14 Mei - 25 jaar van te vore
(alles netjies oorgetik onder die 1994-dagboekfaksimilee)
Overgesetsynde (netjies oorgetik):
OK, nodeloos om te sê: Ons is in Suisse, Switzerland.
OK, nodeloos om te sê: Ons is in Suisse, Switzerland.
Ek het ʼn
slegte nag gehad in herinnering aan wat laas op die trein gebeur het. Toe ek
wel weer aan die slaap raak en Esmari my wakker maak om te sê ek snork, dog ek,
ek gaan haar fisies te lyf. Gelukkig is sy die oggend die varsste en
aangenaamste wat sy nog ooit na ʼn nag op die trein was, en konfrontasie word
afgeweer.
Ons wag 1
uur op die stasie vir die toeristeburo om oop te maak en kry daar alle
inligting wat ons wil hê. Kaarte van die stad, bus en “What’s on in Geneve” en
dié klas dinge.
Ons koop ʼn
2-dag-dagkaart (13FF) en klim op die bus(se) na die kampeerplek (die een in die
middel van die stad is nog nie oop vir die seisoen nie) op die eindpunt van die
busroete.
Ons stop op
Hermance, ʼn lieflike skilderagtige plattelandse dorpie, 100% gemik op die
toeris, en stap na die kampeerplek wat genadiglik nie so ver is soos die een in
Barcelona nie.
(Ek sit,
terloops, op ʼn groen bankie voor die Petit Palais, twee dae later en wag vir
die museum om oop te maak.)
Ons slaan
tent op en my reisgenoot wil genadiglik nie stort nie en ons skiet dadelik deur
Geneva toe. Daar aangekom is ons eerste prioriteit om kos te kry – dis Saterdag
– ons weet nie hoe laat die winkels toemaak nie en of hulle op ʼn Sondag oop is
of nie.
Ons besoek
die “Mark” – o, lieflik – en koop brood, landjager, kaas, blaarslaai,
ertappels, knoffel, sprietuie, tamatie (dis vir twee dae, oor!).
Ons eerste
besoekpunt is die Natuurhistoriese museum (entree libre) en ons besoek gou-gou
2 of 3 van die vloere. Die honderde opgestopte diere, voëls en reptiele val my
op. Hoogtepunt is die opgestopte Dodo. (Die ironie wat die museum val my op en
ek dink ook aan “Op die dood van Riëtte” van Lina Spies.)
Van hier
stap ons net om die draai en af in die boomryke pad (Geneve het twee bome vir
elke inwoner) na die horlosiemuseum toe. Dis nie klokke soos in Holland nie,
maar hoofsaaklik arm en sakhorlosies. Ons sien lieflike “dress watches” van
Piaget en ons sien aaklige “dress watches” van Piaget. (Die smaakverskille
tussen my en Es word uitgelig.)
Hoogtepunt
vir die dag is die besoek aan die Etnografiese museum. (Ja, ek weet dit is die
vierde etnografiese museum wat ek op die toer besoek, maar dit is elke keer
opwindend – al lyk die een soos die ander.
Die
Afrika-gedeelte lê my weer een die naaste aan die hart, maar dit is ook
interessant om vir die eerste keer in Europa ʼn redelike uitgebreide versameling
wat op die Rooihuide konsentreer, te sien.
(Ek doen,
weer eens terloops, op die oomblik ʼn wonderlike ding – ek sit in een van die
vertrekke van die Petit Palais en skryf dagboek – rustig op ʼn leerstoel met
kalssieke musiek in my ore en al om my.)
Ek het
vergeet om te noem dat ons middagete heerlike toebroodjies onder die bome agter
die horlosiemuseum eet – met 2F se blaarslaai wat Esmari gekoop het, (maar ook
nie gekoop het nie).
Ons besoek
ook die Fotografiese uitstalling, maar dit was ʼn redelike teleurstelling – soos
gtrouens elke fotografiese uitstalling waarby ons nog was.
Aandete was
toe pasta met sous wat gemaak is van room, knoffel, sampioene en ham.
Rustige nag
gehad.
(Vergeet om
te sê: Switserse soldate dra oorbelle
saam met hul uniform. Spaanse soldate se berets se toutjies MOET uithang.)
14 Mei - 25 jaar later
14 Mei - 25 jaar later
Van hierdie
dag onthou ek 25 jaar later die aankoms op die stasie en die wag vir die
toeristeburo om oop te maak, die beste. Die opwinding van ʼn nuwe stad, die
onbekende, die afwagting rondom geld wissel.
Hermance is
letterlik op die eindpunt van die busroete – as die bus verder teen die
Geneefse meer aangehou het, was ons in Duitsland. Net ʼn smal
riviertjie/kanaal/spruit wat ons kampeerplek en Duitsland skei.
Van Hermance
en sy kampeerplek onthou ek ook maar min – ons kampeer ʼn ruk later, teen
dieselfde meer, maar aan die oorkant het so ʼn indruk op my gemaak, dat alle
herinnering aan my eerste kennismaking met die meer geheel en al uitgewis is.
Op die foto's hier kan die kampeerplek duidelik gesien word, ook die skeidingspruit tussen Frankryk en Switzerland.
Watter mark
ons besoek het, sal ek ook nie weet nie. Plain Palais is bekend vir sy
varsproduktemark op ʼn Saterdag – ʼn propperse boeremark – maar dit begin eers in
Junie, en ons was daar in Mei. Die stad se ander varsproduktemark is te ver
suid, ons sou nie so ver gegaan het nie. Ek weet nie.
Ook nie wat
presies ek bedoel het met die blaarslaai van 2 Switserse Frank wat ons geëet en
Esmari gekoop het, maar ook nie gekoop het nie. Sy het straks vergeet om te
betaal, want steel sou sy beslis nie.
As jou
enigste verwysingspunt die Transvaal Museum oorkant Pretoria Stadsaal is, dan
is die Natuurhistoriese Museum asembenemend.
Die pikkewyn
in die Autin Robberts-uitstalling wat omgeval was toe ons Klaradyn op drie die
eerste keer soheentoe geneem het, was vier jaar later steeds omgeval toe ons
haar weer daar had. Sy het iewers teen die einde van laerskool weer daar ʼn
draai gemaak en rapporteer die stomme ding lê steeds met sy gesig in die grond.
Hoeveel jaar is dit nou?
Kyk ek die
video’s, dan is die Afrika-diere die museum se groot trekpleister.
Ek kon
ongelukkig nie ʼn enkele video van die dodo kry nie, en moes maar tevrede wees
met ʼn foto van die plek se vluglose geevogelte.
25 jaar
later is dit ook seker 27 jaar gelede dat ek laas “Op die dood van Riëtte” met
leerders behandel het. Dit gaan in die gedig, en my oproep daarvan in die
museum, rondom die stem in die gedig wat vra:
“Of was die dood genadiglik die skans wat jou vroegtydig reeds moes
veilig hou teen (...) elke hand wat diertjies op sou stop om in museums na mens
te kyk met koue oë agter koue glas?
Geneve het ʼn
lieflike horlosiemuseum, ek deel selfs ʼn video, maar dié museum het ʼn hele paar
jaar na ons in 1994 daar was, die lig gesien. Ek spoor geen ander verwysing na
ʼn horlosiemuseum in die stad op nie. Ek vermoed ons was by een van die groot
horlosiehuise, vermoedelik Piaget, en ek het dit ter wille van die dagboek, of
in onkunde, ʼn horlosiemuseum genoem.
Ek google
toe maar hierdie ronde weer “Piaget watches” en besef weer dat nie veel in 25
jaar verander het nie – party is steeds lieflik, en ander steeds (vir my)
aaklig.
En toe die
herbesoek aan die hoogtepunt – die stad se volkekundige museum.
Die plek het
ʼn lieflike webwerf, so gespesialiseerd soos ek laas op internetherbesoek aan
Brittanje se museums gesien het, maar HELAAS – dis alles FRANS. Die Engels is een
enkele skermpie, en as dit nie was nie dat ek steeds gaande oor die etniese is
nie, het ek die plek summier verlaat, maar ek kuier toe maar in ʼn taal wat ek
nie verstaan nie.
Die webwerf is beslis 'n besoek werd. Die foto's hier bo is skermgrepe van 'n video geplaas deur die maatskappy wat onlangs verantwoordlik was vir 'n face lift van die interieur en uitstalruimte. Die kort video is een vet plesier (as jy, soos ek, van die klas van ding hou).
Ek kan helaas nie die video intrek nie, dis op VIMEO en nie YOUTUBE nie, maar hier is die skakel daarheen.
Die houer ryklik versier met onderkake wat hierdie skrywe inlei, is van hulle FB-blad.
Die houer ryklik versier met onderkake wat hierdie skrywe inlei, is van hulle FB-blad.
200 meter (3
minute se stap) daarvandaan is die Centre de la Photographie, Geneve. Ook
hierdie een, noem ek destyds, “was ʼn redelike teleurstelling – soos trouens
elke fotografiese uitstalling waarby ons nog was.”
25 jaar
later het nog nie veel verander nie. Ek spoor die plek op, kry die keuse om oor
te skakel na Engels, maar kry toe kort-kort die boodskap dat dit wat ek wil
lees, ongelukkig nie in Engels beskikbaar is nie.
Die sentrum
se webwerf dek nie vorige uitstallings so ver terug as 1994 nie, maar ek kuier
lekker in die geselskap van ʼn gaskunstenaar ʼn paar jaar later, Hiroshi
Sigumoti, wat hom al meer as 40 jaar lank van tyd tot tyd besig hou met die afneem
van museums se natuurhistoriese dioramas.
In die
werklike lewe lyk hierdie dioramas kunsmatig, maar deur sy kamera kom die opgestopte
diere tot nuwe lewe en gee hy so wedergeboorte aan die opgestopte diere wat nog
die potensiaal het om te bestaan, lank nadat die taksidermis se herskepping
reeds verdwyn het.
Van hierdie
werke van hom sê die man:
“When I first arrived in New York in 1974, I visited many of the city's tourist sites, one of which was the the American Museum of Natural History. I made a curious discovery while looking at the exhibition of animal dioramas: the stuffed animals positioned before painted backdrops looked utterly fake, yet by taking a quick peek with one eye closed, all perspective vanished,and suddenly they looked very real. I had found a way to see the world as a camera does. However fake the subject, once photographed, it's as good as real.”
“When I first arrived in New York in 1974, I visited many of the city's tourist sites, one of which was the the American Museum of Natural History. I made a curious discovery while looking at the exhibition of animal dioramas: the stuffed animals positioned before painted backdrops looked utterly fake, yet by taking a quick peek with one eye closed, all perspective vanished,and suddenly they looked very real. I had found a way to see the world as a camera does. However fake the subject, once photographed, it's as good as real.”
En op
daardie noot sluit ek my herbesoek aan dag een in Geneva af. Ek sou vreeslik
graag langer in die volkekundige museum wou deurbring, dit lê my steeds na aan die
hart, maar helaas.