Donderdag 07 Julie 2016

Dag 25 - 1 Mei

21 jaar vantevore 










Ja, dis min of meer hoe ek oor  hierdie dag voel:  Passage Interdit.

Maklik die akste dag op die toer – alles is toe – dis ‘n openbare vakansiedag.


   


Ek en Es gaan weer uitmekaar nadat ons finaal uitgevind het ons kan nie na die kasteel op die eiland gaan waantoe sy so graag wil nie.

Toe besluit ons om Giverny toe te gaan. Monet se huis. En toe ons op die stasie kom, kom ons agter die volgende trein is eers ½2 of so iets belagliks.


     


Toe besluit ek om maar na die twee kunsmuseums te gaan en Es kies haar eie rigting.

Die 1’e museum waar ek wil in , is toe en die oom op die trap sê dis ‘n bankvakansiedag. Dit is 1 Mei, die Europeërs se Lentedag – die oggend in die Barget (le Bourget?) al, was daar orals blomme te koop. By orals, bedoel ek órals – op elke groot straathoek en teen elke roltrap by die stasie.


                       

Ek is Dadelik spyt dat ek en Es geskei is want nou is sy tot 6-uur gestrand, én ek.

Vandaar skiet ek toe maar deur na die Rûe Saint Denis se rigting – Les Halles, om te kyk of daar nie lewe is nie. Daar was – nie veel nie – maar tog.

  

Ek sit in die son voor ‘n mooi fontein en skryf aan Judy se brief. Ek hou mimiekkunstenaars dop. Ek stap in die rooiligstraat af en loer in die sexshops in. Live sex en peep shows lyk volop – hoeveel dit kos, weet ek egter nie.

Hierna gaan ek Louvre toe, maar dit is ook pretty much toe. Ek loop rond, dwaal rond en betaal 2 x 10FF vir ‘n koeldrank en uit frustrasie 15 FF vir ‘n sjokoladegeurige roomys – Magnum.

Toe stap ek na die Champs Elysees af tot by die Arc de Triomphe. Ag, dit is vrekvervelig en ek is geensins beïndruk nie.


      


Daar was wel ‘n sjokoladewinkel wat sy sjokolade vir 300FF per kilogram verkoop het. (Dis meer as R200-00 per kilo.) Daar was van die lemoenskil met sjokolade om wat vir my so heerlik is, maar ek het weggebly daarvan.

Na die Champs Elysees skiet ek deur na die Mont Martre – waar ek Es moet ontmoet. Dit is weliswaar 4-uur in plaas van 6-uur, maar as ek daar is, kan ek daar rondloop.

Tot my verbasing is die Arts Naïf museum – ‘n galery wat ek intens geniet – oop. Ek skryf my kommentaar in Afrikaans in die boek – uit beginsel uit.

Ek en Es ontmoet mekaar 6-uur soos afgespreek, kyk na die portretkunstenaars kaartjiewinkels en sy soek ‘n toilet. 2 keert sluk die slotmasjientoilette haar geld. (Ek het dit ook al gebruik, maar was nog nooit so ongelukkig nie.)

Ons koop ‘n 25FF bottel wyn (gewoonlik  koop ons onder 10FF) brood, roomkaas en ek ‘n worsie vir aandete.

Ons gaan ry op die Seine-rivier wat baie lekker is om in die aand te doen. Dit is egter redelik koud en ek is spyt ek het nie iets warmders saamgeneem nie.


   


Ek sê dit weer eens – Ek hou nié van Parys nié – Ek het niks positiefs in die stad ervaar nie – maar sy sights en museums maak hom ongelukkig ‘n stad wat besoek moet word.

Hans Moolman

21 jaar verder


                         

Ja, die tradisie om op die Europese Lentedag blomme uit te deel  is duidelik ‘n baie ou tradisie. Die Franse koning, Karel IX, het die gebruik in die 1560’s begin toe hy al die dames in sy hofhouding jaarliks op 1 Mei  met ‘n bossie Franse veldlelies bederf het. Teen die 1900’s had Franse mans die gebruik om bossies lelies aan hul bemindes te oorhandig.  Deesdae is dit algemeen vir familie en vriende om die blomme onder mekaar uit te deel as simbool van toegeneentheid en liefde.

Gelukkig is Werkersdag en Lentedag hier by ons in die suidelike halfrond vier maande uit mekaar uit – daar oorkant is hulle nie so gelukkig nie. Lentedag is immers ook Werkersdag en in Parys word Werkersdag ook assosieer met protesoptogte en vakbondvierings.


   

Ek onthou hoe ek daardie oggend van onder die grond op ‘n plein uitgestap het en dadelik in my vier spore omgedraai het, nie net omdat daar nie plek meer vir ‘n muis was nie, maar ook  omdat die toneel my stedelike onrus en oproer herinner het.

By ‘n volgende moltreinstasie uitgeklim, is dit dan weer soos enkele oomblikke na die wegraping – daar is geen teken van lewe nie, want anders as deesdae hier by ons, is bykans alles, nie net banke, skole en poskantore nie, daardie jare (en miskien vandag nog) op 1 Mei gesluit.
      
      

Die historiese spuitfontein oorkant Les Halles (die varsproduktemark wat Emile Zola as die “maag van Parys” beskryf het) het nie vakansie gevat nie. Dis die oudste fontein in die stad en dit het my ‘n rukkie geneem om te besef dat dit oor die jare heen maar verskillend kán lyk – dit het al op meer as een plek diens gedoen en as ek reg onthou was Napoleon die eerste om dit te skuif.

Ek het die afgelope week motorhuis skoongemaak en deur ‘n krat gegaan wat in die hoek beland het toe ons my ma-hulle destyds Pretoria toe getrek het. Ek verbeel my ek het op ‘n stapel briewe afgekom wat gelyk het soos die briewe van my toer. Ek sal daar ‘n draai gaan maak – straks kom ek op die brief af waaraan ek aan die voet van die Fontein van die Onskuldiges geskaaf het.

Ek was toe verkeerd, ‘n reisdag of wat gelede, toe ek my eerste Magnum roomys herroep het – dit was eers op hierdie dag. Maar ek het reg onthou van die venue – die Rûe Daint Denis. Hoe duur daardie roomys destyds was (15FF) word mooi in perspektief gestel as ek hier noem dat ons gewoonlik hoogstens 10FF vir ‘n bottel rooiwyn betaal.  (Hoe belaglik duur die sjokolade-omhulde lemoenskil teen 300FF is ook duidelik. Ek koop elke jaar rondom Kersfees as Woolworths áltyd daarvan het, so ‘n klein verpakkinkie van dié lekkerny. Elke keer as ek skelm en op my eie daaraan weglê, dan spring my gedagtes terug Champs Elysees toe.

       

Ek onthou die Arts Naïf Museum soos gister – ek is uit om Es te gaan kry en is toe summier saam met haar terug. Ek lees op meer as een blog dat die museum deesdae eerder op Art Brut (outsider kuns, rou kuns, ook barbaarse kuns met Jean Dubuffet as grondlegger) as Arts Naïf (kuns van die onopgeleides, die amateurs met Henri Rousseau as grondlegger) fokus, hoewel ek glo dat die naïewe goedjies wat destyds deel van die permanente versameling was, seker steeds daar is.

Die gebou self was ook eers ‘n markgebou voordat maar redelik onlangs eers (ek onthou iewers in die 1980’s) ‘n kunsmuseum geword het.


          


En dis ons dag – behalwe nou vir die romantiese (romantieke?) bootrit op die Seine. Hoe romanties, of eerder idillies hierdie rivier en die tonele wat dit oproep, uitgebeeld word, word mooi illustreer die eerste 1 (of is dit 2?) van die volgende foto/foto’s wat ek vermoed nie net die een nie, maar beide ooglopend ge-photoshop is. 

Al wat ek van die walle van die Seine onthou, is die nudiste wat in die son gebaai het – maar verniet of ek hulle vandag raak Google.

Toegegee ons het miskien een keer op 'n naakte sonbaaier of twee afgekom, maar dan is dit mos nou maar hoe dit so dikwels is - dis juis dáárdie toneel wat vasgesteek het. (So het ek en Annieka een jaar in Duitsland op twee jeugdiges langs die pad afgekom wat besig was om dwelmmiddels van die een of ander aard in lepels te verwarm en te gebruik. En daardie is die beeld waarna haar gedagtes weer gereeld teruggaan as Duitse jeugdiges, die Berlynse dieretuin of Duitse stedelike wandelpaaie ter sprake kom.