Maandag 17 Oktober 2016

Dag 30 - 6 Mei 1994


6 Mei - 21 jaar vantevore








Hierdie is pretty much ons laaste dag in Portugal en teen dié tyd het Esmari al erken dat sy spyt is ons het net drie dae om hier deur te bring. (Ek het amper gesê wat ek wou maar nie heeltemal gesê wat ek wou nie.)

Ons pak op en vat ons hele pakkaas eers na die toeristeburo toe, vir inligting, en toe na Sta Apolonia waar ons dit vir die dag toesluit. Hierna kruis ons weë oor sy nie wil gaan waar ek wil gaan nie.

(Voor ek vergeet – die Portugese haan het lewendig geword om ‘n ou se onskuld te bewys – jare gelede.)

Ek gaan na die Museu Caluste Gulbenkian wat by verre die beste museum is wat ek nog besoek het. My boek praat van ‘n “tailor made” museum – ek noem dit sommer ‘n “designer museum” soos die “designer onderbroeke” wat ons in Amsterdam in die koninklike paleis gesien het.

Hierdie is ‘n privaatmuseum – blykbaar die grootste van sy soort. Dit is presies soos die Britse Museum, net een duisendste so groot.

Alles, maar soos in alles in die museum is mooi en bevredigend. 




Ek betrap myself dat ek na goed kyk waarna ek andersins nooit sou gekyk het nie. Dit sluit in, lieflike glasgoed uit Turkye, mooi ou Egiptiese beelde (twee katte en ek dink aan Barry Hough se “My kat word herfs”). Die Japannese boksies val my ook op.

Die eerste keer wat ek trouens verveeld word, is toe ek die Europese kuns tref, veral die gedeeltes rondom die sewentiende eeu en verder. Daar was baie boring meubels wat vir my vreklelik was – tog ‘n lieflike horlosie in die vorm van ‘n aardbol. Met die tyd op die ewenaar gemerk – dan draai die aardbol en ‘n engel se vingertjie dui die tyd aan.

Ek koop ook vir my twee posters, baie goedkoop, ek kan die prys na die duur posters in Spanje (Prado) nie glo nie.

Hierna gaan stap ek so ‘n bietjie in die meer moderne shopping centres. (Die een waarna ek gesoek het, spoor ek nooit op nie, maar ek kom wel by twee ander uit wat die moeite werd is.)

Die winkels is kleiner en die loopgange baie kleiner – dis duidelik dat die mense nie die ruimte het om te mors soos daar by ons nie.

Ontmoet Es by die Discovery-gedenkteken wat uitkyk op die rivier.

Gaan na monsastery, maar dis te duur.

Gaan na Belem-toring, maar dis te duur.


Gaan soek ‘n kruisie vir my, anders het ek geen kruisie nie – kry toe sommer drie of vier vir baie goedkoop.

Van hier gaan ons na die eetplekkie van twee aande tevore, maar hy maak te laat oop vir ons senuwees.

Toe na die stasie. Ons eet hier in ‘n eetplek waar my ma nie water uit ‘n bottel sal drink nie. Ons eet vis en ertappels, drink ‘n heerlike bottel rooiwyn en gaan na die stasie self vir poeding en koffie.

Die (slegte) poeding kos toe bykans R10-00 en die koffie is ook nie te hot nie.

Op die trein stempel die Spanjaarde toe nie dat ons die land in is nie en ek is redelik senuweeagtig oor ons sortida.


6 Mei - 21 Jaar verder




Nodeloos om te sê dat ek die Gulbenkian museum weer eens net soveel soos laas geniet het. Vandag, en in vergelyking met die Britse Museum, sou ‘n mens hierdie seker ‘n boetiekmuseum kon noem.

Caluste Gulbenkian se persoonlike versameling kan in die 9 kategorieë hier bo opgedeel word - dis wat die plek se webwerf doen, toe speel ek maar met dieselfde gedagte.



Ek was al gaande oor die plek, nog voor ek 'n voet binne die museum gesit het - die gebou is is klassieke Brutalisme (wat ons in Londen leer ken het). Ek het my in 'n stadium (nou, ronde twee) betrap dat ek meer buite die gebou gekuier en oplees as by en oor die die inhoud van die museum, die versameling self. Meer daaroor in die laslappies en skakels.


Die genot wat ek destyds in lewende lywe ervaar het, is presies wat ek nou op my rug, vanuit die privaatheid van my eie huis via die internet ervaar het.

Ek is duidelik nie die eerste een wat beïndruk is deur die horlosie in die vorm van 'n aardbol en klein Atlassies/gerubs wat dit soos 'n speelbal dra nie. Ek het regtig nie nodig gehad om vreeslike speurvernuf in te span ten einde die betrokke uurwerk op te spoor nie. Daar is omtrent nie iemand wat foto's van die museum op Tripadvisor aflaai, wat  nie die horlosie afgeneem het nie.

Waaroor ek nog blyer is, is die relikwieë van ivoor wat ek so goed onthou en destyds so opgetrek mee was. Ek het twee van die artefakte in die foto's hier ingewerk.

Die foto net regs van die drie seuntjies en hul aardbol, hou ook vir my spesiale herinnering in. Die rottangding bo die een tapyt, die ding wat aan 'n tennisraket herinner, had destyds my asem weggeslaan. My ma se suster, tannie Anne, had toe ek baie klein was, nog so rottang-tapytklopper in haar huis. Dit het dateer uit die dae voor stofsuiers en die matte van tyd tot tyd oor 'n draad gehang is en deeglik uitgeklop is om van alle stof ontslae te raak, alvorens dit weer huis in ingedra is.En daar loop ek toe destyds so 'n ding in Portugal in 'n museum raak.


Ek het dit nie aangeteken nie, maar ek verbeel my, ek is amper oortuig daarvan, dat Es daardie dag Cristo Rei toe is, toe besluit ek dat ek nou in die nuwe millennium die tyd het, toe gaan loer ek in by en lees bietjie op oor dit waarop destyds uitgemis het. 

Ek is weer eens bly dat ek nie heelwat vroeër begin het om via die internet herbesoek aan al die plekke van destyds te bring nie - dan sou ek nooit die voordeel van hommeltuie kon geniet nie. Hierdie nuwerige stukkies tegnologie het my die afgelope jaar darem al op plekke uitgebring wat vroeër nie so maklik sou gewees het nie.



Ek doen toe dieselfde met die Belem-toring en die klooster. Deesdae sien ek een kaartjie koop jou by beide besienswaardighede in. Dis duidelik ‘n jammerte dat ons te armgat vir die klooster wys – dit is asembenemend.



Oor die binnekant van die Belem-toring kry ek nie veel te sien en te lees nie – en as ek lees is dit telkens mense wat laat val dat die buitekant veel meer bied om oor huis toe te skryf as die binnekant.

Ek het die heeltyd stilgebly daaroor, maar laat ek nou maar eerlik wees en iets bely.

Toe ek so met die elektriese kabels langs terug is Lissabon toe, is die eerste wat my beïndruk het, die Padrão dos Descobrimentos - die monumente ter herinnering aan die Portugese seevaarders, hul ontdekkingsreise en ontdekkings.

Ek wou kyk hoe lank na ons in 1994 daar was, dié indrukwekkende monument opgerig is. Ek was so spyt dat ons dit met 'n jaar of wat gemis het. 

O, aarde, die konstruksie dateer toe uit 1960!

Nog groter was my verbasing toe ek by vandag se inskrywing lees dat ek en Es mekaar by die monument ontmoet het!

Ek onthou dit geensins. Ek voel soos Annieka wat elke keer as sy 'n fliek 'n derde of vierde keer kyk, dit soos 'n eerste keer beleef - omdat sy die vorige drie kere aan die slaap geraak het!

So toe was dit vir my lekker om iets wat bekend is, veronderstel is om te wees, opnuut as 'n eerste te kon beleef.

Aan die ander kant, iets anders wat ek onthou, wat ek nié aangeteken het nie, en maklik maar van kon kon vergeet het, is die poeding op die stasie wat so vrotsig was. Daar is min mense wat so ‘n lekker en maklike creme caramel maak soos die Angolese Portugese – gelyke hoeveelhede eier en melk en suiker vir die poeding, en gelyke hoeveelheid suiker met ‘n bietjie water vir die karamel sous. Alles in ‘n ringvorm in ‘n stoompot, en 30 minute later koek jy jou poeding af.

Tog het ons nie daardie aand die Portugese se tradisionele poeding geëet nie – al wat op die spyskaart was, was die variasie waarvan die Spanjaarde hou – die gestolde vla met gebrande suiker bo op – creme brulee (of soos die Spanjaarde dit noem, crema catalana).

Ek onthou my teleurstelling in ons baster brulee soos gister. Maar hoe ons kon gedink het ons gaan ‘n lekker creme brulee op ‘n stasie kry, gaan ook my verstand te bowe.

Laslappies en skakels 

Gulbenkian-museum



Gulbenkian-museum die gebou en brutalisme


Jeronimos monastery: