koningin en Es is baie gesteld op die regte name van die goed – maar wat my betref, was dit die Guernica-museum.)

Dit was weer eens vir my heerlik om in ‘n museum te stap waar ek weet my ma ook was – sy het vir my ‘n memento van die museum gebring.

Ons spandeer die tyd daar tot ons die trein na Toledo moes haal.

Ek sal die museum onthou vir sy modernistiese en kubistiese beelde wat lieflik was. Guernica, blykbaar geleen aan die VSA, maar moes terugkom sodra daar vrede is en in die Prado hang. Hy hang nie in die Prado nie, maar nou-ja.

Ons kom ook in kontak met “konsepsuele” kuns. (Verskoon my terminologie.) Ek sien onder andere die stoel met die kaas op (Jeromy Iemand.) En Stan Douglas se kamer uitgevoer met die tapyte. Ons sien ook ‘n stilprent met ‘n jolenklavier wat self speel. (Evenwel heel vreemd en raar.)

Hierna gaan ons Toledo wat ‘n wonderlike ervaring was. Portugal het so ‘n bietjie van die stad se donder gesteel, maar ons het dit regtig baie geniet. ‘n Mens kan maklik ‘n dag lank daar ronddwaal.


   


Die eerste wat ons besoek is die Toledo-katedraal. (Na die siësta.) Danksy, of te wyte aan, die siësta eet ons eers onder so ‘n poortjie, brood en kaas en wat ook al. Die katedraal is verruklik, oordadig, maar die gegraveerde pilare maak dit uniek. Ek koop ‘n kruisie.

Net toe ons uit is en Es ‘n foto wil neem, sak daar ‘n reënbui uit wat skrik vir niks. Maar eerder die reën as die versengende hitte wat ek met Toledo assosieer.


         


Hierna:  Museu Casa D’El Greco. Ek sien die gesigte wat hy gedoen het van die mal mense in Toledo se gestig om die 12 apostels of dissipels uit te beeld. Dit is vir my heerlik om te weet ek het uitgekom waar my ma so vreeslik graag wil ek uit moes kom.

Direk hierna doen ek aan by die kerk van Sao Tome om ‘n very famous skildery te sien – net jammer jy mag nie in die kerk in nie. Jy betaal ‘n bedrag en stap in die kamertjie in waar die skildery hang, kyk daarna en stap weer uit.


Ek koop die duurste marsepein ooit op die toer, in so ‘n skyfie, en deel dit summier met Esmari. Ons koop ‘n redelike slegte koek op pad na die dorpsplein, waar ons die bus na die stasie neem. Op die stasie verwyl ons die half uur of so voor die bus kom deur bier in die kroeg te drink. Op Atochu (?) stasie aangekom – jaag ons met die metro na die hoofstasie om betyds Barcelona toe te kan gaan.

7 Mei - 21 jaar later (nou ook al 23 jaar later)




Na ek 23 kg verloor het, het ek oor twee jaar weer 27 kilogram opgetel. 10 daarvan, is ek seker, hou verband met my herbesoek aan hierdie dag.

Want daar is ek toe lus om my eie Toledo-marsepein te maak.

Ek het soveel amandelmeel gekoop dat Klaradyn se onderwysers selfs einde verlede jaar handgemaakte marsepein as deel van hul Kerspakkie gekry het.

Watter resep ek ronde een gekies het, weet ek nou lankal nie meer nie – ons praat van einde Oktober, en toe, ronde 2, begin Desember.

In Laslappies en skakels spoeg-en-plak ek twee resepte. Die res van die amandelmeel (want steeds is dit het einde niet, gebruik ons helaas deesdae vir banting-vriendelike brood en pannekoek.


           


Hoogtepunt van 7 Mei 1994 was beslis Picasso se Guernica. Dit is dan ook die lekkerste lekker van my herbesoek ook.

Toe dit vir my duidelik word dat daar op Pinterest geen enkele  bron met elke voorafstudie wat hy in aanloop tot Guernica gemaak het, beskikbaar is nie, het ek my dit ten doel gestel om dit dan self te loop doen.

En ek het dit reggekry – ‘n Pinterest-album waarop ek baie trots is.

Dat my ma my destyds ‘n sleutelhouer van die Guerrnica terug gebring het van oorsee, is raar. My ouers was nie gaande oor die man nie. 

Het ons die Johannesburg-kunsmuseum besoek, het Judy elke keer skepties voor die museum se enigste Picasso gaan staan en elke keer gemor oor die groot bedrag wat destyds daarvoor opgedok is.

Kuier ons aan huis van Oom Moris en Tannie Faye, ‘n Joodse egpaar wat ek nie weet waar, wanneer en hoe hulle in SA aangekom het nie, is sy liries oor elke Dali, Miro, en watter twintigste-eeuse kunstenaar se werk nuut aangekoop is, maar die tweetjies se Picasso, wat ‘n hele muur gevul het, het haar (ek vermoed dit was sommer ‘n beginselsaak) koud gelaat.

Dit kon net Guernica gewees het, wat haar kop geswaai het.

Ook vir my was my eerstehandse kennismaking met Guernica ‘n volslae hoogtepunt.

Met die herbesoek, eweneens. Daar is ongelooflik baie artikels en besprekings op die internet beskikbaar. 

Ek het einde verlede jaar, na baie naleeswerk, enkele Guernica-gesentreerde aanhalings van Picasso in my werksdokument oor hierdie dag afgelaai:

"If you give a meaning to certain things in my paintings it may be very true, but it is not my idea to give this meaning. What ideas and conclusions you have got I obtained too, but instinctively, unconsciously. I make the painting for the painting. I paint the objects for what they are."

“It isn’t meant to decorate a room. It is an instrument of defensive and offensive war…”
People who try to explain pictures are usually barking up the wrong tree."

"Everyone wants to understand painting. Why not try to understand the songs of the birds?"

Die res van die Reine Sofia was net ‘n frustrasie, ‘n weke-lange frustrasie:

Filmvertoning van een van Stan Douglas se films

“Ons kom ook in kontak met “konsepsuele” kuns. (Verskoon my terminologie.) Ek sien onder andere die stoel met die kaas op (Jeromy Iemand.) En Stan Douglas se kamer uitgevoer met die tapyte. Ons sien ook ‘n stilprent met ‘n jolenklavier wat self speel. (Evenwel heel vreemd en raar.)”

Nog nooit het ‘n enkele paragrafie my so lank besig gehou soos hierdie een nie.

Ek is deur elke denkbare kunstenaar wat as Jeromy, Jeremy (en selfs Jeremia) bekend kan staan, maar geen stoel met kaas in ‘n enkele een van die honderde via die internet bereikbaar is nie.

“Jeromy Iemand” is toe niemand anders nie as Joseph Beuys, en die kaas al die tyd nie kaas nie, maar vet. 

Daar kuier ek toe ‘n week lank in dié man se geselskap. Hy kan vir jou besig hou.


           

Ook nie Stan Douglas se kamer met tapyte nie (dit kom daarvan as jy ‘n week lank wag om dagboek te hou), dis ook Joseph Beuys daai, Stan Douglas het foto’s en video’s daar gehad.

Van die vier video’s kon ek net een opgespoor kry:



Speelfilmtegnologie het so verander sedert daardie jare en vandag, dat die werk nou vreemd op die oog val. Die tweede video, 'n moet-kyk, eintlik ‘n advertensie vir ‘n app, spreek meer tot die een-en-twintigste-eeuse oog en oor:  



Wat op aarde ‘n Jodenklavier wat vanself speel, is, weet ek geensins nie. 

Ek het gedog dis dalk ‘n kasregister wat outomaties doen wat ‘n kasregister maar doen (die enigste klavier wat in die anti-Semitisme as ‘n Joodse klavier bekend staan) maar ek kon niks opspoor nie.

Vandaar toe Toledo toe! Ons was gek.

Nee, ons was nie gek nie. Ons het geweet die geleentheid sal hom nie sommer weer voordoen nie, en ge-carpe diem.

Es het die onderwys gelos en in die toerismebedryf beweeg – sy het miskien geleentheid om te kan rits; ek sal die lotto moet wen om weer daar te kom. (En om die lotto te wen, moet ek dit eers speel, iets wat ek nie doen nie.)

Van Toledo onthou ek die marsepein die beste.

En dan die teleurstelling omdat al wat van Sao Tome te sien was, El Greco se Begrafnis van Graaf Orgaz was.

Bygesê dat die Toledo-katedraal opgemaak het vir enige behoefte aan kerkgeboue wat ons kon hê.

Bygesê dat die Begrafnis van Graaf Orgaz ‘n mens die hele oggend in Toledo besig kan hou.




‘n Interessante artikel, ‘n interessante toeval, waarop ek afgekom het, handel toe oor einste twee skilderkunshoogtepunte van die dag:  Guernica en Begrafnis van Graaf Orgaz.

Met die titel, Two paintings and a sceptic, en onderskrif, A discussion of works by El Greco and Picasso, and what they can tell us about faith and the human condition, is dit regtig die moeite werd.

Die lesing is aangebied deur Lord Sutherland of Houndwood, KT FBA, Provost of Gresham College (wie hy ook al mag wees, en wat dit ook al mag beteken).

Die plek waar dit aangebied is, is nogal interessant: Gresham College was founded in 1597 and has been providing free lectures within the City of London for over 400 years.

Hulle neem sedert 1980 hul lesings op en daar is tans meer as 1 900 lesings waarna ‘n mens kan luister.
Hulle kan hier opgespoor word, en die lesing oor Picasso en El Greco se twee skilderye hier. (Maak die PDF-dokument oop. Daar is 'n Powerpoint ook, maar as jy die skilderye ken, is dit nie nodig nie.)

Ter afsluiting moet ek bely:  Ek wens ek kan iéts van die Toledo-katedraal onthou, maar alles is, helaas, vir my nuut.


Ek dink, was ek ‘n baba, het ek 7 Mei 1994 huilend gaan slaap, en sou ‘n ma gesê het: "die kind is beslis net oorgestimuleer, dis maar al."

Laslappies en skakels

Guernica

Twee video's, die eerste een nie oor Guernica nie, maar 'n manier om Picasso (enige skildery?) te ontsluit. Tweede bespreek Guernica (die meeste video's is ongelukkig in Spaans, hierdie een gelukkig nie.)



Twee besprekings van die graaf se begrafenis




Joseph Beuys

Joseph Beuys het 47 gedenkboksies met 'n opname saam met Jam Nume Paik gemaak. Die boksies is genommer soos etswerke. Dit was in herinnering aan George Maciunas. Die video is 'n opname van hul konsert.

   


El Greco






Toledo Katedraal (tweede een het Black Sabbath as agtergrondmusiek!)





Reina Sofia se onthou van die '94 uitstallings

Stan Douglas
Joseph Beuys

Marsepein

Ons marsepein het sterk hieraan herinner:


300 gr grounded almonds

300 gr confectioners sugar
2 spoon of water
1 egg white
optional: lemon peel or cinnamon (just for a different flavor)

In a bowl, mix almonds, confectioners sugar and water.  Mix it well until we get a soft and uniform paste.  Let this paste rest for a few hours.


After letting our preparation rest, we can start making little shapes like fruits, animals or angels. Now we beat the egg white until we get crops;  using a brush, we can paint the figures we already made. 


Now is the moment to bake our marzipan figures on a 200 ºC preheated oven for just two minutes, until golden brown.  Let them stand and they are ready to eat!


Hier is een sonder soveel suiker met esdoringstroop wat soet maak (hoewel ons Toledo nou verloor het)

2 cup almond flour
3-4 tablespoon maple syrup
1 teaspoon of ONE of the following: rosewater OR vanilla extract OR rum OR amaretto

Chocolate
½ cup of virgin coconut oil 
2 tablespoon maple syrup
⅓ cup unsweetened cocoa
1 cup unsweetened coconut flakes or any other topping of your choice

Instructions

In a bowl, combine almond flour, maple syrup and rosewater/vanilla extract/rum/amaretto and knead with your hands until you have a firm, sticky dough.

Pinch off about 1 tablespoon of dough to form a round, small marzipan ball.

Optional (but recommended): roll ball in coconut flakes until covered (you may have to press down gently while rolling for the flakes to stick). If you're not opposed to refined sugar, rolling them in powdered sugar is the traditional way of covering them.

Directions for chocolate coating

Slowly heat coconut oil until it begins to soften; you don't want it liquefied, just smooth.

Transfer coconut oil into a tall cup and add maple syrup and cocoa; stir until well incorporated.


Dip a marzipan ball into the chocolate (I use a spoon and my hands), pull out and immediately roll it in coconut flakes until fully covered and perfectly round. 

Set on a plate and refrigerate for at least 30 minutes.

Nog enkele van die meer konseptuele werke van Beuys wat op die uitstalling was
Ek kan darem nou al konseptuele spel, anders as die konsepsuele van destyds, maar ek is helaas nog nie seker of ek die konsep verstaan nie. 

   


Maandag 17 Oktober 2016

Dag 30 - 6 Mei 1994


6 Mei - 21 jaar vantevore








Hierdie is pretty much ons laaste dag in Portugal en teen dié tyd het Esmari al erken dat sy spyt is ons het net drie dae om hier deur te bring. (Ek het amper gesê wat ek wou maar nie heeltemal gesê wat ek wou nie.)

Ons pak op en vat ons hele pakkaas eers na die toeristeburo toe, vir inligting, en toe na Sta Apolonia waar ons dit vir die dag toesluit. Hierna kruis ons weë oor sy nie wil gaan waar ek wil gaan nie.

(Voor ek vergeet – die Portugese haan het lewendig geword om ‘n ou se onskuld te bewys – jare gelede.)

Ek gaan na die Museu Caluste Gulbenkian wat by verre die beste museum is wat ek nog besoek het. My boek praat van ‘n “tailor made” museum – ek noem dit sommer ‘n “designer museum” soos die “designer onderbroeke” wat ons in Amsterdam in die koninklike paleis gesien het.

Hierdie is ‘n privaatmuseum – blykbaar die grootste van sy soort. Dit is presies soos die Britse Museum, net een duisendste so groot.

Alles, maar soos in alles in die museum is mooi en bevredigend. 




Ek betrap myself dat ek na goed kyk waarna ek andersins nooit sou gekyk het nie. Dit sluit in, lieflike glasgoed uit Turkye, mooi ou Egiptiese beelde (twee katte en ek dink aan Barry Hough se “My kat word herfs”). Die Japannese boksies val my ook op.

Die eerste keer wat ek trouens verveeld word, is toe ek die Europese kuns tref, veral die gedeeltes rondom die sewentiende eeu en verder. Daar was baie boring meubels wat vir my vreklelik was – tog ‘n lieflike horlosie in die vorm van ‘n aardbol. Met die tyd op die ewenaar gemerk – dan draai die aardbol en ‘n engel se vingertjie dui die tyd aan.

Ek koop ook vir my twee posters, baie goedkoop, ek kan die prys na die duur posters in Spanje (Prado) nie glo nie.

Hierna gaan stap ek so ‘n bietjie in die meer moderne shopping centres. (Die een waarna ek gesoek het, spoor ek nooit op nie, maar ek kom wel by twee ander uit wat die moeite werd is.)

Die winkels is kleiner en die loopgange baie kleiner – dis duidelik dat die mense nie die ruimte het om te mors soos daar by ons nie.

Ontmoet Es by die Discovery-gedenkteken wat uitkyk op die rivier.

Gaan na monsastery, maar dis te duur.

Gaan na Belem-toring, maar dis te duur.


Gaan soek ‘n kruisie vir my, anders het ek geen kruisie nie – kry toe sommer drie of vier vir baie goedkoop.

Van hier gaan ons na die eetplekkie van twee aande tevore, maar hy maak te laat oop vir ons senuwees.

Toe na die stasie. Ons eet hier in ‘n eetplek waar my ma nie water uit ‘n bottel sal drink nie. Ons eet vis en ertappels, drink ‘n heerlike bottel rooiwyn en gaan na die stasie self vir poeding en koffie.

Die (slegte) poeding kos toe bykans R10-00 en die koffie is ook nie te hot nie.

Op die trein stempel die Spanjaarde toe nie dat ons die land in is nie en ek is redelik senuweeagtig oor ons sortida.


6 Mei - 21 Jaar verder




Nodeloos om te sê dat ek die Gulbenkian museum weer eens net soveel soos laas geniet het. Vandag, en in vergelyking met die Britse Museum, sou ‘n mens hierdie seker ‘n boetiekmuseum kon noem.

Caluste Gulbenkian se persoonlike versameling kan in die 9 kategorieë hier bo opgedeel word - dis wat die plek se webwerf doen, toe speel ek maar met dieselfde gedagte.



Ek was al gaande oor die plek, nog voor ek 'n voet binne die museum gesit het - die gebou is is klassieke Brutalisme (wat ons in Londen leer ken het). Ek het my in 'n stadium (nou, ronde twee) betrap dat ek meer buite die gebou gekuier en oplees as by en oor die die inhoud van die museum, die versameling self. Meer daaroor in die laslappies en skakels.


Die genot wat ek destyds in lewende lywe ervaar het, is presies wat ek nou op my rug, vanuit die privaatheid van my eie huis via die internet ervaar het.

Ek is duidelik nie die eerste een wat beïndruk is deur die horlosie in die vorm van 'n aardbol en klein Atlassies/gerubs wat dit soos 'n speelbal dra nie. Ek het regtig nie nodig gehad om vreeslike speurvernuf in te span ten einde die betrokke uurwerk op te spoor nie. Daar is omtrent nie iemand wat foto's van die museum op Tripadvisor aflaai, wat  nie die horlosie afgeneem het nie.

Waaroor ek nog blyer is, is die relikwieë van ivoor wat ek so goed onthou en destyds so opgetrek mee was. Ek het twee van die artefakte in die foto's hier ingewerk.

Die foto net regs van die drie seuntjies en hul aardbol, hou ook vir my spesiale herinnering in. Die rottangding bo die een tapyt, die ding wat aan 'n tennisraket herinner, had destyds my asem weggeslaan. My ma se suster, tannie Anne, had toe ek baie klein was, nog so rottang-tapytklopper in haar huis. Dit het dateer uit die dae voor stofsuiers en die matte van tyd tot tyd oor 'n draad gehang is en deeglik uitgeklop is om van alle stof ontslae te raak, alvorens dit weer huis in ingedra is.En daar loop ek toe destyds so 'n ding in Portugal in 'n museum raak.


Ek het dit nie aangeteken nie, maar ek verbeel my, ek is amper oortuig daarvan, dat Es daardie dag Cristo Rei toe is, toe besluit ek dat ek nou in die nuwe millennium die tyd het, toe gaan loer ek in by en lees bietjie op oor dit waarop destyds uitgemis het. 

Ek is weer eens bly dat ek nie heelwat vroeër begin het om via die internet herbesoek aan al die plekke van destyds te bring nie - dan sou ek nooit die voordeel van hommeltuie kon geniet nie. Hierdie nuwerige stukkies tegnologie het my die afgelope jaar darem al op plekke uitgebring wat vroeër nie so maklik sou gewees het nie.



Ek doen toe dieselfde met die Belem-toring en die klooster. Deesdae sien ek een kaartjie koop jou by beide besienswaardighede in. Dis duidelik ‘n jammerte dat ons te armgat vir die klooster wys – dit is asembenemend.



Oor die binnekant van die Belem-toring kry ek nie veel te sien en te lees nie – en as ek lees is dit telkens mense wat laat val dat die buitekant veel meer bied om oor huis toe te skryf as die binnekant.

Ek het die heeltyd stilgebly daaroor, maar laat ek nou maar eerlik wees en iets bely.

Toe ek so met die elektriese kabels langs terug is Lissabon toe, is die eerste wat my beïndruk het, die Padrão dos Descobrimentos - die monumente ter herinnering aan die Portugese seevaarders, hul ontdekkingsreise en ontdekkings.

Ek wou kyk hoe lank na ons in 1994 daar was, dié indrukwekkende monument opgerig is. Ek was so spyt dat ons dit met 'n jaar of wat gemis het. 

O, aarde, die konstruksie dateer toe uit 1960!

Nog groter was my verbasing toe ek by vandag se inskrywing lees dat ek en Es mekaar by die monument ontmoet het!

Ek onthou dit geensins. Ek voel soos Annieka wat elke keer as sy 'n fliek 'n derde of vierde keer kyk, dit soos 'n eerste keer beleef - omdat sy die vorige drie kere aan die slaap geraak het!

So toe was dit vir my lekker om iets wat bekend is, veronderstel is om te wees, opnuut as 'n eerste te kon beleef.

Aan die ander kant, iets anders wat ek onthou, wat ek nié aangeteken het nie, en maklik maar van kon kon vergeet het, is die poeding op die stasie wat so vrotsig was. Daar is min mense wat so ‘n lekker en maklike creme caramel maak soos die Angolese Portugese – gelyke hoeveelhede eier en melk en suiker vir die poeding, en gelyke hoeveelheid suiker met ‘n bietjie water vir die karamel sous. Alles in ‘n ringvorm in ‘n stoompot, en 30 minute later koek jy jou poeding af.

Tog het ons nie daardie aand die Portugese se tradisionele poeding geëet nie – al wat op die spyskaart was, was die variasie waarvan die Spanjaarde hou – die gestolde vla met gebrande suiker bo op – creme brulee (of soos die Spanjaarde dit noem, crema catalana).

Ek onthou my teleurstelling in ons baster brulee soos gister. Maar hoe ons kon gedink het ons gaan ‘n lekker creme brulee op ‘n stasie kry, gaan ook my verstand te bowe.

Laslappies en skakels 

Gulbenkian-museum



Gulbenkian-museum die gebou en brutalisme


Jeronimos monastery: