Sondag 03 Februarie 2019

Dag 39

14 Mei - 25 jaar van te vore


  


(alles netjies oorgetik onder die 1994-dagboekfaksimilee)









Die oggend begin met ʼn misverstand tussen ons en die horlosies en toe ons ons kon kry, is ons 8-uur klaar in plaas van 9-uur. (Es se wekker het so mal gegaan tussen al die ander horlosies hier in Suisse-land dat hy helemaal (sic) te vinnig geloop het - hartkloppings gekry.)

Ons snol na die bushalte en slaag inderdaad daarin om die 08:07-bus in stad toe te haal.


     



½ 9 se kant in Geneve. Synde alles eers baie later oopmaak, gaan ons na die world famous flower clock wat maar ʼn moerse teleurstelling was. (Nie dat ek iets/veel verwag het nie – ek sou nie gegaan het, as ons nie so vroeg in die stad was nie.)

Ons kyk ook na die spuitfontein (of te wel waar die spuitfontein moet spuit, as hy aan is – ons tref hom elke keer af). Dit is die hoogste spuitfontein in die wêreld en word net geëwenaar deur die olie-en-vuur spuitfonteine wat Sadam Hussein in Irak agtergelaat het.


      

Die eerste katedraal vir die dag is toe tydens die erediens, die Russies-ortodokse kerk is toe tydens die erediens. Ons is darem gelukkig genoeg om die Reformasiemuur te sien – al die reformatore, sonder Luther, se beelde in die muur.


      

Orals in die stad is sulke vreemde trappe (100 van die goed) met ʼn gaatjie bo in waardeur jy loer. Dit blyk toe later dat dit ʼn kunstenaar is, sy uitstalling, en ons klim heeldag trappe en loer, party uitsigte – mooi; ander teleurstellend. (Party gaatjies selfs toegeplak.)


     


Ek kan nie onthou of ons toe nog iets gedoen het nie, maar ek weet wel dat ons baie rondgeloop het, dat ek by lieflike spuitfonteintjies water gedrink het, in vars warm hondemis waaruit die stoom nog geslaan het, getrap het. Ons stap in ons omswerwinge verby twee ikoonwinkels, en ek besef ikone is ʼn alledaagsheid hier in Europa, ek het in my hele lewe nog net 1 gesien en dit was op die ouderdom van 28 jaar.

Die dag bring ons, na ʼn flinke stap teen ʼn opdraande uit, en ʼn knappe pas teen ʼn trap op, by die Rooikruis-museum.


          



Hierdie museum kos toe wel 8 Switserse Frank wat my budget in sy moer in stuur, maar dis elke sent die moeite werd.

Vir die eerste keer tref ons toe weer ʼn Londen-standaard tipe museum. Ons bring meer as vier ure daar deur – ons sien skyfiereekse wat ons hoendervleis gee, films uit die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, mediadekking oor rampe van 1939 tot die hede en selfs ʼn insetsel oor die skietery in Johannesburg enkele weke voor ons uit die land uit weg is.

Die museum gee ʼn mens regtig hoendervleis vir die Rooi Kruis. Ons koop kos na ʼn helse gesukkel by die stasie – en eet dit op een van die eilande in die Rhône-rivier.



     


Vandaar skiet ek deur na die kunstenaarsentrum waar ek alles van die trappe in die stad leer, gaan toe na die kerke waar Calvyn gepreek het, kyk hoe lyk sy stoel en ontmoet Es by die Russies Ortodokse kerk (Betaal net R5-00 in plaas van die R12-00 wat ons in Nice betaal het.)


     


Van hieraf bel ek my ma – heerlik om haar stem te hoor en te verneem almal is gesond en wel.

Die aand eet ons Duitse ????? saam met ons ertappels en fondue


Donkiesjare later op herbesoek uit die leunstoel

Twee besoekpunte hierdie dag is twee van die ganse toer se besoeke wat vandag nog die duidelikste uitstaan.

25 jaar later is die Rooikruismuseum in Geneve na my gebrekkige mening steeds die beste museum waarin ek ooit was. 

Hulle het die museum intussen, na dit 22 maande gesluit was, oorgedoen en herontwerp om aan te pas by die veranderde wêreld en tegnologie sedert die opening van die museum in die laat tagtigs. Ek weet sommer, nadat ek baie kubertyd in die museum se geselskap bestee het, dis nou nog beter as in 1994.


Die ander hoogtepunt waarheen ek gereeld in my gedagtes terugkeer, is Peter Greenaway se uitstalling, The Chairs 1, wat die stad vol was. Van die man se flieks het ek nog net een (ʼn hele paar keer) gesien, The Cook, the thief, his wife and her lover (1989); van sy trappe in Geneve het ek ʼn hele paar gesien. Ek sou destyds by elkeen ʼn draai wou maak en het vir hare gedroom dat hy van Afrika besete moet raak en iets soortgelyks hier by ons moet kom doen, maar helaas. Die trappe in Geneve sou die eerste van trappe in hele paar stede wees, maar die man se eie droom het ʼn stille dood gesterf, myne nog stiller.

Ek het vanjaar elkeen van die trappe weer opgespoor, maar niemand het dit wat jy deur die trap se loergaatjie kon bespeur, afgeneem nie. Party van die goed was vistas en panoramas, ander klein gefokusde nabyskote soos ʼn perdeblommetjie wat in die kraak van ʼn verweerde muur wortelgeskiet het. (Ek het destyds gewonder of die plantjie gaan bly bestaan tot die einde van die uitstalling, so broos en weerloos was dit.)

Vandag nog, as ek in die daaglikse wandel en handel inzoem op tikkie detail, of uitzoem op ;n asembenemende stadslandskap, dan sou ek dit graag wou deel aan die hand van een van Peter Greenaway se versigtigopgestelde loergaatjies in ʼn trap.

Ook die besoek aan die Reformasiemuur staan steeds uit, nie oor die muur en sy geskiedenis nie, maar omdat dit vir my reisgenoot, Es, so ʼn belangrike besoekpunt, amper ʼn pelgrimsbesoek, was. Sy het in die huis van ʼn NG-predikant grootgeword en die besoek het vir haar nie net hulde gebring aan die Hervormers nie, maar aan haar Pa en die opvoeding wat hy sy kinders gegee het. ʼn Baie spirituele besoek dus.

Calvyn se kerk, wat jare ʼn Katolieke gebou was en na die Hervorming van alles wat Rooms of Paaps was, gestroop is, onthou ek as ʼn eerste in meer as ʼn maand. As jy in die afgelope 40 dae meer as 40 plekke van aanbidding (van katedrale, sinagoges, tempels, kapelle, en tabernakels, tot Stone Hedge in Engeland, besoek het, en jou asem telkens weggeslaan is deur die overvloedigheid, dan staan Calvyn se kerk uit soos ʼn puisie op ʼn vark se rug – dis gestroop, soos ʼn lawwe, ongesoute Engelse bord kookkos in vergelyking met die hellevuur van ʼn ordentlike Durban-kerrie.

Dit was soos om weer in NG-moedergemeente op Alberton in te stap – net soveel keer groter.

Alles in skrille kontras natuurlik met die Russiese Ortodokse kerk. Seker die stad se ortodokse Grieke en Jode wat pa staan vir die ikoonwinkels in die stad wat my destyds so opgevol het.

So van moeders en ikone gepraat – dit sou dalk 25 jaar later, en ʼn hele paar jaar na haar dood (ek weet nie hoeveel nie want, onder andere Calvyn, het my geleer om nie boek van die kwaad te hou nie) baie lekker wees om my ma aan die ander kant van die telefoonlyn  of -sein te kon hê. Van almal wat destyds gesond en wel kon wees, is dit vandag nog net my broer sy vrou en twee kinders wat oor is om wel te kan wees.

Laslappies en skakels 

Rooikruis en sekelmaan-museum




Chairs 1 Geneva


Johannes Calvyn se kerk van die Heilige Pieter/Petrus/Pierre/Peter 






Blomtuinhorlosie




Russies Ortodokse kerk 



Spuitfontein 


Reformasiemuur



Donderdag 31 Januarie 2019

Dag 38

14 Mei - 25 jaar van te vore

   

(alles netjies oorgetik onder die 1994-dagboekfaksimilee)









Overgesetsynde (netjies oorgetik):

OK, nodeloos om te sê:  Ons is in Suisse, Switzerland.

Ek het ʼn slegte nag gehad in herinnering aan wat laas op die trein gebeur het. Toe ek wel weer aan die slaap raak en Esmari my wakker maak om te sê ek snork, dog ek, ek gaan haar fisies te lyf. Gelukkig is sy die oggend die varsste en aangenaamste wat sy nog ooit na ʼn nag op die trein was, en konfrontasie word afgeweer.

Ons wag 1 uur op die stasie vir die toeristeburo om oop te maak en kry daar alle inligting wat ons wil hê. Kaarte van die stad, bus en “What’s on in Geneve” en dié klas dinge.

Ons koop ʼn 2-dag-dagkaart (13FF) en klim op die bus(se) na die kampeerplek (die een in die middel van die stad is nog nie oop vir die seisoen nie) op die eindpunt van die busroete.

Ons stop op Hermance, ʼn lieflike skilderagtige plattelandse dorpie, 100% gemik op die toeris, en stap na die kampeerplek wat genadiglik nie so ver is soos die een in Barcelona nie.

(Ek sit, terloops, op ʼn groen bankie voor die Petit Palais, twee dae later en wag vir die museum om oop te maak.)

Ons slaan tent op en my reisgenoot wil genadiglik nie stort nie en ons skiet dadelik deur Geneva toe. Daar aangekom is ons eerste prioriteit om kos te kry – dis Saterdag – ons weet nie hoe laat die winkels toemaak nie en of hulle op ʼn Sondag oop is of nie.

Ons besoek die “Mark” – o, lieflik – en koop brood, landjager, kaas, blaarslaai, ertappels, knoffel, sprietuie, tamatie (dis vir twee dae, oor!).

Ons eerste besoekpunt is die Natuurhistoriese museum (entree libre) en ons besoek gou-gou 2 of 3 van die vloere. Die honderde opgestopte diere, voëls en reptiele val my op. Hoogtepunt is die opgestopte Dodo. (Die ironie wat die museum val my op en ek dink ook aan “Op die dood van Riëtte” van Lina Spies.)

Van hier stap ons net om die draai en af in die boomryke pad (Geneve het twee bome vir elke inwoner) na die horlosiemuseum toe. Dis nie klokke soos in Holland nie, maar hoofsaaklik arm en sakhorlosies. Ons sien lieflike “dress watches” van Piaget en ons sien aaklige “dress watches” van Piaget. (Die smaakverskille tussen my en Es word uitgelig.)

Hoogtepunt vir die dag is die besoek aan die Etnografiese museum. (Ja, ek weet dit is die vierde etnografiese museum wat ek op die toer besoek, maar dit is elke keer opwindend – al lyk die een soos die ander.

Die Afrika-gedeelte lê my weer een die naaste aan die hart, maar dit is ook interessant om vir die eerste keer in Europa ʼn redelike uitgebreide versameling wat op die Rooihuide konsentreer, te sien.

(Ek doen, weer eens terloops, op die oomblik ʼn wonderlike ding – ek sit in een van die vertrekke van die Petit Palais en skryf dagboek – rustig op ʼn leerstoel met kalssieke musiek in my ore en al om my.)

Ek het vergeet om te noem dat ons middagete heerlike toebroodjies onder die bome agter die horlosiemuseum eet – met 2F se blaarslaai wat Esmari gekoop het, (maar ook nie gekoop het nie).

Ons besoek ook die Fotografiese uitstalling, maar dit was ʼn redelike teleurstelling – soos gtrouens elke fotografiese uitstalling waarby ons nog was.

Aandete was toe pasta met sous wat gemaak is van room, knoffel, sampioene en ham.

Rustige nag gehad.

(Vergeet om te sê:  Switserse soldate dra oorbelle saam met hul uniform. Spaanse soldate se berets se toutjies MOET uithang.)

14 Mei - 25 jaar later


Van hierdie dag onthou ek 25 jaar later die aankoms op die stasie en die wag vir die toeristeburo om oop te maak, die beste. Die opwinding van ʼn nuwe stad, die onbekende, die afwagting rondom geld wissel.

Hermance is letterlik op die eindpunt van die busroete – as die bus verder teen die Geneefse meer aangehou het, was ons in Duitsland. Net ʼn smal riviertjie/kanaal/spruit wat ons kampeerplek en Duitsland skei.

Van Hermance en sy kampeerplek onthou ek ook maar min – ons kampeer ʼn ruk later, teen dieselfde meer, maar aan die oorkant het so ʼn indruk op my gemaak, dat alle herinnering aan my eerste kennismaking met die meer geheel en al uitgewis is.

Op die foto's hier kan die kampeerplek duidelik gesien word, ook die skeidingspruit tussen Frankryk en Switzerland.



Watter mark ons besoek het, sal ek ook nie weet nie. Plain Palais is bekend vir sy varsproduktemark op ʼn Saterdag – ʼn propperse boeremark – maar dit begin eers in Junie, en ons was daar in Mei. Die stad se ander varsproduktemark is te ver suid, ons sou nie so ver gegaan het nie. Ek weet nie.

Ook nie wat presies ek bedoel het met die blaarslaai van 2 Switserse Frank wat ons geëet en Esmari gekoop het, maar ook nie gekoop het nie. Sy het straks vergeet om te betaal, want steel sou sy beslis nie.



As jou enigste verwysingspunt die Transvaal Museum oorkant Pretoria Stadsaal is, dan is die Natuurhistoriese Museum asembenemend.

Die pikkewyn in die Autin Robberts-uitstalling wat omgeval was toe ons Klaradyn op drie die eerste keer soheentoe geneem het, was vier jaar later steeds omgeval toe ons haar weer daar had. Sy het iewers teen die einde van laerskool weer daar ʼn draai gemaak en rapporteer die stomme ding lê steeds met sy gesig in die grond. Hoeveel jaar is dit nou?

Kyk ek die video’s, dan is die Afrika-diere die museum se groot trekpleister.

 



Ek kon ongelukkig nie ʼn enkele video van die dodo kry nie, en moes maar tevrede wees met ʼn foto van die plek se vluglose geevogelte.



25 jaar later is dit ook seker 27 jaar gelede dat ek laas “Op die dood van Riëtte” met leerders behandel het. Dit gaan in die gedig, en my oproep daarvan in die museum, rondom die stem in die gedig wat vra:  “Of was die dood genadiglik die skans wat jou vroegtydig reeds moes veilig hou teen (...) elke hand wat diertjies op sou stop om in museums na mens te kyk met koue oë agter koue glas?

Geneve het ʼn lieflike horlosiemuseum, ek deel selfs ʼn video, maar dié museum het ʼn hele paar jaar na ons in 1994 daar was, die lig gesien. Ek spoor geen ander verwysing na ʼn horlosiemuseum in die stad op nie. Ek vermoed ons was by een van die groot horlosiehuise, vermoedelik Piaget, en ek het dit ter wille van die dagboek, of in onkunde, ʼn horlosiemuseum genoem.


Ek google toe maar hierdie ronde weer “Piaget watches” en besef weer dat nie veel in 25 jaar verander het nie – party is steeds lieflik, en ander steeds (vir my) aaklig.

En toe die herbesoek aan die hoogtepunt – die stad se volkekundige museum.

Die plek het ʼn lieflike webwerf, so gespesialiseerd soos ek laas op internetherbesoek aan Brittanje se museums gesien het, maar HELAAS – dis alles FRANS. Die Engels is een enkele skermpie, en as dit nie was nie dat ek steeds gaande oor die etniese is nie, het ek die plek summier verlaat, maar ek kuier toe maar in ʼn taal wat ek nie verstaan nie.



Die webwerf is beslis 'n besoek werd. Die foto's hier bo is skermgrepe van 'n video geplaas deur die maatskappy wat onlangs verantwoordlik was vir 'n face lift van die interieur en uitstalruimte. Die kort video is een vet plesier (as jy, soos ek, van die klas van ding hou).

Ek kan helaas nie die video intrek nie, dis op VIMEO en nie YOUTUBE nie, maar hier is die skakel daarheen.

Die houer ryklik versier met onderkake wat hierdie skrywe inlei, is van hulle FB-blad. 


200 meter (3 minute se stap) daarvandaan is die Centre de la Photographie, Geneve. Ook hierdie een, noem ek destyds, “was ʼn redelike teleurstelling – soos trouens elke fotografiese uitstalling waarby ons nog was.”

25 jaar later het nog nie veel verander nie. Ek spoor die plek op, kry die keuse om oor te skakel na Engels, maar kry toe kort-kort die boodskap dat dit wat ek wil lees, ongelukkig nie in Engels beskikbaar is nie.

Die sentrum se webwerf dek nie vorige uitstallings so ver terug as 1994 nie, maar ek kuier lekker in die geselskap van ʼn gaskunstenaar ʼn paar jaar later, Hiroshi Sigumoti, wat hom al meer as 40 jaar lank van tyd tot tyd besig hou met die afneem van museums se natuurhistoriese dioramas.

In die werklike lewe lyk hierdie dioramas kunsmatig, maar deur sy kamera kom die opgestopte diere tot nuwe lewe en gee hy so wedergeboorte aan die opgestopte diere wat nog die potensiaal het om te bestaan, lank nadat die taksidermis se herskepping reeds verdwyn het.

Van hierdie werke van hom sê die man:

When I first arrived in New York in 1974, I visited many of the city's tourist sites, one of which was the the American Museum of Natural History.  I made a curious discovery while looking at the exhibition of animal dioramas: the stuffed animals positioned before painted backdrops looked utterly fake, yet by taking a quick peek with one eye closed, all perspective vanished,and  suddenly they looked very real. I had found a way to see the world as a camera does. However fake the subject, once photographed, it's as good as real.


En op daardie noot sluit ek my herbesoek aan dag een in Geneva af. Ek sou vreeslik graag langer in die volkekundige museum wou deurbring, dit lê my steeds na aan die hart, maar helaas.