9 Mei - 21 jaar van te vore
(netjies oorgetik... bla-bla-bla... my handskrif nie kan lees nie...)
As ek ‘n wildegans kon teken, het ek, wat dié dag was ons uit op ‘n wild goose chase.
Ons is vroeg uit die vere en af in die pad om die 09:10 trein na Figueres te vang (verskoon die anglisisme). Dit beteken ‘n ½ uur vir opstaan, 1 uur vir stap na die bushalte en ½ uur om by die stasie te kom (of dalk ‘n uur, ek kan nie onthou nie).
In ieder geval, ons is betyds op die trein en vat die ½ uur-rit Figueres toe. Ek is baie gelukkig want ek kan bietjie dagboek, en die klas van ding, skryf.
Figueres lyk ‘n lieflike ou dorpie – ons drink water uit die fontein op die plein voor die stasie en volg die bordjies na Dali se museum, verdwaal so bietjie hier en daar – net om uit te vind dis toe op Maandae – al het Esmari se boek gesê hy is elke dag van die week oop.
Ons hardloop terug stasie toe en kan net sê dat ons Figueres toe is om ‘n heerlike pizzaskyfie vir ontbyt te eet.
Nee, dis nie ‘n tandeborsel nie, dis ‘n sleutel en daar moes nog ‘n man by geteken gewees het wat die sleutel in sy hand vashou.
Terug op Barcelona – al vrek laat – moes ons toe probeer om so veel as moontlik uit die dag te haal.
Ons eerste besoekpunt is die Pablo Espanyo – ‘n dorpie in die kleine wat gebou is vir een of ander world fair. Wat die dorpie uniek maak, is die feit dat gebruik gemaak is van al die verskillende boustyle wat in Espanya aangetref word.
Ek dwaal rond, Es neem foto’s en voor ek my kan keer, haal ek my kredietkaart uit en koop ‘n souvenir wat ek nie kan resist nie. Ek dra dit nou in my tas saam en is nie sommer van plan om dit met die pos te stuur nie.
Ook die moeite werd om oor die Pablo Espanyo aan te teken, is die glasblaser wat ons dopgehou het.
Van hier af maak ons dit ‘n Goudi/Gaudi-dag. Ons besoek eers die een of ander park wat eintlik maar vrek lelik is, tog interessant, en veral ook om daaraan te dink dat dit een of ander tyd hoogmode en baie modern was.
Van hier af is ons af in die straat, op die bus na die onvoltooide tempel, Sagrada Familia – ‘n kerk of katedraal wat nou al vanaf 1826, die jaar toe Gaudi dood is, onvoltooid is. Dit is vreeslik ornamenteel en baie interessanter as mooi. Hier staan hierdie moerse geraamte/skelet in die middel van die stad.
Ons betaal 2F elk en gaan op in die een toring wat al voltooi is. Dis klein en beknop en ons al twee se bene bewe toe ons weer onder kom.
Van hier af vat ons die bus na waar daar nog Gaudi-geboue is, drie in een straat. Hier sien ek die mooiste Gaudi-geboue en ek hoop Es se foto’s kom mooi uit.
Dis toe al redelik laat en ons moet nog bus vat en dan die 3 kilometer stap. Ons is kampeerplek toe waar ons heerlik eet. Pasta en ratatouille op die Spaanse manier voorberei.
9 Mei - 21 jaar verder
'n Wild goose chase was dit dalk in 1994, maar in 2017 was dit beslis nie die geval nie – ‘n lieflike dag waaraan ek steeds nie uitgekuier is nie.
Van Figueres se lieflike fonteintjie waaraan ons destyds ons dors geles het, weet ek vandag iets wat daardie jare aan ons onbekend was – jy mag nie van dié fontein se water drink nie! Ek was so bly toe ek foto’s die oase opspoor, maar die eerste waarvan ek bewus word is die duidelike boodskap om nie te drink nie. Ek is daar amper oortuig van dat dit nie in 1994 al die geval was nie.
Van Pablo Espanya weet ek 21 jaar later eintlik ook net een ding meer: ek was destyds onder die invloed van Pablo Picasso (nie dat jy my kan blameer nie – die vorige dag was ek in die geselskap van Guernica, en in die vorige vyf weke is ek minstens een keer ‘n week deur die man se werke omring) en dis toe al die tyd nie Pablo Espanya waar ons was nie, maar Poble Espanyol (Spaanse dorpie).
Dis opvallend dat die mooiste foto’s van die plekkie (wat in 1929, toe my ma een jaartjie oud was, gebou is) nie een vol toeriste is wat soos ‘n kolonie miere om ‘n roomyshorinkie wat ‘n kind laat val het, saamdrom nie.
Glo my, in die werklike lewe is dit ‘n miernes. Seker meer nog in 2017 as in 1994.
Die sleutelboksie uit hout gekerf wat ek destyds gekoop het, hang nog in ons huis. Dit beeld Petrus, die houer van die sleutels na die hemelpoorte, uit.
Dis Gaudi wat my herbesoek so lekker gemaak het. Die man is Helen Martins van die Uilhuis op steroïdes. Langs enige iets van Gaudi, herinner die Uilhuis trouens aan ‘n kinderkranspiekniek.
My Gaudi-wandeltoer-van Barcelona het begin toe ek die Barcelona-kaarte invaar opsoek na ‘n straat met drie Gaudi-geboue in. Dis immers waarvan ek in my dagboek skryf. Maar verniet – Gaudi se drie huise in een straat is soos Pablo Espanya – daar is nie so iets nie.
Toe dog ek – vir wat sal ek nou die drie geboue van destyds wil staan en opsoek, ek kan mos by elke Gaudi-plek-van-belang gaan inloer. Wat ek toe ook doen.
Dit was ‘n fout, want ek val toe vas.
Jy kan boekdele skryf oor elke gebou se fasade, dan was jy nog nie reg rondom, óf op die dak nie. En as jy jou drie volumes oor elke gebou se buitekant geskryf het, kan jy binnekant toe beweeg en van binnekant rondstap. Party van die geboue se meubels en dekorasies is van ensiklopediese omvang.
Ek besluit toe op ‘n Pintrest-blad van 20 foto’s oor elkeen van die man se projekte in Barcelona. 20 word toe 40. En voor ek my kon kry, is daar albums met 70 en meer.
Die aanvanklike gedagte was een album met 20 hoogtepuntfoto’s oor elke gebou, maar toe herrangskik Pinterest telkens die foto’s na willekeur en dit wou ek nie hê nie – soort by soort.
Toe word my een album veel meer, en ek betrap myself dat ek selfs 35 kilometer buite Barcelona agter Gaudi aanstap. Hy was ‘n merkwaardige man.
7 van Gaudi se geboue is soos Tafelberg en die Wieg van die Mensdom – dis wêrelderfenisterreine!
Vir die Sagrada Familia is daar geen ontwerp of tekening deur ‘n argitek nie – Gaudi het ‘n model gebou. Hierdie model is tydens die Spaanse burgeroorlog verwoes. Hulle bou die laaste 80 jaar suiwer op grond van enkele foto’s van die destydse model wat behoue gebly het.
Hierdie takelwerk met sakkies wat ek op heelwat foto’s raakgeloop het, het die man ook fotografeer, om dit om te draai en as “vloerplan” of “3D-model” te gebruik. Ja, die foto’s het vir my geen sin gemaak nie, tot ek hierdie raak lees, en onderstebo foto’s langs die oorspronklike foto’s asook die geboue sien.
Ek haal aan vanaf my gunstelingdomein oor Gaudi, www.gaudiclub.com (dis hier waar ek die meeste van die man en sy gebou geleer het):
Gaudí spent ten years working on studies for the design, and developing a new method of structural calculation based on a stereostatic model built with cords and small sacks of pellets. The outline of the church was traced on a wooden board (1:10 scale), which was then placed on the ceiling of a small house next to the work site. Cords were hung from the points where columns were to be placed. Small sacks filled with pellets, weighing one ten-thousandth part of the weight the arches would have to support, were hung from each catenaric arch formed by the cords. Photographs were taken of the resulting model from various angles, and the exact shape of the church's structure was obtained by turning them upside-down. Gaudí took photographs from various angles so he could see vertical sections or elevations of the building.
Die kerk is toe nooit klaar gebou nie – die man met die tjekboek is oorlede, die projek gestaak en ‘n dak is halfpad oor dit wat klaar is, geplak.
Die video's is telkens seker 'n goeie bekendstelling aan die geboue, maar ek het die fotoalbums meer geniet.
Park Guëll - Hans se fotoalbum
Ek het hier begin kuier, en het aanvanklik heerlik rondgestap in 'n Gaudi-park ver buite die stad, voor ek besef het dat die rede waarom alles vir my onbekend lyk, die feit is dat ek in die verkeerde park rondstap.
Casa Vicens - Hans se fotoalbum
Die eerste video is lank, maar hy neem jou om die huis, die tweede een praat Spaans, maar hy neem jou binne die huis in.
Bellesguard - Hans se fotoalbum
Beide video's is deur die Toring self opgelaai (by wyse van spreke). Die eerste na die koms van hommeltuie, die eerste pre-die-drone.
Guëll Palau - Hans se fotoalbum
Ek wou net volwaardige video's, en nie 'n spoeg en plak van foto's nie, deel, maar die swart-en-wit van die Palau homself is net hopeloos te outentiek om nie te deel nie. Die ander een wys mooi rond, maar vir die fasade bly die Pinterestalbum die beste.
Teresiese Kollege (Katolieke skool) - Hans se fotoalbum
Geen noemenswaardige video beskikbaar nie. Ek het ook gesukkel om foto's op te spoor.
Casa Calvet - Hans se fotoalbum
Barcelona se pryswenner in die kategorie vir huise wat in 1900 voltooi is.
Casa Mila - Hans se fotoalbum
Die laaste huis (of casa) wat Gaudi gebou het. Hierna het hy hom meer as 40 jaar toegespits op die ontwerp en bou van die Sagrada Familia.
Die kerk is in opdrag van sy beskermheer gebou - dit was bestem om as kerk te dien vir al die arbeiders wat in een van die man se ondernemings gewerk het.
Gaudi se swanesang. Al het 'n motor Gaudi op een van die hoeke doodgery, sing die swaan steeds. Wanneer dit voltooi gaan wees, is alles spekulasie. Befondsing vir die bou berus suiwer op donasies. Die binnekant is wel voltooi.
My beskeie gunsteling - een van die heeleerstes vir sy beskermheer - 'n wynkelder. Vandag 'n restourant.
Casa Batllo - Die plek se fotoalbums
Die eerste video is deur die eienaars van die gebou gemaak en vertel op 'n mooi manier wat Gaudi in gedagte had.